Читать книгу Dwaalpoort - Alexander Strachan - Страница 7

3. RENTIA

Оглавление

Die dag dat die besoekers sou opdaag, het ek nog vroeër as gewoonlik opgestaan. Ek het die aand sleg geslaap, nie oor die gaste nie, maar omdat Henning nie langs my tot rus wou kom nie; net toe ek begin dink het hy het nou vrede gemaak met die plaas se titelaktes. Maar hy het die afgelope paar aande aspris in die bed rondgerol om my hieraan te herinner, byna asof die koms van die gaste die idee opnuut in hom wakker gemaak het.

In die kombuis het ek twee Disprins gedrink.

Buite was dit nog nie heeltemal lig nie en die oggendlug was koud teen my gesig toe ek met my hande diep in my baadjiesakke gedruk na die stalle loop. Agter die rondawel het die haan wat die afgelope ruk begin skop het, my voorgesit. Ek kon nie waag om my rug op hom te draai nie; ek moes ’n lang ent agteruit loop met my hande nog in my sakke terwyl ek met die agterkant van my skoene ’n pad tussen die nat graspolle deurvoel, tot ek buite sy bereik was.

Toe ek die staldeur oopstoot, was dit of die perde my stemming kon aanvoel. Ek het met my rug na die werf gestaan, want ek was nie lus vir Henning se gesprekke nie. Selfs al kon ek hom nie van hier af sien nie, het sy stem steeds in my gedagtes gemaal. Terwyl die werkers die perde uitlei, het ek my tog betrap dat ek ’n paar keer oor my skouer na die huis gekyk het. Ek het hulle gevra om Nag vir my op te saal, want ek wou ’n lewendige perd ry. Dit was omtrent ’n gesukkel om die stang tussen die hings se toegesperde tande deur te forseer, want hy het sy kop bly wegruk, asof daar ’n gevoeligheid by sy ore was.

Msun’ kanyoko! het hulle gevloek toe hy na hulle skop.

Toe was die stang in sy bek, maar hulle moes hom voor aan die toom vashou sodat ek kon opklim. Met die teuels styf teen sy nek het ek hom tussen die werf se hekpale deurgestuur. Toe kon ek hom nie meer inhou nie. Hy het die stang vorentoe gewerk in sy mond, dit tussen sy tande vasgebyt en sy nek reguit gemaak asof hy die rit wou oorkry. Sy galop was onegalig en rukkerig, asof hy my aan my eie ongemak wou herinner, aangehelp deur die gedagte dat die vreemde mense in die huis self gaan slaap, met net die gang tussen ons vir privaatheid.

Onder in die drif het die perd se hoefslag verander en die water het ’n boog oor ons gespat. Eers teen die steilte het sy hale begin korter word en ek het gemakliker in die saal gevoel. Sy asem het nou in kort stote uit sy keel gejaag en ek kon salpeter en klam lusern in die lug ruik.

Ons het al dieper in die kloof ingegaan, stadiger nou. Onder die bome het die blare ’n digte mat gemaak sodat die perd se hoewe skaars hoorbaar was. Net die sagte gedrup uit die rotswande; en die reuk van nat mos en varings terwyl die skerpheid van die son geleidelik weggeraak het.

Maar die hings het sy krag steeds in hom opgekrop gehou, ek kon dit teen my bobene voel. Twee keer het hy my byna uit die saal gegooi. Die eerste keer toe die takke langsaan kraak; die tweede keer het hy sonder ’n waarskuwing omgespring – hy het nie gehou van die skaduwees nie.

Toe ek by die oog afklim, het my bene wankelrig gevoel van die geklem om sy lyf. Ek het afgebuk en water met my hand geskep. Was dit die wind? ’n Sagte rimpeling het oor die poel beweeg en ’n oomblik was die water troebel, soos ’n oog wat knip. Die son het spatsels deur die blare gemaak en meteens het ek verstyf. Voor my in die sand het die spoor gelê, duideliker as ooit tevore – die kaalvoetspoor het soos ’n afdruk tussen die bokspore gelê.

My hand het uitgegaan om daaraan te raak, toe ek die snorkgeluid hoor. Ek het omgekyk. Die perd se neusgate was wyd oopgesper terwyl hy terugbeur in die doringbosse in, asof hy wou wegkom van iets. Al twee my hande was nou om die teuels geklem, maar ek kon hom nie nader trek nie. Eers het ek net die wit van die hings se oë gesien. Toe sien ek die beweging tussen die bome: ’n wit hartbees in die skaduwee! Fyn strale son het deur die takke op sy vel geval. Oomblikke lank kon ek glad nie beweeg nie, ek het net na hom bly kyk, terwyl hy stadig, geruisloos in die voetpad afgeloop gekom het. Sy snaakse, lang kop, het ek gedink – amper mensagtig, so van naby af.

Maar dit was hý.

Aan sy hink kon ek Mhlophe herken.

Die bok het aan die water geruik sonder om te drink; ek het stadig afgesak op my hurke; die punte van sy horings was gesplinter . . . sy nek, sy borskas en sy hoewe. By sy knieë was die vel afgeskilfer en vol snye. Daar was skraapmerke oor sy neus en ’n paar diep kraphale oor sy ribbes. Hy het sy kop gelig en om die poel geloop. Tussen sy agterbene het die dun vel styf om sy teelballe gespan.

Was hy steeds die leier van die trop?

Langs my het die perd staan en bewe, met rimpels wat op en af oor sy hele lyf hardloop; sweet het op sy flanke uitgeslaan.

Mhlophe het vorentoe getree, óór die kaalvoetspoor in die voetpad sonder om daaraan te raak. Hy het by ons verbygeloop asof ons nie daar was nie en voor my oë tussen die bome weggeraak.

Nag het steeds bly terugrem; hy wou nie dat ek opklim nie en het sy lyf so gedraai dat ek nie my voet in die stiebeuel kon kry nie. Ek moes hom aan die teuels onder die bome uitlei: al met die voetpad langs, verby die Boesmantekeninge, die klam reuk in die holte van die bergwand waar die geraamte uit die outyd oopgespoel het, tot ons weer in die oopte was.

Toe eers het hy my laat opklim.

Die rit terug huis toe was vinnig. Was die perd verneder deur die bok? Ek kon nie help om te wonder nie, maar vir die tweede keer die dag moes ek vir lewe en dood klou. Hy het self die kortste pad gekies. Graspolle, bome en struike het verbygeflits en ek het myself dun gemaak op die saal.

Die hekpaal het my knie rakelings gemis. Voor die stalle het ek hom hard ingetrek en daar was ’n gerammel in sy borskas.

Ek het afgeklim en by die stal ingeloop. Ná die skerp lig buite, was dit binne stikdonker. My bene was lam en bewerig terwyl ek my pad voor my voel tot ek op ’n baal kon neersak. Die ontmoeting met die bok was te onverwags, te skielik. Dit het my gedagtes teruggevat na waar ek nie wou wees nie . . .

Saans was daar skaduwees teen die ruite. In die kombuis voor die koolstoof het ek in die vloek van Mhlophe geglo. Mhlophe. Dit was die naam wat ons om die kerslig gefluister het wanneer die bokke bo in die kloof vir ons anders as bedags gelyk het. Soggens het ek opgekyk in die mistigheid wat oor die kop hang. Ek kon my as kind allerhande dinge daarin verbeel, mense en goeters wat saamgevleg het met die stories wat ek om die koolstoof gehoor het. Maar altyd op ’n afstand, geskei deur Dwaalspruit se verraderlike kuile. Tot daar jare later een oggend ’n boklam op die werf opgedaag het, regdeur die doringdraadheining tot voor die agterstoep. Hoe het hy al die pad op sy eie bo uit die kloof gekom? Daar was ’n brandstreep oor sy rug en hy het na weerlig geruik, of dan ten minste na iets swaelerigs.

Mbulale ngesagila! het die werkers van die veekraal af geroep. Slaan hom met ’n knopkierie dood! Maar hy was te klein, sy spoortjies het skaars ’n merkie op die werf gemaak. Ek kon hom mos nie net op die veld los om te vrek nie. ’n Stukkie wit porselein wat met die val in ’n honderd stukkies sou breek. Ek het my arms om hom gevou en hom teen my vasgedruk. Sy eerste melk het hy op die agterstoep uit die bottel se tiet gedrink terwyl ek oor sy kruis krap en hy sy stertjie begin swaai. Sy nek was nog nie baie sterk nie. Die dun beentjies het gewaggel en ek moes hom met my hand regop hou. Hy het bly aandruk teen my, asof hy ’n ma soek. Teen sy smal ribbes kon ek die sagte klop van ’n hartjie voel. Sy snoet het al harder teen my gedruk en ek het begin lag – dit was yskoud en kielierig. Net die effense warmte van sy asempie op my hand. Amper asof dit nie regtig daar was nie.

Sou hy ooit grootword? Eintlik wou ek hom net so klein hou, het ek gedink terwyl ek ’n kombers op die agterstoep oopgegooi het om hom daarop te laat lê. Hy het met groot oë rondgekyk en toe aan die slaap geraak.

Van die kraal af kon ek die werkers hoor. Hulle het hul tonge bly klap. Selfs terug in die kombuis kon ek steeds die klapgeluide hoor.

Dwaalpoort was afgeleë. Ook in my kinderdae kon ek dit só onthou. In die boonste grotte was daar Boesmantekeninge: elande, gemsbokke en koedoes. En dieper in was daar nóg tekeninge. Afbeeldings wat jy net kortstondig met die trek van ’n vuurhoutjie kon sien . . . aasvoëls se vlerke in die rots, geelvisse en ’n sekretarisvoël wat stywebeen oor die vlakte loop.

Saans het ek my kamerdeur gesluit, kaal voor die spieël gestaan en vir myself gekyk. Waarmee was my vriende op die dorp besig? Dit was tienerdae. Garagepartytjies? ’n Gevattery op die agterste sitplek by die inry? ’n Warm vryery? Maar ons was ver van die dorp. In die boendoes, het die dorpsmense soms gespot wanneer hulle die modderbespatte bakkie sien. Ek kon vroeg al met my verbeelding speel. Geselskap op die platteland was skaars, maar ’n mens raak gewoond aan stiltes; meer nog as jy so grootgemaak is . . . Ek het nuwe klere voor die spieël aangepas en oor die radio na die toptwintig geluister, terwyl ek die woorde saggies saamneurie. Ek het my hare uitgekam en baie maal kon ek nie help om op my eie te lag nie, want partykeer kon daar die snaaksste dinge denkbaar op die plaas gebeur . . . soos die keer toe die ding by Dwaalspruit se drif my pa so groot laat skrik het.

In die skemerte het hy so hard “Wyk Satan!” uitgeroep dat sy stem ’n week lank weg was. Toe hy by die huis kom, het net sy lippe beweeg. Al het ek hoe hard probeer, kon ek nie eens ’n fluistering uit hom hoor kom nie. Dit was vir my die eienaardigste ervaring om hom so te sien.

Saans nadat daar afgedek is, het ons aan tafel bly sit, want dit was nog te vroeg om bed toe te gaan. My pa was nie lus vir sy koerant nie en ons kon in elk geval nie gesels nie. Maar in daardie tyd van stilte en handgebare het hy die pen en papier nader getrek en vir my begin skryf. Ek het oorkant hom gesit. Soos altyd was daar ’n stilte om ons, maar toe was daar darem ’n geknars in die stilte. Dit was die verstommende ding. In die leë vertrek was daar skielik iets besig om te gebeur, iets wat die mense op die dorp moeilik sou kon glo.

Terwyl die een geskryf het, het die ander een nie oor sy skouer kom loer nie en op ’n manier was ons skryfwerk dan seker “privaat”, as ’n mens dit so kan noem, want later, toe sy stem weer teruggekom het, sou ons ook nie met mekaar praat oor wat ons geskryf het nie. Eintlik was dit amper of ek en Mafika (my pa se plaasnaam hier in die boendoes) vir mekaar briewe gepos het. Die volgende oggend sou die vel papier net op die tafel lê. ’n Stukkie oor bokke, wildvang of gewere. Dan sou die volgende persoon verder daaraan skryf. En mettertyd sou die blaai ook op ander plekke in die huis opduik – in die kombuis, partykeer op die stoep, selfs in die stoepkamer en ’n keer of wat in my eie kamer op die spieëltafel se blad.

Wie was dan uiteindelik die skrywer hiervan? het ek dikwels gewonder wanneer ek sien hoe my pa se onbestendige, los handskrif al fermer aan die onderkant van die bladsy word. Dis hoe ons vir mekaar boodskappe gelos het, boodskappe waaroor ek partykeer lank sou moes wonder, want dit kon dikwels net ’n paar gedagtes oor iets so alledaags soos die afmetings van die meubels in die eetkamer wees.

’n Imposante eetkamertafel . . . die lengte van die blad is agt voet en die breedte drie voet ses duim. Heel moontlik 1880. Die buffet trek natuurlik op die tafel, nes die groot geraamde spieël bokant die buffet ook dieselfde patroon eggo.

En dan die hoë vertoonkas – onder drie laaie en bo glasdeure met rakke waarop Royal Doulton-porselein uitgestal word. Die karakters uit Charles Dickens se verhale word op breekbare koppies en borde veréwig, as ’n mens dit so sou kon noem . . . Little Nel, Sam Weller, Tony Weller, Fagin.

Maar die karakterbekers . . . dís wat die aandag trek. Die poacher (met sy vis), die valkenier (met sy valk), die musketier (met sy swaard). Jan Smuts . . . en King Henry die agtste, en sy tweede vrou, Anne Boleyn. Dis sý wat bo die ander uitstaan – amper surrealisties so agter die blink glas met die byl teen haar kop, sodat die jester eintlik heeltemal uit plek vertoon langs haar statigheid.

Maar daar was darem nie net stiltes nie, daar was ook allerhande ander gebeurtenisse op die plaas. Dinge wat jy nie vooruit kon raai nie. Dikwels sonder die waarskuwing van ’n uil se roep of ’n bobbejaan se blaf bo uit die kranse. Gebeure wat ek soms met die eerste kyk heeltemal onderskat het. Dis hoe dit op Dwaalpoort was. Wanneer jy dit die minste verwag het, kon daar meteens iets plaasvind – iets heelwat groters as ’n garagepartytjie op die dorp.

Baie jare later het ek niks besonders in die koms van die besoekers gesien nie. ’n Jagtog soos baie ander jagtogte. ’n Bespreking waarvan ek weke vooraf geweet het sonder om my te veel daaraan te steur, want jagters het soos die seisoene gekom en gegaan. Ons was gewoond aan die roetine. Dit was niks nuuts nie. Hoekom sou hierdie groep dan nou anders wees? En natuurlik sou ek soos almal op die plaas my deel tot die naweek moes bydra.

Henning het die jag bespreek. As boer en rekenmeester was dit sý werk om die advertensies in Landboublad te plaas en Dwaalpoort se wild te bemark. Dit was sy aandeel in die boerdery. En so het hy die jagter “vasgemaak”, soos ons in dié tyd op die wildplase begin praat het.

’n Ou contact, het hy gesê en sy hande teen mekaar gevryf.

Ons het almal met verskillende oë na dié naweek gekyk. Ek het tóé nie so gedink nie, maar die aankoms van die besoekers so op die hitte van die winterdag sou nietemin een van die besonderse gebeurtenisse in my latere lewe wees. Selfs al was alles vir my nie heeltemal duidelik nie.

Toe die voertuig stilhou, en die stof gaan lê, het ’n jong vrou en ’n ouer man op die werf afgeklim. Hulle oë het tussen die plaasgeboue rondgesoek. Miskien was dit omdat ek op daardie uur die enigste ander persoon op die werf was, maar om die een of ander rede het hulle my byna dadelik raakgesien waar ek ietwat verskuil agter die stal gestaan het.

Dwaalpoort

Подняться наверх