Читать книгу 1 Recce - Alexander Strachan - Страница 6
1
ОглавлениеEerste optrede
Die denke agter die vorming van 1 VK kan so ver teruggevoer word as die 1960’s. Dit was in hierdie vroeë dae van die Bosoorlog toe die eerste Suid-Afrikaanse aanval in Ovamboland op 26 Augustus 1966 op Swapo se Ongulumbashe-basis uitgevoer is.
In daardie stadium is slegs die SA Polisie (SAP) aangewend om Swapo-insypelaars in Suidwes-Afrika (SWA) te beveg. Kapt Jan Breytenbach se span van agt valskermtroepe moes dus eers as “spesiale polisielede” beëdig word sodat hulle die basis saam met die polisiemag uit helikopters kon aanval. Saam met Breytenbach was Kaas van der Waals, Wouter Hugo, W Burgess, Yogi Potgieter, J Snyman, Tilly Smit en Johnny Kruger.
Die polisie se maj “Rooi Rus” Swanepoel was in beheer van die gesamentlike aanval wat as Operasie Blouwildebees bekend gestaan het.2 Die bevelstruktuur was op die grond pleks van in ’n helikopter om die aanval uit die lug te orkestreer. Die operasie het dus beperkte sukses gehad – twee Swapo-vegters is dood en nege gevang terwyl ’n hele aantal ontsnap het.
Tydens die nabetragting in Pretoria is besef dat die SAP nie meer op hul eie Swapo-insypelaars in SWA onder beheer kon hou nie. Dit het tot die SAW se toetrede tot die Grensoorlog gelei.
Breytenbach was in die Britse vloot voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Kmdt WP Louw het hom omgepraat om by 1 Valskermbataljon aan te sluit. Dit was voor Operasie Blouwildebees en Breytenbach het toe reeds wye militêre blootstelling gehad.
In die Britse vloot het hy in nagnavigasie gespesialiseer en was die toppresteerder in sy groep. Hy was ’n navigator in die gesogte Night Fighter Squadron van die vloot se lugvleuel.
Buiten navigasie het hy heelwat geleer van vlieg en seeverwante onderwerpe. ’n Hoogtepunt in sy vlootloopbaan was sy dienstydperk in die Verre Ooste. Die verskillende plekke wat hy aangedoen het en die verskeidenheid poste waarin hy aangewend is, het sy visie binne ’n kort tydjie vergroot. Breytenbach het baie gelees en het reeds vroeg in sy lewe persoonlike idees en denkrigtings ontwikkel oor hoe ’n weermag moet funksioneer.
Hy het ook ’n uitgebreide infanteriekursus in Amerika gaan doen. Dit was daar waar sy belangstelling in die Britse Special Air Service (SAS) en die Amerikaanse marinekorps se metodes en werksaamhede posgevat het.
By 1 Valskermbataljon het hy ’n brief aan kmdt Louw geskryf wat die vonk verskaf het om ’n eenheid soortgelyk aan die SAS in Suid-Afrika te stig. Hierna was hy en Louw gereeld in gesprek oor onkonvensionele oorlogvoering.
Louw, wat intussen bevorder is, het in Pretoria met Breytenbach en maj Dudley Coventry, bevelvoerder van die Rhodesiese SAS, vergader. Daarna was hulle vuur en vlam om ’n eenheid soortgelyk aan die SAS op die been te bring. Toe Louw die volgende jaar (op 1 Desember 1967) Hoof van die Leër word, het hy dadelik gereël dat ’n span spesiaal uitgesoekte manne Rhodesië toe gestuur word om by die SAS opgelei te word.
Jan Breytenbach was deel van die groep en die ander lede het manne ingesluit soos Eddie Webb, Boytjie Viviers en Barrie Ferreira. Daar was ook Frank Bestbier, Yogi Potgieter, Johnny Kruger, Pep van Zyl en Tillie Smit. Hierdie span sou die kern kon vorm van ltgenl Louw se beoogde eenheid.
Dit was ’n uitmergelende keuringskursus waarin die Rhodesiese instrukteurs geen genade aan die Suid-Afrikaners betoon het nie. Die groep is blootgestel aan gevorderde vernielingswerk, seinwerk en valskermspring (vir dié wat gekwalifiseerde springers was). Dit is opgevolg met gevegdrills op kleinspanvlak, rotsklim, abseilwerk en spoedmarse met swaar pakke.
In Suid-Matebeleland is die kursusgangers aan ’n ontsnap-en-ontwykingsoefening onderwerp. Hulle is dae lank in ’n klein sel opgesluit met byna geen kos nie en aan ondervraging onderwerp. Uiteindelik is hulle in ’n spoorwegbeestrok weggevoer, maar hulle het uitgebreek en gevlug. Breytenbach is in dié fase gevang en aan ’n reeks ondervragingstegnieke onderwerp waarin onder meer ’n sak oor sy kop getrek is, hy deurentyd wakker gehou is en koue water snags oor hom uitgegooi is.
Diegene wat die toetse deurstaan het, is na die Zambezi-vallei waar hulle by die Chewore-rivier ’n oorlewings- en spoorsnykursus gedoen het. Daarna is hulle Kariba-dam toe vir die laaste fase van hul opleiding. Net ’n hand vol kandidate het die keuringskursus geslaag, onder wie Breytenbach, Yogi Potgieter en Pep van Zyl.
Die suksesvolle kandidate het hul SAS-barette en lyfbande ontvang tydens ’n geselligheid wat in Salisbury (vandag Harare) by die SAS-hoofkwartier gehou is. Daarna het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Niemand het geweet wat die volgende stap sou wees nie, maar Breytenbach was teen dié tyd soos ’n oorgehaalde veer. Hy was vasbeslote om dieselfde keuring op eie bodem aan te bied sodra Suid-Afrika se eie SAS-tipe eenheid formeel goedgekeur word.
Die ontstaan en vestiging van ’n spesialis- onkonvensionele gevegseenheid in die SAW sou ’n geïntegreerde proses wees met meer as een faktor wat ’n rol speel. Daar sou uiteindelik ’n eenheid gebore word wat geheel en al van enige bestaande eenheid in die SAW verskil het.
Maar heelwat water sou nog in die see moes loop voordat hierdie ideaal verwesenlik kon word. Die wegbreekstaat, Biafra (deel van Nigerië), was in hierdie stadium vir baie Suid-Afrikaners ’n onbekende naam. En dit was daar waar ’n konflik aan die kook was wat ’n beslissende invloed sou hê op die stigting van ’n soort SAS-eenheid in Suid-Afrika.