Читать книгу 1 Recce - Alexander Strachan - Страница 8
3
Оглавление1 Recce
Die Biafra-operasie het gewys dat Suid-Afrika wel ’n onkonvensionele eenheid nodig het en so kry maj Jan Breytenbach uiteindelik opdrag om ’n spesialemagte-eenheid saam te stel. Alles geskied so onopsigtelik moontlik. ’n Dekstorie word voorgehou dat die beoogde eenheid nuwe wapentuig gaan toets, asook die paraatheid van ander weermaginstellings.
Maj Dudley Coventry van die Rhodesiese Special Air Service (SAS) is gevra om te help soek na ’n geskikte plek in Suid-Afrika en Breytenbach te adviseer oor die vestiging van so ’n eenheid. Coventry het heelwat rondgereis en toe Oudtshoorn voorgestel. Dié basis in die Klein-Karoo het voldoende infrastruktuur gehad, onder meer skietfasiliteite, geboue en ’n lughawe. Dit was naby oop sowel as bergagtige terrein en bosopleiding kon in die rigting van Knysna gedoen word. Boonop was dit nie te ver van die see nie.
Twee kandidate (’n offisier en ’n onderoffisier) word in 1968 by elkeen van die verskillende infanterie-bataljons gewerf vir ’n spesialis-infanteriekursus. Dit was niks anders as ’n vermomde keuring vir ’n toekomstige spesialemagte-eenheid nie, met Breytenbach en ssers Yogi Potgieter as kursusleiers. Die groep kom in Bloemfontein bymekaar waar hulle hoofsaaklik skietoefeninge doen. Vir die eerste keer skiet Breytenbach en Potgieter met skerp ammunisie tussen die kursusgangers.
Ná ’n week gaan hulle Oudtshoorn toe en bly drie tot vier weke in bivvies (selfgemaakte skuilings) in Luiperdskloof. Die kursusgangers skiet en doen ’n spoorsny- en oorlewingskursus waarna hulle na die Knysnabos vertrek. Daar word hulle “gevange geneem” en ’n dag lank toegesluit en aan robuuste ondervraging onderwerp.
Naby Calitzdorp ontsnap die groep oor die Outeniekwa-berg en kom uiteindelik by Swartvlei naby Sedgefield weer bymekaar. In dié stadium was nog net vier manne oor. Hulle moes 1 Valskermbataljon se kompaniebevelvoerder soek en vang en onderskep sy Land Rover. Ná weke se ontbering kom hulle by die laaste bymekaarkompunt (RV) uit waar Breytenbach en Yogi wag.
Breytenbach kon nie openlik kandidate werf nie omdat eenhede nie hul beste mense wou afstaan nie. Hy moes individue in die geheim nader om te hoor of hulle die kwalifiserende kursus wou doen. Hierdie siftingsproses het uiteindelik tien geskikte manne vir die tweede keuring opgelewer, elkeen ’n spesialis op sy gebied.
Hulle het op 13 Julie 1970 as Alpha-groep by Oudtshoorn aangemeld, reg langs die Infanterieskool. Hoewel daar net elf in die groep was, het hulle mettertyd as die veelgeroemde Dirty Dozen bekend gestaan.
Breytenbach, wat intussen tot kommandant bevorder is, was die bevelvoerder en kon ook as spesialis-navigator optree. Maj Dan Pienaar Lamprecht was die mees senior offisier ná Breytenbach. Hy was in die eerste groep wat die spesialis-infanteriekursus op Oudtshoorn geslaag het en sou jare later – op 1 Julie 1995 – die heel eerste Recce-operateur word wat tot die rang van generaal-majoor bevorder is. Hy was toe bevelvoerder van kommandement Westelike Provinsie. Kleingewere en opleiding was kapt Fires van Vuuren se spesialisasierigting, terwyl kapt John More hom op klandestiene lugoperasies en inligting toegespits het.
In onderoffisiersgeledere was AO2 Trevor Floyd die RSM. Hy het vele talente gehad, onder meer ’n besonder sterk meganiese aanleg. AO2 FC (Frans) van Zyl was deel van die Biafra-groep. Yogi Potgieter, wat saam met Breytenbach die SAS-keuring geslaag het, het oor ’n grondige mediese kennis beskik. Ssers Koos Moorcroft, wat ’n ikoon in die spesialemagte sou word, was ’n valskermspesialis. Hy was in daardie stadium nie meer in die staande mag nie, maar Breytenbach sowel as genl WP Louw het hom gevra om weer aan te sluit. Koos het geen benul gehad dat dit die begin sou wees van ’n spesialemagte-eenheid nie. Hy moes saam met More en sers Dewald de Beer sielkundige toetse ondergaan – ’n voorvereiste vir toelating tot die spesialemagte. Wat spoorsny, boskuns en oorlewing betref, het De Beer nie sy gelyke gehad nie. Ssers Kenaas Conradie was die springstofdeskundige en kpl Hoppie Fourie het as kwartiermeester opgetree en later ook as skubaduik-toesighouer.
Elke lid van die Dirty Dozen het sy unieke vaardighede met die ander gedeel in die maande lange opleiding wat gevolg het. So het elkeen sy kennis van onder meer vernielingswerk, boskuns, kleingewere en navigasie verbreed en aangevul.
Gou is nog lede gewerf. In Januarie 1971 het drie valskermsoldate pas ná hul springkursus opdrag gekry om in Oudtshoorn aan te meld. Kpls Jimmy Oberholzer, Dave Tippett en Wannies Wannenburg was geoormerk om deel van die groep te word. AO2 PW van Heerden en maj Nick Visser is bygevoeg wat die stigtersgroep tot 16 man vergroot het.
In die jare wat volg het dié groep onder meer strooptogte uitgevoer en militêr strategiese teikens vernietig. Dit het spoor- en padbrûe, hawens, radiomaste en -stasies en petroldepots en raffinaderye ingesluit. Hulle het geselekteerde skepe geteiken en inheemse guerillamagte in vyandiggesinde lande ontplooi en opgelei.5 Daar is deurgaans ’n hoë prioriteit op omvattende, strategiese verkenning geplaas, wat die hoeksteen van die eenheid was.
Die eenheid het as ’n groep saamgebly al het hulle later ’n lugwaartse sowel as ’n seewaartse vleuel gehad. Almal was gekwalifiseerde valskermspringers, maar seewaartse werk was nog ’n vreemde konsep. Dus stuur Breytenbach middel 1970 ses operateurs Simonstad toe om ’n twaalf weke lange aanvalsduikkursus te doen. In 1971 doen nog ’n groep die kursus.
Die groep het vroeër verskillende dekname gehad, waaronder Alpha- operasioneel eksperimentele groep, Delta-toetsgroep, Research and Development Wing of the Infantry School en Ongereelde Oorlogsvleuel. Dit was tyd vir ’n permanente naam wat verkieslik nie te veel van hul aard verklap het nie. Breytenbach het Valskermkommando voorgestel, maar die generaals het op Verkenningskommando besluit. Destyds het dié naam nog nie die gelade betekenis van vandag gehad nie en het heel neutraal op die oor geval.
So het die eenheid op 1 Oktober 1972, sonder enige ophef of seremonie, 1 VK geword – kortweg die Recces, afgelei van Reconnaissance Commando.
Oudtshoorn as basis het sy eie administratiewe probleme gehad. Die Infanterieskool se personeel is in die duister gehou oor die Recces se ware werksaamhede en het bly wonder oor wat aan die gang is. Die manne van 1 VK het nie van die Infanterieskool se streng kleredragkodes gehou nie en nog minder daarvan om in gelid te marsjeer as hulle iewers wou gaan.
Op sy beurt het die Infanterieskool nie genoeë geneem met die vreemde groep se informele werkuniforms en lang hare nie. Die vet was in die vuur toe Koos een oggend ongeskeer en in sy smocks (’n losserige oorpak) verbystap. Breytenbach was in Pretoria toe Koos aangekla word vir die verontagsaming van dragregulasies. Hy moes die Maandag vir die verhoor aanmeld – dieselfde dag waarop Breytenbach terug sou wees.
By sy terugkeer sien Breytenbach dat Koos sy uitstapdrag (formele uniform) aanhet en wil weet wat aangaan. Koos vertel hom en sê dat hy reeds skuld beken het. Breytenbach, in sy standaard-gevegsdrag, stap toe saam na die hoofkwartier vir die verhoor. “Pleit onskuldig en vra of jy ’n getuie kan roep,” sê hy onderweg. Daar gekom, wag Breytenbach buite. Koos maak toe so en vra om ’n getuie te roep. Die adjudant vervies hom bloedig vir dié onverwagte wending omdat dit sy hele betoog deurmekaarkrap. Hy verander die pleit en Breytenbach word geroep. Dié sê hy het Koos aangesê om só aan te trek en die hof kan hom wat Breytenbach is, gerus aankla. Die aanklag word toe ter syde gestel en Koos kom skotvry daarvan af.
Jan Breytenbach het nie aan perke geglo nie. Die enigste persoon waaraan hy hom waarskynlik gesteur het, was sy “beskermengel”, genl WP Louw. Breytenbach het gedoen net wat hy wou, wanneer hy wou. Die Infanterieskool kon moeilik hiermee saamleef. As Breytenbach iets wou doen, het hy telkens net gesê hy het magtiging – al het hy dit nie gehad nie. Hy het elke keer bloot dieselfde magtigingsnommer verskaf, ongeag of dit vir voertuie was wat hy wou hê of om Fort Doppies (die eenheid se latere basis) te stig. Hierdie ingesteldheid het nie binne die Infanterieskool se raamwerk gepas waar alles noukeurig volgens die reëls gedoen is nie.
Albei groepe het besef die geforseerde buurskap sou nie staande bly nie en op 4 Desember 1970 word die Recces vir administratiewe doeleindes na Kommandement Suid-Kaap oorgeplaas.