Читать книгу 1 Recce - Alexander Strachan - Страница 7
2
ОглавлениеVreemde bestemming: Biafra
Ver noord van Suid-Afrika, in Nigerië, het ’n burgeroorlog gewoed. Die konflik het begin nadat kol Chukwuemeka Ojukwu, militêre goewerneur van dié land se oostelike streek, die gebied op 30 Mei 1967 eensydig onafhanklik verklaar het. Aanvanklik was daar geen noemenswaardige reaksie nie, maar geleidelik het skermutselings tussen magte van die nuwe Republiek van Biafra en Nigerië se militêre regering ontstaan, wat weldra in ’n volskaalse burgeroorlog ontaard het.
Biafra het skamele militêre toerusting gehad en boonop het Nigerië sy hawens dadelik geblokkeer. Die wegbreekstaat met ’n bevolking van 14 miljoen het nou te staan gekom teen die res van Nigerië se 41 miljoen. Net vier Afrikastate – Gaboen, Zambië, Tanzanië en die Ivoorkus – het Biafra amptelik erken. Frankryk en Portugal het die nuwe staat in die geheim gesteun. Militêrgewys het dit na ’n hopelose situasie vir die Biafrane gelyk, maar tog het die oorlog vir langer as twee jaar voortgeduur.3
Genl Fritz Loots (toe direkteur MI) is vroeg in 1969 na die Angolese hoofstad, Luanda, om sy Portugese eweknie te besoek. Een middag is daar ’n onverwagte klop aan sy hotelkamerdeur. Dit was twee swart mans. Ons is weermagoffisiere van Biafra, het hulle die verbaasde Loots meegedeel. Hy het die situasie uitermate vreemd gevind. Twee Wes-Afrikane wat wil beraadslaag met ’n offisier van die SAW was nie alledaags nie. Ná die aanvanklik hoflike gesprek het hulle tot die kern van die saak deurgedring: Biafra soek hulp van Suid-Afrika – wapens, ammunisie, springstof, myne en mediese voorraad.
Terug in Suid-Afrika het Loots die situasie aan die destydse minister van verdediging, PW Botha, gerapporteer. Dié wou weet wat Loots aanbeveel. Suid-Afrika moet die Biafrane help, het Loots gesê. Botha het getwyfel of die verskaffing van wapens sou help omdat Nigerië te sterk vir Biafra was. Loots het egter daarop gewys dat hulp aan Biafra geslote deure vir Suid-Afrika na ’n paar ander Afrikalande asook na Frankryk kon oopmaak.
Loots het beplan om Biafra met koverte logistiek sowel as militêre opleiding by te staan. Die behoefte aan ’n spesialemagte-eenheid kon moontlik in hierdie tyd reeds by hom begin posvat het. ’n Hoogs klandestiene taak soos guerrillaopleiding in Biafra het immers nie binne die reikwydte van ’n gewone weermag geval nie.
As eerste stap het hy iemand gesoek wat vir die geheime sending opgewasse was. Jan Breytenbach (intussen bevorder tot majoor) se naam het weer eens na vore gekom. Loots het hom versoek om ’n driemanspan vir die sending saam te stel. Breytenbach het eerste vir Yogi Potgieter gekies, wat in 1967 die Rhodesiese SAS-keuring saam met hom geslaag het. Trevor Floyd (van 1 Valskermbataljon) was sy volgende keuse. Hy het Trevor gevra om nog een te nomineer, en só het FC van Zyl (’n medevalskermsoldaat en Trevor se boesemvriend) die derde lid geword.
Breytenbach het die bestemming vir sy span tot aan die einde geheim gehou. Ons gaan Angola toe om Portugese soldate op te lei, het hy gesê.
Breytenbach is eers sonder sy span Biafra toe om verkenning te doen. Dit het deeglike beplanning geverg omdat die hele gebied beleër was. Om sekerheidsredes het hy via Parys, Frankryk na Gaboen gevlieg. Jack Mulloch, wat in Rhodesië gesetel was en sy eie vloot DC7-vliegtuie besit het, het Breytenbach op sy eerste vlug self vanaf Gaboen na Biafra geneem. Hulle het ná donker opgestyg en op ’n gevaarlik lae hoogte gevlieg om die Nigeriese radar en aanvalsvliegtuie te ontduik. Uiteindelik het hulle sonder voorval op Biafra se Uli-lughawe geland.
Die Biafrane het gemeen Breytenbach gaan al hul probleme help oplos en het hom hartlik ontvang. Dit het voorgekom of hulle militêr goed georden is. Eers toe hy daarop aandring om die “front” te inspekteer, het hy agtergekom die ontplooiing aan die Imo-rivier laat veel te wense oor. Pleks dat hulle met hul militêre tekortkominge ’n guerrillaoorlog voer, het die Biafraanse offisiere hulle vir ’n konvensionele oorlog ingerig. Breytenbach was verstom dat hulle steeds staande kon bly.
In Suid-Afrika was Trevor, FC en Yogi steeds onder die indruk dat hulle Angola toe gaan. Trevor en FC was op ’n kursus toe hulle opdrag kry om burgerlike klere aan te skaf en in Pretoria by Breytenbach aan te meld. Trevor het ’n wit pak met ’n bypassende hoedjie gekoop. Dit het hom soos ’n “Mexican gangster” laat lyk, het hy gesê. Hy het egter gereken hy is reg geklee om op die voorgenome reis onopsigtelik met sy reisgenote saam te smelt.
Die aand voor hul vertrek verras Breytenbach hulle met die nuus dat hulle nie Angola toe gaan nie, maar Biafra toe. Geeneen van hulle het al ooit van Biafra gehoor nie. Toe hy sê dat dit in Nigerië is, het hulle ook nie geweet waar dit is nie. Boonop moet hulle via Frankryk soontoe vlieg.
Yogi, wat laaste vertrek het, sluit in Frankryk by die groep aan en hulle vlieg saam na Libreville, Gaboen. Alles het vlot verloop, behalwe dat – sonder dat enigeen in die saak geken is – ’n onbekende Britse lid met die kodenaam Spuds aan hulle toegedeel is.
In Biafra was baie opleiding en herskommeling hul voorland. Die Biafrane het volgens tradisie net offisiere opgelei. Die betrokke offisier soek dan vir hom troepe uit, lei hulle self op en daarna gaan veg hulle. Die offisiere kon baie noukeurig vir Breytenbach op ’n kaart aandui waar die vyand is en waar hul eie troepe se posisies is. Maar wanneer hy die posisies gaan verken het, kon hy nooit ’n enkele soldaat op die aangeduide plek vind nie.
Die Suid-Afrikaanse opleidingspan het met groot ywer aan die werk gespring om die Biafran Organisation of Freedom Fighters (BOFF) as guerrillas op te lei. Met Malloch se ondersteuning is Suid-Afrikaanse militêre uitrusting weekliks na Uli-lughawe gevlieg: vragte ammunisie, 7,62 mm-gewere, masjiengewere, mortiere, landmyne en teenpersoneelmyne. Die span het tot hul verbasing ontdek dat daar wel troepe was wat oor heelwat potensiaal en deursettingsvermoë beskik het.
Om te toets of die opleiding suksesvol was, het Breytenbach besluit om sy span saam met die troepe te ontplooi. Hy en Trevor het self die vyandige Nigeriese grondgebied verken. So het die span by gevegte op die walle van die Imo-rivier betrokke geraak waar Breytenbach in die maag gewond is – blykblaar nie te ernstig nie want Yogi se mediese kennis was genoeg om hom te behandel.
Dit was ’n ingewikkelde proses om op Uli-lughawe te land omdat die aanloopbaan se ligte om veiligheidsredes permanent afgeskakel was. Die vlieënier moes uit ’n bepaalde rigting oor die radiobaken vlieg en in lyn kom met ’n aanloopbaan wat hy nie kon sien nie omdat dit in donkerte gehul was.
Op die laaste oomblik sou hy sy roepsein verskaf en “Lights please!” vra. Die aanloopbaan se ligte is dan vir ’n baie kort rukkie aangeskakel, die vlieënier het vinnig geland en die ligte is onmiddellik weer uitgedoof. Op die grond is flitse gebruik om die vliegtuig te lei na waar dit tot stilstand moes kom.
Die Suid-Afrikaners het naweke af gekry en dan het hulle om die beurt Vrydagaande na Libreville in Gaboen gevlieg. Hulle het die hele naweek daar gebly en eers die Sondagaand teruggevlieg Uli toe.
Toe dit Trevor se beurt is om te gaan, kom hy op die Franse soldate af wat druk besig is om St Michel (die beskermengel van alle valskermsoldate) se dag te vier. Hy het nog nooit hiervan gehoor nie en verwonder hom aan die oorgawe waarmee hulle partytjie hou. Enkele van hulle se naam was boonop Michel en dié gelukkige persoon het dan nog ’n paar dae afgekry. Trevor het nie op hom laat wag nie en onmiddellik saam met die Franse begin feesvier.
Die Sondagaand toe hy die vliegtuig terug Uli toe moet haal, is hy steeds buite weste en verpas die vlug. Eers die Maandag kry hy ’n vliegtuig om hom terug te neem. ’n Omgekrapte Breytenbach soek ’n verduideliking vir sy rondlopery en laatkommery. Trevor vertel hulle toe van die St Michel-feesviering en hoe die Franse hom so gulhartig by alles betrek het.
Die volgende naweek is Breytenbach en FC in groot afwagting Libreville toe om aan die viering deel te neem. Hulle moes egter teleurgesteld terugkeer omdat dit net een maal per jaar gehou word.
Dit was Trevor se eerste St Michel. Die volgende jaar het hulle dit op Oudtshoorn saam met ’n paar lede van 1 Valskermbataljon4 gevier met ’n valskermsprong. Hierdie kuiery op St Michel-dag het daarna ’n jaarlikse instelling onder die groep Recces geword.
Biafra kon nie veel teen die res van Nigerië uitrig nie omdat die oormag te groot was. Teen einde 1969 het hul oorlogspoging begin taan en het dit duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse span spoedig onttrek sou moes word.
Breytenbach en Trevor was die enigste twee Suid-Afrikaners wat op die laaste dag op Uli-lughawe agtergebly het. ’n DC7-vliegtuig, met Ed Davis as vlieënier, het op die aanloopbaan geland om die laaste voorrade na Biafra te bring. Die inwoners moes aangevoel het dat die einde aangebreek het en het sedert vroegoggend al by die lughawegebied begin saamdrom. ’n Ent weg het kol Ojukwu se vliegtuig heeltemal geïsoleerd gestaan – hy was ook op pad uit.
Daar was die dag net dié twee werkende vliegtuie op die lughawe. Terwyl die laaste vrag met groot haas afgelaai is, gaan Breytenbach vinnig na Ojukwu se vliegtuig om afskeid te neem en die finale reëlings voor sy vertrek te tref.
Intussen raak Trevor al hoe meer bekommerd oor die skare mense wat hul hoop op die DC7-vliegtuig geplaas het om van die Nigeriese weermag te ontsnap. Dié mag was in aantog en nou kwalik ’n kilometer van die vliegveld. Daar was nie plek in die vliegtuig om so baie mense af te voer nie en dit sou in elk geval nie met so ’n swaar vrag kon opstyg nie.
Trevor wil nietemin probeer om van die Rooi Kruis-mense te red. Hy maak toe die vliegtuig se deur oop en sak met ’n tou af. Die oomblik toe die mense hom sien, wil almal in die vliegtuig in. Nee, sê hy, niemand kan nou al inklim nie omdat hulle nog besig is om vrag af te laai. Hy kry wel die boodskap na lede van die Rooi Kruis deur dat hulle met die tou opgetrek gaan word. Trevor is oorweldig deur die hopeloosheid van die situasie. Uit nood kondig hy aan dat hulle nog op die vlieënier wag, en dat niks kan gebeur voordat hy daar is nie.
Tussen die groep mense is ’n kolonel wat vra of sy dogtertjie voor in die ry kan staan. Trevor stem in dat sy eerste kan inklim, maar sy oë bly soek na Breytenbach wat klaarblyklik vertraag word. Met die skare wat nie veel langer in bedwang gehou kan word nie, raak die situasie by die sekonde meer kritiek. Maar al wat opdaag, is Breytenbach en Trevor weet dat hy nie sonder hom kan vertrek nie.
Terug in die vliegtuig roep Davis hom vorentoe en wys hom hoe die Biafrane ’n groot vragmotor voor die vliegtuig se neus trek om te verhinder dat dit opstyg. Weer is Trevor met die tou af, dié keer om die drywer te gaan dreig om sy voertuig te verwyder. Intussen kry hulle wel lede van die Rooi Kruis met die tou opgetrek, maar dis ’n gesukkel, veral met die vroue wat nie sterk genoeg is om vas te klou nie. ’n Benoude Trevor gooi nou alle militêre etiket oorboord en roep kliphard: “Jan! Jan! Kom nou, waar bly jy so bleddie lank?”
Met die Nigeriërs se bomme wat steeds al hoe nader val, het Davis nou genoeg van dié lewensgevaarlike situasie gehad. Hy gaan sonder Breytenbach opstyg, kondig hy aan. Vir Trevor beteken dit hy sal moet uitspring om saam met sy spanleier agter te bly. Hy pluk sy pistool uit en dreig Davis daarmee. Die situasie word gelukkig ontlont toe Breytenbach ’n rukkie later vinnig in ’n voertuig aangejaag kom.
“Make way, make way for the pilot!” skreeu Trevor verwoed op die skare. “Let the pilot get in!”
Breytenbach beur ’n pad tussen die mense oop en klim met die touleer op. Die oomblik toe hy in die vliegtuig is, storm hulle die leer en begin klim. Maar die sterk tou kon nie dié oorweldigende gewig dra nie en die hele leer stort in duie. In die proses word die meisietjie wat voor in die ry was deur die skare vertrap.
Terwyl die Nigeriese artillerie die aanloopbaan nou met hewige vuur bestook, kry Davis koers. Die bomme ruk diep kraters in die aanloopbaan maar hy stuur die vliegtuig tussen hulle deur. Buite klou ’n klompie mense nog wanhopig aan die romp was. Toe die vliegtuig spoed vermeerder, val die laastes soos los velle af. Dan ruk koeëls gate in die vliegtuig. Ironies genoeg is Breytenbach en Trevor se laaste geveg teen die Biafrane self. Hulle brand spontaan op die vliegtuig los in ’n desperate poging om dit op die grond te hou. Deur al die chaos kry Davis dit wonderbaarlik reg om die DC7 in die lug te kry.
In die vliegtuig sien Breytenbach en Trevor ’n soldaat in uniform wat iemand anders wat gered kon word, se plek gevat het. Met die adrenalien wat deur hul are pomp, wil hulle met alle geweld die deur oopmaak en hom uitgooi. Die vlugingenieur het sy hande vol om die twee Suid-Afrikaners in toom te hou. Gelukkig bedaar almal nadat die vliegtuig ’n ruk in die lug is. Hulle het in Libreville geland en die vlugtelinge wat hulle kon saambring, het daar afgeklim. Dit was die einde van die Biafra-episode.
Tydens hul oorstaan in Frankryk op pad terug het Breytenbach saam met die Franse spesialemagte nabetragting gehou. In die proses het hulle hom ook oor hul geheime strukture ingelig.
Trevor het later die Pro Meriete-medalje (PMM) vir sy optrede op die Uli-lughawe ontvang, terwyl Breytenbach die Suiderkruis-dekorasie (SD) gekry het.