Читать книгу Die besoeker - Anchien Troskie - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Van twee dinge raak ek bewus toe my oë oopgaan. Die eerste is dat die dag aan die breek is. Dankie tog. Ek het nog nooit van die donker gehou nie. Die tweede is dat daar iemand oorkant my in ’n stoel sit.

Naby my.

Omtrent drie tree weg.

My maag trek krampagtig saam, ek voel my hart in my ore klop. Die gil wat by my mond wil uit, sluk ek desperaat maar betyds weg. Nee. Ek gaan nie my vrees wys nie. Wat hy ook al vir my beplan, hy sal nie vrees in my oë sien nie. Ek dwing myself tot kalmte, sluk verbete aan die volgende gil. Haal diep asem.

In. Wie is dit?

Uit. Hoekom sit hy so stil?

In. Een van Jake se ouens?

Uit. Jake kan niemand meer stuur nie.

In. Polisie?

Uit. Nee.

“Wie is jy?” My stem klink yl, paniekbevange, nie sterk soos ek dit wou hê nie.

“Moenie bang wees nie, Emmie. Dis ek, Migael.”

“Hoekom is jy hier? Het Jake jou gestuur?”

“Nee, nie Jake nie. Jy weet wie ek is, Emmie.”

“Het my ma jou gestuur?”

“Nee, jy weet wie ek is.”

Ek skud my kop. “Is jy van die polisie?”

“Jy weet. Dínk.”

Ek ken hom. Sy teenwoordigheid hier voel reg. Asof dit so hoort. Asof ek al jare lank vir hom wag. Al is hy ongenooid, wil ek hom hier hê. Want ek kén hom. Al het ek hom nog nooit gesien nie. Dis tog nie moontlik nie?

Ek skud my kop weer. “Ek ken jou nie.”

Hy sug. “Dis ek, jou beskermengel.”

Vir ’n oomblik wil ek hom glo. Wil ek hoop dat ek so hoog geag word dat ’n engel my besoek. Wanneer jy niks meer het om voor te lewe nie, wanneer jy alles om jou swart wil verf, hoop jy. Wíl jy jouself om te hoop. Wíl jy jouself om te glo.

Maar ek is nie naïef nie, ook nie dom nie. Engele bestaan, maar hulle is nie wérklik nie. En Jake het ’n sadistiese sin vir humor. Hy sal dit amusant vind dat ek in ’n beskermengel glo. Maar Jake kon hom nie gestuur het nie . . . of kon hy?

Ek hou my oë op Migael. Hy is mooi genoeg om ’n engel te wees. Dit raak ligter in die vertrek; die son moet nou amper heeltemal uit wees. Ek kan hom al hoe duideliker sien. Dis wat ek altyd doen wanneer ek nuwe mense ontmoet: bestudeer hulle tot in die fynste besonderheid. Sodat wanneer ek aan hulle dink, van hulle praat, ek hulle sien.

Migael is mooi. Selfs sittend kan ek sien dat hy lank is. Lenig gebou. Gespierd, te oordeel na sy voorarms, maar sonder om soos ’n kragman te lyk. Groot hande en lang vingers, sy naels kort geknip. Stewige, manlike ken, hoë wangbene wat menige vrou hom sal beny. Blouselblou oë onder digte wenkbroue. Swart hare, effe lank, effe deurmekaar, effe krullerig. Sy lippe vol, en wanneer hy glimlag, soos nou, trek die linkerkant van sy mond hoër op.

Mooi. Maar méns. Nie ’n engel nie.

Ek sluk hoorbaar. “Kan ek jou iets vra? ’n Guns, as jy wil.”

“Sekerlik, Emmie.”

“Sal jy my vinnig doodmaak? Asseblief? Moenie met my speel soos ’n kat met ’n muis nie. Doen wat jy moet doen en kry klaar. Asseblief.” Ek skop die kwilt af, dis skielik te warm daarvoor.

“ ’n Ander mens sou vir sy lewe pleit. Hoekom pleit jy nie, Emmie?”

“Ek verdien om te sterf. Ná dit wat ek gedoen het, verdien ek om te sterf, te ly seker ook. Maar ek wil nie ly nie, daarvoor is ek te veel van ’n lafaard.”

“Ek is hier om jou te help, nie om jou te vermoor nie. Ek is hier vir jóú, Emmie.” Hy reik na my ineengestrengelde hande, vou syne daarom. “Ek is hier vir jou. Ek wil jou help.”

’n Rustigheid kom lê in my. Ek kry dit selfs reg om flou te glimlag. “Die ewigheid in?”

“Koffie,” sê hy beslis en staan op. “Geen mens kan die dag behoorlik begin sonder ’n koppie koffie nie, hoor ek.”

Ek was reg, hy is lank. En nog mooier. Noudat die lig helder deur die fyn gordyne in die kombuis skyn, kan ek hom beter sien. Hy draai die gasplaat aan, vul die ketel, sy rug na my gedraai.

Ek kan hardloop. Ek kan probeer wegkom. My motor staan nie te ver nie, dalk kan ek onder hom uit hardloop. Maar ek wil nie. Waarheen sal ek gaan? Hoe lank voor hulle my tog opspoor?

Ek sug, lê terug teen die rugleuning van die bank, waarvandaan ek hom steeds kan dophou. Die skril gefluit van die ketel kondig aan dat die water kook. Dalk is dit dít? Kookwater wat oor my uitgestort gaan word. Jake is wreed. En Jake is kwaad. En ’n Jake wat kwaad is, is nog wreder. Maar Jake kan nie . . .

Quintin? Natuurlik, ja. Hy is die een wat Jake se vuilwerk doen. Een van die twee wat die sneller getrek het. Die Q van Q & A. Moenie dink nie!

“Het Quintin jou gestuur?” glip die vraag oor my lippe.

Migael sit ’n stomende beker koffie voor my neer. Goed, dit gaan nie kookwater wees nie.

“Nee. Drink klaar, dan gaan stap ons. Ek wil jou iets wys.”

Hier is baie bosse. Hoe gaan hy dit doen? My skiet? Met ’n mes? My eenvoudig met iets oor die kop slaan? En my tussen die bome los.

Ek wil nie tussen bome gelos word nie! Nie met allerhande vreemde diere wat aan my kan kom kou nie! Ek moes gehardloop het, ek moes probeer het!

“Klaar?”

Hy het so ’n rustige stem. Hy neem die halfleë koppie voor my weg, sluk die glas water in sy hand leeg.

“Kom, daar is modderstewels by die deur. Trek vir jou ’n paar aan, dan stap ons.”

Hy stap vooruit. Kyk nie eens om of ek volg nie. Ek kan nou probeer wegkom, tog doen ek dit nie. Dis asof daar ’n onsigbare tou tussen ons gespan is en hy my saamsleep. Nee, die tou is juis nié gespan nie, dit hang slap tussen ons. Ek loop saam met hom omdat ek wíl. Omdat ek skielik willoos is. En hy weet dit.

Ek volg hom gedwee, soos een van die rotte agter die fluitspeler aan. ’n Baie mooi fluitspeler, met ’n wit T-hemp en jeans aan. Kaalvoet. Ons stap en stap; my stewels sloef-sloef deur die modder. Ek gaan vir ’n oomblik staan, hande op my heupe.

“Toe nou, Emmie, dis nie meer ver nie.” Sonder om om te kyk.

My hande val slap langs my sye. My bene begin asof vanself verder deur die modder ploeg.

Dan maak die bome onverwags oop en is ons in ’n oopte. Die lig is verblindend ná die skemering van die bos. Ná nog ’n entjie bereik ons ’n waterval.

Mooi. Dan gaan dit só wees. Verdrinking. Water, my grootste vrees, Jake weet dit.

“Kyk hoe mooi, Emmie!”

Ek kyk. As ek ’n ewige rusplek moes kies, sou dit hier kon wees. Ek kan ten minste dankbaar wees dat Migael my sentiment deel. Groen gras, ’n paar veldblomme, ’n poel donker water en die waterval. Nou nie ’n donderende watermassa nie, eerder ’n groter as normale pisstraaltjie. Mooi. Ja, ek kan hier doodgaan, net nie ín die water nie.

“ ’n Waterval is vir my een van die mooiste dinge op aarde,” sê Migael. “In tye van swaarkry droog dit op, maar dit gaan nooit regtig weg nie. Wanneer voorspoed kom, vloei dit net weer. En dit bly dieselfde, met dalk kleiner, beter veranderings. Nuwe, vars water, oeroue vloeipatrone.”

Ek voel hoe magtelose, vreesbevange trane uit my oë drup. “Doen dit nou. Vermoor my nou. Terwyl ek hier staan sonder ’n wil van my eie. Ek kan dit nie langer uithou nie. Doen dit.”

Migael draai só skielik na my om dat ek skrik. Hy kom staan amper teen my. Hou my gesig in albei sy hande vas, sy gesig sentimeters van myne af.

“Emmie, jy het elke moontlike scenario in jou kop laat afspeel. En ek het jou nog geen leed aangedoen nie. Wat sê dit vir jou?”

Dat daar agter jou mooi uiterlike ’n sadistiese vark skuil? Dat jy die oomblik so lank moontlik wil uitrek sodat jy die meeste satisfaksie daaruit kan put?

“Ek weet wie jou gestuur het. Quintin . . . want Jake kon nie. Quintin het. Quintin sál.”

“Hy het nie, Emmie. Ek is hier vir jóú. Ek is nie hier om jou leed aan te doen nie.”

Skielik. Net so. Loop die vrees uit my kop, spoel af na my nek, my skouers, my rug en maag, sodat dit van my vingerpunte drup, deur my voetsole vloei. Aarde toe, waar dit gulsig opgeslurp word.

’n Ander emosie neem van my besit. Dit vloei vanaf moederaarde deur my liggaam op. Dit laat my bewend voor hom staan. Dit maak dat alles rondom my in ’n waas gehul word.

Wit. Warm. Woede.

“Ek is gatvol vir jou speletjies, Migael! As dit ooit jou naam is. Gatvol! Ek speel nie meer saam nie. Ek het dit vir Jake ook gesê, maar hy wou nie luister nie. En waar is hy nou? In die lykshuis, met ’n mes in sy maag. Ek het die mes gevat, ek het dit in jou baas se maag gedruk, ek het hom soos ’n vark hoor skreeu! Ék het dit gedoen. En ek kan dit weer doen! Dis óf ek óf jy. Ek is nie meer bang nie! Doen aan my wat jy wil. Jy kan my martel, jy kan my vinnig laat doodgaan, ek gee nie meer om nie!”

Ek draai om, stap ’n ent verder, my rug hol omdat ek enige oomblik ’n skoot in my rug verwag. Niks. Draai terug. Hy staan steeds daar. ’n Uitdrukking van ongeloof op sy gesig, wat vervang word deur sy skewe glimlag.

“Jy lyk presies soos jy op agt gelyk het. Dieselfde woedende determinasie. Onthou jy?”

Ek kan net na hom staar.

“Toe jou ma jou probeer dwing het om blomkool te eet? Jy was so kwaad! Jy het gedreig om weg te loop.” Hy lag. “Onthou jy?”

“As jy wil maak of jy ’n engel is, doen dit dan! Dís wat jou weggegee het, weet jy? Jake het geweet hoe groot my obsessie met engele is. Nét Jake. En hy het dit natuurlik vir julle vertel. Lekker agter julle hande gelag vir die naïewe ou meisietjie.”

Ek stap weer nader, gaan staan voor hom, lig my kop sodat ek hom in die oë kan kyk.

“Ek was dalk naïef, maar jy sal verbaas wees hoe vinnig ek grootgeword het! Nou gaan ek huis toe. Jy kan my volg, jy kan my nóú skiet as jy wil. Whatever. Ek is klaar met julle mind games! En nee, ek onthou dit nie!”

Ek draai weer terug, begin aanstap, huis toe. Nee, eerder skuiling toe. En dis ook nou daarmee heen, my skuiling. Ek het geglo dat niemand my hier van alle plekke sou kom soek nie. Ek was dom. Ek het vergeet hoe ver Jake se invloed strek. Maar ten minste was ek eerlik toe ek vir hom gesê het ek stel nie meer belang nie.

Hulle kan my vermoor. Grusaam, as hulle wil. Ek bedoel, bring it on! Ek is nie meer bang om dood te gaan nie. Almal moet tog een of ander tyd vir hulle sondes boet. En ek sal my boete vreesloos ontvang én betaal.

“Bring it on!” gil ek en draai om, maar daar is niemand meer by die waterval nie.

Ek draai my kop na links, na regs. Niks. Wat de hel? Tussen die bome in? Ja, dis moontlik. As hy vinnig gehardloop het, kon hy dit seker betyds maak.

Ek stap terug na die plek waar hy ’n paar oomblikke gelede gestaan het. Volg ons voetspore met my oë. Daar is myne, heen en weer, heen en weer. Kaalvoetspore, ja. Maar net tot hier. Die spore loop hier dood. Dit draai nie om nie, dit gaan nie terug nie.

Die alternatief is dat hy . . . Ek lig my kop, kyk in die lug rond vir enige teken van lewe. Absurd, ek weet, maar hoe het hy anders verdwyn?

Nee, ek gaan nie toelaat dat hulle verder met my kop smokkel nie. Ek gaan stap. Huis toe. Dan gaan ek ry. Na my ma toe. Sy sal my help. Sy móét.

Ek draai om, begin doelgerig stap.

Met elke tree wat ek gee, word die woede minder. Geleidelik word die kokende vulkaan van vroeër ’n flouerige vuurtjie. Kwaad? Ja, baie. Bang? ’n Bietjie. Maar daar lê ook ’n gelatenheid in my. Wat moet gebeur, sal gebeur.

Ek loop. En loop. En loop. Ná wat soos ure voel, gaan ek staan. Ek moet erken dat ek gruwelik verdwaal het. Dis ook nie asof ons ’n pad met rigtingwysers gevolg het nie!

Ek draai om, kyk af. Spore. My spore. Hoekom het ek nie ons spore van die waterval af gevolg nie? Ek was te kwaad, besef ek die waarheid.

Terug op my spore tot by die waterval? En van daar op ons spore tot by die huis? Ek sug gefrustreerd. Soms moet ’n mens in jou spore omdraai, terug na die begin.

Die besoeker

Подняться наверх