Читать книгу Die besoeker - Anchien Troskie - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеOp Lisa se instruksies trek ek my partytjieklere aan: jeans, plat skoene vir dans, blink, stywe toppie. Hare lank en los oor my skouers.
Lisa kom haal my by my woonstel. ’n Ander Lisa, met ’n kort-kort rompie en hoë hakke aan. Hare wild om haar kop. Swaar gegrimeer.
Sy kyk kopskuddend na my. “Ai, Emmie, ons gaan na ’n klub toe, nie ’n braai nie!”
“Ek kan gou –”
“Daar’s nie tyd nie. Kom.”
My moed sak in my skoene toe ek die lang ry mense sien wat wag om ingelaat te word. “Ons gaan nooit hier inkom nie, Lisa. Ons sal maar op ’n ander aand moet kom.”
Sy lag net en trek my vorentoe. Die deurwag glimlag vir haar, knik vir my en laat ons sonder ’n woord deur.
Dit ís ’n strip-klub, ’n eksklusiewe strip-klub. Soort van. Want nie een van die blink, oliebesmeerde lywe in einaklein stukkies klere wat aan pale rondswaai, raak ontslae van hulle klere nie. Maar nogtans. Hulle dans op verhoë wat oral in die groot klub opgerig is. Strategies opgerig, let ek op. Wanneer jy by die deur inkom, is dit die eerste ding wat jy sien: die meisies, die ronde verhogies, die pale waaraan hulle rondswaai.
Rondom die verhogies is tafels en stoele gerangskik, waar meestal mans, maar ook ’n paar vroue, oopmond na die dansers staar. ’n Groot kroegtoonbank beslaan die hele linkerkantste muur; daaragter is ’n spieël wat die drankbottels weerkaats.
Trappe lei na die boonste verdieping, waar die dansvloer is. Die gewone dansvloer, vir dié wat verkies om met hulle klere aan te dans. My mond dreig om oop te sak, want só iets het ek nog nooit gesien nie. Die vertrek is groot, indrukwekkend en luuks. Daar is ’n menigte mense, polsende musiek, flitsende ligte en mengeldrankies in al die kleure van die reënboog.
Lisa trek my aan die arm dansvloer toe, en daar, met ’n drankie in die een hand, dans ek saam met haar. Totdat ’n man haar op die skouer tik.
“Jake is ready for you, Lisa.”
Sy gryp my aan die arm en ons stap agter die man aan. En ek is seker dis nie my verbeelding dat haar hand krampagtig om my boarm sluit nie.
Die een muur is versier met houtpanele en heelparty spieëls, wat die indruk gee dat daar dubbel soveel dansendes is. Ons loop op een van die panele af en nadat die man vinnig geklop het, maak hy dit oop en stap saam met ons in.
Dis ’n groot vertrek; die musiek is skaars hoorbaar hier binne. ’n Kantoor met ’n lessenaar, stoele voor die lessenaar, ’n indrukwekkende boekrak en ’n groot plasmaskerm-televisie. ’n Enorme man staan met sy rug na ons, sy blik op die televisie. Krieket.
Toe hy van ons bewus raak, draai hy stadig om. Nie ’n haar op sy kop nie. Hy glimlag lui, beduie dan vir die ander man dat hy maar kan gaan.
“Lisa!” groet hy uitbundig, en beduie ons na die stoele voor die lessenaar. Hy neem agter die lessenaar plaas.
“En dit moet jou plaasvervanger wees?” Hy praat met Lisa, maar sy oë verlaat my gesig nie ’n oomblik nie.
“Jake, ontmoet my vriendin, Emmie. Emmie, dis Jake Muller.” Lisa se stem is effens bewerig.
“Emmie.” Hy steek een van sy enorme hande uit en dit sluit warm om myne.
“Hallo, Jake,” kry ek dit hees uit.
Sy grootte, sy stem, alles aan hom is intimiderend, tog is sy stem rustig. Maar sy glimlag reik nie tot by sy oë nie. Dié bly koud, berekenend op my gerig.
“Lisa het alles mooi aan jou verduidelik?”
Ek knik.
“Goed so. Dis ook nou nie asof jy slim moet wees om die werk te kan doen nie!” Hy lag bulderend vir sy eie grap.
“Maar soos met alles in die lewe is daar reëls.” Hy staan op, stap tot voor my en hou sy regterhand in die lug. Drie bonkige goue ringe pryk aan drie vingers. Hy lig sy vingers soos hy praat. “Een: moet nooit self dwelms gebruik nie. Junkies beteken moeilikheid, en moeilikheid het altyd ’n manier om my geld te kos.” Die tweede vinger: “Verkoop altyd meer as wat jy dink jy kan. Dié twee dinge maak my baie gelukkig.”
Hy leun nader aan my. “En glo my, Emmie, jy wil my nie ongelukkig sien nie. Quintin!” roep hy so skielik dat ek wip van die skrik.
’n Lang, maer man met olierige hare wat tot op sy skouers reik, kom binne. Hy kyk emosieloos na Jake.
“Maak vir haar ’n sak vol.” Jake draai weer na my. “Nou ja, Emmie, dan sien ek jou weer later?”
“Jake?” Lisa se stem klink yl.
“Dis reg, amper vergeet ek.” Hy stap na sy lessenaar, haal ’n pak note uit die boonste laai, gooi dit voor my neer. “Lisa sê my dat jy ’n bietjie swaarkry. Dis ’n voorskot.”
Ek wil weier om die geld te vat, maar ek weet dat dit ’n warm bad en gekookte kos beteken. Minder telefoonoproepe wat ek moet probeer vermy. Gemoedsrus.
Dis wat maak dat ek die pak note optel en in my handsak druk. “Dankie.”
“Dis nie ’n geskenk nie, Emmie.”
Ek het dit ook nie aangeneem nie, Jake, wil ek sê, maar ek bly eerder stil. Wanneer het ek so pateties geraak? Ek kon nog altyd sê wat ek wou, aan wie ek wou.
Dis sy oë, besluit ek. Hy het oë wat nie terugpraat duld nie. Gitswart en koud. Ek sal elke sent so gou as moontlik vir hom teruggee, besluit ek. Elke sent. By hom wil ek nooit in die skuld wees nie. En hierdie werk doen ek net tot ek vry van skuld is. Nét tot dan.
Quintin hou die rugsak na my uit; ek neem dit en staan op. En skrik vir sý oë. Donker oë, sonder enige emosie, staar woordeloos na my terug. Amper dieselfde oë as Jake, en ook glad nie. Syne is dood, soos dié van ’n koudbloedige reptiel.
“Hierdie een is nie reg vir die job nie. Sy gaan vir ons net moeilikheid beteken.”
Jake draai na hom. “Hoekom sê jy so?”
Sonder om sy slangogies van my weg te neem, antwoord hy: “ ’n Gut feeling. Ek dink net nie sy is reg nie.”
“Gelukkig betaal ek jou nie om te dink nie,” sê Jake en draai sy rug op ons. Wat, lei ek af, beteken dat ons weggestuur word.
* * *
Migael sit doodstil. Ek kan sien hy luister aandagtig.
“Ek het gebewe toe ek langs Lisa in die motor klim. Sy ook. Ek kon dit aan haar hande sien. Dit het my nie ontstel dat Quintin dink ek is nie reg vir die werk nie. Ek wás nie. Die manier waarop hy dit gesê het, die kyk in sy oë, dít het my ontstel.
“Die volgende dag het Lisa haar kliënte begin inlig dat ek van nou af die goedere sou verkoop. Ek het myself probeer oortuig dat ek nie ’n ander opsie het nie. Dit het nie veel gehelp nie, ek het myself steeds gewalg. Veral toe ek die pak note uit my handsak haal en dit tel. Tienduisend rand. Genoeg vir elektrisiteit, telefoon, ’n paar rekeninge. Dat ek daarvoor dankbaar was, het my nog meer gewalg.
“Toe my eerste wins van vyfduisend rand in my hand lê, het ek myself weer eens belowe dat ek dit net sal doen tot ek vry van skuld is. Daarna sou ek sonder enige skuld leef.”
Ek kyk verbaas na die trane wat op my hande drup, ek het nie eens besef ek huil nie. Migael kom sit langs my, neem my versigtig in sy arms, tel my op sy skoot. Soos ’n kind sit ek daar, my gesig in die holte van sy nek gedruk, my arms krampagtig om sy lyf geslaan. En ek huil. Ek huil sy skouer sopwaternat.