Читать книгу Die besoeker - Anchien Troskie - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

“Vertel verder.”

Ons sit weer in die sitkamer. Ek op die bank, hy in die leunstoel.

“Ek het nog vrae . . .”

Hy rol sy oë en gee sy kenmerkende skewe glimlag.

“Wat?”

“Emmie, jou vrae van vroeër was net ’n manier van uitstel. Jy weet dit, ek weet dit. Jy kan niks vir my verberg nie. Jy kan nie vir my lieg nie.”

“Is daar iets wat ek kan doen?” Sarkasties.

“Jy kan my alles vertel. Jy moet.”

Ek het klaar geëet. Die risotto was voortreflik, natuurlik. Die skottelgoed is gewas en afgedroog en weggepak. Nie geweet daar bestaan iemand, behalwe my ma, wat glo dat jy nie kan gaan slaap voor jou kombuis blinkskoon is nie.

Maar helaas, dis te vroeg om nou al te gaan slaap. Ek kan nie eens moegheid veins nie, want ek het vanmiddag geslaap. Genoeg. En hy sal weet. Ek sug. Vir ’n rukkie, terwyl ons rys geroer het, terwyl ek geëet het, was ek net ’n jong vrou aan die sy van ’n mooi man. Kon dít nie maar eerder my werklikheid wees nie? Nou moet alles bederf word deur my wérklike werklikheid.

En vir wat? Ek vermoed dat Migael in elk geval alles weet. En daar is soveel wat ek eerder sou wou vergeet. Aan die ander kant, ek is oortuig daarvan dat ek ’n kilogram minder skuld op my skouers dra. En dit net deur te praat. Deur by die begin te begin.

Wie weet, as ek Migael alles vertel, as ek hom aan die hand vat en deur my sordid lewe laat stap, word die ton skuld op my skouers dalk nog ligter. Dalk word die gewig wat op my bors lê en dreig om my te versmoor ook minder.

“Wanneer jy wil weet waarheen jy op pad is, is dit soms nodig om te onthou waarvandaan jy kom,” onderbreek hy my gedagtegang.

Dalk is dit tóg nodig dat ek hom alles vertel, besluit ek. Laat sy wat ’n mond het, praat. Laat hy wat ’n oor het, luister.

“Ek het reeds vir jou vertel dat ek skuld gehad het, skuld wat gedreig het om my te verswelg. Toe die euforie van my eerste werk en finansiële onafhanklikheid vervaag, het ek besef dat ek altyd ’n armgat sal wees. My salaris was nie sleg nie. Ek het nie sleg aangetrek nie. Maar tussen daardie rykmanskinders, by daardie rykmanskool, het ek arm gelyk, arm gevoel. Hulle het duur klere gedra. Nie noodwendig mooi nie. Van daardie klere het gelyk of dit al ’n dekade oud was, maar dit het een of ander famous designer label opgehad en daarvoor het hulle betaal.”

Ek skud my kop. “Ongelooflik. Hulle hare is by die beste salonne gewas en gekleur en geknip. Weeklikse manikuursessies was ’n moet. En hulle motors!”

Onwillekeurig draai my kop na die venster, na my tweedehandse motortjie wat onder die boom staan. Migael volg my blik glimlaggend.

“Hulle was ryker as wat ek kon onthou ons ooit was, voor én tydens my pa se bedrog. Of dalk kan ek net nie onthou hoe goed ons voorheen geleef het nie. Dalk was die kontras tussen hulle lewe en myne net te groot. Hoe meer ek myself vertel het dat hulle sonder hulle ryk pa’s ook maar nie veel was nie, hoe minder het ek dit geglo. Ek is skaam om te erken dat ek minderwaardig gevoel het tussen hulle. Ek is twee-en-twintig, en hulle is kinders! Maar my maandelikse salaris was heel moontlik minder as hulle sakgeld! En hulle het so ’n manier om langs hulle neuse na my af te kyk wanneer hulle by die kantoor instap. Praat van egte upper crust! My sommer gejy en gejou. Ek het met meneer Meyer daaroor gaan praat, daarop aangedring dat hulle my ‘juffrou’ noem.

“In elk geval, hulle was ryk, hulle het duur aangetrek. Toe maak ek links en regs klererekeninge oop en ek kóóp. Met my kredietkaart laat ek my muisvaal hare by ’n spoggerige salon goudblond kleur. Ek hou basies op om te eet. Want om maer te wees, blink hare en vel te hê, spel vir hulle sukses. En ek wou so graag suksesvol wees. En as ek dit nie kon wees nie, wou ek dit ten minste lýk.

“Twee jaar terug het ek my siel aan Mammon verkoop, Migael. Omdat ek nie van beter geweet het nie. Omdat ek gedink het dat ek onbetrokke kan bly. Omdat ek vraatsig vir weelde was. Google my naam en jy sal sien dat Emmerentia Gertruida Engelbrecht staan vir ‘kind van Mammon’. Dis wie ek is. En ek wens dit was nie so nie. Ek wens ek kon ’n ander naam vir myself kies. Ek was vraatsig, en nou is ek so dik gevreet aan geld dat ek daarvan wil kots.”

Ek kyk vinnig op na hom, maar sy gesig bly uitdrukkingloos. Nie eens dít kan hom skok nie.

“Ek het Lisa Groenewald by die skool ontmoet – sy was meneer Meyer se persoonlike assistent. Dieselfde werk as ek, net ’n meer indrukwekkende posbeskrywing. En natuurlik het sy ’n kantoor net vir haarself gehad. Sy het ’n borrelende, sprankelende persoonlikheid. Sy was goed versorg. Sy was pragtig. Sy was alles wat ek wou wees. By haar het ek alles van grimering geleer. Ek het saam met haar begin gym. En saam met haar inkopies gedoen. Waar ek plastiek rondgeswaai het, het sy kontant gebruik. En sy kon kóóp.

“Vir ’n lang ruk het ek myself oortuig dat sy die rede vir my skuldlas was, omdat sy my kon oortuig om iets te koop wat ek nooit sou dra nie. Maar dit was nie haar skuld nie, dit was myne, ek weet dit. Lisa het op trou gestaan met ’n baie welaf man. Ek was oortuig dat hy haar bederf het, want op haar salaris kon sy nie alles bekostig wat sy gekoop het nie.

“In Lisa het ek ’n goeie vriendin ontdek. Iemand by wie ek kon kla oor die werk, die feit dat ek nie ’n man kan ontmoet wat aan my verwagtinge voldoen nie – meaningless goed. En saam met haar kon ek koop sonder om skuldig te voel. Toe kom die rekeninge. En ek maak somme. En besef dat ek in baie groot moeilikheid is. Ek kon vir niemand van my finansiële krisis vertel nie, veral nie vir my ouers nie. En ook nie vir Lisa nie. Ek was bloot te skaam om te moet erken dat ek toe nie so volwasse is as wat ek geglo het nie. Dat ek after all my pa se kind is. Toe skakel een van die klerewinkels my by die kantoor.”

* * *

“Ek sal probeer.” Ek voel Lisa, wat teen my lessenaar aangeleun staan, se blik op my en praat sagter in die mondstuk. “Ek belowe ek sal ’n betaling maak voor die end van die maand . . . Goed, voor die einde van die week dan.”

My hand bewe toe ek die gehoorstuk neersit.

Lisa kyk stip na my. “Ek neem jou uit vir ete ná werk, ek het hierdie fabulous Italiaanse restaurant ontdek.”

Dit ís ’n mooi restaurant. Ons bestel elk ’n groenslaai en ’n glas water. Bid jou aan, dink ek toe ons die bestelling plaas. Hier sit ons in ’n Italiaanse restaurant met al die indrukwekkende, aptytwekkende disse op die spyskaart, en ons bestel slaai.

Dis die prys wat jy betaal om in ’n nommer 34-jean te pas, sug ek innerlik en neem ’n groot sluk van die water.

“Ek kon nie help om jou telefoniese gesprek van vroeër te hoor nie,” sê Lisa versigtig. “Is jy in die moeilikheid?”

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om alles te ontken. Dis nie lekker om jou tekortkominge met iemand te deel nie. Veral nie met iemand soos Lisa nie. Maar sy is my vriendin, en ek móét met iemand praat.

“Jy kan my vertrou, ek help graag waar ek kan,” moedig sy my aan.

En ek vertel haar. Amper alles. Die deel oor minderwaardig voel omdat die skoolkinders beter aantrek, hou ek vir myself. ’n Mens hoef ook nie álles te deel nie.

“Dankie dat jy geluister het, Lisa. Dit help al klaar ’n bietjie. Want behalwe as jy vir my ’n ryk man soos jou verloofde het, kan jy seker nie help nie.”

“Emmie, ek het nog nooit ’n sent by Jeff gekry nie. Dis my eie geld wat ek uitgee. Ek het ’n tweede inkomste. ’n Tweede werk.” Sy dink ’n oomblik na. “As jy wil, kan ek jou aan my ander werkgewer voorstel. Dis goeie geld; jy sal nooit weer terugkyk nie. Ek wou jou lankal aan hom gaan voorstel het. Ná die troue gaan ek weg, en iemand moet my besigheid oorvat. Wat sê jy? Sal jy hom wil ontmoet?”

“Watse tipe werk is dit?” wil ek skepties weet. As dit so ’n wonderlike werk is en dit betaal so goed, hoekom is sy nog by Geelhoutboom?

“Ek sal verkies dat hy jou self vertel. Ons gaan vanaand na sy klub toe. Praat met hom, dan kan jy besluit.”

“Dis nie ’n strip-klub nie, of hoe?”

Sy lag lank en hard. “Dis ’n baie eksklusiewe klub.”

Sy moes my twyfel raakgesien het, want sy vervolg: “Dit kan nie skade doen nie, kan dit? Ons dans, ons kuier, jy ontmoet hom. Stel jy belang, wonderlik. Indien nie, ook reg.”

“As die geld so goed is, hoekom is jy nog by die skool?” wil ek skepties weet.

“Dis ingewikkeld.”

“Is dit onwettig?” kan ek nie help om te vra nie.

“Dis easy money, ek belowe. En jy kan my mos vertrou.”

“Ek kan nie so goedsmoeds by ’n ding betrokke raak nie, Lisa. Al vertrou ek jou. Jy sal eers vir my moet verduidelik wat ek sal moet doen voor ek jou werkgewer ontmoet.”

“Goed, maar nie hier nie.” Sy kyk na die ander mense in die restaurant. “Kom ons gaan gesels in jou woonstel. Gaan jy solank, ek het nog een of twee dingetjies om te doen. Ek ontmoet jou daar.”

Net toe ek begin glo sy gaan nie opdaag nie, lui my deurklokkie.

“Jy sal nie glo wat ek gekry het nie!” sê sy terwyl sy ’n pakkie opgewonde voor my rondswaai. “Sandale!”

“Sandale?”

“Trousandale!”

A, dis nou al ’n paar weke dat ons elke moontlike skoenwinkel deurloop op soek na die perfekte paar trousandale.

“Ek stap verby daardie klein skoenwinkel in die mall en daar pryk dit in die venster! Kyk!” Sy haal dit opgewonde uit.

“Dis pragtig, Lisa,” sê ek terwyl ek die spierwit sandale bewonder.

“Nou het ek alles om dit die perfekte troue te maak,” sug sy gelukkig en bêre die sandale versigtig.

Terwyl ek tee skink, vroetel sy senuagtig met haar goue armbande.

“Lisa, gaan jy my nou sê wat ek moet doen vir ekstra geld?” por ek haar aan.

Sy neem haar teekoppie afgetrokke by my. “Dis moeilik.”

“Die werk?”

“Nee, die werk is maklik. Ek is net nie seker hoe jy gaan reageer nie.” Sy sug. “Ek sal jou vertel, maar jy mag my nie in die rede val nie. Luister eers klaar. Sal jy?”

Ek knik.

“Ek verkoop dwelms vir Jake Muller.”

Ek maak my mond oop, maar sy hou haar vinger in die lug.

“Luister eers klaar, Emmie. Ek weet dis onwettig, maar ek glo nie dis verkeerd nie. Dis nie hard drugs nie, dis uppers en downers. Jy weet, dagga, coke, ecstasy. En dis nie asof ek dit steel nie. Jake het ’n . . . kom ons noem dit ’n maatskappy. Hy vervaardig dit self en verkoop dit dan aan ons.”

“Op skuld, seker.”

“As jy genoeg kontant het om jou eerste voorraad te koop, kan jy. Maar ja, ek het op skuld gekoop. Dis heel eenvoudig: jy koop by hom, sit ’n prys op en verkoop weer. Jake soek net sy geld, die res is joune. Dis ’n wettige besigheid.”

“Wettige besigheid? Dwelms?” wil ek verstom weet.

“Jy weet wat ek bedoel.” Sy wuif my verontwaardiging weg. “Ek dog jy het geld nodig?”

“Ek het, maar nie só nie! Gebruik jy ook dwelms?”

“Natuurlik nie! Jake laat dit in elk geval nie toe nie.”

“Ek kan nie aandadig wees aan so iets nie, Lisa. Nie iets onwettigs nie, en beslis ook nie dwelms nie.”

“As jy dit nie verkoop nie, sal hulle dit by iemand anders kry, Emmie. Dis nie asof jy iemand gaan dwing om te begin nie! Vandag se kinders kan nie meer sonder die goed lewe nie.”

“Jy verkoop aan kinders?”

“By die skool. Jy sal verbaas wees om te hoor hoeveel van ons toppresteerders gebruik dwelms.”

“En jy dra daartoe by!”

“Soos ek sê, ek dwing niemand om te koop of te gebruik nie. Hulle sal dit wel by iemand anders kry. Eintlik doen ek hulle ’n guns. By Jake kry jy net dwelms van hoogstaande gehalte, maar op straat kan hulle enige gemors optel en gebruik. En dis goeie geld, Emmie.”

“Ek stel nie belang nie.”

“Moenie te vinnig praat nie. As jy dit nie doen nie, sal iemand anders wel. En ek wil graag hê dit moet jy wees. Aangesien jy geld nodig het.”

“Ek sal regkom – sonder dwelmgeld.”

“Ek gaan nou. Dink eers rustig daaroor, Emmie. Ek weet dis ’n effense skok, maar dis nie so erg soos dit klink nie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig jy dit gewoond raak. En dis easy money. Dink net wat jy alles met ekstra, báie ekstra geld kan doen.”

“Ek stel nie belang nie.”

* * *

“Ek wou regtig nie betrokke raak nie, Migael. Ek het haar by haar motor gaan afsien, my woonstel ingeloop en ek was gewalg. Die idee dat klein, fyn Lisa dwelms aan kinders verkoop sodat sy ’n sekere lewenstyl kan handhaaf, het my gewalg. Ek was beter as dit! Ek het haar die volgende dag geïgnoreer. Net met haar gepraat wanneer ek moes.

“Die dag daarna het meneer Meyer my ingeroep. Hy het Lisa se pos vir my aangebied omdat hy tevrede met my werk was. Dit het ’n salarisverhoging beteken. Nie baie nie, maar genoeg om my te laat besef dat ek die regte besluit geneem het deur nee te sê vir dwelms. En toe . . .”

Ek vryf moeg oor my oë. Hoe sou my lewe uitgedraai het as ek by my besluit gehou het? Sou ek nou doodgelukkig – diep in die skuld, toegegee – gewees het? Sou ek Migael ontmoet het?

Ek laat sak my kop teen die rugleuning. “En toe kom daar twee aanmanings. En ’n hele paar telefoonoproepe. Een aand toe ek by die huis kom, ontdek ek dat my krag afgesny is. Ek is druipstert terug na my ma toe met ’n storie oor kabels wat foutief is, en dat die krag die volgende dag uitgesorteer behoort te wees. Ek het vir amper ’n week uitgehou. Ek kon nie elke aand by my ma opdaag vir ’n bad en ’n warm bord kos nie, dus het ek in koue water gewas en geleer om van brood te hou.

“Ek het my selfoon glad nie beantwoord nie, en die huistelefoon was ook afgesny. Maar by die skool kon ek nie wegkom van die oproepe nie. Ek kon nie so aangaan nie. Ek kon seker my ma gevra het om te help, en sy sou. Maar ek wou nie die teleurstelling in haar oë sien nie. Ek wou haar nie weer deur so ’n hel sit nie. Ek kon dit nie aan haar doen nie, ek kón net nie.”

Ek lig my kop en kyk na Migael. Simpatie. Dit staan oral op sy gesig geskryf.

“Die volgende dag is ek na Lisa toe. Daardie aand het sy my na Jake se klub gevat. Ek was bang, maar desperaat genoeg om enigiets te probeer.”

Die besoeker

Подняться наверх