Читать книгу Die besoeker - Anchien Troskie - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Ek maak my oë in verblindende lig oop. Vir ’n oomblik is ek gedisoriënteer. Waar is ek?

O ja. Is dit nog vandag of is dit al môre?

Ek kyk op my horlosie. Vieruur. Nog vandag.

Wie is dit?

O ja. Migael.

Hy sit-lê oorkant my op ’n stoel en slaap, sy mond effens oop. Wie ís hy? Behalwe dat hy die mooiste man is wat ek nog ooit gesien het, is al wat ek van hom weet dat hy ’n wonderlike kerrie maak, wonde soos ’n dokter kan versorg en dat hy die sagste hande het. Het ek al genoem dat hy die mooiste man is wat ek nog ooit gesien het?

Ek glo nie meer dat hy hier is om my te vermoor nie. Anders sou hy al. Vroeër vanoggend toe ons gaan stap het. Nou toe ek lê en slaap het. Hy het genoeg geleentheid gehad. Dalk is hy nie eens een van Jake se trawante nie. Soos ek hulle ken – en ek kén hulle – sou hy lankal die daad wou pleeg en vlug.

Is hy van die polisie? Ek het nog nooit iets met die polisie te doen gehad nie, sou hulle só werk? Een man stuur om na my hele lewensverhaal te luister? Dalk. Niks is onmoontlik nie.

Miskien is hy net ’n man. ’n Kaalvoetman wat toevallig hier verbygeloop het en besluit het om met my te kom kennis maak. Dis seker ’n moontlikheid. Maar . . . ’n engel? Absurd. Engele verskyn nie meer aan mense nie. En as hulle sou, moet dit nie met trompetgeskal en in verblindende lig wees nie?

Hy is mooi genoeg vir ’n engel . . . ’n Engel moet eintlik lelik wees, sodat hy nie ’n mens sondige gedagtes kan gee nie. Hy is sterk genoeg vir ’n engel, daarvan getuig sy gespierde arms.

Ek het ’n groot probleem met die engeltjies wat gedurig op alles verskyn. Jy weet, daardie vet, ronde, kuiltjiebesaaide kindertjies met die blonde krulhare, blou oë en klein vlerkies. Wie wil nou ’n kind as beskermengel hê? Gee my ’n man met spiere. Ek bedoel, wanneer daar sê nou maar ’n lorrie op jou afpyl, wie sou jy kies? ’n Kindengel wat hier aan jou bobeen druk-druk om jou weg te kry, of ’n groot, sterk man wat jou uit die pad kan stamp?

Ek sal dit ruiterlik erken: ek het al gewens om met ’n engel – verkieslik my eie beskermengel, maar enige een rêrig – te kon praat. Baie. Maar dis een van daardie dinge waarvoor jy wens en tog weet jy dit sal nooit gebeur nie. Soos dat jy die Lotto sal wen. Of dat jy Brad Pitt iewers sal raakloop en sy voete só onder hom uitslaan dat hy van Angelina en die klomp kinders vergeet. Dis lekker om daaroor te fantaseer, maar jy weet dit sal nooit gebeur nie. Dis ’n veilige fantasie.

En hier sit my fantasie oorkant my. Miskien hallusineer ek? Van skok dalk? Seker ’n groot moontlikheid. Dalk is hy môre weg. Wil ek hê hy moet verdwyn? Droom ek?

Daar is ’n manier om uit te vind. Ek staan op, stap saggies na hom toe en knyp. Hard. Aan sy bobeen. Wat, moet ek sê, baie gespierd voel.

Migael se oë vlieg oop. Hy staar oopmond na my. “Vir wat het jy dit gedoen?”

“Ek wou seker maak dat ek nie droom nie.”

“Is jy nie veronderstel om jouself te knyp nie?”

“O ja, ek het vergeet.”

“Nou toe, knyp jouself.”

“Nee wat, ek dink ek glo ten minste dat ek wakker is.”

Hy vryf sy oë, gaap en rek hom uit. “Jy lyk beter. Jy klink ook beter.”

“Wys jou wat ’n bietjie slaap en die geselskap van ’n engel aan jou kan doen. Dis soos towerkuns. Abrakadabra, en ek voel beter!” Ek kan die sarkasme nie heeltemal uit my stem hou nie.

“Wanneer gaan jy begin glo dat ek is wie ek sê ek is?”

“Jy weet, Migael, in al die boeke wat ek al gelees het, in al die films wat ek al gesien het, verskyn ’n engel net as die karakter die kluts effe kwyt is. Ek wonder altyd hoekom skryf niemand ooit oor ’n regte engel nie. Maar ek dink ek het dit nou vir myself uitgewerk.”

“Asseblief, lig my in.” Sarkasties.

Ek frons af na hom. “Is ’n engel veronderstel om sarkasties te wees?”

“Ek is hier as mens, met menslike eienskappe. En julle is nie juis bekend vir julle geduld nie, of hoe?”

“Wat ook al.”

“Wat wou jy sê?”

“Ek dink die rede waarom niemand ooit oor ’n regte engel skryf nie, is omdat niemand dit gaan gló nie. Want ons glo nie meer in engele nie. Selfs al sien jy ’n engel, gaan jy dit nie vertel nie, omdat jy weet almal gaan dink jy is gek.”

“Vertel my iets wat ek nie weet nie.”

“Dit laat jou eintlik half anders na engele kyk. Selfs vir hulle jammer voel. Dit kan nie die maklikste werk wees om iemand van die onmoontlike te probeer oortuig nie.”

As antwoord vernou hy sy oë.

“Wat natuurlik sal help, is as die ‘engel’ bereid sou wees om ’n paar . . . persoonlike vrae te beantwoord.”

Hy kyk met steeds vernoude oë na my. “Jy kan vra, maar ek hoef nie te antwoord nie.”

“Hoekom nie?”

“Want ek kan nie al jou vrae beantwoord nie.”

“Omdat jy nie weet nie?”

Hy sug, rol sy oë dramaties. “En omdat dit net vir die bevoorregtes is.”

Ek dink ’n oomblik. “Oukei.”

“Vra nou,” laat hy effens ongeduldig hoor.

“Ek moet eers dink wat ek wil vra.”

Hy grinnik. “Jy is ’n eienaardige mens, Emmie.”

“So sê hulle,” mompel ek, effens seergemaak.

“Ek hou daarvan.”

“Dankie, Migael. Jou goedkeuring beteken vir my baie.”

“Sien? Sarkasme kom natuurlik vir julle mense.”

Ek besluit om dit te ignoreer. “Ek is honger.”

Wanneer laas wás ek honger? My oë dwaal na die plastieksakke op die kombuistafel. Die eerste sak waarin ek grawe, lewer vyf boksies koekies op.

“Hoeveel van my geld hét jy uitgegee?” vra ek terwyl ek ’n pakkie oopmaak, ’n koekie in my mond druk en by die tafel gaan sit.

“Dis tog net geld, Emmie.”

“Hoekom sê mense dit altyd wanneer hulle van iemand anders se geld praat?”

Hy bly my ’n antwoord skuldig.

“Het jy die winkel se voorraad koekies opgekoop?” vra ek en neem nog ’n koekie.

Migael eet nie van die koekies nie, merk ek op. Hy neem net ’n glas water en gooi twee teelepels suiker by. Roer dit goed, snuif behaaglik daaraan voor hy dit drink. Ek wil liefs nie weet nie.

“Darem nie alles nie.”

Ek kou ’n rukkie in stilte. “Ek het aan ’n vraag gedink.”

“Vra maar,” sê hy versigtig.

“Is alle engele mooi?”

Hy gee my sy skewe glimlag. “Dink jy ek is mooi?”

“Dis nie wat ek gesê het nie! Ek vra net of engele mooi is.”

“Jy het dit geïmpliseer en –”

“Vergeet dit,” val ek hom in die rede.

Hy lag.

Ek wíl weet of almal so mooi is soos hy. Want, magtig, hy is mooi. Ek weet ek het dit al gesê, maar soos hy nou daar oorkant my sit, is hy die volmaaktheid self. Nie ’n moesie of puisie of merkie op sy vel nie.

Hy grinnik. Ek besluit om hom te ignoreer.

Sy neus is nie effens skeef of effens groot of effens lank nie. Hy lyk soos ’n prentjie. Asof iemand die perfekte man gevat het en nog gephotoshop het ook.

Dié keer lag hy hardop.

“Waarvoor lag jy?”

“Vir jou. Jy is baie snaaks, Emmie.”

Selfs sy tande is perfek. En so wit!

“Migael?”

“Emmie?”

“Dit voel vir my asof jy weet wat ek dink. Kan jy gedagtes lees?”

“Natuurlik.”

Asof dit niks is nie.

“So, alles wat ek tot dusver gedink het, het jy gehoor?”

Hy glimlag as antwoord.

“Dis onregverdig! Dis gemeen!”

Hy frons ligweg. “Hoekom?”

“My gedagtes is privaat, Migael. Dis myne. Jy kan nie daarop spioeneer nie!”

“Sal dit jou beter laat voel as ek sê dat ek dit nie kan verhelp nie? Dat ek dit nie met opset doen nie?”

“Nee. Snaaks genoeg laat dit my nie beter voel nie!”

“En as ek vir jou sê dat ek nooit jou gedagtes sal beantwoord nie?”

“Nee! Dit help ook nie! Jy’s in my kop! Dis onregverdig!”

“Wat sal jou beter daaroor laat voel?”

“As jy nie my gedagtes sal lees nie!”

“Ek lees dit nie, ek hoor dit.”

“Migael!”

“Jammer, maar dis iets wat ek nie kan afskakel nie. Sal dit help as ek probeer om nie op jou gedagtes te reageer nie?”

Ek staan vies op, begin die inkopiesakke uitpak.

“Emmie?”

“Belowe jy sal nie daarop reageer nie!”

“Ek mag nie belowe nie.”

“Belowe dan jy sal probeer.”

“Ek mag nie –”

“Ek weet!”

“Ek sal probeer, Emmie.”

Dis seker beter as niks.

“Hoekom het jy so baie kos gekoop?” vra ek terwyl ek verstom die blikkies en pakkies in ’n kas pak.

“Ek het effens meegevoer geraak.”

“Dit kan ek sien!”

Met die inkopies weggepak, staan ek doelloos rond. Ek haat dit om niks te doen nie. Ek wil besig wees. Sodat my gedagtes nie kan dwaal nie. Sodat hy dit nie kan lees nie.

Sodat ek nie dié vir wie se dood ek verantwoordelik is, so hoef te sién nie. Want hulle spook by my. Hulle is in my kop, áltyd. Ek kan nie van hulle ontslae raak nie. En ek wil nie hê Migael moet dít hoor nie.

’n Bad. ’n Bad is altyd ’n goeie idee. “Ek gaan bad.”

“Maar dis nog vroeg.”

“Ek kry koud. Ek haat hierdie tyd van die jaar, hierdie tussenin-tye. Herfs. Ek weet nooit hoe om aan te trek nie. Warm? Koud? Maak my gek. ’n Bad gaan nou baie lekker wees.”

“Goed, bad jy. Ek kyk solank wat ek vir aandete kan maak.”

Die bad is alles waarvoor ek gehoop het. Warm, geurig – ek het badolie in die kassie bokant die wasbak opgespoor.

Bad was nog altyd vir my terapeuties. Dis hier, in die warm water, waar ek nog altyd kon fantaseer, kon droom, my probleme kon uitsorteer. Die res van my lewe kan beplan. Antwoorde op sommige kwelvrae kan kry. Soos: Is dit moontlik vir Migael om my gedagtes te lees as daar ’n paar mure tussen ons is? Hoe gaan ek dit uitvind? Migael! Ek voel onmiddellik soos ’n idioot, maar ek volhard. Migael! As jy my kan hoor, sê ja.

Hy lag.

Waar gaan ek ooit privaat kan wees? My kop is reeds oorbevolk. Daar is nie plek vir ’n engel nie. Of ’n hallusinasie nie. Maak dit regtig saak wat hy is? Hy is hier. Hy maak vir my kos. Hy versorg my wonde. Hy is simpatiek. Hy lag baie.

Hy laat my voel soos André my aan die begin laat voel het: veilig. Maar André is deel van die verlede. Dit kon so anders gewees het. Dit kon André gewees het wat nou hier by my was. Dit kon, maar dit is nie . . .

Tog, Migael laat my beter voel. Dis al wat tel: dat ek beter voel. Nie so depressief nie. Want die laaste tyd was ek depressief. Niks kon meer ’n glimlag by my ontlok nie. En ná gister se gebeure het daar bitter min lag in my oorgebly. Met Migael hier voel dit asof ek weer rede het om te glimlag. Selfs hardop te lag.

Die gekletter van ’n potdeksel wat die linoleumvloer tref, ruk my gedagtes terug na die hede. Dalk moet ek gaan help voordat hy die plek afbreek, meneer Meyer sal my nooit vergewe nie. Ek klim oorhaastig uit die bad, draai my toe in nog ’n muwwerige handdoek. Nee, magtig, ek moet die goed môre in die son uithang.

In die kamer ontdek ek dat ek my slaapklere vergeet het. Waarin is ek veronderstel om te slaap? Die outydse hangkas vang my oog. Toe ek dit oopmaak, is daar klere in. Net die noodsaaklike – meneer Meyer glo aan voorbereid wees.

Ek kry niks tussen mevrou se klere wat soos gemaklike slaapklere lyk nie. Net ’n satyn-en-kantnommertjie waarin ek nie dood gesien wil word nie. Tussen meneer Meyer se goed is daar ’n pak manspajamas. Flennie met ’n paisleypatroon.

Ek trek dit vinnig aan. Die broek is effens te groot, nie baie nie, meneer Meyer is nou nie juis ’n spiertier nie. Soms is dit handig om ’n stofpoepertjie vir ’n baas te hê, glimlag ek terwyl ek die hemp vasknoop.

Toe ek in die kombuis kom, is daar rys, ’n ui, botter, ’n blokkie hoenderaftreksel, goed wat ek nie ken nie, sout en peper op die tafel uitgepak.

“Rys? Gaan ons rys eet?” Nou nie juis wat ek ’n vullende maaltyd sal noem nie.

“Risotto.”

“Ek kan nie risotto maak nie.”

“Ek sal jou leer. Kap solank die ui vir ons lekker fyn op.”

“Ek raak nie aan daardie ui nie, Migael. Ek het nou net gebad. My hande gaan vir twee dae na ui ruik!”

Hy rol sy oë, gryp ’n mes en begin die ui opkap. “Meet solank so vier eetlepels botter af en smelt dit. Moenie dat dit verkleur nie!”

Ek maak soos hy sê. “Ek het aan nog vrae gedink.”

“Vra maar.” Hy gooi die fyngekapte ui by die botter. Stop my ’n houtlepel in die hand. “Roer terwyl jy vra, moenie dat die ui bruin word nie.”

Ek roer. “Jy kan gedagtes lees. Het jy ander supermagte ook?”

“Soos wat?”

“Ek weet nie, is jy . . . supervinnig? Supersterk? Kan jy lasers deur jou oë skiet? Daai soort ding.”

Hy lag. “Ek hoef nie vinnig te wees nie. En ek het nog nooit probeer om lasers uit my oë te skiet nie.”

“Hoe het jy dan so vinnig van die waterval tot hier gekom?”

“Daai ui gaan bruin word, verlaag die hitte. Ek beweeg met ’n gedagte, Emmie.”

Ek draai die plaat kleiner. Hy beweeg met ’n gedagte. Handig. Ek sou nie omgee om so vinnig te kon beweeg nie.

Hy gooi kookwater by die blokkie hoenderaftreksel, dan ’n koppie rys by my ui. “Roer. Nog vrae?”

“Ja. Jy is my beskermengel, kyk jy net na my?”

Hy gooi van die hoenderaftreksel by die rys. “Nee, ek het ander ook na wie ek moet omsien.”

“Wat word van hulle as jy hier is? En wat is daardie reuk?”

“Saffraan. By die hoenderaftreksel. Ek kyk steeds na hulle.”

“So, jy kan op twee plekke gelyk wees?”

“Of meer.” Nog hoenderaftreksel.

Ek dink ’n oomblik daaroor na. “Het almal net een beskermengel?”

“Sommige mense het meer as een nodig,” lag hy.

“Het almal ’n beskermengel?”

Hy dink ’n oomblik. “Ek weet nie,” sê hy verras.

“Oukei, jy is hierdie superwese wat superdinge kan doen. Is daar iets wat jy nié kan doen nie?”

Stilte.

“Migael? Is daar iets wat jy nie kan doen nie?”

Hy gooi nog hoenderaftreksel by, bietjie sout, bietjie peper.

“Ek kan nie leuens vertel nie,” sug hy.

“Regtig? Nie eens ’n witleuentjie nie?”

“Glad nie.”

“Dit suck.”

Hy glimlag, gooi nog hoenderaftreksel by.

“Hoeveel van die goed gaan jy nog ingooi? Hoe lank moet ek nog roer?”

“Totdat die rys mooi uitgedy is en die aftreksel geabsorbeer is.”

Hy klink soos Jamie bleddie Oliver. “Wie het jou geleer kook?”

“Niemand het my geleer nie.”

“Dit kom natuurlik?”

“Seker.” Hy haal sy skouers op, loer in die pot. “Amper reg.”

Hy gooi die laaste bietjie hoenderaftreksel by, neem dan die lepel uit my hand en begin die rys stadig deurroer.

“Hoekom voel dit vir my beter by jou? Daar het aaklige dinge met my gebeur. Sommige deur my eie toedoen. Eintlik alles deur my eie toedoen,” mompel ek. “Maar vandat jy hier is, voel ek beter. Hoekom?”

“Want jou verlede hoef nie die bloudruk van jou toekoms te wees nie. Alles wat sleg was – of is – kan beter gemaak word. Jý kan dit beter maak.”

“Hoe?” wil ek verslae weet. Weet hy nie wat ek gedoen het nie? “As jy jou in die donkerste diepte bevind, hoe . . . wáár kry jy weer die krag om jou pad na die lig te vind?”

“Jy weet waar, jy weet hoe, Emmie. Maar dis vir later. Die risotto is reg. Kom, jy moet eet.”

Die besoeker

Подняться наверх