Читать книгу Die besoeker - Anchien Troskie - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

My motor is weg, besef ek toe ek eindelik stokflou uit die bos stap en die huis voor my lê.

Ek gooi my hande desperaat in die lug. Dit ook nog! Wat gaan nóg met my lewe verkeerd loop? Alles was in daardie motor! My geld, my voorraad, die mes . . .

Ek storm die huis binne, skop die modderstewels uit en stap badkamer toe. Trek my vuil klere uit – ek dra dit al amper twee dae, jig. Staan lank onder die warm stort; die skrape en snye brand soos vuur. Maar die warm water help. Vir die fisieke pyn van my liggaam en vir die spanning wat geleidelik uit my lyf sypel.

Met ’n handdoek wat effens na muf ruik – hoekom ruik alles hier muwwerig? – droog ek my af en stap kamer toe. Ek weet nie eens of ek gister in my haas alles gepak het nie, tog kry ek wat ek nodig het: skoon onderklere, jeans, ’n T-hemp, baadjie, sokkies, tekkies. Selfs my haarborsel spoor ek onder in die sak op. Deodorant. My gunstelingparfuum. As dit nie ’n bewys is dat ek onder stres kan dink nie, wat is?

Ek trek vinnig aan, kam my hare uit. Beskou my nuwe haarstyl vir die eerste keer in die spieël. Nie te sleg nie, ’n tipe moderne bob. Effens versnipper, die kleur aaklig, maar nie te sleg nie.

’n Geur wat my maag van hongerte laat bollemakiesie slaan, kom die gang afgedryf toe ek die deur oopstoot. Kerrie. My gunsteling. Ek staan ’n oomblik versteen. Meneer Meyer het die huis aan niemand geleen nie, ek sou tog geweet het. En dit kan nie hy wees nie, want hulle is Kaap toe vir ’n troue.

Ek stap geluidloos terug na die venster, skrefie die gordyne oop. My motor staan onder die boom. Asof dit nooit weg was nie. Migael? Ek sluip in die gang af kombuis toe.

Migael.

Voor die stoof aan ’t roer in ’n groot pot. Die tafel is bestrooi met ’n duisternis pakkies. Hy draai stadig na my, glimlag daardie onweerstaanbare skewe glimlag.

“Emmie.”

Ek wag op ’n emosie om van my besit te neem. Woede, vrees, ongeloof. Maar daar is niks, asof my emosies afgestomp is.

“Jy was ure weg. Verdwaal?” vra hy.

Ek bly hom ’n antwoord skuldig.

“Ek het jou motor geleen, ook van jou geld. Die koskaste was dolleeg. Hoop nie jy gee om nie. Ek reis nie met geld nie,” grinnik hy.

Meneer Meyer se instruksies: Neem eie kos saam. Vul asseblief koffie, tee en suiker voor vertrek aan.

“En dit?” vra ek en beduie na die pot. “My laaste maaltyd? Is ek nie veronderstel om self te kies nie?”

Hy lag so hard dat my mondhoeke onwillekeurig lig.

“Ek gaan jou voete onder jou uitslaan met hierdie dis. Ek maak ’n dodelike kerrie.”

“Gif vir middagete? Bring it on.”

Hy skud sy kop glimlaggend, draai dan om sodat hy verder in die pot kan roer. “Ek gaan nie verder met jou stry oor wie ek is nie. Ek gaan jou nie probeer oortuig nie. Aanvaarding kom tog laaste in enige verhaal. In joune ook. En eerder laat as nooit. Kry vir jou ’n bord.”

Toe ek my leë bord wegskuif, moet ek, alhoewel effe teësinnig, erken dat dit die lekkerste bord kos was wat ek in ’n lang tyd gehad het.

“Vertel my van Jake,” nooi hy.

Hy het vir hom ’n glas water getap, roer suiker daarby in. Voor hy die eerste sluk vat, adem hy die geur eers diep in. Soos iemand wat ’n spesiale glas wyn besnuif.

“Jy ken hom seker beter as ek?”

“Ek ken hom nie soos jy hom ken nie. Vertel my. Of nog beter, begin by die begin. Waar het jy grootgeword? Hoe het jy Jake ontmoet? Wat het gemaak dat jy vanmiddag hier sit?”

Ek gaan sit op die bank, maak my oë ’n oomblik toe. Die begin. Hoe wens ek nie dat ek ’n ander storie kon vertel nie. Een wat eindig met: “And she lived happily ever after.”

“Dis ’n hartseer storie.”

“Vertel my in elk geval.”

Ek kyk lank in stilte na die mooie man voor my. “Ek het, toe ek by die waterval weg is, verdwaal. Ek het lank in die bos rondgedwaal. Alléén. ’n Engel sou weet ek het verdwaal. ’n Engel sou na my kom soek het.”

Hy glimlag. “Soms is dit nodig om self jou pad te vind.”

Hy is nie ’n engel nie, maar ek het niks beters, niks ánders om te doen nie. En al is hierdie besoeker ongenooid hier, is hy hier. Saam met my. En dalk kry hy my so jammer ná ek my verhaal vertel het dat hy my laat lewe. Dit is dalk net wensdenkery. Maar dit is al wat ek het. Wense. En hoop. Want ek wil nie nou al doodgaan nie. My bravade is net ’n front, soos amper alles in my lewe.

Ek is nog jonk, ek wil nog die wêreld sien. Ek wil iets van myself nalaat. Iets goeds. Ek wil in ’n wasige wit rok aan iemand trou beloof. Ek wil kinders hê. En ’n kat en ’n hond. Ek wil ’n lewe hê.

Ek lê terug teen die bank, my oë gesluit. Haal diep asem.

“In die huis waar ek mens geword het, was daar nie alkoholmisbruik of mishandeling nie. Daar was nie eens nikotienmisbruik nie. Ek is geleer om ouer mense te respekteer, jammer te voel vir minderbevoorregtes, Sondae kerk toe te gaan, dat dit verkeerd is om te rook, te drink, seks buite die huwelik te hê. Ek is geleer dat genoeg nooit genóég is nie, want daar was altyd die smagting na méér, na béter.”

Ek hoor die bitter klank in my stem en sluk vervaard. Emosieloos, Emmie, vertel jou verhaal emosieloos.

Ek voel dit brand teen my oogbank en maak verskrik my oë oop. Migael, met ’n skotteltjie water op sy skoot, ’n stukkie watte in sy hand. Die skerp, skoon reuk van Dettol is onmiskenbaar.

“Jammer, dit gaan ’n bietjie brand.”

“Nóú sê jy my.”

“Gaan aan.”

Daardie oë, daardie mond so naby aan my. Dit maak dat ek my asem skerp intrek, my oë weer styf toeknyp. Myself hard aanspreek: stop dit!

“Vertel,” por hy my saggies aan.

“Aan die begin, in my vormingsjare, kon dinge nie beter gegaan het nie. Finansieel én andersins. Ek het ’n normale, gelukkige kindertyd gehad. As enigste kind was albei my ouers se liefde myne. Ek het baie aandag gekry. Aan liefde en geld het dit my nooit ontbreek nie.”

Die watte beweeg af na my wang, sy ander hand koel teen my gesig.

“My pa was die bestuurder van ’n groot finansiële instelling, my ma was tuisteskepper. Ons het ’n groot huis gehad, luukse motors. Mooi meubels. Alles was van die beste.” Ek lag vreugdeloos. “Ons was die beste gewoond.”

Die watte beweeg af na my lip.

“Toe word my pa gevang. Vir bedrog. En die mat word onder my voete uitgepluk. Omdat ek altyd geglo het dat my pa ’n goeie mens is, ’n goeie Christen.”

“Christene maak ook foute.”

“Nè?”

“Het jy hom ooit gevra hoekom hy dit gedoen het?”

“Omdat hy ’n beter lewe vir my en my ma wou hê. Hoe geyk is dit?” Ek kan die bitterheid nie uit my stem hou nie.

“Van die grootste foute in die wêreld word gemaak omdat mense beter wil hê. Vir hulleself en hul families.”

“As jy so sê. Ek het hom nooit gevra hoe hy dit gedoen het nie, want ek wou nie weet nie. Maar ek het afgelei dat hy verkeerde beleggings gemaak het en so baie geld verloor het. Aan die begin was dit klein bedrae wat hy moes steel, hy kon dit vinnig weer terugsit. Maar later kon hy nie meer byhou nie, moes hy meer steel om die vorige steel toe te smeer. ’n Bose kringloop. Tot ook dit nie meer gehelp het nie, tot hy te diep in was. Toe vang hulle hom. Hy is tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis omdat dit nie net ’n paar duisend rand was nie, dit was miljoene. En alles wat ons besit het, is verkoop. Álles. Ek was die dag by die huis toe die balju ons goed kom opskryf het. En ook toe hy alles kom haal het.”

Ek maak my oë oop, kyk op na Migael. “Weet jy hoe dit voel wanneer jou meubels op ’n lorrie gelaai word? Weet jy hoe dit voel wanneer die lorrie te klein is en die res van die meubels met jou eie dubbelkajuitbakkie weggery word? Het jy enige idee hoe dit voel wanneer jy by die huis instap en al wat oor is, is ’n eetkamertafel, drie stoele, jou ouers se dubbelbedmatras en jou enkelbed? Weet jy hoe dit voel wanneer jou pa geboei uit die hof geneem word? Weet jy hoe dit voel wanneer jy met die wete moet saamleef dat hy vir vyftien jaar in die tronk moet sit? Dat sy plek langs die eetkamertafel leeg gaan wees? Dat daar vyftien Kersfeeste sonder hom sal wees? Vyftien verjaardae? Dat hy nooit weer langs die netbalbaan of die tennisbaan sal staan nie? Dat jy vir vyftien jaar sonder ’n pa gaan wees? Nee, jy sal seker nie weet nie.”

Uitasem maak ek weer my oë toe. “Ek en my ma het na ’n tweeslaapkamer-skakelhuisie getrek wat ’n barmhartige Samaritaan verniet vir ons aangebied het.”

Skielik is ek nie lus om verder te vertel nie. Wat maak dit tog saak?

“Moenie ophou vertel nie, Emmie.”

“Wat maak dit tog saak?” herhaal ek my gedagte. “En as jy is wie jy sê jy is, moet jy hierdie dinge weet, of hoe?”

Hy knik instemmend. “Maar ek wil weet hoe dit vir jóú was.”

Ek sug gelate, maak my oë weer toe. Ek het dit nog nooit vir iemand vertel nie. Nog nooit. Nie eens vir André nie. Vir hom het ek net ten dele vertel.

“Dit het sleg gegaan met ons. Met almal van ons, maar veral met my pa. Sy vonnis van vyftien jaar kon net sowel vir ’n leeftyd gewees het. Dit het hom geknak. Ek het my sterk pa ’n krom ou man sien word – binne weke. En soos my ma van die een onsuksesvolle werksonderhoud na die volgende gegaan het, hoe leër ons koskas geword het, hoe krommer het sy geword. Ek het soms saam met haar na die naaste telefoonhokkie gestap sodat sy haar broer kon bel om ’n paar honderd rand te bedel. Ek het gesien wat dit aan haar doen as hy nie kon help nie. Hy wou hê dat ons by hom en sy gesin moes intrek. My ma wou nie. Sy wou op haar eie voete staan. Daarvoor bewonder ek haar steeds. Ons het lank gekruip voor ons kon loop, Migael. Lánk. Weet jy hoe dit voel wanneer jou ma die laaste eier en brood vir jou maak omdat sy kastig nie honger is nie? Die ergste was dat ek dit geweet het, dat ek nie die toebroodjie wou eet nie. Maar ek het. Weet jy hoe dit voel om elke dag in jou ma se dapper gesig vas te kyk, en haar snags te hoor snik?”

Ek sug, gaan onwillig voort: “Ek weet my storie is nie nuut nie. Baie mense verloor hulle werk, baie mense moet uit hul groot dubbelverdiepinghuis na ’n skakelhuisie trek. Baie mense het op ’n dag geen kos meer in die kaste nie. By baie mense word daar bokse ‘no name brand’-kos deur die gemeentetannies afgelaai. Ek wéét dit. Maar dit was so vernederend. Vernederend omdat ons nie self kos kon koop nie, meer vernederend omdat ons so dankbaar daarvoor was.”

Ek voel hoe Migael van my wegskuif en maak my oë oop. Hy haal die skottel van sy skoot af, sit dit by sy voete neer, neem ’n buisie antiseptiese salf, leun weer oor na my.

“Maak jou oë toe. Dit gaan brand.”

Ek suig my asem skerp in toe die salf aan my oogbank raak. Hy blaas liggies daaroor.

Wie is hy? Sou ’n natuurlike instink my nie waarsku as hy regtig gevaarlik is nie? Sou ek nie van hom wou wegskram nie? Pleks daarvan probeer ek so ongemerk moontlik nader aan hom beweeg. Hoekom maak hy vir my kos? Hoekom versorg hy my wonde? Wié is hy?

“Vertel verder.”

“Ek was sestien toe my pa tronk toe is. Ek was van graad een af in dieselfde skool, met dieselfde vriende. Ek was gewild. Toe beland ek in ’n ander skool, met skoolklere wat ook deur die gemeentetannies aangedra is. Ek was een van ’n handjie vol kinders wat met hand-me-downs moes skool toe. En almal weet van my pa. Ek sien hoe hulle pouses agter bakhande fluister. En ek kan niks doen nie. Niks sê nie, want die waarheid is die waarheid. My lewe het soos ’n oop boek gelê en almal kon daaruit lees.” Ek knik my kop. “Soos ek gesê het, ek weet dis baie mense se storie.”

“Maar dit maak die ervaring nie minder erg nie, Emmie. Jy het baie swaargekry.” Sy stem is simpatiek.

Simpatie is goed. Nee, besluit ek, simpatie se waarde word oorskat. Jy kan met iemand simpatie hê tot jy blou is daarvan, dit maak dit nie vir die ander mens beter nie. Jou hart is dalk tot oorlopens toe vol met simpatie, maar die ander mens bly stukkend. Bly verneder. Niemand reik regtig na jou uit nie, want hulle verstaan nie.

“Wat van vriende?”

“Van my vorige vriende het probeer kontak hou, maar wat sou dit tog help? Ons het verskillende lewens gelei. Ek kon nie meer saam met hulle uitgaan nie – omdat ek dit nie meer kon bekostig nie, en omdat ek nie wou nie.”

“Het jy nie nuwe vriende gemaak nie?”

“Nee.”

“Emmie?”

“Ek het nie. Daar was baie wat vriende wou wees. Maar ek wou nie, ek was te skaam.”

“Te skaam?”

“Vir ons omstandighede.”

“Te skaam?”

Ek sug. “Goed, ek was nie net skaam nie. Ek wou nie vriende hê nie.”

“Omdat jy geglo het jy is beter as hulle.”

“Nee!”

“Emmie . . .”

“Nou goed, Migael, dis waar. Ek hét geglo ek is beter as hulle. Ek wás beter as hulle! Ek was beter gewoond.”

“In watter opsig?”

“In alle opsigte!”

“Regtig? So, jou pa was vir jou ’n beter voorbeeld as wat hulle pa’s vir hulle was?”

“Nee, seker nie.”

“Jy het akademies beter as hulle gevaar?”

“Nee . . .”

“Jy het ’n meer voorbeeldige lewe gelei?”

“Seker nie . . .”

“Jy was ’n beter Christen?”

“Dis nie wat ek . . .”

“Jy het jou naaste lief soos hulle is?” Hy sug, skud sy kop. “En so leef jy toe ’n alleenlewe.”

“Ek was nie só alleen nie.”

“Ai, Emmie.”

Ek ignoreer hom, vou my arms beskermend oor my bors. Ek staan nie in die hof nie, engel of geen engel nie! En hy wóú hoor.

“Vertel verder.”

Ek hou my lippe styf opmekaar gepers.

“Emmie, vertel verder.”

Ignoreer hom.

“Jy kan my nie ignoreer nie. Ek is hier. En soms moet ek dinge sê wat jou sal laat nadink.”

“Ek dink nie na nie, ek is moerig!”

“Of wat jou gaan kwaad maak,” glimlag hy. “Vertel verder.”

En ek kan dit nie weerstaan nie, nie sy pleitende oë of stem nie.

“Ons het lank swaargekry. Maar eindelik het my ma tog werk gekry, as kassier by ’n supermark. En snags het sy klere gemaak vir ’n ekstra inkomste. Haar salaris was klein, maar sy was so trots daarop! En ons kon maand vir maand ons koppe ’n bietjie hoër lig. Want ons kon ons eie kos koop. Ons het nie skuld gehad nie. Ons het nie goed gelewe nie, maar ons het gelewe. Al was dit nie dieselfde as voorheen nie. Al moes ons sonder baie dinge bly, al moes ék sonder baie bly.”

“En as jy nou terugdink, dink jy nie daar het tog iets goeds uit dit alles gekom nie? Uit julle situasie?”

“Soos wat?” wil ek verbaas weet.

“Hoe gaan dit met jou pa, Emmie? Hoe gaan dit met jou ma? Is hulle nog dieselfde mense as toe jy sestien was?”

“Nee, hulle is nie.” Die verbasing in my stem verras my. “Dit gaan beter met my pa. Sy lyf het dalk krom getrek, maar emosioneel is hy sterk. Sy geloof het verdiep. Ek dink dat hy eindelik verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar het. En dit gaan goed met my ma. Sy voel, dalk vir die eerste keer, dat sy ’n bydrae lewer. En sy lag weer. Jy’s reg,” sê ek verwonderd, “daar hét tog iets goeds daaruit gekom. Vir hulle.”

“Nie vir jou nie?”

“Nie vir my nie. Ek wou ná skool so graag universiteit toe gaan, eendag ’n goeie werk kry. Ek wou rýk wees. Natuurlik kon my ouers nie bekostig om my universiteit toe te stuur nie, en ek was nie slim genoeg vir ’n beurs nie. My ma wou nie skuld maak nie, dus was ’n lening buite die kwessie. Al opsie was om ’n sekretariële kursus by die technikon te loop, en saans het ek as kelnerin gewerk. Tussen my en my ma kon ons my studiegeld bekostig. En tot my verbasing het ek die kursus geniet. Ek het besef dat ek nooit ryk sou word uit my beroep nie, maar dit was ook goed. Ek sou ten minste gelukkig wees in wat ek doen.”

Migael is nou besig om pleisters op die sny bokant my oog en die groot een op my wang te plak. Ek hou hom deur skrefiesoë dop, maak my oë groter oop toe sy hande om my keel vou. Vir ’n oomblik dink ek hy gaan my wurg, maar hy doen dit nie. Vryf net saggies met sy koel hande oor die blou kneusings.

“Drie jaar, toe het ek my diploma. Kort daarna kry ek ’n onderhoud by die baie eksklusiewe Hoërskool Geelhoutboom. Die skool stel bitter min nuwe personeel aan, omdat die personeellede aan hul goed betaalde posisies klou. En hulle is baie kieskeurig. Maar my punte was goed, en ek het ’n goeie indruk op die beheerliggaam gemaak. Ek het gedink ek het met my gat in die botter geval toe ek die sekretariële pos kry.”

“Omdat dit ’n eksklusiewe privaat skool is.”

“Nee! Ek is darem nie só nie!”

Migael se wenkbroue skiet op.

“Goed, jy is reg,” gee ek bes. “Dis die tipe skool waarheen my pa my graag wou gestuur het, maar toe ek my skoolloopbaan begin het, was daar nie soveel geld nie. Geelhoutboom is een van daardie rare skole wat nie beurse toestaan nie. Daar tel net een ding in jou guns en dis geld. As jy dit het, en baie daarvan, word jy aanvaar.”

Ek bly ’n oomblik stil; dis nie lekker herinneringe nie. “My ma kon uiteindelik ’n ou groen bakkie bekostig, en met dié knallende, grommende ding het sy my op my eerste dag skool toe gevat. Tot groot vermaak van die leerlinge. So het ek, my gesig rooi van vernedering, my loopbaan begin. Ek het totaal uit my diepte gevoel. Nie met die werk nie, dit was eenvoudig genoeg, maar tussen die leerlinge en sommige van die personeel. Dit was asof ek nie daar hoort nie, nie tussen hulle nie. Van die volgende dag af het ek eerder bus gery.

“Die naam Hoërskool Geelhoutboom is misleidend, want dis nie ’n statige ou skool wat uit ’n vorige eeu dateer nie. Inteendeel, dis ’n moderne konstruksie van staal en glas wat meer na ’n kantoorgebou as ’n privaat skool lyk. Die tuin, wat van die hoofgebou tot by die hoofhek strek, is pragtig. Uitgestrekte groen grasperk, die blomme in baldadige kleure. Regs van die hoofgebou lê die klaskamers, links die sportvelde. Voor die hoofgebou is parkering, nie net vir die personeel nie, maar ook vir al die bedorwe brokkies wat met ’n lisensie en ’n blinknuwe motor kan spog. Geen koshuis nie. Die leerlinge wat van ver kom – en daar is heelwat – loseer privaat.

“Die eerste keer toe ek by die hoofgebou instap, het ek na my asem gesnak. Want dit lyk nie soos die gewone skoolkantoor nie, eerder soos die ontvangsarea van ’n spoghotel. Twee derdes van die ontvangs word afgestaan aan sitplek, met pragtige stoele op die dik mat. Die ander derde is die werkarea, met drie lessenaars agter die ontvangstoonbank. Een van hierdie lessenaars is myne, het ek gelukkig gedink. Vanuit die wagkamer stap jy ’n tweede kantoor binne: die skoolhoof, meneer Meyer, se persoonlike assistent se kantoor. Dis hier waar ek moes wag om met hom kennis te maak. Een ding het soos ’n paal bo water gestaan: die geboue, binne en buite, skreeu geld. Ek wil hier hoort, het ek net daar besluit.”

Migael luister skewekop. “Omdat dit ’n sekere status aan jou verleen het.”

“Ja, ek het menswaardig gevoel. Tussen al die ou en nuwe geld het ek tuis gevoel.”

Ek haal my skouers op. “Ek het vir die eerste twee maande by my ma gebly. Tot sy my, figuurlik gesproke, uitgeskop het. Ek moet my vlerke sprei, het sy gesê. Ek was welkom om enige tyd by haar te kom kuier, maar ek moes my eie lewe lei. Al wat sy my maak belowe het, was dat ek steeds elke Sondagmiddag saam met haar na my pa sou gaan. Ek was so bly, want ek wou op my eie voete staan. Ek kon die deposito en die eerste maand se huur op ’n woonstel bekostig. Vryheid! Met my bed en die yskas – my ma het daarop aangedring dat ek die yskas leen, sy sou regkom met die vrieskas – het ek by my woonstel ingetrek. Twee maande later kon ek tweedehandse meubels bekostig en het ek die geleende goed teruggevat. My ma het my gehelp en saam kon ons teen die derde maand ’n deposito op my eie motor neersit. Tweedehands, natuurlik. Die bank het my ’n kredietkaart aangebied, wat ek gretig aanvaar het. Skielik het klerewinkels my rekeninge toegestaan. Ek kon my lelike tweedehandse meubels verkoop en nuwes koop – op krediet. Ek kon tussen die klererakke deurloop en dit waarvan ek hou van die rak afhaal – met my winkelkaarte. Wat meer kon ek vra? Ek het vas geglo ek was op pad boontoe. My lewe was volmaak. Totdat die eerste klomp rekeninge gekom het. Ek het gou besef ek sou nie die magdom kaarte maandeliks kon betaal nie, want ek moes ook nog die paaiement op my motor, my woonstelhuur, petrol, kos, telefoon én krag betaal. My salaris was nie groot genoeg nie. Ek moes die waarheid in die oë kyk: ek was in finansiële moeilikheid, big time. Soms blameer ek my ouers. As my pa nie so gierig was nie . . . As my ma nie destyds so lief was vir koop nie . . .”

“En jou pa het jou nie voor die tyd gewaarsku om versigtig met geld en skuld om te gaan nie?”

Ek vermy sy oë.

“Emmie?”

“Natuurlik het hy.”

“Wat het hy gesê?”

Ek sug. Hy is soos ’n bulhond, as hy sy tande in iets ingeslaan het, laat hy nie los nie!

“Hy het gesê,” ek maak aanhalingstekens met my vingers, “wat ek gedoen het, was verkeerd. Ons het altyd goed gelewe, maar ek wou nóg beter lewe. Op die ou end het ek almal in die steek gelaat – vir jou en jou ma, maar veral myself. Belowe my jy sal nooit steel nie. Of te veel wil hê nie. Of by iets onwettigs betrokke raak nie. Belówe my.”

“Het jy belowe?”

“Ek het.”

Migael se oë kyk diep in myne terwyl hy saggies oor die wurgmerke aan my keel vryf. “Ek kan niks aan hierdie wonde doen nie, maar gelukkig heel tyd alle wonde.”

En iets in my gee effens skiet.

“Lê ’n bietjie, jy moet moeg wees.”

Hy staan op, ek gaan lê, hy druk die kwilt agter my rug in. Raak met sy hande aan my wang, sy duime maak sirkelbewegings al langs my slape, beweeg stadig af, druk-druk onder my oë.

’n Moegheid oorval my. ’n Rustige, sondelose moegheid. Ek sien hoe hy die skottel water optel, hoor hoe hy dit in die wasbak omkeer. Dan hoor en sien ek niks meer nie.

Die besoeker

Подняться наверх