Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 11

ERTA

Оглавление

Vyf middae ná mekaar, ek het getel, kom sit dominee Du Toit by die kombuistafel. Dan maak hy keel skoon, slaan sy Bybel op sy skoot oop en buig sy kop. Dan jaag Ma ons almal uit die kombuis.

“Wat maak hulle?” vra ek op die derde dag. Pa het die oggend vir Johannes en Stefaans by die huis afgelaai en weer in sy lorrie koers gevat, niemand wis waarheen nie.

“Hy praat met haar oor haar hoerery.”

“Stefaans!” Johannes frons diep. My ouboet is agttien, lank en fris en mooi met sy snorretjie en langerige hare.

“Dis wat hy doen.” Stefaans trek sy skouers op. “Hy lees en bid en preek en swaai sy vet worsvingers. Maar dit gaan nie help nie. Ma is wie Ma is.”

Stefaans is vyftien. Net so lank soos Johannes, maar minder mooi en minder lyf.

“Wat is hoerery?” vra ek.

“Dis …”

“Stefaans!” waarsku Johannes. “Kry die kleintjies, dan stap ons af stasie toe. Dan sien ons die vieruurtrein.”

Kosie was toe vier, Hendrik drie en Ma vol in die lyf. Ná my het sy ’n sewejaardroogte gehad. As Pa in daai tyd by die huis kom, het hy gevra: “Is jy in die ander tyd, Maria?” Dan skud Ma haar kop en Pa lig sy glas. “Prys die Here!” skree hy voordat hy ’n groot sluk vat.

“Kom, Erta,” sug Stefaans.

“Sy kan nie,” sê Johannes. “Ma het gevra sy moet die wasgoed inseep.”

“Maar ek wil!” protesteer ek.

“Miskien gaan ons môre weer,” troos Johannes, “maar nou moet jy eers vir Ma help. En jy bly weg van die kombuis af!”

Met die wegstap sê hy vir Stefaans: “Ek weet ook nie vir wat hy altyd in die middae moet kom preek nie. Hy weet mos sy’s dan hier.”

Ek kyk hulle agterna, voel die trane wat opstoot en sluk hard.

Dit traak my nie wat Johannes sê nie, ek wil weet waaroor Dominee en Ma praat, besluit ek. Ek maak die waskom vol water, laat die stuk boerseep daarin lê en gooi die wasgoed in. So ja, dis mos ingeseep. Toe sluip ek op my tone tot by die agterdeur en druk my oor daarteen.

“Wat gaan jy maak as Erta haar ook tot ’n hoerery wend?” Dominee se stem.

“Sy sal nie.” Ma.

“Sy word groot, Maria. Sy sien, sy verstaan.”

“Ek trek die leste vel van haar gat af as sy so iets doen, dit sê ek Dominees nou. En in elk geval preek jy vir die verkeerde mens. As jou kinders honger is, vra jy nie vrae nie, jy doen wat jy kan om kos op die tafel te sit. Al beteken dit dat jy jou bene moet oopmaak vir al wat ’n man in hierdie dorp is. Gaan preek eerder vir hulle. As niemand aan my deur klop nie, sal jy niks hê om oor te preek nie.”

“Soos Pontius Pilatus was ek vandag my hande in onskuld, Maria Visser! Van jou en jou hoerkinders! Soos Pontius Pilatus. ”

Daar is die geluid van glas wat breek en iets soos ’n stoel wat kraak. Ek hardloop terug na die waskom. Net toe ek my hande in die water steek, kom Dominee om die hoek, rooi in die gesig.

Ek gaan kombuis toe. Kry vir Ma op haar knieë, besig om glasskerwe op te tel. Ek buk om haar te help.

“Blerrie Dominees, ek moes hom ráák gegooi het,” mompel sy. “Dan het hy nie net gepoep nie.”

Johannes het sy belofte gehou. Die volgende dag ná skool wag hy, Stefaans en die kleintjies my by die tuinhekkie in.

“Trek gou ander klere aan,” sê Johannes, “dan stap ons stasie toe.”

Pa sit by die kombuistafel, sy hand om ’n glas gevou. Ek gaan in om te groet en hy hou sy wang vir my uit. Ek sê vir Ma waarheen ons gaan en gryp sommer vir my ’n sny droë brood.

Ek loop tussen Johannes en Stefaans; die kleintjies draf vooruit. “Wat is ’n hoerkind, Johannes?” vra ek.

“Ek sal jou sê as jy groter is.”

“Ek is mos groot!”

“Elf is nog nie groot nie, Erta-Kepêrta.” Hy trek aan my een vlegsel en vryf oor my kop.

“Hoerkind is die kind van ’n hoer,” sê Stefaans. “En ’n hoer is iemand wat haar bene oopmaak vir al wat ’n man is.”

“Stefaans!” sê Johannes kwaad.

“Hoekom wil jy haar nie sê nie? Dis beter dat sy weet.”

“Nie só nie, man.”

“Wat beteken dit as jy jou bene vir ’n man oopmaak, Stefaans, hè?” vra ek.

“Dit beteken …”

“Stefaans! Hou nou jou bek.”

“Sy wil weet.”

“Ek wil weet, Johannes.”

Johannes gaan staan. Sy mond gaan oop asof hy iets wil sê. Dan maak hy sy mond toe, skud sy kop en stap vooruit.

“Hè, Stefaans?”

“Dis hoe hulle babies maak, man. Die man druk sy swingel in die vrou in en dan is daar ’n baby.”

“Sies, man! Ek gaan vir Ma sê!”

“Jy hou jou bek! As jy vir Ma sê, neuk ek jou met die sambok.” En toe, sagter: “Ma wil nie hê ons moet weet nie. Sy dink ons is nog klein en dom.”

Ons loop ’n entjie in stilte, tot waar Johannes staan en wag.

“Weet Pa, Stefaans?” vra ek.

“As hy nie weet nie, moet hy donners dom wees.”

“Dalk hou hy hom net dom.” Johannes skop ’n klip dat dit doer trek.

“Maar …”

“Dis nou genoeg, Erta,” sê hy. “En jy sjarrap hieroor. Jy vertel vir niemand nie, hoor jy?”

“Jip, jy hou jou bek,” sê Stefaans en klap sy vingers soos ’n sweep.

Sou Pa met sekerheid kon sê dat al ses kinders syne was? Dalk is ek nou te kras. Dalk oordeel ek te vinnig.

Jare lank het ek geloop en tob oor die huwelik van Grootkoos en Maria Visser. Was hulle gelukkig, so op hulle eie manier? Was hulle lief vir mekaar? Seks was daar wel tussen hulle. Maar seks beteken nie liefde nie. Harde woorde was daar ook, meestal van Ma.

Tog onthou ek ook teer oomblikke. Wanneer hulle oor die tafel na mekaar glimlag. Wanneer Pa sy oë nie van Ma kan afhaal terwyl sy in die kombuis doenig is nie. Wanneer hy ná ’n lang tyd by die huis kom en haar teen hom vashou. Ook wanneer hy weer moes gaan.

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх