Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 12

BARRIE

Оглавление

Vrydagoggend

Die hotelkamer is ruim, met ’n dubbelbed en ’n outydse radio teen die muur bokant die kopstuk. ’n Lessenaar staan in die een hoek, met ’n televisie daarop.

Hy sit die sak wat sy vrou vir hom gepak het op die bed neer. Hy haal sy notaboek en pen uit, krap in die sak vir iets koelers om aan te trek. Stap badkamer toe. Ledig sy blaas. Spat hande vol koue water oor sy gesig. Droog sy hande tydsaam en deeglik af.

Terug in die kamer skud hy ’n sigaret uit die pakkie, soek na ’n asbak. Toe hy nie een kry nie, gaan haal hy die piering waarop ’n glas in die badkamer staan. Hy trek die geblomde gordyne oop, staan voor die venster en haal sy selfoon uit sy sak. Sy vinger huiwer bo die groen knoppie. Wat sê hy vir sy vrou wanneer sy antwoord? “Ek is hier.” En sy sal sê: “Ek is bly jy het veilig gearriveer.” En dan sal daar ’n stilte rek. Want hulle kan nie eens meer met mekaar kommunikeer wanneer hulle in dieselfde vertrek is nie, wat nog van oor ’n telefoon?

Dit was nie altyd die geval nie. Hy onthou ’n tyd toe hulle nie genoeg van mekaar kon kry nie. Toe hy nie kon wag om by die huis te kom en met haar te gesels nie. Nie kon wag om te hoor waaroor sy wou gesels nie. Selfs toe hy nog lid was van die SAPD, toe baie van sy kollegas se huwelike gesink het as gevolg van werksdruk of drank, was hulle huwelik gelukkig. Wás gelukkig, totdat hy besluit het om ’n privaat speurder te word.

Hy druk eerder ’n ander knoppie, wag dat die lys oopmaak en kies WhatsApp. Vyf name verskyn onder Chats: sy vrou, sy seun, sy twee dogters en skoondogter. Hy kies Vroulief, druk op die wit gedeelte en wag dat die toetsbord verskyn. Weer huiwer hy. Hy haat dit om op die ding te tik, sy vingers is te groot, hy druk gewoonlik die verkeerde toetse. Die alternatief is dat hy haar moet bel. Dan eerder met sy wysvinger tik, al is dit pynlik stadig.

Ek is hier.

Sy jongste dogter het die selfoon op Afrikaans gestel, so dis nie so moeilik om ’n boodskap te tik nie. Hy druk gewoonlik net die eerste twee letters en wag vir die regte woord om te verskyn. Dis dieselfde dogter wat Vrou na Vroulief op sy adreslys verander het. Fronsend, terwyl sy mor oor sy totale gebrek aan romanse. Hy wag, kop onderstebo, op haar antwoord.

Ek’s bly jy’s vylg.

Tipies, dink hy en probeer sy irritasie oor dié nuwe soort Afrikaans ignoreer. Wat is fout daarmee om ’n woord ordentlik te spel en uit te skryf? Hy sit die selfoon op silent en laat gly dit terug in sy sak. Bly staan voor die venster, sigaret in die mond.

Die berg waaroor hy moes ry om hier te kom, moet agter hom lê, want die wêreld voor hom is plat. So wyd soos die Heer se genade. In die verte sien hy wel ’n paar koppies. Hy vat sy motorsleutels, druk die notaboek en pen in sy sak en stoot die deur oop.

In die motor sleutel hy sy bestemming in Kaartkop in, en trek in ’n stofwolk weg.

Sy gedagtes loop terug na die werkaanbod wat hy gekry het. Nie ’n slegte salaris nie, beter as wat hy in die polisie verdien het, en baie beter as wat hy nou verdien. Met pensioen, medies, vyftien dae verlof, siekverlof en ’n maatskappyvoertuig. Hy weet sy vrou hoop hy sal die pos aanvaar. En hy moet erken dat hy dit sterk oorweeg. Die lewe van ’n privaat speurder is nie altyd maklik nie, en dit sal lekker wees om vir ’n verandering nie oor geld bekommerd te wees nie.

Dis net dat hy nie weet of hy elke liewe dag van agt tot vyf na ’n baas se pype sal kan dans nie. Maar hoe verduidelik hy dit aan sy vrou? Die vrou met wie hy in die verlede alles kon deel. Saam met wie hy meer as sewe sakke sout opgeëet het. Saam met wie hy drie kinders grootgemaak het. Huis gekoop het. Langs wie hy elke aand in die bed klim.

Die vrou met wie hy deesdae nie ’n ordentlike gesprek kan voer nie. Hoekom nie? Dís die vraag. Waar het dinge tussen hulle verkeerd begin gaan?

Kaartkop lei hom na ’n huis aan die rand van die dorp. Hy vertoef ’n wyle in die motor, staar na die diggetrekte gordyne. Dan klim hy uit en sluit die motor. Stoot die voorhekkie oop. Dit protesteer piepend in die stilte.

Die malvas en struike in die voortuin lyk verlep, maar toegegee, dis droog en warm. Op die stoep is varings en hen-met-kuikens. Die vloer kort verf, die mure ook. En die voordeur het ’n laag vernis nodig.

Hy klop.

’n Vrou in ’n kamerjas maak oop.

“Meneer Barnard? Ek is Melinda Visser. Verskoon tog, ek …” Sy beduie vaag na haar klere. “Kom in, kom sit. Ek gaan net gou verklee.”

Hy volg haar na die sitkamer. Gaan sit en kyk om hom rond. Met die toe gordyne is daar ’n ekstra somberheid aan die vertrek. Die blakers met kerse wat oral rondstaan, dra by tot die benoude gevoel. Sy blik haak vas op die glaskas in die hoek. Dit bevat geraamtetjies en skedels van klein diere, seker versamelstukke uit die omgewing. Daar is ook kleurvolle vere wat oral in houers staan. En ’n versameling skilpaddoppe.

’n Klop aan die voordeur laat sy kop opruk. Hy wag vir die vrou om te gaan oopmaak, maar toe daar ’n tweede keer geklop word, staan hy op.

“Gerda Muller,” steek die vrou haar hand uit toe hy die deur oopmaak. Haar rok is ’n baldadige pienk en groen, hare in ’n stywe kapsel. Die wys- en middelvinger van die hand wat sy na hom uithou, is geel gevlek.

Kettingroker, dink hy. Haar growwe rokerstem bevestig dit.

“Barrie Barnard.”

“Ek is die buurvrou,” beduie sy met haar kop na die linkerkant. “Ek het net gou vir die arme Melindatjie ’n bietjie van my groentesop gebring. Ek is seker sy het nog nie haar mond aan kos gesit nie.” Sy bekyk hom op en af. “En jy lyk hoeka na ’n man wat lekker kan eet.”

Sy skuur by hom verby, stap die huis in asof sy elke dag hier kom. Hy volg haar in die gang af, kombuis toe.

“Melindatjie het gesê sy gaan ’n privaat speurder uit die stad kry om na die ouvrou te soek,” sê Gerda terwyl sy die bakkie sop op die tafel neersit en ’n stoel uittrek. “Ek was vroeër hier, om te kom hoor of ek kan help. Sy’t klaar vir Janneman hier gehad, weet nie hoekom sy jou ook moes laat kom nie.”

Sy beduie na die stoel oorkant haar.

“Janneman?” vra hy terwyl hy die stoel uittrek en gaan sit. Sy blik dwaal van een hoek na die ander. Só, dink hy, sou hy hom ’n plaaskombuis kon voorstel. Die koolstoof met die hout en kole in ’n balie daarnaas en ook ’n gasstoof. Die rye en rye ou blikke wat op die kaste staan. Die mandjies met groente en kruie oral. Al wat nie hier hoort nie, wat die huislike gevoel effens vertroebel, is die rakke met die skedels daarop. Bobbejaan. Aap. Ander wat hy nie kan eien nie. En die oopgespreide vlerke van ’n roofvoël wat teen die een muur vasgekap is.

“Konstabel Janneman Verwey.” Gerda snuif. “Ek weet nie hoekom sy jou al die pad laat kom het nie,” herhaal sy. “Die ouvrou het maar die manier om rond te loop.” Sy skud ’n sigaret uit ’n pakkie, steek dit op en blaas die rook met getuite lippe na die plafon. “Sit haarself hoe lank en verkyk aan ’n bossie. Of is aan die dans. Alhoewel, sy het die laaste tyd min geloop. Ek het haar meer hier tussen haar kruie gewaar as in die strate.” Sy sug swaar. “Ek is nie iemand wat skinder nie, gehoor? Ek hou my ook nie op met ander se sake nie. Maar jy is nou hier in die omtes en jy gaan seker ’n spul vrae vra?”

Sy kyk so lank na hom dat hy verplig voel om instemmend te knik.

“Nou ja,” sê sy asof sy ’n las van haar skouers laat gaan, “ek gaan jou nou iets van Erta van Tonder vertel wat almal in hierdie dorp vir ’n feit weet. Die meeste is net te bang om dit hardop te sê.”

Sy wag duidelik op ’n teken dat hy gretig is om te hoor wat sy wil vertel. Lyf wat vorentoe buig, wenkbroue wat vraend lig – enige aanduiding sal vir haar welkom wees. Hy hou egter sy blik uitdrukkingloos op haar gerig. Asof dit wat sy hom wil meedeel van geen noemenswaardige belang is nie, asof hy dit reeds weet.

Sy skud haar kop liggies, lyk verontwaardig en gee ’n sug van teleurstelling. Dan blaas sy rook uit en leun vorentoe. “Erta van Tonder is ’n heks.”

Nou skiet sy wenkbroue tog omhoog, hy sit tog effens vorentoe. “’n Heks?”

Sy sit tevrede terug en knik gretig haar kop. “’n Régte heks. Is alles in die oë.” Sy beduie so driftig met die sigaretvingers dat hy vir ’n oomblik vrees vir ’n ongeluk. “Een groen oog, een blou. Kyk, ek wil nie sleg praat van haar nie, dis nie my aard nie, maar waarheid is waarheid. Sy het onmin na hierdie dorp gebring.”

“Onmin? Hoe so?”

“Dis sy wat hierdie droogte oor ons uitgespreek het.” Gerda se mondhoeke trek afwaarts.

Hy haal sy pakkie Chesterfields en aansteker uit sy sak, sit besluiteloos daarmee in sy hand. Hy het sy kwota vir die dag al amper bereik en sy tafelgenoot se geel vingers is soos ’n waarskuwing.

“Jy glo my nie?” Haar oë trek skrefies. “Kyk, jy ken haar nie. Jy ken nie haar geskiedenis nie. Erta van Tonder het verlede jaar al vir Oudominee gesê dat ons ons maar kan regmaak vir ’n droë jaar.” Sy kyk vir ’n oomblik nadenkend na die brandende sigaret tussen haar vingers. “Wat sy gesê het, is dit: Dit sal nie weer reën voordat die dorp nie sy weë regmaak nie.” Skud haar kop droewig. “Die enigste een in hierdie dorp wie se weë nie reg is nie, is Erta van Tonder s’n. Oudominee het kom praat, die nuwe een ook. Van die boere het haar kom smeek om die vloek van hierdie droogte te lig, maar Erta het geweier. Geniet dit natuurlik dat almal so moet ly.”

Sy tik met haar vinger op die tafelblad, vee die stukkies as wat afval ongeduldig na die vloer. “Ek hoop sy is weg. Dit erken ek openlik. Dat hierdie dorp tog net weer na normaal kan terugkeer.”

’n Geluid laat Barrie opkyk. Melinda Visser. Sy staan in die deuropening, haar arms oor haar bors gekruis, met die son wat deur die gordyne agter haar inskyn sodat sy amper eteries lyk. Die lig skyn dwarsdeur haar dun somerrokkie sodat hy haar pragtige bene ten volle kan bewonder. Die hele prentjie herinner aan dáái foto van Lady Di, voor sy prinses Diana geword het.

Hy kug, skielik ongemaklik omdat hy sien dat sy hom sien kyk het. Beduie na Gerda. “Jou buurvrou het sop gebring.”

“Ja, Gerda, jy moes natuurlik dadelik oorstap toe jy die vreemde kar voor die deur sien staan.” Daar is ys in Melinda se stem. “Van wanneer af dink jy is jy welkom in my huis? En dan rook jy ook nog.” Sy beduie gang toe. “Ek gaan nie saam met jou uitstap nie, jy ken die pad.”

Barrie vroetel skuldig met die pakkie Chesterfield en druk dit terug in sy sak terwyl Gerda haar sigaret in ’n piering dooddruk.

“Julle was weer tussen my rose,” kap sy terug. “Moenie dink ek weet nie daarvan nie. Volgende keer skiet ek.”

“En vat jou waterige groentesop saam met jou!” roep Melinda agter haar aan.

Gerda loop die helderblou pot waarin ’n hen-met-kuikens welig groei amper van die kombuiskas af toe sy uitstorm. Die pot wieg gevaarlik heen en weer, heen en weer, tot dit oplaas tot stilstand kom.

Melinda draai na Barrie. “Jy moet honger wees. Ek maak gou ’n slaai.”

Die broodjie van vroeër het hom net lus gemaak en hy knik. “Dit sal lekker wees.”

“Janneman hét begin soek,” sê sy terwyl sy ’n glasbeker uit die yskas haal en twee glase vol skink. Sy gee een vir hom aan. “Al die boere is in kennis gestel. Almal is op die uitkyk. Almal glo dat sy iewers in die veld is.”

Hy neem ’n sluk, lek sy lippe ’n paar keer af, onseker oor die smaak. Hou die glas omhoog, staar na die inhoud.

“Rooswater,” sê sy met ’n glimlag. “My tannie Erta se resep.”

My rooswater-resep:

Die blare van twee rose

’n Paar vars pippermentblare (of ’n teelepel droë as jy nie vars het nie)

’n Liter kookwater

Voeg al die blare by die kookwater, laat vir so vyf minute trek (of langer as jy wil), syg deur en bêre in yskas.

Jy kan dit drink, yskoud is dit lekker verfrissend in die helse hitte, of aan jou arms tik vir ’n bietjie geur.

Hy knik oorentoesiasties. “Dis lekker.”

“Ek kon nie saam met hulle gaan soek nie. Ek moet hier wag ingeval sy terugkom.”

“Hoekom vir my laat kom? Die plaaslike polisie ken die omgewing, hulle sal beter as ek weet waar om na haar te soek.”

“Vanoggend het ek geglo … nee, ek het gehóóp sy dwaal iewers. Ek het gehóóp sy lê iewers met ’n klein besering, ’n verswikte enkel of so. Maar nou …” haar hande verstil saam met haar stem, “nou glo ek dit nie meer nie.” Sy skud haar kop. “Ek glo dit nie meer nie,” herhaal sy.

Sy maak ’n kas oop en haal ’n blik artisjokke uit, sny dit oop en dreineer dit by die wasbak.

“Ek is dankbaar dat Janneman-hulle begin soek het,” gaan sy voort, “dis net dat ek weet …” Haar stem raak weg, ’n desperate moedeloosheid op haar gesig. “Ek weet dat sy nie uit vrye wil hier weg is nie. Ek wéét dit.” Sy spoel die artisjokke onder lopende water af, druk dit droog en halveer dit in die lengte.

“Wanneer het jy agtergekom dat sy nie hier is nie? Wanneer het jy haar die laaste keer gesien?”

“Gister. Ek is negeuur gisteraand hier uit. Na Huis Gevonden, waar ek nagskof gewerk het. Ek het so vyfuur vanoggend by die huis gekom – die ou mense was weer besig gisteraand.” Sy gooi die artisjokke in ’n slaaibak en trek ’n komkommer nader. “Dis my gewoonte om sag in te kom sodat ek haar nie steur nie. Gewoonlik tref ek haar in elk geval in die kombuis aan, sy kom met min slaap oor die weg. Vanoggend was sy nie hier nie, en die kombuis was in ’n chaos.”

Sy skil die komkommer, vryf die punt daarvan driftig teen die ander kant en sny dit in dun skyfies. Ook dit kom in die slaaibak.

“Ek het gedink dat sy nog slaap. Ek was bly dat sy ’n bietjie later lê. Ek het gaan bad en toe sy nog steeds nie in die kombuis was nie, het ek in haar kamer gaan loer om seker te maak dat sy oukei is. Sy het nie in haar bed geslaap nie. Ek het buitentoe gegaan, geloop en roep, geloop en soek. Die lug het net begin verkleur, dit was nog sterk skemer. Dis toe dat ek weet: sy sou nie geloop het nie. Nie in die donker nie. Nie alleen nie. Sy het dit jare laas gedoen. As sy veld toe wou gaan, sou sy vir my gewag het soos haar gewoonte is. Toe kom ek terug huis toe en bel vir Janneman.”

“Hoe laat was dit?”

“Ek’s nie seker nie, maar Janneman was kort voor ses hier.” Sy begin kap uie en seldery met driftige bewegings. “Die kombuis was in ’n chaos,” herhaal sy. “Ek is spyt dat ek klaar opgeruim het. Ek moes dit so gelos het, sodat jy met jou eie oë … Maar ek het te veel tyd op hande gehad, toe ruim ek op. Ek het nie behoorlik gedink nie.”

“Wat bedoel jy met chaos?”

“Ons stokperdjieblik het oop op die tafel gelê. Die gom en skêr en blinkers en karton, alles het net hier bly lê. Dis nie hoe sy is nie. Slaaptyd word alles weggepak, die skottelgoed is gewas, altyd reg en netjies vir die volgende dag.”

Die ui en seldery kom ook in die slaaibak. Sy neem ’n lemoen en begin skil.

“Jy werk by Huis Gevonden?”

Sy knik. “Die nuwe aftreeoord. Dis veertien jaar gelede deur die gemeenskap gebou en vanselfsprekend was Oudominee voor in die ry. Die ou aftreeoord was pateties, dit moet ek erken, onprakties, koud en lelik. Dis waar ek begin werk het. Die gebou staan nog, dis steeds koud en lelik. En leeg.”

Sy sny die lemoen in porsies en voeg dit by die res. Haal olie, suurlemoensap, sout en peper uit die kas, meet af en gooi oor die slaai.

“Huis Gevonden is nie ’n aftreeoord in die ware sin van die woord nie,” vervolg sy. “Eerder ’n klomp woonstelle wat uit ’n gemeenskaplike gang loop, met ’n gemeenskaplike kombuis, eetkamer en sitkamer. Daar is twee vroue wat sorg vir die kos, vier wat sorg dat alles skoon bly, en ek en Karen, Gerda van langsaan se oudste. Ons werk in skofte. Veral saans. Ons moet sorg dat die ou mense alles het wat hulle nodig het, hulle pille drink en so aan. Glorified bediendes, dis ons. Soms help Lelanie, Gerda se jongste, ook uit, wanneer een van ons op vakansie is of so. Lelanie werk eintlik in Kleindok se spreekkamer.”

Sy sit die bak slaai op die tafel, haal borde uit die kas en begin skep. Kom sit oorkant hom en trek haar bord nader.

Hy kyk af na sy bord. Hy is gewoond aan warm boerekos. Net bokke en hase eet slaai. Hy neem ’n versigtige happie. Nie sleg nie, besluit hy en neem nog ’n hap.

“Bestaan daar ’n moontlikheid, hoe klein ook al, dat sy iewers heen is? By vriende? Familie? Kinders?”

Melinda krap lusteloos met haar vurk in die slaai sonder om daarvan te eet. “Nee,” sy skud haar kop, “die paar vriende wat sy het, woon hier. Die hele dorp gons teen hierdie tyd oor haar verdwyning, hulle sou tog laat weet het as sy by hulle is. En kinders het sy nie.”

Sy staan op, haal twee glase uit ’n kas en loop daarmee na die yskas. Barrie stoot ook sy bord eenkant, hy kon nog nooit alleen sit en eet nie.

Melk, dink hy toe sy die glas voor hom neersit. Wanneer laas het hy ’n glas melk gedrink? Water of koeldrank saam met ete, ja. En koffie daarna. Maar melk? Hy neem nietemin ’n groot sluk.

Sy gaan staan met haar rug teen die kombuiskas, haar bene by die enkels gekruis. Die glas melk hou sy met albei hande vas, haar blik op ’n kol iewers bokant Barrie se kop.

“Sy was so af die laaste tyd. In haarself gekeer, in stilte vasgevang. Ek het haar soms betrap dat sy na my kyk asof sy iets wil sê … Nee, asof sy iets móét sê, maar nie kan nie.”

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх