Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 13

ERTA

Оглавление

Oudominee. Frans du Toit.

“Haai, Visser-Pisser, wag bietjie!”

Ek draai om, wag tot Frans voor my staan. My oë dwaal vanself na die altydteenwoordige bruin kardoessak vol lekkers in sy hand. Ek sluk hard aan die spoeg in my mond en hap eerder aan my toebroodjie.

“Wat wil jy hê?”

“Moenie so lelik met my praat nie, man.”

“Hoe moet ek dan praat?”

“Sê: Wat kan ek vir jou doen, meneer?”

Ek proes, verstik effens in die taaigeit van die kluitjiebrood en sluk vinnig aan die koffie. Menéér, nogal. Hy sal hom wat verbeel.

“Wil jy ’n lekker hê, Pisser?”

Ben staan soos gewoonlik ’n tree agter Frans, die gewone grynslag op sy gesig.

“Weet jou ma en pa dat jy so vloek?”

“Pisser is mos nie vloek nie, dis jou naam. Visser-Pisser.”

Ek draai om, maar hy keer met ’n hand op my arm. “Wag nou. Wil jy ’n lekker hê?”

“Wat moet ek doen om ’n lekker te kry?” Ek vertrou Frans du Toit net mooi niks, soos my ma sou sê.

“Niks, man. Wil jy hê?”

Hy hou die kardoessak nader en ek steek my hand versigtig uit. Toe ruk hy dit laggend terug en ek sug. Leer ook nie. Soos my ma sou sê.

“Was gister my verjaardag. Ek is nou twaalf. Jy kan maar vir my ’n lekker gee,” probeer ek my skaamte wegpraat.

“Kom.”

Hy draai om, en ek en Ben tou gehoorsaam agterna. Hy stap verby die boom waar ek en stil Susanna altyd sit, na die hoek van die skoolgrond waar daar heelwat meer bome is. Die skoolkinders vermy dié plek soos die pes, omdat daar ’n storie loop dat iemand homself jare gelede hier opgehang het. Hy gaan staan onder een van die bome, druk sy hand in die sak en haal so ’n vet vierkantige toffie uit.

Hy hou dit na my uit. Dié keer weier ek om my hand uit te steek.

“As jy jou rok oplig, sal ek jou twee gee.”

Ben lag lelik.

“Vergeet dit, Frans. En druk jou lekkers.” Ek sal nie soos my ma wees nie.

“Help haar, Ben,” sê Frans met ’n snaakse stem, asof hy ver gehardloop het. “Laat sak haar bloomers, ek wil sién.”

Ben kom dreigend nader, en alhoewel hy baie groter as ek is, is ek heelwat ratser. Ek glip gemaklik onder sy arm deur en hardloop terug na die veiligheid van die skoolgebou.

“Ook maar goed!” roep Frans agter my aan. “Netnou kry ek luise van net kýk.”

“En nou? As jy die donderweer so saam met jou huis toe bring?”

Ek gooi my koffer neer en tel vir Sussie op. “Dis daai simpel Frans du Toit.”

“A,” knik Ma, “Dominees se seun. Vir wat traak jy so oor hom?”

“Hy verbeel hom hy’s beter as almal.”

“Ek het daardie kind in die lewe gehelp. Nog nooit ’n vrou so hoor kerm en skreeu soos Mevrou Dominees nie. Onweersaand gewees. Daai aand al sien ek hier kom ’n ding. Soos Dominees darem aangegaan het. Mens sou sweer hy’s die eerste man wat dit regkry om ’n kind te hê.”

“Vertel nog.” As Ma die slag gesels, wil ek hê sy moet aanhou.

“Soos ek gesê het, groot weer was aan die kom toe Dominees in ’n stofwolk hier stilhou. ‘Die baby wil kom!’ skreeu hy, en dokter Van Tonder is iewers op ’n plaas. Ek het alles net so gelos en geklim. Eerste keer dat ek in ’n mouterkar ry. Ken net jou pa se lorrietjie.” Sy vryf met ’n benerige hand deur haar krulle. “Toe ek instap in daai groot pastorie was Mevrou Dominees al aan die druk. Hy kon my al vroeër kom haal het, maar nee, Maria Visser is mos nie goed genoeg om ’n Godsman se kind die lewe in te help nie. Ieder geval, dit het maar gesukkel. My maag staan daar,” sy beduie met haar hand, “met jou. Mevrou Dominees skree soos ’n maer vark, dit donder en blits buite en Dominees is in die pad. Maak nie saak hoeveel keer ek hom uitjaag nie, as ek sien, is hy maar weer daar. Darem het alles goed afgeloop. Ek moes in die reën terugloop, Dominees wou nie vir Mevrou en die baby alleen los nie.”

Ma staan op van die tafel en gaan roer in die pot op die stoof. Sop.

“Ek weet nie vir wat Frans so ’n pyn moet wees nie,” sug ek.

“Ja,” Ma draai om, swartgebrande houtlepel in die hand, “ant Saar vertel dat die dorp so gaande is oor die domineeskind. Kan glo niks verkeerd doen in Dominees en Mevrou se oë nie.”

Ek snork. “Hulle weet nie wat hy alles doen en sê wanneer hy onder hulle oë uit is nie.”

Ma knik. “Ek sê vir ant Saar, ek sê: Mens bring nie ’n kind op met die idee dat hy beter as ander is nie. Hulle maak vir hom verkeerd groot, só.”

“Hulle doen hom ’n onreg aan,” sê ek, trots op die nuwe woord wat ek by die skool geleer het.

“’n Erge onreg, ja. En dit nogal deur die dominees en sy vrou.”

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх