Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 7

ERTA

Оглавление

Skool. Ek het gedink dat ek daardie sewe jaar lankal vergeet het. Nog ’n prentjie wat ek weer moet inkleur.

“Nou toe,” Ma knik goedkeurend haar kop, sodat haar kort, krullerige hare op en af wip, “die jim lyk goed.”

Ek kyk af na waar my knieë moet wees. Die skooljim hang ver verby, tot amper op my enkels. Nogal mooi, dink ek, my ander rokke is maar meestal so neffens die knieg. En die jim is nuut. Daaroor is ek die blyste.

Ek is die enigste dogter, wat beteken dat die meeste van my klere darem redelik nuut is. Ma koop al mevrou Taljaard van Goedeverwachting se dogter Ruth se klere oor. Mooi goed tussenin. Rokke en rompe. Nie broeke nie. Broeke kry ek sommer van my broers; dis beter vir huis skoonmaak en vuur uitkrap en so. Om ’n rok te hê wat nog nooit aan ’n ander lyf gehang het nie, al is dit nou ook ’n swart skooljim, is ’n groot lekkerte.

Ek vryf weer oor die pleats aan die onderkant, maak seker dat hulle reg lê. Trek die belt reg sodat die knoop presies op my linkerheup is. Die das wurg so ’n bietjie en ek rem aan die wit hemp se kraag. Kyk dan weer af na die pleats. Onder die soom van die rok steek my bene bleek en maer uit, die linkermaermerrie blou waar Stefaans my gister met ’n stok bygekom het.

Ma sien ek kyk na my kaal voete. “Die skoene en kouse koop ons volgende keer,” sê sy.

Ek glimlag op na haar. Nuwe skoene!

“Kom, eet jou pap.”

Ek gaan sit tussen Johannes en Stefaans en begin weglê aan die soet krummelpap. Johannes is dertien, Stefaans tien. Dis Johannes se laaste jaar in die skool. Ek is so opgewonde om skool toe te gaan dat ek te vinnig eet en van die pap en melk op my bors mors.

“A nee a, Erta!” Ma gee my sommer ’n oorveeg teen die kop met die lap in haar hand. “Jy moet die jim nog die hele week dra!”

Toe sy my trane sien, versag haar stem. “Toe nou, ons vee dit sommer skoon. Vrydag se agtermiddag was ons dit uit en Saterdag stryk ek dit vir jou mooi vir die volgende week se skool.”

Stefaans stoot sy leë bakkie terug en breek hard ’n wind op. “Kom, Erta-Kepêrta, laat ons hierdie dag aan die gang kry.”

Ek lag. “Jy klink nes Pa!”

Johannes skud net sy kop en hou sy hand uit na ons bakkies, draai daarmee om na die opwasskottel.

“Los,” sê Ma, “julle moet loop. Erta gaan julle terughou, sy loop stadig.” Sy kom buk voor my, hou my gesig in haar een hand. “Leer hard.” Toe draai sy om na die seuns. “En gedra vir julle!”

Dis nie ver skool toe nie, as die Van der Merwes aan die oorkant ons net wou toelaat om kortpad deur hulle jaart te vat. Dan kon ons deur die Koöperasie se jaart ook loop en in die straat anderkant uitkom. Dan nog net twee straatblokke. Maar hulle wil nie, so ons moet ómloop.

Ek hardloop stukkies van die pad vooruit.

“Vir wat is jy so haastig?” vra Stefaans, en dit laat my stadiger stap.

“Gaan ek dadelik leer lees?” vra ek vir Johannes. “En leer om te skryf?”

Hy antwoord nie.

“Ek weet nie vir wat jy so opgewonde is nie, skool is maar kakkerig.” En om sy punt te bewys, skop Stefaans na ’n klip. Dit laat hom op die plek rondspring terwyl hy sy voet vashou.

“Eina, eina, bliksem!”

Ek en Johannes gaan staan, dubbel gevou van die lag.

“Ek gaan vir Ma sê jy vloek,” snip ek. Draf dan agter Johannes aan.

“Hu, Johannes? Gaan ek?” vra ek weer.

Hy bly stil.

“Johannes!”

“Skool is niks lekker nie,” sug hy eindelik.

Vir ’n ruk loop ons in stilte. Toe sien ek dit: die mooiste gebou. Dit kan nie ’n huis wees nie, dis heeltemal te groot.

“Is dit die kerk?” fluister ek.

Die Vissers is nie groot kerkgangers nie. Ma en Johannes gaan soms. Pa nooit. Stefaans sê sy gat raak te lam van so lank stil sit. Ek sou wou, maar Ma sê ek het miere nes Stefaans, ek sal nooit so lank kan stil sit nie.

“Moenie vir jou simpel hou nie, dis die pastorie,” antwoord Stefaans dikbek.

“Wat’s ’n pastorie?”

“Dis waar die predikant bly, Erta,” verduidelik Johannes. “Dominee Du Toit, jy weet mos.”

Ek hou aan om na die pastorie te staar. “Hoeveel mense bly daar?”

“Drie,” sê Stefaans.

“Dit lieg jy.” Die huis is te groot vir net drie mense!

Johannes sug. “Is waar, Ertatjie.”

Nou eers sien ek die vrou wat op die stoep staan. ’n Mooie vrou, met witte hare wat in golwe oor haar skouers hang en ’n blouselblou rok. Haar hand rus op die skouer van ’n donkerkopseun. Ek lig my hand en waai. Sy groet terug met ’n stywe nek. Die seun tel sy arm halfpad op en laat dit dan sak.

“Mevrou Dominee,” sê Johannes.

“Die koei,” sê Stefaans.

Om die volgende draai sien ek die groot bruin gebou. “Dis die skool!” skree ek.

Hoe nader ons aan die gebou kom, hoe stadiger loop hulle. Die voete sleep en die koppe hang. My voete jeuk om vooruit te hardloop, maar ek hou my in. Ek weet nie waarheen om te gaan nie. Netnou verloor ek vir Johannes en kry nooit weer my pad uit hierdie groot plek nie. Ek val langs hulle in.

Stadig deur die hekke, tussen die malende kinders deur. Ek wens ek het nog oë gehad, want ek het nog nooit soveel kinders bymekaar gesien nie. Al ander mense wat ooit by ons huis gekom het, was mevrou Taljaard en haar twee dogters, Ruth en Katryn. En hulle wou nooit bly vir kuier nie, net klere afgelaai. En Ruth en Katryn het vir my tong uitgesteek.

Ek was darem al in die dorp saam met Ma. By die Handelshuis ook. Maar nooit het ek soveel kinders gesien soos hier nie.

“Maak toe jou verdomde mond, Erta,” brom Stefaans. Hy draai weg om onder ’n boom te gaan staan.

Kop onderstebo gee Johannes my by die regte klas af.

“Ek is mejuffrou Nan Mulder,” sê die lang, maer vrou met die streng mond en klein ogies. Haar hare is kort geknip en in stywe krulletjies gedraai.

“Môre, tannie Nan,” glimlag ek.

Haar mond trek nog meer rosyntjie. “Júffrou Mulder. Dis hoe jy my aanspreek.” Sy bekyk my vir ’n oomblik op en af en beduie my dan na ’n sitplek.

Daar is al klaar ’n paar ander kinders in die klas. Ek beland langs ’n maer donkerkopmeisie wat nes my broers kop onderstebo sit. Die klaskamer is groot. En so mooi. Prente teen die mure, ’n groot swartbord teen die voorste muur. Juffrou Mulder se tafel met die gehekelde doek daaroor. Penne en potlode netjies in gelid aan die linkerkant, boeke aan die regterkant. Nie minder nie as vier appels lê langs mekaar aan die bopunt van die tafel.

“A, Mevrou Dominee!” Juffrou Mulder se stem klink skielik sagter. “En Frans! Ai tog, maar ek is bly om jou te sien, jongman. Kom, ek wys jou waar om te sit.”

“Solank hy net nie langs die Visser-kind sit nie.” Mevrou Dominee se mond is ook ’n rosyntjie.

Juffrou Mulder skud haar kop droewig. “Die derde een wat hier in my klas beland,” fluister sy agter ’n bakhand, maar hard genoeg dat ek kan hoor. “Hoe ek die hele jaar in daardie onpaar oë gaan vaskyk, weet ek nie.”

Die das wurg my skielik en ek druk twee vingers by die kraag in terwyl ek my kop ook laat hang.

“Langs Ben, Frans,” beduie juffrou Mulder. “Julle is mos groot vriende.”

Toe die klok lui, maak sy die klaskamer se deur toe.

“In hierdie klas is ek die een wat praat,” sê sy. “Julle mag slegs met toestemming praat. Julle sit stil en doen julle werk, ek duld geen laksheid nie. En julle moet te alle tye netjies wees, op julleself én julle werk.” Haar stem is sag, sodat almal van ons effens vorentoe moet sit om haar te kan hoor.

“Nou toe, elkeen gaan nou opstaan en homself of haarself aan die res van die klas voorstel. Jy sê jou naam en jou pa se beroep. Ons begin hier voor.” Sy beduie na ’n groot seun met swart hare en klein oë.

Die seun sukkel om uit die bank te kom en die bank skuif so ’n entjie vorentoe. Ek druk my vuis in my mond om die lag te keer.

“Ben Brink, en my pa boer op Vechtkop.”

Hy gaan sit steunend en Mevrou Dominee se seun spring langs hom op.

“Frans du Toit, predikantseun.” Hy kyk ons almal in die oë voordat hy gaan sit.

“Gertjie Scheepers, boerseun van Goedgedacht.” Gertjie kyk na Frans toe hy gaan sit.

“Katryn Taljaard, en my pa boer op Goedeverwachting.”

Vir haar ken ek, net van sien. Dis haar ouer sussie se klere wat ek jaar ná jaar oorneem.

“Piet Fourie. My pa het die Handelshuis,” fluister die volgende seun vinnig en gaan sit.

Die meisiekind langs my staan op, haar ken steeds op haar bors. “… anna … tha.”

“Ag nee, man!” Juffrou Mulder se stem laat ons op ons stoele wip. “Praat hard en duidelik!”

Die meisiekind raak bloedrooi en bewe só dat ek die bank moet vasgryp, skoon bang sy bewe my daaruit.

“Susanna Botha,” sê sy, harder dié keer.

“Wat doen jou pa vir ’n lewe?”

“Shunter.”

“Sit. Nou jy,” wys juffrou Mulder se vinger na my.

Ek staan op en trek my rok mooi glad om my bene. “Erta Visser. My pa sink boorgatte.”

“Gate! Boorgáte! Nie gatte nie!”

Om my proes die ander van die lag.

“Stil!”

Toe draai juffrou Mulder om, haal klei uit ’n kas en deel dit uit.

Die klok lui vir pouse en ek bondel saam buitentoe, soek my broers tussen die ander. Ek kry hulle waar hulle met hul rûe teen ’n boom sit. Ek gaan sit langs Johannes. “Al wat ons doen, is speel met klei. Soos babas. Wanneer begin ek lees?”

“Nog ’n vuilgat-Visser.”

Ek kyk op. Die seun is lank, ’n kop langer as Johannes toe dié opstaan.

“Los haar uit,” sê Johannes.

“Of wat, Visser?”

Johannes stap nader aan hom. “Los haar uit, Willem. Soek met my moeilikheid, dis mos wat jy nog altyd doen. Jy los haar uit.”

“Dink jy jy gaan my keer? Ek bang jou nie, Visser.”

Ek maak my oë toe toe Stefaans ook opstaan. Sy vuiste klap sommer vir niks. Kyk hoe lyk my maermerrie, en dit net omdat ek ’n slukkie van sy koffie gevat het. Ek begin jammer voel vir dié Willem.

Ek hoor niks en maak my oë oop. Agter Willem het nog gesigte verskyn.

“Kyk haar rok,” giggel een van die meisies. “Shame, kon jou ma nie ’n rok kry wat pas nie?”

Ek kyk af na my rok, vee die pleats wat effens oopgeval het omdat ek kruisbeen sit plat. “My rok pas mos.” Ek staan op sodat hulle kan sien.

“Arme arm Vissers,” lag een van die groter seuns. “Jy moet kyk dat jou ma meer wydsbeen lê, dalk kan sy dan vir jou ’n rok koop wat pas.”

“En skoene,” snip nog een.

“Miskien moet jy ook maar wydsbeen begin …”

Hy kom nie verder nie. Stefaans se hou tref hom teen die kakebeen sodat sy kop agteroor ruk en hy in die stof neerslaan.

Ek knyp weer my oë toe. Toe ek deur my vingers loer, is dit ’n warboel van vuiste en bene en lywe. Die meisies staan grootoog eenkant, hand voor die mond. Ek sien hoe hulle pad maak en ’n oom, nee, ’n menéér, ruk die seuns hardhandig uitmekaar.

“Al weer julle Vissers! Kom kantoor toe!” Hy sleep vir Johannes en Stefaans aan hul krae daar weg.

“Vir wat huil jy?” Juffrou Mulder se stem is hard.

Ek skud my kop.

“Haar broers het baklei, juffrou.”

“Dankie, Frans, jy kan gaan sit.” Sy kyk na my. “Kom hier.”

Ek staan stadig uit die bank op, stap tot voor haar tafel.

“Huil maak niks reg nie. En as jy elke keer huil wanneer jou twee broers in ’n geveg betrokke is, gaan jy nog baie huil.”

“Dit was nie hulle skuld nie,” snuif ek.

Sy sug. “Dis altyd hulle skuld. Moeilikheidmakers, daardie twee. Kyk jy maar dat jy nie dieselfde paadjie loop nie. Gaan was jou gesig.” Sy kyk af na my voete. “En jou voete. Vir wat het jy nie skoene aan nie?”

“Die meel was op, die suiker ook. Dis belangriker as skoene, sê my ma.”

Die klas lag en juffrou Mulder sug weer. “Loop was jou voete, jy trap die klas vol stof.”

Met lang pouse sien ek ’n tafel buite teen die muur staan, met kinders wat daarom rondmaal. Ek stap verby, na die boom toe. Johannes en Stefaans is reeds daar. Hulle klere is stowwerig. Johannes het ’n sny onder sy oog en Stefaans se lip is dik. Hulle staan onder die boom. Selfs toe ek gaan sit, bly hulle staan.

“Hoekom sit julle nie?”

“Want ons gatte is aan die brand,” sê Stefaans.

“Hu?”

“Ses van die bestes,” sê Johannes. “Wanneer jy op die skoolgrond baklei, is ses houe van die prinsipaal jou voorland.”

“So julle het pak gekry?”

“Met die rottang,” knik Stefaans. “Ses houe op jou …”

“Los dit nou,” keer Johannes.

“Maar dit was nie julle skuld nie!”

“Los dit.”

Wanneer Johannes sê los dit, dan los jy dit.

Ek kyk weer na die tafel teen die muur en die kinders wat daar rondstaan. “Wat gaan daar aan?”

“Brood en koffie,” sê Johannes. “Wil jy hê? Ek sal gaan haal.”

“Toemaar, ek sal gaan.”

Ek staan op en stap na die tafel. Daar is toebroodjies met botter en konfyt in groot silwer bakke. Die brood is dun gesny. Langsaan staan twee groot silwer kanne met ’n kraantjie vooraan. Daaruit laat ’n tannie die koffie in blikbekers loop. Suiker en melk waarop die room dik lê, staan langsaan.

Ek sukkel om die drie bekers en drie toebroodjies te dra, stort van die koffie oor my hand.

“Hoekom het jy so baie brood en koffie, hè?”

Ek gaan staan, draai effens dat ek die gesig agter die stem kan sien. Ben.

“Is omdat hulle nie kos het nie. My ma sê so.” Frans staan langs Ben, ’n bruin kardoessak in sy hand.

“Los haar, Frans.”

Dis Gertjie. Hy vat twee van die bekers by my en loop saam met my na my broers toe.

“Visser-Pisser, Visser-Pisser, Visser-Pisser …” lag Frans en Ben terwyl ek sukkel om die trane te keer. Gertjie draai dreigend om en die twee spring so vinnig weg dat daar stof in die lug hang.

Terug in die klas sê juffrou Mulder dat ons langs ons banke moet bly staan en ons ore moet spits. “Wanneer die klok trieng-trieng-trieng lui in plaas van triiiiiiieeeeeng, is dit die teken dat daar ’n bom op pad is.”

Langs my begin Susanna kliphard huil. Sy pie haarself nat.

“Nee, o magtig!” brul juffrou Mulder. “Kry die mop en maak skoon! En dan gaan maak jy jouself skoon!”

Eers toe Susanna terug is, sê juffrou Mulder: “Dis net ’n oefening, nie ’n rêrige bom nie. Sodat julle kan weet wat om te doen as dit die dag rêrig is. Ons is in die groot oorlog en ons moet paraat wees! Wanneer julle die klok hoor, duik dadelik onder julle banke in en sit julle arms oor julle koppe.”

Die klok lui en ons duik. Daar is ’n nat kol voor my oë en ’n slegte reuk in my neus.

“Nou toe, dit was goed, kom maar uit. Volgende keer wil ek dit baie vinniger hê.”

Ek steek my hand op. “Dit gaan boggerôl help, juffrou. Pa sê as ’n bom hierdie ingat dorpie tref, bly daar net ’n stofkol oor.”

Agter my gaan die klas aan die lag. Selfs Susanna giggel agter haar hand.

“Stilte! Onmiddellik!” Juffrou Mulder pluk my aan my kraag tot voor haar tafel. “Ek sal nie sulke taal in my klaskamer duld nie! Onder geen omstandighede nie! Hou uit jou hande!”

Die liniaal brand drie keer op elke hand. Ek huil, blaas op my hande, spring op en af, maar niks help teen die brandpyn nie.

Ná skool loop ek sleepvoet saam met Johannes en Stefaans huis toe. Ek sukkel om my kop te lig.

Totdat Johannes vererg stop. “Vat haar koffer,” sê hy vir Stefaans.

Hy kom hurk voor my. “Klim op my rug, Erta-Kepêrta, dan pêpa ek jou. Anders kom ons donkernag by die huis.”

“En jy sê nie vir Ma van die skool nie. Anders neuk sy ons weer.” Stefaans vat my koffer en stap aan, onder ons uit.

Het dit alles in een dag gebeur? Dalk eerder oor weke, selfs maande.

Nie dat dit die verloop van tyd is wat saak maak nie. Dis die wete dat daar mense soos juffrou Mulder, Frans en Ben en die ander naamloses is. Mense wat jou bestaan kan reduseer tot niks.

As ek in reïnkarnasie geglo het, sou ek wou terugkom as ’n persoon met mag in ’n dorp soos Allesverloren. Sodat ek die bose kringloop van baas en klaas kan verbreek.

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх