Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 9

ERTA

Оглавление

Ek voel ’n weemoedigheid oor my sak. Want presies hier by die uitkykpunt waar die privaat speurder gestop het, het ek dertig jaar gelede ook my motor geparkeer.

Dertig jaar gelede het Allesverloren só vanuit die hoogte gelyk: die lokasie met sy sinkhuise en rookwolk en twee spreiligte links. Dan die spoorlyn. Dan die stasiegebou ingedruk tussen twee huise, die stasiemeester se huis effens groter. Stofstraat. ’n Ry met vier identiese stasiehuise: klein, vierkantige boksies. Agter die huise was ’n groot stuk oop veld.

Die agterjaarts van die eerste ry van vyf huise van die onderdorp grens aan dié veld. Ons huis was derde in die ry, aan die veld se kant. Die onder-onderdorpse deel. Dan weer ’n stofstraat. Identiese vyf huise aan die oorkant. Agter dié ry se agterjaarts die agterkant van die Koöperasie en die Handelshuis.

Dan begin die bodorp, met die park reg in die middel. Toe was die wêreld groen. Gesond. Mooi. Allesverloren is skaap- en bokwêreld. Volstruise ook. Rykmanswêreld. En dan was daar ons: die arm Vissers.

Die uitsig het nie veel verander nie, behalwe vir die kleur. Nou is dit skakerings van bruin. Die buitelyne dof, soos ’n kinderprent geteken deur onbekwame vingers. Die primêre kleure té helder: die rooi stof, die blou lug, die geel van die son. Die afwesigheid van groen té opvallend. Asof dié kleur opsetlik uit die boksie vetkryte verwyder is.

Die groot uitsondering is Huis Gevonden, gebou in die jaar 2000 van onse Here. Dit staan soos ’n baken in die middel van die dorp op die plek van die destydse park. Dié was die privilegie van die uitverkorenes. Die plek waar die gemeente Sondae piekniek gehou het, waar gelag opgeklink het. Die plek waar die Vissers selde gekom het.

Behalwe natuurlik snags, wanneer die gesalfdes ’n goeie nagrus geniet het. Dan het die Visser-broers en -suster in die park ’n bottel brandewyn (vroeër by hul pa geskaai) en ’n sigaret (ook geskaai) van hand tot hand aangegee. Dan het die Vissers gelag. Uit ons mae. Vir die dorp. Vir die absurditeit van alles. Gelag tot die trane loop.

Nou is ’n smal strook gras met bankies al wat van die park oorgebly het.

My broers … Ek kan nie hulle gesigte herroep nie. Asof vuil vingers hulle dof gevat het. Ek onthou wel dat hulle alomteenwoordig was, daar was nooit ’n privaat hoekie waar ek kon gaan sit en droom nie.

Hulle was lank, soos Pa, maer en tog sterk. Kon ook nie anders nie. As jy ’n Visser was, moes jy sterk wees. Fisiek én geestelik. Ons het geweet van oorleef. Omdat ons nie ’n keuse gehad het nie. En tog, as dit nie vir Johannes en Stefaans was nie, sou ek nie daardie eerste jaar op skool gemaak het nie. Hulle was my redding: Johannes met sy sagte woorde en omgee, Stefaans met sy vuiste.

Johannes was amper veertien en Stefaans net elf toe Pa hulle uit die skool gehaal en saam met hom laat werk het. Ma het gepleit dat Stefaans ook tot standerd vyf moet leer, maar hy’t gesê nottehel bly hy ’n dag langer op skool. Pa het gelag, hom só hard op die skouer geklap dat sy knieë geswik het. Daarmee was die saak afgehandel.

Ek het erg na hulle verlang, skooltyd. Daar was niemand wat my kon help nie, niemand wat kon keer as ek met die gehate Visser-Pisser-bynaam gespot is nie. Ek het geleer om my kop te laat sak en pouses alleen onder die boom te gaan sit. Tot die dag toe Susanna langs my kom sit het. Sy het nooit gepraat nie, nie ’n woord nie. Maar sy was darem ’n asem. En ons het amper dieselfde gelyk. Haar swart skooljim was net gryser as myne. En sy het nuwe skoene gehad, terwyl ek Stefaans se oues gedra het wat net ’n bietjie te groot was. Kaalvoet was vir my beter.

Maar Susanna was ook nie elke dag in die skool nie. Soms het sy dae lank weggebly, en wanneer sy terug was, was daar kringe onder haar oë. Wanneer sy afwesig was, het Gertjie by my kom sit. Wat natuurlik gemaak het dat ek soggens gehoop het Susanna is die dag afwesig.

Gertjie Scheepers … so genoem omdat sy pa ook ’n Gert was. Die ironie was dat Gertjie sy pa op dertien al in lengte en breedte verbygegroei het. Gertjie wat verby die reuk van drank en armoede gekyk het en my raakgesien het.

Hy sak langs my onder die boom neer, sy rug teen die stam. Hou ’n kosblik uit. “Kry vir jou.”

Ek vat ’n broodjie raak, haal ook ’n koekie uit. “Hoekom eet jy nooit die skool se brood nie?”

“My ma sê ’n Scheepers eet nie goewermentbrood nie. Dis in elk geval slegte brood.”

Ek knik.

“Kan ek vanmiddag jou koffer vir jou huis toe dra?”

Ek kyk op na hom, maar hy staar na sy skoene. “Hoekom wil jy my koffer dra? Ek kan mos self.”

“As jy ’n meisiekind se koffer dra, beteken dit dat julle gekys is.”

Ek weet van gekys. Katryn is kort-kort gekys. Maar ek het nog nooit gesien dat iemand haar koffer dra nie.

“Gaan jy nie plaas toe nie?” Gertjie se ma of pa of die voorman laai hom elke oggend voor die skool af, en middae word hy weer ná skool opgelaai.

“My ma wag by die Handelshuis. Ons gaan eers daar eet en ’n milkshake drink. My pa het gesê ek moet Handelshuis toe stap, ek is mos nie meer klein nie.”

Ek het nog nooit ’n milkshake geproe nie en voel opeens baie jammer vir myself.

“Kan ek jou koffer vir jou dra, Erta?”

“Is ons dan gekys?”

“Ja.”

“Hoekom?”

Hy staar weer na sy skoene. “Ek hou van jou. Al sê my ma ek moenie eers met jou praat nie.”

’n Skaduwee val oor ons.

“Dè, Visser.”

Ek kyk na die streepsak wat voor my voete in die stof lê, dan op na Katryn.

“Jy kan dankie sê my ma is ’n Kristenmens.”

Hoekom moes sy nóú die ou klere bring? Hier voor Gertjie?

“Dankie.” Ek voel hoe my gesig warm word. “Hoekom kry ek dit? Hoekom dra jy dit nie? Ons is tog ewe groot.” Ek wonder al lank.

“Ek dra nie ou goed nie,” lag sy. Draai na Gertjie. “Weet jou ma jy sit hier?”

“Gaan speel, Katryn.”

“Jy gaan lekker in die moeilikheid kom!” Sy draai om en loop weg.

Ek sleep die sak tot langs my. “Ek haat dit om arm te wees.”

Eendag, belowe ek myself, gaan ek nuwe skoene én nuwe klere hê. Ek gaan milkshakes by die Handelshuis drink en soveel lekkergoed koop soos wat ek kan. Eendag.

“Eendag, Erta, gaan ek met jou trou,” sê Gertjie. “Dan bly ons op Goedgedacht en boer met afrikaners en merino’s en boerbokke. Jy kan ’n paar volstruise aanhou. Ons sal nie arm wees nie.”

Ek giggel.

“Eendag,” herhaal hy.

Ek en Gertjie was albei tien jaar oud, daardie dag. En hy het my koffer gedra, elke keer as hy sy ma by die Handelshuis moes ontmoet. Dan het hy na ons huis gekom, by die agterdeur in, en eers ’n glas van Ma se lemoenstroop gedrink. Soms net water, voordat hy Handelshuis toe gestap het.

Een middag toe Gertjie se pa hom net ná skool opgelaai het, loop ek alleen terug huis toe. My kaal voete sleep-sleep sodat die stof wolkies om my bene maak. Ek loop met my oë op die stofpad. Ek tel ’n sjieling op. ’n Entjie verder nog een.

Ek draai terug Handelshuis toe en koop toffies. Loop stadig huis toe met ’n toffie in my mond wat ek om en om rol. Sit die aand ’n taai lekkerte op elkeen se kussing. Ma vra nie waar dit vandaan kom nie. Sy kou stadig aan die karamelbruin soetigheid. Toe sy die laaste lekkerte van haar lippe lek, gee sy my een van haar seldsame glimlaggies.

Ek het gewens dat ek dit elke dag vir haar kon gee. Ek het my oë seer gekyk, maar nooit weer ’n munt opgetel nie.

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх