Читать книгу Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie - Страница 6

BARRIE

Оглавление

Vrydagoggend

Barrie skakel die motorradio aan en luister na die negeuurnuus. Skakel die radio weer af. Hy is honger, ’n uur na ontbyt. Hy is deesdae altyd honger, asof hy sy frustrasies en vrese kan weg éét.

Hy krap in die plastiekbak wat sy vrou vinnig gepak het terwyl hy onder die stort was. Sy hand vat ’n pak tjips raak en hy skeur dit oop. Druk afgetrokke ’n hand vol in sy mond. Kou hard. Vryf oor die stoppels op sy ken, oor sy snor. Hy is moeg vir hierdie soort lewe, dink hy. Hy is moeg daarvoor om op die pad te wees. Moeg van vreemde beddens en ongemaklike kussings. Sou dit nie lekker gewees het as hy nee kon sê vir sake wat nie in die stad is nie?

Dit het hom voorheen nooit gehinder nie, die weggaan van die huis. Dit was ’n geldige rede om die verveling van die dag tot dag se huislike opset vry te spring. En as hy eerlik moet wees, het die weggaan sy huwelik nogal goed gedoen. Die tuiskoms was lekkerder. Sy vrou wat hom met ope arms verwelkom, sy gunstelingkos op die stoof. Selfs die hond se stert het verwelkomend gewaai. Het. Verlede tyd. Deesdae vermoed hy dat sy vrou, en selfs die hond, meer opgewonde raak oor sy weggaan as oor sy tuiskoms.

Hy is moeg daarvoor om met die donker kant van die lewe en die donkerder mense daarin te doen te kry. Moeg daarvoor om die mens agter die masker te soek. En op die einde, wanneer hy ’n saak suksesvol afgehandel het, bly die vraag: maak dit hoegenaamd ’n verskil?

Op goeie dae wil hy dit bitter graag glo. Wanneer hy die verligting of die verslaentheid op die gesigte van sy kliënte sien, weet hy dat hy tog ’n positiewe bydrae gemaak het. Al beïnvloed sy ondersoek – sy positiewe bydrae – die kliënt negatief. Afsluiting is uiteindelik al waarna hulle op soek is. Maar op dae soos vandag, wanneer hy eerder met ’n koue bier voor die televisie wil sit en die Proteas se wedstryd teen Pakistan wil volg, wanneer hy weet dat hy eerder ’n besluit oor die toekoms moet neem, sukkel hy om positief te wees.

Hy frommel die leë tjipspakkie op en druk dit terug in die bak. Skud ’n sigaret uit die pakkie wat in die vakkie tussen die twee sitplekke lê, maak dit brand en trek die rook diep in terwyl hy die venster ’n fraksie oopmaak.

Twee jaar gelede, toe hy nog in die Suid-Afrikaanse Polisiediens was, het hy geglo dat hy ’n verskil in die samelewing kan maak. Dat hy manalleen die wêreld kan red van bedrog en moord en ander menslike vergrype. Daardie naïwiteit het hy lankal afgeskud. Hy weet dit sal nooit tot ’n einde kom nie. En tog probeer hy steeds die wêreld red. Is daar steeds iets in hom wat wil glo dat hy wel ’n verskil kan maak, hoe klein ook al.

En dis die rede hoekom hy nou op pad is na ’n onbenullige dorpie om ’n vermiste persoon te gaan opspoor. Het iemand al daaraan gedink dat die vermiste persoon dalk nie opgespoor wíl word nie?

Twee jaar gelede is hy gedwing om die werklikheid in die oë te kyk: die SAPD kon sonder sy dienste aangaan. Hy het ’n pakket aanvaar. Vervroegde pensioen, het hy dit genoem. Dit was sy keuse, en soos altyd het hy sy vrou bloot daaroor ingelig, nooit haar mening gevra nie.

Hy was reg vir sy sogenaamde aftrede. Of so het hy geglo. Hy sou meer tyd saam met sy vrou kon deurbring, vir ’n verandering haar lewe voorop stel. Hy sou die takies in en om die huis wat hy al die jare so verwaarloos het, aanpak. Maar wragtig, niks kon hom voorberei op die eentonigheid van so ’n bestaan nie. Hy het werkaanbiedinge van sy oudkollegas gekry. Godweet, daar was genoeg poeliesmanne wat skielik sonder werk gesit en ’n eie besigheid begin het.

’n Tyd lank het hy dit ernstig oorweeg, dit selfs aan sy vrou genoem. Uiteindelik het hy daarteen besluit. In sy vrou se oë, waarvan die sluier in onbewaakte oomblikke gelig het, het hy die waarheid gelees: Hy is te trots om vir iemand anders te werk.

Vermis op Allesverloren

Подняться наверх