Читать книгу Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux - Страница 10
5. Jy ruik vir my so lekker na jouself
ОглавлениеFeromone en die liefde
The meeting of two personalities is like the contact of two chemical substances; if there is any reaction, both are transformed.
– Carl Jung
Aan die neus rondgelei. Letterlik.
A, die natuurlike reuk van feromone! Deesdae word dit grotendeels verdring deur parfuum en seep, maar vroeër was feromone ’n aanduiding van jou potensiële maat se immuunstelsel en genetiese sterkte om gesonde kinders te verseker. Dit was dus bepalend of jy iemand van die teenoorgestelde geslag aantreklik vind of nie.
Die digter Opperman was heeltemal reg: My nooi is in ’n nartjie … lank voordat aroma-olies en aromaterapie so gewild geword het, voor dit taamlik algemeen aanvaar is dat reuke ons gemoed positief kan beïnvloed. Dit kom uit jou getroue limbiese stelsel, wat sorg dat jy reuke en indrukke verbind met aangename ervarings van vroeër.
Reuke bring mense en oomblikke terug.
Breek ’n nartjieskil en jy’s terug by jou eerste liefde op Citrusdal. Ruik kaneel en jy’s terug by jou ouma se pannekoeke op die plaas. ’n Ma wat haar seun in sy rugbytrui ruik wanneer hy by die skool is, haar man in sy hemp voordat dit wasgoedmandjie toe gaan, ’n man wat skielik die geur van sy vrou kry al is sy nie naby nie.
Dis nostalgie op sy olfaktoriese suiwerste.
Dis feromone …
Die woord “feromoon”, afgelei uit die Grieks (= om stimulasie/opwinding oor te dra), is in 1986 deur die Duitse biochemikus Peter Karlson en sy Switserse dierkunde-kollega Martin Lüscher geskep. Hulle het navorsing gedoen oor die chemikalieë wat termiete afskei om te kommunikeer of mekaar aan te trek. Wyfierotte maak op hul beurt hul feromoon-afleidings uit die mannetjiesrot se urine.
By die mens word feromone deur sweet afgeskei.
Jy’t drie soorte velkliere waarby feromone betrokke is: sogenaamde talgkliere, sweetkliere en apokriene kliere. Wetenskaplikes glo feromone kom hoofsaaklik van laasgenoemde kliere, wat onder meer voorkom op jou hande en wange (julle hou hande vas, soen mekaar se hande en wange), en ook die areolas rondom jou tepels (mans het ’n ding daaroor, oor die tepels én die areolas), en enige plek waar hare ná puberteit gekonsentreerd begin groei (pubies en onder die arms).
Die kleur van pubiese hare en onderarmhare verskil nogal van die kleur van die hare op jou kop. Dis gewoonlik donkerder, maar nie altyd nie. Jy hét al gewonder of daardie blondine in die straat se pubiese hare ook so blond is, nè? Of is daardie rooikop s’n dieselfde skakering van rooi, Meneer? (Soms wonder ’n mens oor nuttelose dinge wat niks met niks te doen het nie.)
Wel, hier’s die antwoord: Die kleur van jou wenkbroue is die naaste aan die kleur van jou pubiese hare.
(Nou weet jy ook.)
Mans se apokriene kliere skei meer van die hormoon androsteroon af as vroue s’n. Dis ’n seks-aantrekkingshormoon in soogdiere. Maar nie by mans nie: In studies is bevind vroue hou niks van die reuk van androsteroon nie, behalwe dalk wanneer hulle ovuleer. Androsteroon en sy ooreenstemmende feromoon androstenool ruik “sterk” – sweterig, urine- of houtagtig, of na blomme!
Mense se reuksin verskil immers. Wat jý kan ruik, kan hy nie, en andersom. Party mense kan sekere reuke eenvoudig nie ruik nie, al makeer hul reuksin andersins niks. En as jy geen reuksin het nie, is die woord vir jou “anosmies”.
Blykbaar kan 30% van mense nie androsteroon/-nool ruik nie, hoewel daar navorsers is wat reken dis veel minder, net sowat 2-6%. Mans vermy stoele in wagkamers wat met androstenool gespuit is, vroue kies dit onbewustelik. Vroue praat blykbaar ook langer op ’n telefoon as die spreekbuis ’n tikkie androstenool bevat. (Beteken dit alle telefone kom van die fabriek af klaar toegerus met androstenool?)
Jou sogenaamde fenotipe, wat ’n uiterlike aanduiding van jou gene en immuunstelsel is, lê nietemin in jou liggaamsreuk en is uniek soos jou vingerafdruk. Jou immuunstelsel gee inderdaad ’n reuk af.
Die klassieke sweterige-T-hemp-eksperiment (1995) deur Claus Wedekind, ’n Switserse bioloog, het ’n paar feromoon-afleidings opgelewer: Die gene en immuunstelsel van ’n vrou se potensiële maat moet bo verdenking wees om haar kinders die beste kans op oorlewing te gee. ’n Man se gene moet dus nie dieselfde as joune wees nie, want dit kan aanleiding gee tot inteelt en ’n swakker immuunstelsel. Jul gene moet versoenbaar maar verskillend op immuunvlak wees.
Dis die sogenaamde major histocompatibility complex (MHC), en dis dié MHC wat in elke mens ’n unieke reuk het.
Wedekind het nuwe T-hemde van katoen vir ’n klomp manstudente gegee. Hulle moes vir twee nagte daarin slaap (alleen), reuklose seep en naskeermiddel gebruik, geen skerpgegeurde kos, alkohol, rook of seks sodat niks kon inmeng met hul natuurlike reuk nie. Bedags is die T-hemde in verseëlde plastiekhouers bewaar.
Toe moes vrouestudente, elkeen op haar eie, aan ’n skoon T-hemp as kontrole ruik en daarna aan die studente se beswete T-hemde. (Hulle het nie die mans geken nie sodat hulle nie dalk beïnvloed kon word deur ’n bekende reuk nie.) Hulle moes sê watter T-hemp ruik die lekkerste gemeet aan: a. sexy, b. aangenaam en c. intensiteit.
En beduidend het die vroue daardie T-hemp gekies van mans wie se immuunstelsel van hul eie verskil het.
Net wat intensiteit betref, het dit nie ’n verskil gemaak nie – ’n té sterk reuk het die vroue afgesit, of hul MHC nou dieselfde of verskillend was, waarskynlik omdat ’n sterk liggaamsreuk op siekte kan dui. (Skisofrenie en diabetes ruik blykbaar soet, maar sommige kenners meen só ’n stelling is onsinnig. Skisofrene verwar wel soms reuke – ’n appel ruik soos ’n lemoen. In 2003 het navorsers in Australië ook aangetoon moontlike skisofrene kan vooraf op grond van reuktoetse as hoërisiko-gevalle uitgewys word.)
’n Man mag dus sweet, maar nie te erg nie. Dan word dit ’n passiedoder. En hopelik ruik die man wat jy in die oog het ook nie na jou pa of broer nie, hoewel jy ’n man soos jou pa verkies.
Terloops, vroue se reuksintuig is baie beter as mans s’n. Hulle kan ’n affair op ’n afstand ruik as hy nie die ander vrou se reuk verdoesel nie … terwyl ’n vrou haar eie affair agter parfuum kan wegsteek.
Omdat die MHC uniek is aan elke mens kies die vrou ’n man wat vir háár sexy, sterk en lekker ruik. ’n Ander vrou kan dieselfde man se reuk afstootlik vind. ’n Bleeksiel wat lekker ruik, tel weliswaar meer in die oë van ’n vrou as ’n blonde reus wie se reuk haar nie aanstaan nie. Die blonde reus sal dink dis nie regverdig nie.
Dis die eerste ding wat jy ’n kind behoort te leer: Die lewe is nie regverdig nie. Daar sal altyd ’n dwaas wees wat drie keer meer geld verdien as jy, maar hy sal altyd ’n dwaas bly. En as die lewe nie regverdig is nie, waarom sal verhoudings regverdig wees?
Verderaan volg nog ’n paar dinge wat jy ’n kind moet leer sodra hy/sy begin verstaan. Dis dié dinge wat ’n kind behoort te weet om verhoudings later hopelik makliker te maak, en in die geval van ’n seun, om vroue beter te behandel, en vir ’n dogter om te weet hoe om daarop te reageer.
In elk geval, dit maak dus sin dat ’n vrou eerder ’n man se reukweerder en naskeermiddel kies. Net so sal dit sin maak dat ’n vrou parfuum tussen haar borste spuit, waar die man se aandag reeds is, of agter haar ore, waar die man dit sal ruik wanneer hy haar omhels of soen. En net so maak dit sin dat jy nié parfuum aan jou woelmuis spuit nie, waar dit sal inmeng met jou natuurlike feromone.
In ’n soortgelyke eksperiment (2009) as Wedekind s’n is vrouestudente blootgestel aan mans se “normale sweet” (nadat die studente na opvoedkundige video’s gekyk het) en “seksuele sweet” (ná erotiese video’s). ’n Mens sweet blykbaar nie altyd dieselfde nie vanweë die verskillende soorte sweetkliere. Dit hang van die aktiwiteit af: Sweet ná tuinwerk ruik glo nie dieselfde as sweet ná draf nie. (Moenie vra hoe hulle dit uitgewerk het nie …)
Die vrouestudente kon nie tussen die verskillende sweetreuke – “normaal” en “seksueel” – onderskei nie, maar magnetiese resonansie het gewys die verskille het wel in verskillende dele van hul brein geregistreer. Wat die navorsers laat aflei het seksuele sweet het ook ’n “emosionele” komponent.
Dié “reuk van die liefde” lê in twee kolletjies in jou neus, een in elke neusgat. Dis die vomeronasale orgaan (VNO), verbind aan die reuksentrum in jou frontale brein, waarmee jy as ’t ware ’n nuwe liefde eers “uitruik”. Maar die VNO funksioneer nie meer in die mens nie, het wetenskaplikes reeds sowat tagtig jaar gelede besluit. Party navorsers vermoed dis steeds daar, maar net te klein om op te spoor.
Dit verander egter nie die rol van feromone in die brein nie, sê navorsers wat sedert die jare tagtig opnuut belangstel in feromone en die VNO. Hulle het aangetoon die VNO werk ook nie meer in muise nie, maar muise reageer steeds op feromone.
Nes walvisse.
Feromone is in elk geval reukloos. Dis in die eerste plek nie ’n reuk nie, dis ’n chemikalie en gewoonlik in vloeistofvorm, soos in sweet. Maar dit trek julle na mekaar toe aan en maak onder meer ’n soen so lekker …