Читать книгу Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux - Страница 8

3. Liefde en geraas maak in die tyd van plastieksakke

Оглавление

Die storie van die vies vrou in die slaghuis

By all means marry; if you get a good wife you’ll be happy; if you get a bad one you’ll become a philosopher.

– Sokrates

Eendag op ’n Saterdagoggend in ’n slaghuis in die Klein-Karoo.

Die gewone slaghuisgeluide: Stemme, ’n sifdeur wat klap, elke nou en dan die dun geloei van ’n saaglem, kasregister-klanke en kleingeld. Verder, sou ’n mens seker kon sê, is dit vreedsaam en stil.

Tot daar ’n ou inkom op twee rye spore.

Dis tienuur in die oggend, maar hy’s matig aangeklam dog sigbaar dronk, soos die uitdrukking lui. En hy praat vreeslik hard, luidrugtig. Hy soek R5 se varkvet. Hy soek dit nóú.

By die toonbank tussen ander mense staan ’n vrou. Sy is nogal … wel … nogal rond met so ’n hoë boesem. Haar rok trek ’n bietjie op oor haar maag, dit raak glad nie aan haar knieë nie.

Daar staan sy met enkels in plat skoene en, soos Jan Spies sou sê, so ’n vies trek om die mond, ’n dun mondjie, en ’n frons. Haar hare is ook dun. En die ou gaan druk met sy spore voor haar in, sy moet effens tru staan.

“R5 se varkvet!” sê die ou.

Die eienaar tree tussenbeide en sê vir hom, gaan staan agter in die ry, jy kan mos sien hier’s ander mense voor jou. Die vrou met die vies trek om die mond kry net daar ’n aanval van padwoede. Sy gryp haar pakkie skaaptjops, druk dit in haar plastieksak van OK Foods, ruk haar op en sê: “Vir wat ráás jy so vroeg in die oggend?!”

Haar stem styg in desibels tot teen die plafon, twee keer harder as wat die dronk ou praat. Sy betaal, en storm deur toe, enkels in plat skoene …

Die eienaar gee vir die ou sy varkvet en sê hy moet volgende keer sy eie plastieksak saambring, anders moet hy vir een betaal.

“Nou hoe nou? Vir wat?”

“Dis ’n nuwe wet van die regering.”

“Nou hoe moet ek dit weet? Ek het nie ’n radio of TV nie!”

“Ek sê jou mos nou.”

Die ou dink.

Hy dink.

“Nou hoekom is die minimum loon in die Wes-Kaap R800 ’n maand en ek kry net R200 ’n maand?”

Dit hang seker af watse werk die ou doen, maar die eienaar glimlag, want hy ken die antwoord.

“Omdat jy nie in die Wes-Kaap is nie.”

“Nou wáár is ek dan?” kom dit vinnig. Die ou trap ’n ongelykheid in die slaghuisvloer net-net mis.

“Jy’s in die Karoo.”

“Nou wáár is die Wes-Kaap dan?”

“Daar van Worcester se kant af aan Kaap toe.”

Nuwe inligting.

Nou dink die ou harder. Wat gemaak met die nuwe inligting?

Worcester? dink hy.

“Nee,” sê hy. “Vir R800 ’n maand gaan ek wragtag nie Woester toe nie!”

Kan ek maar aan jou selluliet vat?

Подняться наверх