Читать книгу Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux - Страница 13
8. Dit raak net al hoe beter
ОглавлениеDie tweede en derde stadium van die liefde
True love comes quietly, without banners or flashing lights. If you hear bells, get your ears checked.
– Erich Segal
En toe, op ’n dag, kom julle agter julle kan nie heeldag in mekaar se oë sit en kyk nie, die huur moet betaal word. Die romantiese fase, die verliefdheid, die wittebrood is verby.
Volgens ’n Britse studie (2008) duur die wittebroodfase gemiddeld 31 maande en 25 dae. Dan skop die werklikheid in en julle begin voel julle word wedersyds nie meer so baie gewaardeer nie.
Wat nou? Waar’s die dopamien?
Toemaar, dis nog als daar. Net beter, want verliefdheid het liefde geword. (Of julle los mekaar, dit werk toe nie so lekker nie.) Die dopamien en serotonien het gestabiliseer terwyl die oksitosien en vasopressien styg. Julle sou gesukkel het om “normaal” te funksioneer as die verliefdheid vir ewig moes aanhou – al daardie hormone in die brein wat julle net op mekaar laat konsentreer, die res van die wêreld kan maar vergaan.
Wel, die wêreld het nie vergaan nie en het ook nie vir julle gewag om by te kom nie, maar welkom terug met jul voete op die aarde. Julle is kalmer, sekerder van mekaar en julself.
Die verhouding verdiep, foute en al (sy krom neus).
Dis ’n groot stap vorentoe, want dit beteken die verliefdheid het nie oorgewaai nie. Julle weet nou liefde, koue water en kaas is nie meer genoeg nie. Julle begin realisties raak en dink aan die dag van môre.
“Jou neus is so … manlik.”
Die pienk lens het effens aangeslaan, maar julle sien mekaar steeds in ’n positiewe lig. Dis iets waarop julle ’n langtermynverhouding kan bou. Dis die tweede stadium van die liefde.
Die eerste twee stadiums kan oorvleuel, maar dit oorvleuel al hoe minder hoe dieper julle die verhouding inbeweeg, tot net die derde stadium – en natuurlik die liefde self – oorbly.
Dis die langtermynstadium: Nou is julle verbind tot mekaar. Oksitosien en vasopressien speel steeds ’n rol. Dit bind julle steeds ondanks verskille. Dis ’n wonderlike, tevrede gevoel van behoort.
Ondertussen gebeur die lewe …
Helen Fisher (2004) beskryf die drie stadiums van die liefde as:
1. Wellus (libido)
2. Aantrekkingskrag (romantiese liefde)
3. Verbintenis of gehegtheid (attachment, langtermynliefde)
In geen bepaalde volgorde nie, want die liefde, sê sy, kan in enigeen van dié drie stadiums begin. Die libido (seksdrang) sorg dat julle voortplant, maak nie saak met wie nie, terwyl romantiese liefde julle op net een maat laat fokus. Dan volg die langtermynverbintenis – as albei nog belangstel – om die kinders saam groot te maak.
Let wel: Wellus is nie negatief nie. Die sinoniem is begeerte. Jy’s lus vir jou maat en soms lus vir iemand anders. Wat normaal is. Sonder die wellus sou julle waarskynlik nooit bymekaar uitgekom het nie.
Desmond Morris het gereken alle nuwe verhoudings gaan deur twaalf stappe tot by seksuele intimiteit: a. Eers kyk julle na mekaar se lywe (“Eye to Body”), dan b. kyk julle mekaar in die oë (“Eye to Eye”), dan c. praat julle met mekaar (“Voice to Voice”), dan d. hou julle handjies vas (“Hand to Hand”), dan e. sit julle jul arms om mekaar se skouers (“Arm to Shoulder”), dan f. om die middellyf (“Arm to Waist”), dan g. soen julle (“Mouth to Mouth”), dan h. vat julle aan mekaar se koppe (“Arm to Head”), dan i. aan mekaar se lywe (“Hand to Body”), dan j. soen hy jou borste (“Mouth to Breast”), dan k. raak julle aan mekaar se geslagsdele (“Hand to Genitals”), en dan eers l. het julle seks (“Sexual Intercourse”).
Moenie die proses aanjaag nie, en moenie stappe oorslaan nie, volgens Morris, anders gaan die verhouding nie op lang termyn hou nie. Die ruikery aan mekaar (bl. 26) is nie een van sy stappe nie.
Fisher het voorts ook vier persoonlikheidstipes onderskei en elkeen verbind aan ’n hormoon:
1. Ondersoeker (explorer) – dopamien
2. Onderhandelaar (negotiator) – estrogeen
3. Beheerder (director) – testosteroon
4. Bouer (builder) – serotonien
Die eerste soort, Ondersoekers, soek opwinding, neem risiko’s, is spontaan, impulsief, nuuskierig, kreatief en word aangetrek deur mense soos hulself, het Fisher dit verduidelik in ’n TV-onderhoud wat op Carte Blanche (M-Net, 2010) uitgesaai is. Dus dopamiengedrewe.
Bouers is tradisioneel, versigtig maar nie vreesbevange nie, kalm, sosiaal, lojaal, konsensieus, religieus, meer konserwatief, familievas, sosiale netwerke is belangrik. Dus serotoniengedrewe. Hulle word ook aangetrek deur mense soos hulself.
Die ander twee persoonlikheidstipes trek teenoorgesteldes aan. (Ander navorsers wil dit hê dat teenoorgesteldes mekaar nié aantrek nie, julle soek inderdaad dieselfde kenmerke in mekaar as wat julle in julself sien.)
Beheerders, volgens Fisher, is analities, logies, sterk, beslis, gefokus, weet wat hulle wil hê en word aangetrek – en andersom – deur die Onderhandelaar. Laasgenoemde is emosioneel ekspressief, altruïsties, idealisties, sien die groter prentjie raak, is intuïtief, het goeie menseverhoudings, goeie verbale vaardighede.
Liefde, sê Fisher, is “die belangrikste ding wat mense doen”.
Breinskanderings in ’n studie (2004) het getoon in die vroeë stadiums van verliefdheid verskil die breine van mans en vroue. Mans se breine het meer aktiwiteit getoon in daardie deel verantwoordelik vir die visuele en vir ereksies. Vroue se breine was meer begaan oor geheue, wat Fisher laat dink het dis belangriker vir vroue om te onthou watter mans het oor ’n tydperk bewys hulle sal daar wees om te help kinders grootmaak.
Nou begin die mites opstapel …
Mite 2: Wanneer twee mense trou, word hulle een
Though marriage makes man and wife one flesh,
it leaves ’em still two fools.
– William Congreve
Julle het nie een geword nie.
Anders sou julle nie oor enigiets gestry het nie. ’n Mens stry tog nie met jouself nie, tensy jy sukkel om jouself te aanvaar. Dan is dit ’n innerlike stryd …
Die woord “wederhelf” is romanties maar problematies: My ander helfte. Jy’s klaar volledig. As jy iemand anders nodig het om jou volledig te maak het jy ’n probleem. Net jy kan jouself volledig maak. Buitendien is jy klaar volledig, miskien weet jy dit net nie.
Die beginsel is egter reg: Dat die een nie sonder die ander wil (of kan?) klaarkom nie. Julle speel in dieselfde span, maar in verskillende posisies. En soms speel julle teen mekaar. Dan is dit goed om te besef: Niemand gaan eintlik wen nie, maar saam-saam kán julle, solank julle nie teen mekaar speel nie.
Julle is twee mense met jul eie, individuele giere en geite. Kortom: Julle is saam, bymekaar, maar nie een nie.
Mite 3: Ons verhouding is perfek!
Dis wat julle gedink het, daar reg in die begin van jul verhouding, toe die bril se lense nog pienk was.
Dit het so gevoel ook. Baie beter as Antony en Cleopatra se verhouding, beter as Richard Burton en Elizabeth Taylor, Abelard en Heloise, Tristan en Isolde, Romeo en Juliet … Julle is tog Herklaas en Lientjie, dan nie?
Maar toe kom julle terug aarde toe en besef die dele waaruit jul verhouding bestaan (jy + hy), is nie perfek nie. Hoe kan julle verwag die verhouding self moet perfek wees as die onderdele nie is nie?
Maar wie’t gesê julle móét twee perfekte mense in een perfekte verhouding wees? Dit kan bra vervelig wees …
Mite 4: Ons is nog net so verlief soos die dag toe ons mekaar ontmoet het
A successful marriage requires falling in love many times,
always with the same person.
– Mignon McLaughlin
Dis nou ’n jaar of wat later en die verliefdheid is verby.
Verstaan dat dit vir áltyd verby is. Aanvaar dit en dink daaraan met ’n glimlag en mooi herinneringe. Anders het jul verhouding nêrens heen gegaan nie. Julle sou nie gevorder het tot die veel standvastiger tweede en derde stadium van die liefde nie.
“Ek het jou lief.”
Dis wat uiteindelik tel, nie die verbygegane verliefdheid nie. Jy kan meer as een keer – oor en oor – verlief raak, maar nooit twee keer op dieselfde mens nie, anders as wat Mignon McLaughlin sê. Dit gebeur eksklusief.
“Ek raak sommer van voor af verlief op jou,” is wel ’n mooi erkenning dat jul liefde nou beter daaraan toe is. Daardie euforiese gevoel gaan hoogstens by spesiale geleenthede terugkeer.
Mite 5: Ons gaan mos nie skei nie
Mos nie?
Dis wat almal gesê het.
Voor hulle geskei is.
Daar is geen waarborge nie.
Dis die tweede ding wat jy ’n kind moet leer: Jy kan hoop, maar daar is geen waarborg nie. Min dinge is seker.
Dis deel van die moderne verbruikerskultuur: Die artikel wat vir twaalf maande gewaarborg is, breek gewoonlik in die dertiende maand. As dit in die tweede maand breek, dring die winkel aan op die verpakking voordat hulle die ding terugvat.
“Die boks, Meneer, waar is die boks?”
Wat lankal weggegooi is.
Boonop kom ’n verhouding of huwelik nie so netjies in sy eie boks nie. Stel dus maar daardie voorhuwelikse kontrak op al is dit nie die romantiese ding om te doen nie …
Mite 6: My man/vrou is my beste vriend
Marriage changes passion – suddenly you’re in bed with a relative.
– Anoniem
Platonic love is love from the neck up.
– Thyra Winsolow
Dit word dikwels aangevoer as die rede vir ’n goeie verhouding: Ons is beste vriende. Trouens, daar’s sielkundiges wat beweer vriendskap is ’n voorvereiste vir ’n gelukkige verhouding en baie paartjies glo dit self. Bekende getroudes sê dit gedurig in die media (vóór hul egskeiding).
Ja, julle is goeie vriende wat op ’n dag agterkom daar is iets meer tussen julle en skielik is julle in die eerste stadium van die liefde.
Die sleutel hier is “iets meer”, maar dan is julle nie meer vriende nie. Liefde is immers baie meer as net vriendskap. Die liefde tussen vriende kan glad nie vergelyk word met erotiese liefde nie. Die een is platonies, die ander veel dieper en sexy.
As jou man/vrou jou beste vriend is, waar laat dit jou beste vriend/vriendin? Tweede beste?
Buitendien, ’n mens is nie veronderstel om by jou beste vriend te slaap nie …
Tog doen mense dit, ja.
Volgens die plaaslike Nasionale Kommunikasie-peiling oor MIV/vigs (gedoen in 2009 onder 9 728 respondente, 16 tot 55 jaar oud), slaap 10% van mans by hul vriendinne en 4% van vroue by hul vriende.
“Vriende met byvoordele.”
Die voordeel is glo ongekompliseerde seks ter wille van seks. Party mense betaal selfs hul vriende daarvoor …
◊◊◊
Vroue vorm beter en langduriger vriendskappe onder mekaar as mans, is in ander studies bevind. Hul vriendskappe is meer emosioneel, dit beteken meer. Die oksitosien vloei.
Mans vorm vriendskappe volgens ’n wat-kan-ek-daaruit-kry?-beginsel. Hulle het dikwels meer sakekennisse as vriende.
Vroue wil werklik weet as dit sleg gaan met ’n vriendin. Mans is net vaagweg daarvan bewus dat dit nie heeltemal so goed gaan met ’n vriend nie.
“Hy’t dan gesê dit gaan goed.”