Читать книгу Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) - André le Roux - Страница 11

Hoe vrouer hoe mooier

Оглавление

“Het jy geweet jy raak al hoe mooier?” vra jy.

Sy glimlag van links na regs en weer terug: “Rêrig? Jy sê partykeer sulke móói goed!”

Ja, sê jy, dis wetenskaplik bewys.

“Wetenskaplik? Hoe bedoel jy?”

Die ding werk só: Wetenskaplikes het bevind mooi vroue het 16% meer kinders as, sê maar, minder mooi vroue, jy weet, lelike eendjies? En die meeste van daardie kinders is dogtertjies, en hulle het hul ma se mooi gene gekry, wat hulle weer oordra aan húl kinders, wat ook meer dogtertjies insluit, en so gaan dit aan en aan. Dis glo oorerflik, in ’n mooi vrou se DNS geprogrammeer.

Wat beteken, redeneer die wetenskaplikes, dat vroue deur die eeue, van generasie tot generasie, al hoe mooier word.

“Daar het jy dit!” sê jy triomfantlik. “Dis logies.” Vroue raak al hoe mooier en jy’s die laaste een om te kla. Maar êrens in jou agterkop klink dit – as die wetenskaplikes aan­gaan soos hulle aangaan – of mans een of ander tyd gaan uitsterf omdat mooi vroue meer mooi dogtertjies kry as lelike seuntjies, en wat help ’n mooi vrou jou dan? Die wetenskaplikes sê hoeka mans het deur die jare net so lelik gebly soos toe hulle nog in grotte gewoon het.

Jy kan sien sy vind dit ’n verfrissende gedagte, sy luis­ter skielik skerper, maar jy maak of jy dit nie agterkom nie.

Want mans het nog nooit nódig gehad om mooier te word nie, aangesien lelike mans net soveel kinders het as mooi mans, volgens die wetenskaplikes. Gelukkig vir die meeste mans in malls – en Mick Jagger – steur vroue hulle nie veel aan die uiterlike nie. Vir vroue is dit belangriker dat die man haar moet kan beskerm terwyl sy swanger is en borsvoed, tradisioneel tye wanneer sy genoeg kos nodig het en bang is vir roofdiere. Die druk op mans, deur die eeue heen, is dus eerder om sterk en beskermend te wees (wat beteken hy moet geld hê, nè?).

“Ja, hy moet kan peanut butter en sjokolade aandra!” val sy jou in die rede.

So iets, oukei, stem jy saam, maar jy kom agter daar’s iets soos skerp naels in haar stemtoon. En dit word dade­lik duidelik: “Toe jy nou net gesê het ek raak al hoe mooier…” begin sy.

Wat nou?

“. . . het jy dus bedoel vroue in die algemeen, nie ek spesifiek nie?” Sy voel spesifiek onbeskerm, alleen in die grot, want ’n kompliment is gegee en toe geneem, voel sy.

“Jy’s mos ook ’n vrou! Dis hoekom ek sê…” verdui­delik jy. “En het jy geweet bier maak ’n vrou ook mooier?” probeer jy die onderwerp verander.

Seker wetenskaplik bewys, grom sy.

Is net so, sê jy, hulle noem dit die bierbril-effek: ’n Vrou raak vir ’n man 25% mooier ná ’n bier of twee. En die mooiste is: ’n Man word vir ’n vrou ook mooier ná ’n glasie chardonnay of so – hoe lyk ek? (Hel, hoe baie moes Jerry Hall nie gedrink het nie!)

Skotse wetenskaplikes het hierdie oeroue aanname korrek bewys, iets wat mans al jare gelede agtergekom het toe hulle nog deur die waas van ’n vuurgloed in ’n grot na ’n vrou in skrapse diervelle gekyk het. En maak nie saak of jy om mee te begin mooi of lelik is nie, jy word 25% mooier en klaar.

Wat ’n gerusstellende gedagte. (25%? Hoeveel biere sal dit vat om ’n vrou 100% mooier te maak? wonder jy onwillekeurig. Nee, wag, netnou gee dit ’n gelollery af.)

Jy vat nog ’n klein slukkie en kyk alte fraai na haar. Dis ’n mooi oomblik. Maar sy loop kombuis toe, pluk die yskasdeur oop, gryp ’n bakkie jogurt, ’n teelepeltjie, en tik-­tik-klikketie-klak kom sit sy in die verste hoek.

Jy’t ewe gedink sy gaan nog bier haal…

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Подняться наверх