Читать книгу Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) - André le Roux - Страница 7

Eksieperfeksie

Оглавление

“Kyk na hierdie foto op bl. 159,” sê sy. “Elke vrou behoort sulke borste te hê.”

Wat nou? ’n Hele wêreld vol model-borste? Jy dink dadelik aan Angelina Jolie, maar jy sê liewer niks, netnou klink jy te jollie. Jy vermoed sy stuur op iets af, toe’s daar ’n botsing.

“Vir wat?!” gryp jy na lug. “Vir wat?!”

Sy wil haar borste laat vergroot. Vir die somer. (Jy sou dink dis vir haarself. Of vir jou.)

“Maar ons het nie groter borste nodig nie!” sê jy verbaas.

“Ons?”

Is mos ons s’n, sê jy. Gedeelde belange.

O, gedeelde belange.

Bo teen die hange, kom die digter in jou uit.

“Kyk hier in hierdie einste SARIE, een bladsy terug,” sê sy en lees: “Borsvergrotings is plaaslik die gewildste kosmetiese operasie naas liposuigings.” (Dit suig, sê jy.) “Daar’s twee basiese vorms. Rondes gee die ‘spanspek’-­voorkoms.” (Dis diskriminasie teen waatlemoene?) “Én dit gee jou ’n cleavage!” (Mans besef blykbaar nie wat ’n cleavage aan ’n vrou se selfbeeld doen nie.)

“Maar met jou Wonderbra hét jy een,” verseker jy haar. “Deesdae se bra-tegnologie is bra gevorderd, dit lig op, sit uit, druk vorentoe, jy kan selfs jou cleavage verstel. Baie aërodinamies.”

“Die tweede is die ‘traandruppel’-soort,” gaan sy onge­stoord voort. (Dis om van te huil.)

“Dit sê ook hier,” lees sy, “in Kaapstad is die traandruppel-soort gewild. Pretorianers, weer, hou van hul borste groot en rond.” (Kom ons trek Pretoria toe.)

Soutwater of silikoon? Dis die vraag. Jy weet van g’n sout of water nie. Silikoon is blykbaar baie natuurlik. Daar’s vroue wat dit voor hul troue laat insit het en hul mans het dit ná die troue nie eens agtergekom nie. (So wat’s die use?) Soutwater-inplantings, daarenteen, voel soos ’n sak water. (Nou wie wil aan ’n sak water voel?)

Geen versteekte, vreemde, gevulde voorwerpe nie, is jou persoonlike gevoel. Netnou blaas dit af. Jy hét al gehoor dit blaas óp in ’n vliegtuig. Jy sien al hoe dryf sy daar bo tussen die liggies teen die dak. Gelukkig sal sy nie lugsakke nodig hê in geval van ’n noodlanding nie.

“Ek’s seker ander mans sal hul vroue betáál om dit te laat doen,” kla sy. Jy sê jy’s nie so seker daarvan nie, mans hou van die hele pakket, hulle is nie so puntenerig nie.

“La’k verduidelik: Daar’s basies drie soorte mans. Die drie B’s: bene, boude en borste.” En borste-manne is dank­bare manne, hulle hou per definisie daarvan, groot of klein. Want dis die bewééglikheid wat tel.

“Dis tog nie veronderstel om stokstyf te staan soos ge­klopte room nie. Of meringues. Dit gaan als oor proporsie. Kyk maar vir Minki. Het jy al gesien hoe klein is haar…?”

“Klein?”

“Haar enkeltjies. Dis so klein en dun.”

“Wil jy vir my sê jy kyk na Minki se… énkels?” Jy’t vergeet om te sê ’n mens kry ook enkel-manne. Hulle is net een trappie hoër op die evolusieleer as voet-manne, wat aan tone suig.

“Elke skorsie sy proporsie,” verduidelik jy. Jy’t so pas ’n nuwe slagspreuk geskep, besef jy. Wonderbra kan dit gebruik as hulle jou betaal.

So skuins onner jou wange

Twee lofgesange (dig jy voort).

O, smagtend die verlange

In al my hart se gange (sluit jy af).

“So, hoekom peuter met perfeksie?” troef jy haar met alliterasie.

Toe voel julle albei sommer lekker jollie.

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Подняться наверх