Читать книгу Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) - André le Roux - Страница 6

Soos heuning vir bye

Оглавление

Wat is dit wat mense na mekaar toe aantrek? wonder sy uit die bloute, en jy sien wat kom nog voordat jy die vraag kan beantwoord: “Wat het jou na mý toe aangetrek?”

Dis ’n variasie op daardie ander vraag: Het jy my nog lief? Want wat sy eintlik wil weet, is of jy nog steeds aan­getrokke voel tot haar, of sy nie dalk haar aantrekkings­krag verloor het nie, en wat dan?

Jy probeer onthou wat dit was, want netnou antwoord jy verkeerd. (As die vraag hoegenaamd ’n regte antwoord het.) Was dit haar rooi rok, die wikkel in haar wegstap, daardie swiep van haar heupe, die sweempie parfuum, die tong oor haar vol lippe of die heuning in haar oë? Dalk haar glimlag?

Jy vermoed dis iets van als.

Jy onthou julle het in die verste hoeke van mekaar ge­staan, toe waai jy. Sy’t opgekyk en skamerig geglimlag. Jy’t eintlik vir die blondine agter haar gewaai, maar toemaar, sy’s die een wat skamerig geglimlag het, toe sien jy haar raak.

“Toe ek eers jou glimlag sien, toe’s dit verby, Dolly, toe stap ek nader en sê hallo.” (Die blondine het nie eens omgekyk nie.) “En van naby was jy nog ouliker as van ver. Toe draai jy om en stap weg.”

Jy moet erken, daardie wegstap…

“Ek moes sowaar agter jou aanloop en jou op die skouer tik en vra of jy dan nie gehóór het ek sê hallo nie.”

“Ek’t net gemaak of ek jou nie hoor nie,” bieg sy. “Want ek wou kyk of jy agter my sal aanloop.” Dis iets waarvan ’n vrou vroeg al moet seker wees, anders help dit niks. (Jy loop nou nog agter haar aan, van supermark tot klere­winkel tot…)

Nou sê wetenskaplikes hulle het vasgestel wat dit is wat mense na mekaar toe aantrek, hoekom A deur B aange­trek word en nie deur C nie, C deur E, F deur G en Steve H deur die res van die alfabet. Die antwoord: Dit word geneties bepaal, dit lê diep binne-in jou DNS.

“Jou DNS?” vra sy. “Hoe onromanties!”

Jy sien wat sy dink: Wat dan van al die moeite voor die spieël, die rooi rok, die parfuum, die wegstap? En weet jy hoeveel het hierdie skoene gekos?

Jy sê dit gaan nie oor die skoene nie, dit gaan oor die kinders. Sy frons ’n onuitgesproke vraag.

“Sien, mense met uiteenlopende gene word na mekaar toe aangetrek om inteelt te vermy en so te sorg dat hul kinders ’n sterker immuunstelsel het.” Dis glad nie so kompleks nie, hulle noem dit die Major Histocompatibility Complex (MHC).

En ons ly almal daaraan? vra sy kamma.

Dit werk glo ook so by muise en visse. (Jy kan nog dink dat muise na mekaar toe aangetrek word, hulle is so oulik, maar visse? Daar’s tog baie visse in die see…)

Dalk kan jy ’n vrou verlei met iets soos: “Haai, wys my jou DNS, dan wys ek jou myne. A! kyk net, ons gene verskil hemelsbreed, kom ons vry en kry kinders met ’n goeie immuunstelsel om infeksies te bestry.”

“Watter vrou gaan val vir kinders en infeksies as julle mekaar so pas ontmoet het, hè?” vra sy.

Dit werk onbewustelik, verduidelik jy, en dis nou wetenskaplik bewys: Teenoorgesteldes trek mekaar aan. (“Kom ons trek mekaar liewer uit,” stel jy voor, “dan bewys ons die wetenskap verkeerd.”)

“Jy’t nog nie my vraag beantwoord nie,” is al wat sy sê.

“Watse vraag?”

“Wat het jou na my toe aangetrek?”

O.

Dis eintlik maklik: “Jy was soos ’n magneet. Soos heuning vir bye. Soos blomme vir die lente. Soos golwe vir die maan. En Rice Krispies vir melk.”

(Jy kan tog nie sê dit was eintlik die blondine agter haar nie…)

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Подняться наверх