Читать книгу Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) - André le Roux - Страница 15

Moderne agterryer

Оглавление

Ongelukkig is daar nie ’n behoorlike Afrikaanse woord vir back-seat driver nie. In haar geval is dit iets soos ’n moderne agterryer, wat voor sit.

“Ry!” sê sy. “Daai ou moet stop.”

Dis immers soos vroue in motors redeneer. Die vraag: Maar gáán daardie ou stop? kom nooit by hulle op nie.

“Dan is dit tog duidelik sy skuld as hy in ons vasry,” is haar verweer. Die antwoord: Ja, dan is dit sy skuld as ons met gipsbene in die lug lê, kom ook nooit by hulle op nie.

“Pasop daai vragmotor!” Die ding is so groot soos… wel… ’n vragmotor, jy kan hom nie miskyk nie, dan sê sy: “O, ek’t gedink dalk sien jy hom nie.”

Jy’t hom gesien soos jy parkeerplek in die stad sien. Drie oop plekke, dan sê sy vat die agterste een dan kan jy makliker weer uitkom. In ’n mall ondergronds sê sy vat die een naaste aan die ingang, dis tog logies. Met ’n vrou in die motor kan ’n man nie eens sy eie parkeerplek kies nie.

“Nee, man, so kan g’n mens sukkel nie, gaan hierdie ou verby, hy ry te stadig.” (Vragmotor van voor!)

Een of ander tyd sal jy vra: “Wie bestuur, ek of jy?” Sy gee jou nie eens ’n antwoord nie. “Sal ek stilhou, dan bestuur jy?”

Jy gee nie om dat sy bestuur nie, maar dit lei tot sy eie onsekerhede en senuwees. Want sy kyk soms links terwyl sy regs draai. Wie se skuld sal dit dan wees? wonder jy. Maar sy herinner jou daaraan dat sy laas in Februarie 2000 ’n ongeluk gemaak het toe sy (per ongeluk) in ’n paal ­– en ’n ander ou se 4x4 – vas-gereverse het.

Sy bestuur asof elke ander motoris in haar pad is, en hulle is gewoonlik. Eenkeer het selfs ’n minibus-taxi gestop dat sy eers kon verbykom.

Nes vir minibus-taxi’s beteken ’n oranje verkeerslig vir haar daar’s nog oorgenoeg tyd om gou oor te ry – as jy net vet gee. As iemand vir haar toet, sê sy die mense ry onbeskof.

“Ek onthou spesifiek ek het oor die oranje lig gery, maar toe slaan dit gouer oor na rooi as wat ek gedink het. Toe stop ek, want ek wou terugry tot agter die wit streep, maar toe begin karre uit alle rigtings vir my toet (onbeskof).”

Streng gesproke was die verkeerskaartjie dus nie haar skuld nie.

As dit jy is wat bestuur, sal sy sê: “Toe, die lig is groen, moenie sit en slaap nie.” Jy’t nie gesit en slaap nie, ’n swaar vrou was nog besig om – teen die rooi mannetjie in – oor die pad te stoei. Jy moes dus kies tussen geduldig wag of die swaar vrou omry, toe wag jy maar (gedagtig aan die potensiële skade aan die motor).

Spoedkaartjies, nes rooi ligte, kan sy ook verduidelik. Sy ry nog 120 soos die bordjie sê, toe staan daar ’n ander bordjie wat sê 100 en toe sy weer sien, het hulle ’n bordjie geplant wat sowaar sê 80. Die een wat sê 60 kyk sy toe heeltemal mis.

“Hoe kan ’n mens binne die spoedbeperking bly as hulle heeltyd die bordjies verander?” Sy reken hulle doen dit aspris om spoedgetroue padgebruikers soos sy uit te vang, dit wys jou spietkops is skelm. Oor ’n bos is hulle net so erg soos ’n hond wat sy been wil lig.

Dan is sy die een wat jou elke tweede kilometer maan terwyl sy die spoedmeter probeer raaksien: “Ry jy nie te vinnig nie? Onthou, op dié stuk pad vang hulle, hier’s baie bosse.”

Julle nader ’n verkeersirkel, jy slek af.

“Ry!” sê sy. “Daai kar is nog ver.”

Jy sien duidelik hoe ’n vrou in daardie motor vir haar man sê: “Ry! Daai ou moet stop.”

Toe stop jy liewer.

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Подняться наверх