Читать книгу Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) - André le Roux - Страница 9

Die lipstiek-faktor

Оглавление

Resessies en gerugte van resessies. En wat doen vroue?

Hulle koop lipstiffie.

Dit word die lipstiek-faktor, -aanwyser of -indeks genoem. As jy dus wil weet in watter finansiële toestand die wêreld is, kyk net hoeveel lipstiffie vroue koop. Leonard Lauder, voorsitter van Estée Lauder, het die afleiding ge­maak toe dinge donker was ná 9/11 en hy gesien het hoe lipstiffie-verkope styg.

Niks wat ’n vrou so maklik opbeur in slegte ekonomiese tye as ’n bietjie kleur op die lippe nie. Moet ’n vrou en haar lipstiffie dus nooit onderskat nie.

“Sowaar!” sê sy en gaan koop nog lipstiffie. Daar’s g’n keer aan ’n vrou met rooi lippe nie.

Die redenasie is: Lipstiffie – of lipglans – is ’n klein ver­grypie vergeleke met ’n nuwe handsak of skoene om jou gemoed te lig. Altyd ’n winskopie, dit voel nie eens of jy geld uitgee nie. Dis baie goedkoper as petrol: As jy dus by die huis moet sit omdat jy nie geld vir petrol het nie, doen dit met rooi lippe. Jy sal met plesier by die huis sit, jy en jou lipstiffie.

Dis so lekker kompak en lig, jy kan dit oral met jou saamdra om jou lippe op te top, enige tyd, enige plek (baie vroue doen dit in die motor op pad werk toe). Dis ’n noodsaaklike bykomstigheid as jy byvoorbeeld toilet toe gaan, by die fliek of by die huis. Dit pas in enige (ou) handsak, groot of klein. En as jy al ’n paar bewoë lyntjies om jou mond het, laat lipstiffie jou jonger lyk, want jou lippe blink soos dou. Boonop bevogtig dit en voel lekker op die tong.

Om te dink Cleopatra het haar lipstiffie laat maak van fyngekapte kewers en miere. Ga!

Gelukkig smaak vandag se lipstiffies glad nie na kewers of miere nie, eerder na vye en vanielje. Elkeen het ewe sy eie unieke nommer met ’n klinkende naam soos Hot Mango, Lavish Burgundy, Animal Instinct, Raspberry Rush, Cool Watermelon, Juicy Nude Glow en Va Va Voom.

Alles baie soenbaar, klink dit vir jou, ’n paar selfs eetbaar. (Dis net sleg as jou vet antie van Kuruman jou soen met haar rosyntjiemondjie – die kleur is Rich Raisin – en jý sit met die goed op jou wang of agter jou oor as jy jou kop subtiel probeer wegdraai. Op dié manier spoeg sy altyd in jou oor as sy jou groet – omdat Kuruman so ver is en sy so bly is om jou te sien.)

En mans? Wat doen mans in slegte ekonomiese tye?

Hulle worrie – en gaan koop dan allerhande elektro­niese goetertjies, gadgets, as die petrolprys ’n slag weer daal.

Dan kry sy “net gou” haar lipstiek as julle uitgaan. Sy verwys altyd daarna as “my” lipstiek: “Wag, ek kry net gou mý lipstiek.” Sy’t ’n verhouding met haar lipstiffie, ’n baie beter verhouding as met jou, voel dit soms. (Trou­ens, partykeer dink jy sy sal sowaar sonder jou kan klaar­kom, net nie sonder haar lipstiffie nie.)

Hoeveel keer ’n dag vra ’n vrou: “Het ek nog lipstiek aan?” Dis nie ’n vraag nie, dis ’n noodkreet.

Lipstiffie is amper soos mooi onderklere. ’n Vrou sal haarself bederf met mooi onderklere al weet sy niemand in die wêreld gaan dit sien nie, dis immers onderklere, net die bandjies steek soms uit. Hoekom dink jy koop ’n vrou G-strings? Dis omdat sy haar rieme dun sny.

Want met mooi onderklere – en lipstiffie – loop ’n vrou op wolke, trap sy hoër as die inflasiekoers, volg sy haar hart en haar beste bra met vasberadenheid.

Dis seker die onderklere-faktor, dink jy.

En jy’t nogal gedink dis spesiaal uitgekies vir jou eks­klusiewe aandag en waardering, maar sy’t die lig afgesit om elektrisiteit te bespaar. Nou lê jy daar in die donker en wonder of sy die badkamer se lig ook gaan afsit.

“Moet ek nou alleen hier in die donker lê en worrie?” vra jy.

“Ek’s nou da-h-aar,” koer sy. “Ek sit net gou my lipstiek aan.”

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Подняться наверх