Читать книгу Fransi en die filmster - Anita du Preez - Страница 5

3

Оглавление

Partymaal kan mens dit sowaar net nie meer hou nie. Teen Dinsdagmiddag vieruur gee Fransi in en grawe die boksie met die enkele ciggie uit wat sy vir presies so ’n dag onder die verslete voorste sitplek van haar rivierboot ingewig het. Sy is nog naarstiglik aan ’t sukkel om dit met ’n vuurhoutjie uit dieselfde klammerige boksie aan die brand te probeer kry, toe iemand skielik agter haar praat.

“Baby! What took you so long?” singvra die stem vanuit die agterste deel van die boot se boeg.

“Bliksem!” skel Fransi toe die vuurhoutjie stomp afbreek en boksie en als op haar voete val.

“Darem nie heeltemal nie. Ek het ook my goeie eienskappe,” kom die antwoord.

Fransi vlie vervaard regop om te sien wie dit is. En alles om haar wieg en dein gevaarlik, want dis flippen Matt Delmayer wie se lang lyf op die agterste bankie van háár boot gedrapeer luier. Ongestoord. Kompleet met geskeurde verbleikte T-hemp met heelwat uitsig op heuningkleurige gespierde lyf, die ewige kamtig argeloos gedrapeerde stuk fraiingrige serp om sy bruingebrande nek en ’n dun bruin sigaartjie tussen spierwit tande geklem, sitlê hy daar. Presies soos in die movies. Maar in die skadu van háár boot se vergulde stuk afdakkie.

As Fransi ’n slang was, sou sy hom reg in een van sy spottende bruin oë wou spoeg.

“Wiedehel is jou kastige baby, meneer Delmayer?”

“Stokou Emma Burton song. Ken jy dit nie? Dit was die temalied in All Roads Lead to Xanadu.”

“Ek ken elke detail van elke film wat jy ooit gemaak het, maar dit word gaandeweg vir my duideliker dat ek beslis my inskrywing tot jou fan club wil kanselleer.”

Fransi moet vastrap waar sy staan, want alles wieg krakend van stuurboord na bakboord toe hy orent kom. Skynbaar om haar behoorlik te kan antwoord, met sy bene weerskante van die binneromp van die boot geplant in sy groot geskifte seerowerstewels, kom staan hy voor haar. So naby dat sy die gelerige spikkels in sy oë kan sien toe die son sy gesig vang.

“En dit wil ons nie hê nie? Wil ons, juffrou Fouché?”

“Nè?” Fransi wyk nie een sentimeter nie. “En hoekom nogal nie?”

“Want, juffrou Fouché, jy hou van ’n uitdaging en Patrick Muelle gaan jou ’n offer maak wat jy nie sal kan weier nie.”

“Ag, rêrig? En watse offer sal dit nogal wees?”

Sy bobeenspiere span sigbaar onder die uitgewaste denim toe hy rats uit die boot tree.

“Wag en sien, juffrou Fouché. Wag en sien,” sê hy oor sy skouer op pad studio toe, terwyl Franscheska nog heel ontgogeld woorde uit haar stomende brein probeer vis wat gestand sal doen aan haar opvlammende woede.

“En … en waddehel het dit met jou te doen, jou verdomde … Mister … Mister Hóllywóód?” roep sy desperaat van frustrasie agter hom aan, maar sy netjies gespierde sitvlak en leertoutjies in die poniestert wat oor sy effens geswete blinkbruin nek en skouers swaai, is al wat sy kry soos hy met lang treë van haar af wegstap.

Fransi bly droëbek staan met klomp vrae op haar tong. Hoe de duiwel weet hy wat haar naam is? Watse offer? En wat soek hy in haar boot?

“I kid you not,” belowe Fransi later vir Felicity wat geen snars van die verhaal wil glo wat sy so pas vertel het nie.

“Ja, ja, ja en Richard Gere wag hier buite in sy limo vir my met ’n rooi roos tussen sy tande,” proes Felicity en skink haar glas weer vol uit die bottel droë wit op die tafeltjie tussen hulle.

Franscheska stoot haar glas ook nader.

“Haikôna, jy!” Felicity stoot die spyskaart oor die geruite tafeldoek tot voor Fransi. “Niks meer vir jou nie. Jy’s al klaar delusional.”

Fransi trek self die bottel nader en skink. “Wel, in daai geval kan ek netsowel totally wasted raak, as niemand my wil glo nie.”

“Rêrig, vriendin? Verwag jy sowaar ek moet glo Matt Delmayer was vanmiddag in die ou effed up stuk boot waar jy altyd gesit en rook het?”

“Glo wat jy wil.” Moeg, honger en dik vir die hele storie trek Fransi die spyskaart nader. “Ek soek ’n vet steak. Met sous en chips en uieringe en als.”

“Oukei. En môre vat ek jou dokter toe. Dalk moet jy iets kry vir hierdie weird … hierdie –”

“Drop dit nou, Felicity. Drop dit. Ek was daar toe jy iemand nodig gehad het. En nou?”

“Dis presies waarom ek jou dokter toe wil vat, vriendin. Omdat –”

“Ek sê drop dit. Oukei? Kom ons bestel.”

Toe die kelner weg is, lol Felicity weer.

“Oukei. Ek sal saamspeel as jy vir my bewyse kan bring.”

“Bewyse! Ag, asseblief! Ek hoef mos nie –”

“Nee, wag nou, wag nou! Ek het ’n plan.”

“Laat ek raai? Humour the crazy person?”

“Baie makliker as dit. As hy weer opdaag, neem jy ’n foto.”

“Oukei. En?”

“En dan whatsapp jy dit vir my en –”

“En dan glo jy my! Ag, jou internasionale alie, man. Hoekom kan jy my nie net glo nie? Het ek al ooit vir jou gejok?”

“Ja. En kan jy my kwalik neem, Fransi? Jy het van kleins af al hierdie imagination gehad. Onthou jy vir Freekie?”

“Freekie?”

“Jou imaginary vriend? Freekie?”

“Oukei, ja. Wat van Freekie?”

“Wel, Freekie is oukei as jy sewe is, maar Matt Delmayer in jou boot as jy een en dertig is, is net plein weird, vriendin.”

Gelukkig sit die kelner Fransi se kos voor haar neer. Fransi hou van eet. En sy is rasend honger. Anders kon dit in een van haar en Felicity se uitgerekte fights ontwikkel het. En daar was al oor die jare ’n hele paar.

“Oukei,” mompel Fransi tussen smaaklike happe deur, “dit is seker moeilik om te glo.”

“Dis hoekom ek sê. Whatsapp my daai foto’tjie. So maklik soos dit! En as dit alles waar is, is ons volgende jol op my. Deal?”

“Deal,” sê Fransi en klik haar glas teen Felicity s’n. Mens kan ook net so lank stry bo-oor ’n lekker bord kos.

“Net nog een vraag,” waag Felicity dit nog ’n slag met vernoude blou oë versigtig loerend van agter haar wynglas.

“Wát?”

“Watse offer is dit wat ou Patrick Muelle jou gaan aanbied? Die een wat jy glo nie sal kan weier nie? Asof hy die bleddie Godfather self is?”

Fransi trek haar skouers op. “Nie ’n clue nie.”

Fransi en die filmster

Подняться наверх