Читать книгу Fransi en die filmster - Anita du Preez - Страница 6

4

Оглавление

Fransi kry die volgende oggend al die kans om die foto vir haar ongelowige Thomas-vriendin te neem, toe Matt Delmayer sommer voor teetyd weer by die studio se deur instap. Patrick Muelle is nou wel by hom, maar dit sou nie saak maak nie. Flippet. En die man lyk juis weer na iets uit ’n ander wêreld. Met sy hare vandag blinkbruin sonder toutjies argeloos agteroor gewaai, sy geborduurde swart Spaanse bomber jacket bo-oor ’n spierwit T-hemp en ’n halfmasbroek met gerafelde rante om sy gespierde bruin kuite, staan hy daar. Behalwe dat Fransi net daar besef sy het haar foon by die huis vergeet. Sy kry egter nie lank tyd om haar daaroor te verknies nie, want hulle kom dié keer reg op haar afgepyl.

“As ek nou die soort was wat sou sê, ‘I told you so,’” hoor sy Vernon fluister waar hy oorkant haar by hul werkstafel besig is om moulds los te wikkel, “kon ek nou beslis gesê het, ‘I told you so.’”

“Sharrup, Vernon,” sis sy net toe die twee by hulle kom.

“Hi, juffrou Fouché,” groet Matt Delmayer asof als hunkybleddiedory is.

Fransi knik streng in sy rigting en plak dan dadelik ’n ander uitdrukking op.

“Goeiemôre, Mister Muelle!” Sy draai die sjarmekraantjie volstroom oop. Matt Delmayer mag wees wie hy is, maar Patrick Muelle wil sy beslis nie affronteer nie. Muelle betaal haar salaris en sy moet eet en iewers woon. Buitendien is hy een van die min mense vir wie sy respek het. Hy mag dalk bruusk en afsydig wees, maar hy is die een wat vir haar werk gegee het. En hy hou per slot van rekening die hele plek aan die gang te midde van ’n sukkelende ekonomie. Daarvoor het sy groot waardering. Veral nadat sy dit self nie eens kon regkry nie.

“Ja, goeiemôre, juffrou Fouché,” groet Muelle saaklik, “soos ek verstaan, is jy reeds ingelig omtrent die takie op hande?”

“E … e …” Fransi gluur in Delmayer se rigting, maar hy stel skynbaar op daardie oomblik intens belang in die proses waarmee Vernon besig is en kyk nie eens haar kant toe nie. Van hom gaan daar duidelik geen hulp kom nie. Haar kop werk vinnig. Sê sy nee, sy weet niks van die verdomde offer nie, klink sy dom. Sê sy ja, en sy weet nie wat dit is nie, klink sy dommer. En as daar een ding is wat sy verpes, is dit om dom te lyk.

“Kyk,” sê Muelle, “ek kan verstaan dat jy huiwerig is, dit is ’n groot verantwoordelikheid om so ’n delikate proses te onderneem, maar ek sal dit vir jou die moeite werd maak. Dubbel jou gewone salaris wanneer dit voltooi is?”

“O … ja … ek …” Fransi sluk twee keer. Wat dit ook al is wat sy moet giet, dit kan tog nie so moeilik wees nie. En dink net wat dit aan haar bloedrooi bankbalans kan doen.

“In die haak,” sê sy met haar vingers agter haar rug gekruis.

“Goed. Dis dan reg so,” sê Muelle wat woorde ewe min as geld mors.

“Ahem, ugge, ugge,” maak Vernon vreemde geluide oorkant die tafel en rol sy oë vir haar.

Fransi verstaan dadelik. “Ek mag dalk Vernon se hulp nodig kry, Mister Muelle,” sê sy, “vir sulke ingewikkelde gietsels het ek gewoonlik ’n assistent nodig.”

“Hm,” sê Muelle en krap oor sy bles, “wel … dit is nogal iets buitengewoons … so … e … dieselfde aanbod geld dan vir jou, Vernon.”

“Thanks, Mister Mue!” sê Vernon en lig wys-jou-net-wenkbroue vir Fransi.

“Right,” sê Muelle, altyd haastig, in sy superster se rigting, “kom jy saam?”

“Nee dankie, Patrick,” sê Matt Delmayer en wys met die stroopsoetste glimlag na die gietsels op die tafel voor Vernon, “hierdie dinge is so fassinerend, ek dink ek bly ’n rukkie hier.” Hy draai na Fransi. “As dit in orde is met juffrou Fouché?” Die oë vonkel en die kleinste laggie pluk-pluk aan sy mond.

Die bliksem, dink Fransi. Maar sy weet wanneer sy in ’n hoek gedruk word.

“Natuurlik!” straal sy in Matt Delmayer se rigting.

Sy hou net uit totdat Muelle behoorlik uit hoorafstand is. Toe laat waai sy.

“Met watter speletjie is jy besig?”

Vernon kan dit duidelik nie meer hou nie. “Ons moet ’n cast van sy gesig maak,” blerts hy dit uit.

“Wát?”

“Ja. Is dit nie amazing nie? Dit gaan Silver Eagle Studios genuine op die map sit. Om van die ekstra ching nie eens te praat nie!” juig Vernon.

Franscheska wys na Matt Delmayer. “Van sý gesig?”

“Jip,” sê Vernon, “that very face!”

“Hoekom,” vra Fransi, “hy is dan self hier?”

“Ja, maar hy sê dis oor party van sy stunts in die nuwe movie so gevaarlik is dat even die stuntman dit nie kan doen nie. Daarom moet daar ’n dummy gemaak word met Mister Delmayer se gesig op. And this honour is ours! Vir die stunts. Is dit nie amazing nie?”

“Oor my dooie liggaam,” sê Fransi.

“Nou wat is fout met my gesig?” vra Matt Delmayer, en sy beroemde wenkbroue styg byna tot by sy ewe beroemde haarlyn verby.

“Nie net jou gesig nie … Eintlik sommer jou,” Fransi wys van sy kop na sy voete met een ergerlike handgebaar, “jou hele … als.” Sy skep haastig asem en vervolg toe hy nog gaap na woorde. “Om mee te begin, die feit dat jy hier staan in jou volle Hóllywoodness en Afrikaans met my praat. En dan is daar die feit dat –”

“Wag nou!” Hy hou ’n gesaghebbende hand op – die hand van iemand wat gewoond is mense luister. Daardie een. Met die fyn tatoes op die vingers. “Dit lyk of jy heelwat vrae het. Dalk kan ek help?”

“Ekskuus? Help? Jý?” Fransi is meteens intens bewus van die feit dat haar hele span die petalje met ingehoue asems in stilte staan en volg met koppe wat draai soos toeskouers by ’n tenniswedstryd. Niemand werk ’n steek nie.

“Beter as teevee!” giggel Vernon. Fransi gee hom een verskroeiende kyk, maar Matt Delmayer roer geen spier nie. Sy gesig is doodkalm en so verdomp onbeskryflik beeldskoon toe hy sy hand vertroostend om haar boarm vou dat sy geen woord uitkry nie.

“Kom,” sê Matt, “ek vat jou vir ’n lekker koppie koffie en beantwoord ál jou vrae. Ek belowe.”

En Fransi voel hoe sy hand effens stywer om haar arm sluit terwyl hy haar sagkens maar stewig in die rigting van die studio se deur stuur. En sy weet sy het finaal elke grein gesag vir die dag verloor toe die hele span spontaan begin hande klap.

“Oukei, shoot,” sê Matt Delmayer toe hy oorkant haar sit by ’n weggesteekte wankelrige formica-tafeltjie van die dodgy winkeltjie twee agterstrate van die studio af. Waar niemand sal glo dis hy nie. Nie so met sy bandana byna tot net bo sy sonbril nie.

“Asseblief, ons is nie nou in een van jou skop-skiet-en-broek-aftrek-movies nie, meneer Delmayer.”

Hy lag saggies. “Nee, gelukkig nie. Of dalk ongelukkig nie?” sê hy met ’n vreemd uitdagende trekkie om sy mond. “Hang af waar jy staan.”

Fransi se mond word kurkdroog en haar hart maak snaakse spronge teen haar ribbes.

“Jy wou vra?”

“Die Afrikaanspratery?” vra sy toe sy haar tong kan loskry. Hoekom weet sy nie, want waddehel maak dit saak of die man Grieks of Swahili praat. Dis Matt Delmayer hier oorkant haar en hy is die mooiste skepsel.

“Ek is hier gebore,” sê hy uiteindelik, “op ’n plaas naby Upington van alle plekke, maar dis ’n baie lang storie.”

“Ek luister,” sê Fransi.

“Nou ja. Die verkorte weergawe is, dat ons bitter arm was. Ek wou in film en media of drama studeer en my pa wou dit nie toelaat nie. Toe my ma my pa los, het haar ouer broer ons kom haal. Ons is Amerika toe, waar hy reeds ’n suksesvolle besigheid in LA bestuur het. Hy en sy vrou was kinderloos. Hy het groot planne vir my gehad en ek moes opsluit ná skool eers in New York en toe in Londen gaan swot.”

Hy buig ’n verlate blikteelepeltjie heen en weer. Net om daarna te kyk maak Fransi heeltemal lam. Daardie hande. Is alles aan die verdomde man dan perfek?

“Dis nie iets waaroor ek gewoonlik praat nie. Ek was rebels en het nooit die kursus voltooi nie, maar is tog raakgesien en het my eerste werk in die filmbedryf gekry.

“My ma het geglo taal is van onskatbare waarde. Daarom moes ek Frans en Duits aanleer en het sy boonop seker gemaak dat ons net suiwer Afrikaans by die huis bly praat. Sy wou nie hê ek moes dit verloor nie. Ek kan selfs steeds Xhosa en ’n bietjie Zoeloe praat.”

Die nors kafee-eienaar sit twee dikboomkoppies vol ghrieserige swart vloeistof voor hulle neer.

Matt Delmayer sit terug. “Dis dan dít,” sê hy en sy oë daag haar uit om nog te vra terwyl hy die halfvol bekertjie melk en ingeduikte bliksuikerpotjie vir haar aangee.

“En nou?” vra Fransi toe hulle uiteindelik klaar geroer en geproe het.

Hy grawe in sy agtersak en kom met ’n blikkie van sy ewige sigaartjies te voorskyn voor hy verder praat. Hy speel daarmee tussen sy mooi vingers en haar gedagtes gaan draai op ongeoorloofde plekke.

“Wel … my oom en sy vrou is ook ’n paar jaar gelede kort na mekaar dood. Toe Miramax my die werk aanbied in ’n aksiefilm wat meestal hier afspeel, het ek die aanbod aanvaar. Deels omdat ’n vriend van my die draaiboek geskryf het en … wel … ook omdat ek self antwoorde wou kom vind op al my vrae oor die land waar ek gebore is.”

Hy maak sy blikkie peinsend oop. Fransi staar openlik toe hy die bruin sigaartjie tussen sy lippe sit, aansteek en behaaglik inasem. Hy leun terug met sy kop teen die muur agter hom, sluit sy oë en blaas die rook uit die hoek van sy mond boontoe. Sy doen haar bes om elke skeutjie van die soeterige tabakgeurtjie in te suig wat na haar oorwaai, maar sy vrek voor sy vra.

Dis hoe hy sal lyk wanneer sy die afgietsel van sy gesig moet maak, dink sy, terwyl sy haar oë nie ’n oomblik van sy gelaatstrekke kan afhaal nie. Eintlik is hy nie perfek nie. Maar niemand op aarde sou die geheel enigsins anders wou aanmekaarsit nie. Soos die werk van enige asemrowend boeiende skepping deur die beste beeldhouer wat daar is.

“Nou wat maak ons nou met die baard?” vra Fransi sonder om te besef dat sy hardop gepraat het.

Sy oë vlieg oop. “Watter baard?”

Sy beduie. “Ja. Die baard sal moet af.”

“My baard? Hoekom?”

“Mens kan nie baard giet nie. Die hare sit vas in die mengsel.”

Hy sit vorentoe, skreef sy oë en frons.

“Die afgietsel. Van jou gesig,” verduidelik Fransi en skuif haar koppie weg oor die tafel.

“O. Dit. Ja.” Hy soek rond na iets om sy sigaar in dood te druk, vind ’n leë koeldrankdoppie langs ’n stoelpoot.

“Vertel my weer, asseblief?”

“Die baard sal moet af.”

“Oh no. Onmoontlik. Jy praat van ’n man se baard hier asof dit niks is nie.”

“Wel, dis nie …”

Sy mond is onversetbaar. “Non-negotiable. Vra liewer jou volgende vraag, juffrou Fouché.”

“Dit wás my volgende vraag, meneer Delmayer.”

“Hm,” hy vryf nadenkend oor die baard onder bespreking, “daar moet ander maniere wees om so ’n gietsel te maak. Ons kan tog immers nie my wenkbroue ook afskeer nie, kan ons?”

“Wel …”

“Nee wat, juffrou Fouché, dalk moet ons maar die hele proses laat vaar. Ek …”

“Is jy te bang? Dit kan nogal pynlik en ongemaklik wees.”

Sy moet ’n senuwee geraak het, want hy staan op en boor die punt van sy klaar gerookte sigaar met ietwat meer drif as wat nodig is tot as in die doppie.

“Glad nie,” sê hy, “bang was ek nog nooit nie. Jý klink vir my na die bang een. En ek wonder nou maar net of jý die nodige kennis en ervaring het om so ’n afdruk te kan maak.”

Fransi rig haar met soveel ergernis tot haar volle lengte op dat die lamlendige stoel se pote oor die sementblad protesteer.

“Jy mag dalk die mees bekroonde akteur in Hollywood wees, maar dit gee jou geen reg om my vermoëns te kom staan en betwyfel nie. Ek het die naam as dié virtuoso in gietwerk in my finale jaar op universiteit verower. Cum laude geslaag. Dit sal dus nie die eerste keer wees dat ek so iets skep nie en ek weet presies wat ek doen. Maar wat ek so pas besluit het, is dat ek dit nie wíl doen nie. Famous ofte not, jou gesig staan my skielik nie aan nie.”

Sy swaai op haar stewels om. “En die beloofde lekker koffie was allesbehalwe dit. Dit was ondrinkbaar.” Sy los hom net daar waar hy staan.

“En nóú?” vra Vernon hand in die sy toe Fransi minute later die studio binnestoom.

“Die deal is af,” grom sy en gryp haar koffieflessie en kosblikkie in die verbygaan op pad uit na haar boot toe.

Sy sit skaars, toe is Vernon by.

“Praat ons dalk van die deal of the century met Mister Mue om Matt Delmayer se gesig te cast? Daai deal?”

“Wat anders?” blaf Fransi. Sy oorweeg dit om binne by die manne ’n ciggie te gaan bedel.

Sonder om te vra, sak Vernon dramaties op die punt van die stuk blou brander langs die boot neer. Kompleet soos ’n passasier wat so pas gehoor het die Titanic gaan sink, laat sak hy sy kop prewelend op sy hande. “Oh my word! Daar gaan my hele future.”

“Ag, asseblief, Vernon,” brom Fransi hoewel sy nes Vernon voel. Net, sy kan dit nie wys nie. “So erg is dit ook nou nie.”

Vernon vlie so skielik orent dat die hele boot wip en Fransi haar koffiekoppietjie skoon mis skink. “Wat nou van my oortrokke credit card? Miss Fouché? En my ouma moet haar bunions laat sny en die medical aid weier om te betaal en ek is al een wat …”

Fransi staar mismoedig na die spreiende nat kol op haar bobeen terwyl die laaste staat van haar eie kredietkaart oor die flikkerende skermpie van haar geestesoog verbyrol.

“Oukei, Vernon. Gee net kans, asseblief.”

“Kans? For a short moment there, dog ek dís my kans. En nou …”

“Asseblief, Vernon. Jy maak my mal. Gaan net eers weg. Sodat ek aan iets kan dink.”

“Oukei, ma’am,” sug Vernon en strompel so pateties weg deur toe soos ’n swaar gewonde duif. Toe draai hy om. “Ek sal net laaik om te weet hoekom?”

“Hoekom wát, Vernon?”

“Hoekom is die deal in sy moe- … agge … in sy glory?”

“Want Matt Delmayer is ’n arrogante poeph-”

“Not in my book, Miss Fouché. Vir my lyk hy soos ’n very nice ou. En ek is after all fifty-fifty in die ding. So, ek is entitled om te weet wat is die problem.”

“Jy is seker reg, Vernon. Dit gaan oor die baard.”

“Die báárd?”

“Ek het verduidelik dat hy sy baard sal moet afskeer. Om die gietsel te maak.”

“Maar dis mos crazy, Miss Fouché?”

“Ek weet. Maar hy wil nie verstaan dat die hare in die mengsel sal vassit en –”

“No, ma’am. Dis crazy om te verwag Matt Delmayer moet sy famous baard afskeer. Hy speel in ’n movie. Mét sy baard. Hy kan mos nie een dag baard en in die next scene zero baard hê nie? Dit sal fake lyk. Dis mos te verstane! Besides. Dis Matt Delmayer se baard waarvan ons praat. Elke stoppel is probably insured. Vir miljoene! I mean Jeesh!”

Fransi sug. Vernon is reg. Sy het al weer oorreageer, haar ego die oorhand gegee. Sy weet sy’s goed, maar as daar een ding is wat haar oor die randjie stuur, is dit wanneer haar vermoëns bevraagteken word. Miskien omdat Chris dit altyd gedoen het. Hy kon nie die gedagte verduur dat haar IK of vermoëns dalk syne in die skadu sou stel nie. En nou het hierdie man ook al die regte knoppies gedruk om haar blitsvinnig die duiwel in te maak.

Ai tog. Daar moet darem seker oplossings wees vir die baardstorie? Daar is altyd. Soms so voor die hand liggend dat mens bo-oor dit kyk. Sy moet net dink.

Fransi en die filmster

Подняться наверх