Читать книгу Fransi en die filmster - Anita du Preez - Страница 8

6

Оглавление

Soos alle gevreesde dae breek die dag van die gietery hopeloos te vinnig na Fransi se smaak aan. Sy is nog nie gereed hiervoor nie, maal dit deur haar, die oggend toe Patrick Muelle en Matt Delmayer in die syvertrekkie langs die groot studio kom aanmeld vir die delikate operasie. Weg van nuuskierige agies, want Muelle het weer gister die Talk kom gee. As jy by Silver Eagle kom werk, is jy stom en blind. Want as iemand uitlek wie hier rondloop, fire hy de laaste een.

“Dis ook darem nou nie asof ons niks gewoond is nie,” het sy die voorman agterna hoor grommel, “hier was mos darem al ’n paar celebrities … maar ja, nog nooit iemand van Delmayer se klas nie. So, ons beter maar ons bekke hou as ons ons jobs wil behou. Hy is after all next level.”

En hier is hulle nou, met alles wat regstaan, omdat sy en Vernon al twee dae lank prep met die presisie van ’n chirurgiese span voor die eerste hartoorplanting.

“So where do you want me?” vra Matt Delmayer toe Muelle hom uit die voete maak. Wys jou net hoe die heelal met my speel, skiet die lawwe gedagte deur Fransi se kop. Watter volbloedvrou sou nou nie wát wou betaal om dié woorde uit Mister Hollywood se mond te hoor nie? Maar nee. Hier staan sy met ’n pak gips en ’n pot Vaseline in haar hande, geklee in haar oudste overall.

“Sommer hier op die bed,” sê Fransi en bloos dadelik vuurwarm, “agge … ek bedoel, die tafel.” Sy beduie na die dun matras met die skoon doeke oor bo-op die vlekvryestaalblad op stewige bokke wat sy en Vernon hier ingedra het.

“’Raait,” sê die silwerdoekster en maak reg om die spul te bestyg.

“Wow! Wag!” roep Vernon en sy en Matt vries albei. Fransi wonder wie se senuwees is nou eintlik die opste oor wat voorlê. Want toe hy na haar draai, is daar iets pleitends in die beroemde donker oë wat op haar gerig is. Die man voel duidelik self nie te lekker oor die besigheid nie.

“Dis als oukei,” troos sy, “dit sal nie seer wees nie.” En ’n wit leuen was nog nooit so swart nie.

“Ja, maar hy kán mos nou nie in daai outfit daar lê nie. Dit gaan vol gips raak! Hy moet dit liewer uittrek,” maan Vernon.

“Natuurlik,” sê Fransi. Maar sy weet haar hart gaan dit sowaar nie hou nie. Matt Delmayer met sy fraiingrige serp, gaterige wit T-hemp en geskeurde denim is heeltemal genoeg, dankie. Hoe de duiwel moet sy iets gedoen kry as hy dit moet uittrek?

O my genadetjie! skiet dit verlammend deur Fransi toe hy sonder seremonie eers die serp en toe die hempie afpluk en argeloos laat val. En daar staan hy – net in sy denim, sy oë vraend op haar gerig.

“Dié ook?” vra hy en haak sy duime weerskante van die broek se band in. Fransi staar gehipnotiseer na die tweeling-spierlyne perfek gekurf laag onderkant sy plat maag. Glad gekookte kondensmelkvel, wat uitlokkend afdraand strek, vol prentjies getatoeëer, tot daar waar ’n fyn skugtere donker haarspoortjie agter die broek se rits in verdwyn. Sy bespeur geen teken van enige ander kledingstuk daaronder nie.

“Nee, nee, dis oukei so,” keer Vernon, want Fransi kry geen woord uit nie, “ons doen mos net die gesig.”

Toe klouter Matt Delmayer, afgod van die silwerdoek, sonder seremonie rats op die tafel en gaan lê ewe gehoorsaam. Met sy hande netjies gevou net onderkant sy ontblote naeltjie, maak hy sy oë toe en wag sodat sy, Franscheska Rebecca Fouché van Franschhoek se Fouchés, van sy gesig ’n afbeelding kan maak.

Sy drapeer veiligheidshalwe ’n sagte stuk doek oor sy bolyf. Daarna doop sy ’n bewerige wysvinger in die potjie en begin versigtig Vaseline oor sy dik swart wenkbroue en die syerige donker wimpers smeer. Daar is fyn aartjies op sy ooglede en sy oë roer onrustig onder die vel toe haar vingers veersag daaroor gly. Haar hande bewe so dat Vernon die stukkies kleefplastiek moet help opplak en verder toesmeer met nog Vaseline. Matt haal effens harder asem en sy en Vernon se hande vat raak en vinnig om die ster se duur, moontlik versekerde, baardstoppels en snor ook te bedek. Terwyl Vernon die gipsmengsel aanmaak, druk Fransi Matt se hare versigtig onder ’n plastiekomhulsel in. Sy kom agter sy het darem ophou bewe, maar nie haar model nie.

“Ontspan net,” paai sy en streel ’n ekstra lagie versigtig oor sy haarlyn, saggies agter sy ore in, “amper daar.” Toe Vernon die twee kort strooitjies in Matt se neus plaas, fladder sy oë onder die plastiek en hy gryp blindweg na Fransi se hand. Sy streel sy vingers een vir een totdat hy bedaar. Toe sit sy sy hand weer neer waar dit was sodat sy Vernon kan help om die universeel beminde gesig baie versigtig en eweredig met nat gips en dun lae gaas te bedek.

Sy asem jaag paniekerig deur die strooitjies en sy ribbes dein soos ’n bang perd s’n. Sy hande soek benoud en hy gryp dié keer albei haar hande raak. Haar vingers is vol gips, maar sy streel paaiend oor sy kneukels en onstuimige borskas so goed sy kan. Sy fluister woorde soos vir ’n kleuter in die donker. “Toemaar, toemaar. Alles reg. Ek is hier. Hou net nog bietjie uit.” Sy voel sy harde, bang asemteue deur die strooitjies teen haar wang en haar gemoed skiet vol omdat sy besef wat dit moet kos om so vasgemessel te lê.

“Lê net doodstil, asseblief, dan is dit sommer gou verby,” pleit sy soetjies, want as die man nou hier moet opvlie of hoes of iets, dan is die hele operasie in sy kanon in.

Na wat soos ’n ewigheid voel, stol die gips.

“’Raait, hy’s reg, ons kan maar afhaal,” roep Vernon verlig.

Fransi moet help om die verharde masker versigtig-versigtig, bietjie vir bietjie af te wikkel. Sy en Vernon hou albei asem op. Vergeet van alles en kyk albei dadelik heel eerste binne-in die holtes van die gietsel. Mag dit tog reg uitgekom het, want daar kon so baie goed skeefgeloop het.

“Flawless,” sug Vernon bewerig.

“Awesome,” sê Fransi skoon aangedaan, want in die gips lê die omgekeerde gelaatstrekke van Matt Delmayer se gesig perfek vasgevang. Hulle dra dit baie versigtig en sit dit met ontsag op die tafeltjie by die venster neer.

“Hallo! Ekskuus tog dat ek jul moment so moet versteur, maar kan iemand my dalk help hier?” roep die eienaar van die gesig ergerlik van sy lêplek af.

Fransi en Vernon swaai gelyk om en bars uit van die lag, want Matt Delmayer die Grote lyk allesbehalwe na iets waaroor die tannies sal swymel. Blindemol sit hy daar, met lelle gegipste kleefplastiek wat aan sy baard en wenkbroue vaskleef en ’n strooitjie in elke neusgat soos ’n wafferse aardvark met ’n plastiekkeppie om sy beroemde kop gewikkel.

Hy lyk so verwese dat Fransi dadelik op hom afpyl en haar arms om hom sit. ’n Oomblik rus sy voorkop teen haar skouer. Toe ruk hy weg, pluk die strooitjies uit sy neus en beduie wild na sy toegeplakte oë.

“Toemaar, sit net mooi stil,” troos Fransi terwyl sy die flentertjies kleefplastiek superversigtig van sy oë afskil. Die befaamde donker kykers knipper oop en gluur haar onmiddellik boosaardig aan van onder wimpers wat in nat donker klossies vasklou.

“Nooit weer nie. Not for all the ching in China!” sê hy en terwyl hy van die tafel afspring, pluk en smeer hy die res van die vetterige stukkies plastiek ergerlik van sy baard en wenkbroue af.

“Tea in China,” help sy hom reg.

Fransi word beloon met ’n uitdrukking wat staal sal smelt. Sy trek haastig die bottel micellar water en die handdoeke nader wat sy spesiaal reggesit het om die ergste af te vee. Vernon staan nader met die spons en die skottel warm seperige water wat hy blitsvinnig gaan aanmaak het.

Maar Matt Delmayer het genoeg gehad.

Die laaste verwoestende kyk wat hy hulle toevoeg voor hy die deur oopruk en uitstorm, het duidelik nie die uitwerking wat dit normaalweg op hulle sou gehad het nie, want hy lyk steeds erg verspot. Sy hele kop en haardos is nog toegedraai onder ’n laag Vaseline en stroke plastiek en om hom flap die stuk wit materiaal waarmee hulle sy bolyf bedek het.

“Óf hy gaan ’n rol kry in ’n remake van The Mummy, óf iemand gaan dink hy is ’n slagter met ’n keppie op en ’n paar chops by hom order!” proes Vernon.

Fransi staan verstom. Sy kry dit nie heeltemal reg om saam te lag nie. Want dis Matt Delflippenmayer wat hulle so pas die duiwel in gemaak het, en dis nie snaaks as die moontlikheid van werkloosheid ’n mens in die gesig staar nie.

Die volle skok van die dag se gebeure tref haar eers toe sy in die leë vertrek bly staan nadat Vernon al huis toe is. Hoewel hulle grootliks opgeruim het, lyk die plek vir haar meer na ’n misdaadtoneel as ’n kreatiewe ruimte waar daar vandag magic gemaak is. Sy kyk weer ’n slag na die afgietsel op die tafeltjie. Uitgestal soos ’n kosbare artefak. Sy streel versigtig met haar wysvinger in die omgekeerde sensitiewe kontoere van Matt Delmayer se gesig. Dit maak haar vreemd onrustig, byna hartseer. Dit is sý mond, sý neus en sý ken daar in die gips, maar ook nie, want hy is nie meer hier nie. En dalk sal die finale afgietsel hiervan nou ook nooit die lig sien nie.

Skrams gewaar sy ’n verfrommelde wit lap wat eenkant lê. Sy stap nader om dit by die ander gebruikte doeke te sit. Toe sy dit oplig, is die materiaal sag in haar hand. Dis T-hempmateriaal, en daaronder lê Matt se fraiingrige serp.

Die man was duidelik só getraumatiseer deur die hele proses dat hy sy T-hemp en serp net hier gelos het. En die beeld van hom met die plastiek om sy kop en die stuk wit lap fladderend om sy bolyf was so skokkend komies dat sy en Vernon ook nie opgelet het dat die man sonder sy hemp uitstorm nie. Was dit nou nodig dat hy hom soos ’n wafferse ou prima donna moes gedra? Sy moes dit seker verwag het van ’n flippen diva wie se bates miljoene dollars sterk is. Sy het al gehoor hoe veeleisend party celebrities kan wees. Soos om byvoorbeeld emmersvol Smarties in hul kleedkamers te eis, maar slegs die pienkes. Huh!

Ja, ja, sy weet dis erg om ’n gietsel van ’n mens se gesig te laat maak, maar dis ook nou nie só erg nie. Sy het dit immers al tevore gedoen en nie een van haar modelle het só te kere gegaan nie. Ag nee wat. Sy vat haar sak. Sy is sommer oor die hele spul. As sy nou haar werk moet verloor omdat Meneer Hardcore Hollywood Aksieheld se sensitiewe sieletjie nie eens dié bietjie ongerief kan uitstaan nie, kan sy netsowel oppak en huis toe gaan.

Sy vererg haar éérs toe sy agterkom dat sy die man se klere staan en opvou asof dit iets is wat een van haar broers iewers laat rondlê het. Vir haar om op te tel. Toe ruik sy hom daaraan, en sonder om te dink stop sy dit in haar drasak.

Sy kan dit tog nie net so hier laat lê waar iemand dit sal vat nie.

“Jy sal iets moet doen, suster,” raai Felicity haar aan toe sy haar die aand ná werk bel en die hele sad storie vertel.

“Soos wát?”

“Nee, hoedehel moet ek nou weet? Dis jóú paartie, girl. Jy is mos die kreatiewe een. So dink iets uit.”

“Dis Matt Delmayer van wie ons hier praat, Felicity. Letterlik the man who has everything. Wat op aarde is daar nou wat ék hom kan gee?”

“Nee-nee! Ek dink meer in die lyn van iets wat hy jóú kan gee.”

“Soos?”

“Wel, jy moes tog seker al teen dié tyd besef het enigiets wat met hóm te make het, is iets werd. Sigaarstompie? Koffiekoppietjie? Foto’s! Enigiets.”

“Moet ek dan nou daardie ou paar fototjies verkoop, bedoel jy?”

“Newsflash! Daar is mense wat big bucks sal betaal.”

“Skaam jou, Felicity Williams!”

“Ons praat weer wanneer Mister Muelle jou kom afdank, jy sonder blyplek sit en hulle daai Land Rover van jou terugvat. Dan sal ons sien hoe gou verkoop jy ’n haarlok van His Highness op eBay om jou huur te betaal.”

“Bye, Felicity. Ek hoor my pantoffels roep.” Fransi druk die foon ergerlik dood – miskien uit skaamte juis omdat die gedagte reeds vlugtig deur haar kop geflits het. Sy het immers twee items in haar drasak waaroor mense vuis sal slaan om groot somme te bie.

Die moeilikheid is net, besef Fransi terwyl sy Matt Delmayer se T-hemp oor haar kop glip ná haar stort, daar is geen manier dat sy dit ooit self sal prysgee nie. Of selfs sal was nie. Nee. Not for all the ching in China, soos hy vandag self gesê het.

Fransi en die filmster

Подняться наверх