Читать книгу Weerlose meganika - Anton Roodt - Страница 10
5
ОглавлениеDit het Piet ’n ruk gevat om toe te gee dat dit Boytjie was wat met die oplossing vir die hoofengel vorendag gekom het. Almal dink mos Boytjie is die brein agter alles hier by die Kulturama, maar dit is gewoon kak. Hy, Piet Moolman, is ’n man vir die oomblik. Hy kán, wanneer dit saak maak, die ingrypende besluite neem en die groot insigte hê.
Soos met die engele. Justus se vonds het die rou materiaal verskaf, maar die klemverandering in die Versoeningsfees se boodskap na die engele was uit en uit sy skuif.
Dit was nou wel Boytjie wat, ná vele pogings en oudisies om kandidate uit die plaaslike gemeenskap te werf, voorgestel het dat hulle na hul eie personeel kyk. Piet was gediend hiermee, maar het gemaan dat alles binne die raamwerk van die Kulturama se begroting, mandaat en kapasiteit moet plaasvind. Dit was beslis die soort ding wat ’n oudit aan die gang kon sit.
Piet was reeds tevrede met die keuses vir engele twee en drie. Twee meisies – Lizzy Prelinsky, die dogter van ’n Poolse Boerejood van Bultfontein, en die wulpse en veelsydige Vlindra van der Merwe, wie se pa ’n ryk boer van Hoopstad is – het uitgestaan in die proeflopies. Hy moes sy oorredingsvermoë inspan om Vlindra ingesluit te kry. Rooipiet het die komitee se voorbehoud oor engele wat te lank is, afgemaak as “verdagmakery teen ons hemelbesem-susters”. Klein Lizzy is pragtig, maar is geneig tot onvoorspelbare floutes en Piet hoop nie dat dit ’n probleem gaan afgee tydens die swewery nie.
Die fokop was egter dat die rol van die hoofengel nog vakant was. Dit het vir Piet ’n moerse kopseer geword, want die hele vertoning kan platval as hulle nie iemand kry nie.
En toe kom Boytjie met die oplossing – en nie waar nie: by die krip in die personeeltoilet. Hulle het langs mekaar daar gestaan. Piet het pas met ’n skok besef sy duimnaels is tot in die lewe afgekou, en hy het jaloers uit die hoek van sy oog gekyk na die sterk straal links van hom wat boog tot amper bo teen die urinaal se handelsnaam.
En toe sê Boytjie, terwyl hy afskud: “Kol’nel, hoekom hoor ons nie by die mense van DIS of hulle vir ons ’n engel het nie? So iemand kan ander take gedurende die jaar verrig. Navorsing of so iets.”
“Jy b-b-bedoel Yssel se plek. Is dit wat hulle d-dit noem? D-DIS?” Piet het vir oulaas ’n straaltjie uitgepers. Die ander man was toe al by ’n wasbak doenig.
“Dit staan vir Darwin Intelligence Systems.”
“Ja, natuurlik, ek weet. Los d-dit b-by my.” Hy het haastig na sy kantoor afgesit; gehoop sy baadjie bedek die piskolletjies bo teen sy broek. Dit was nou wel nie sy idee nie, maar as direkteur moes hy die knoop deurhak.
Hy was nog nie eens by die kantoordeur nie, toe roep hy: “Saar, kry vir my vir Yssel van DIS op die lyn.”
Saartjie Spaarwater is Piet se administratiewe assistent, maar sy help ook vir Jan Bezuidenhout in die finansafdeling. Tot Piet se verbasing het hy eendag by Saar gehoor dat die personeel Jan die bynaam “Zombie” gegee het, nie net vanweë sy lang, bleek gelaat nie, maar veral omdat hy, wanneer iemand by hom aanklop vir oortydbetaling of ander kleinkasuitgawes, bloot apaties deur die persoon kyk asof hy of sy nie daar is nie. Toe hy Boytjie daarvan vertel, was sy reaksie dat hy dink Jan ly aan Cotard se delusie, wat de fok dit ook al mag beteken.
Trouens, Saar het heelwat aktiwiteite by die Kulturama aan die gang; Piet vermoed die meeste het niks met haar posbeskrywing te doen nie.
“Is sy van Van Dis, kolonel?”
“Nee, Jissus, Saar, DIS staan vir … vir … K-kry die inligting en nommer by D-D-Dames.”
Ná ’n ewigheid, voel dit vir Piet, kry sy Yssel op die lyn.
“Yssie! Hoesit, dok?” Piet besluit dat kollegiale bonhomie die beste benadering tot die onderhandelingsproses is.
“Goeiemôre, kolonel. Waarmee kan ek jou help?”
Piet kan nie help om te wonder hoe oud – of dan, hoe jonk – hierdie man is nie. Dit wat hy vroeër oor hom gelees het, verklap min oor sy ouderdom. Hy meen Yssel se stem is ’n titsel aan die hoë kant. Wat hy egter weet, is dat Yssel van gemengde afkoms is. ’n Bruin man, so sê Boytjie, wat letterlik besig is om die wêreld te verander. Piet klits ’n bietjie beskeidenheid by sy aanslag in: “E … e … ja, sien, doktor, ons het ’n engel nod-d-dig.”
“Het ons nie almal nie, kolonel.”
“Vir ons Versoeningsfees … in D-desember?”
“Jammer, kolonel, my werk neem my dikwels na die buiteland. Ek hou tot my spyt nie tred met wat plaaslik gebeur nie. Stuur vir my ’n e-pos waarin jy julle behoeftes uiteensit, dan kyk ek wat ons vir julle kan doen. Ek het iemand in gedagte, maar die koste mag dalk buite julle departementele begroting val.”
“D-dankie, doktor, ek maak so, doktor.” Hy hoor Yssel het reeds neergesit. Piet kyk na die gehoorstuk in sy hand. “En ’n fokken lekker d-dag vir u ook.” Hy voel hoe sy gesig gloei.
Hy sit die gehoorstuk neer en druk die interkomknoppie. “Saar, sê Dames moet hiernatoe kom. Dadelik. Ons moet ’n e-pos s-skryf.”