Читать книгу Weerlose meganika - Anton Roodt - Страница 14

9

Оглавление

Piet en Boytjie staan en kyk hoe die kom en gaan op en om die verhoog toeneem. Die diorama van Graaff-Reinet wat in die eerste bedryf gebruik gaan word, word in posisie geplaas. Die beligting word getoets en die flitsende ligte is ’n heenwysing na die opwinding van die aand wat voorlê. Piet trommel ingenome met sy vingers teen sy belt se gespe, totdat die gesuis van die klankstelsel hom laat frons.

“Tjak! Tjok-tjok! Testing ah-one! Ah-one-two! Tjak, tjak!” Die klankman, met ’n skoongeskeerde kop en bloedrooi baard, geniet sy oomblik op die verhoog. Hy is een van daardie kalante wat weet dat hy nooit hier voor honderde mense sal kan optree nie, en daarom is dit lekker om te voel hoe dit voel.

Onder langs die verhoog is ’n kêrel met ’n blou oorpak besig om ’n groot kartondoos vol gaatjies af te laai.

“Wat’s innie b-boks, B-B-Boytjie?”

“Kol’nel, die duiwe vir die opening, kol’nel.”

“Ek dog hulle kom op so ’n sleepwa met sulke va-va-vakkies?”

“Dis posduiwe, kol’nel. Mens kry hulle nie meer nie.”

“Nou w-w-watse duiwe is hierdie?”

“Kol’nel, dis pet shop-duiwe, kol’nel.”

Rooipiet kan sy ore nie glo nie. Hy voel hoe sy wange gloei en sy moermeter se naald flik-flik die rooi in. “Is jy nou bedonnerd?! As die duiwe losgelaat word, waarheen dink jy gaan hulle? Terug na die pet shop in die mall toe, courtesy van Google Maps?! Jy is nou al twee jaar my administrasiehoof, maar party dae wonder ek hoekom ek …”

Boytjie se oë is groter as gewoonlik en sy adamsappel beweeg senuweeagtig. Hy gooi sy blonde maanhare oor sy skouer en verstel dan die pruik wat ’n aks skuinsgetrek het oor sy hoë voorkop. Daar is iets so melancholies aan dié gebaar dat die kolonel voel hoe deernis die woede uit hom verdring. Jirre-mia, broer.

Die situasie word ontlont toe Boytjie sy aandag vestig op die drie dartelende, giggelende figure in gepluimde wit gewade wat hand aan hand soos ’n eksotiese wit seilskip oor die golwe van teer aankom: Lympi, die skegbeeld; dan Vlindra in die middel as hoofmas; en Lizzy wat die agtermas vorm.

“J-j-julle lyk presies soos engele. P-p-pragtig! Soos daai drie meisies in Botticelli se P-p-p-rimavera.” Die kolonel se hart vermurwe by aanskoue van die drie grasieë. Hy druk elkeen teen sy bors vas en soen waar hy kan bykom: Lizzy bo-op haar kop en Lympi op haar kuiltjie. Sy lippe talm op haar warm vel, wat liggies vibreer, en hy snuif haar op asof sy ’n eksotiese dwelm is.

Maar toe sien hy die bloed langs Lizzy se slaap. “Wat het jy n-n-nou weer aangevang, Lizzy!” roep hy geskok uit. “Die fees begin netnou!”

Lympi verduidelik half uitasem: “Kolonel, sy’t weer geval, flou geword.”

“Nou wat het julle gedoen?” Piet kan sy agitasie kwalik verberg en die hemel weet, hy wil nie met Lympi baklei nie.

“Dis die Stendhal-ding, oom Piet. Toe daai kêrel van die klank vir haar die pragtige bos rooi rose gee, toe word sy flou en kap haar kop teen die Dolly Varden. Gelukkig is dit nie te erg nie.”

“Jirre, mense, julle sal my hart laat gaan s-staan.”

Met Vlindra kan hy nie beter doen as om die kloof tussen haar borste te soen nie. Sy druk sy kop daarteen vas. Normaalweg sou hy dit onvoorwaardelik geniet het, ’n voorloper van ongebreidelde seks, maar vandag lê sy belangstelling elders. Hy gee ’n ligte proesie en trek dan sy kop terug.

“Nou ja, julle,” sê hy floutjies, “st-sterkte vir vanaand. B-b-break a leg!”

“Jis, dankie, oom Piet!” tril die drie in ’n koortjie.

“Ons kort nog ons vlerke, kolonel!” sê Lympi oor haar skouer terwyl hulle wegsweef.

Hoekom is dit, dink Piet, sy gevoelens in ’n warboel, dat wanneer Lympi met hom praat of net naby hom is, dit voel asof hy reeds syne het?

Weerlose meganika

Подняться наверх