Читать книгу Weerlose meganika - Anton Roodt - Страница 9
4
Оглавление“Wat,” het Piet voor die oudisies vir Boytjie gevra, “is die b-b-belangrikste ding wat ’n engel nie moet hê nie?”
“’n Kort humeur?”
“Nee, B-Boytjie. Nee!”
“Wat dan, kol’nel?”
Hy het geweet Boytjie was met opset besig om hom die botoon te laat voer, maar hy het saamgespeel. “Hoogtevrees, my d-d-draadsitter-vriend, hoogtevrees,” het hy gekraai.
“Juis, kol’nel, juis.”
“Dus, al die hoopvolle engele sonder hoogt-t-tevrees kan oud-d-disies de-doen, of hoe?”
Dit is egter waar die hoop min of meer geëindig het, want ten spyte van Boytjie Dames se beste pogings, kon hulle nie geskikte kandidate kry om die engelrolle te vul nie. Noudat hy vanaand daaraan terugdink, is Piet bly daardie mislukte oefening is verby. Hy kan nie glo dat hulle so moes sukkel nie. Hoe God aan sy engele kom, is ’n saak waaroor lank gedink kan word, maar die fok weet, dis vandag moeilik om goeie hulp te kry.
Dis asof Boytjie sy gedagtes lees, want uit die bloute sê hy: “Die ergste was die Oosthuizen-susters. Kan u nog onthou, kol’nel? Hulle was nie bang vir die kabels en die hoogte nie, maar jissem, daai lyfies … Ek weet darem nie.”
Piet wil nie eens aan die susters dink nie. Toe die een – Poppie of Pippie, hy kan nie onthou nie – nie die rol kry nie, het sy gedreig om van die mense by haar pa se skrootwerf te kry om hom te kom regsien. Ook net in fokken Welkom.
“Jirre, hulle was te d-dik vir engele. Hulle k-kon die twee amper nie opge-opgehys kry nie. Die een, wat was haar naam nou weer … P-P-Popp-pie?”
“Dit was Pippie, kol’nel.”
“Daai v-v-vlerkies op haar rug het haar eerder soos ’n v-vlieg laat lyk.”
Boytjie grynslag en Piet moet dié keer ’n lagtraan onder sy Oakleys wegvee. Hy sit die sonbril in sy sak. Die aand lyk nie meer so onheilspellend nie.
Hy moet toegee, daar het laas jaar plek-plek ietsie op die fees skeefgeloop, en dit is sulke kleinigheidjies wat die verslaggewer Douglas Fortuin gemelk het in drie van die poniekoerantjie Goldfields Trumpet se Vrydaguitgawes. Van die opskrifte bly hom steeds by en sy moermeter begin weer toere optel.
Een wat hom veral dwars in die krop gesteek het, was Theme park play: ‘Blood River’ massacred. Fortuin was ewe skielik ’n teaterkritikus. Daar was beslis iemand by die koerant wat hom voorgesê het. Goed soos: “Blood River: The Reconciliation” admirably demonstrates that the pen is mightier than the sword. The scriptwriter has blood on his hands. Donnerse Kimberley-gigolo. Die Sunday Times het heelwat meer insig getoon en die show as “representative” en “replete with forgiveness” beskryf. Justus het gedreig om terug te gaan KwaZulu-Natal toe. As direkteur moes Piet mooipraat om gekneusde ego’s te salwe.
Fortuin weet dit nog nie, maar daar is vanjaar ’n scoop aan die kom wat internasionaal opslae gaan maak. Hy gaan virfokkenseker die laaste joernalis wees wat daarvan hoor.