Читать книгу Weerlose meganika - Anton Roodt - Страница 15
10
Оглавление“Kol’nel, die grootkoppe begin aankom,” sê Boytjie.
“Wie’s al hier?”
“Pastore Boet en Aster. Pastoor Aster het van onder af gebel en wil kol’nel graag vinnig spreek.”
Dis op die punt van sy tong om te sê onder geen fokken omstandighede nie, maar hy besef dat hy brûe gaan verbrand wat hy dalk later nodig mag kry. “Laat hulle maar k-k-kom. Waar parkeer hulle?”
“Voorste ry, kol’nel. Die goue Fortuner. Ouerige pre-elektriese model.”
“Roger jou.”
Die kolonel wonder oor dié twee, Boet en Aster Bitzer. Voor hulle Die Volle Evangeliekerk vir Welgeskapenes begin het, het Aster ’n modelagentskap gehad en Boet aan die verkeerde kant van Stateway motoronderdele verkoop. Die kerktent het uit die niet verrys. Die kerk se sentrale boodskap berus op die idee dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Die twee het mekaar in die Virgin Attractive-gimnasium ontmoet, lui die gerugte.
Piet loop tydsaam na die Fortuner met die nommerplaat GODLIKE 1 FS. Ja-nee, dink Piet, hulle is stewig in die saal.
Pastoor Boet laat rol die ruit aan bestuurskant af en steek sy hand uit. “Naand, broer Piet.”
Die kolonel neem dit nie. “Dag, Boet. En Aster. Ek hoor julle s-soek my?”
Die pastore klim uit die goue koets – Boet in ’n satynpak met ’n mandarynkraag – en Aster stap voor om. Piet besef sy is wragtig ’n kop langer as hy. Sy is ook aantrekliker as wat hy kan onthou, en hy moet strek om haar op die wang te soen.
Aster laat haar dit welgeval, maar haar nek is stywerig. “Piet, ek gaan met die deur in die huis val. Ons soek ’n plek vir die kerk. ’n Permanente area vir die tent, jy weet? Ons het gedink dat dit hier bo-op jou berg goed sal werk. Dáár, agter die laaste ry motors. Op die grasperk,” en Aster beduie met haar kop na Arcadia, die fees se tentedorpie. “Daar’s genoeg plek en buitendien sal ons jou nie pla nie, want ons praise-and-worship is net Sondae. Nou ja, soms ander dae ook, maar ons kan dit mos reël, of hoe? En Piet, dit moet ek bysê, ons is gelei na hierdie plek. Deur gebede en visioene.” Met dié openbaring leun sy vorentoe, sit haar hand op sy skouer en kyk vol afwagting na hom.
Rooipiet kan weer voel hoe sy wange opvlam en ’n belangrike aar dringend in sy slaap klop. Jesus, Josef en Maria! Waar kom hierdie mense aan so iets? “Jammer, Aster, Boet, maar dit sal nie moontlik wees nie.” Hy is verbaas dat sy stem so gelykmatig is terwyl iets donkers in sy bors kolk.
Aster kyk onbegrypend na hom. Boet se uitdrukking kan hy nie peil nie. Daar volg ’n stilte wat beklemtoon word deur die hitte wat van die teer af opslaan. Ook die sproeiers is nou stil.
“Nou ja, dan is dit seker dit.” Aster se nek en lippe is snaarstyf gespan. Sy besluit ooglopend om beheer oor die situasie terug te neem. “Piet, ek wil nou nie klaerig klink nie, maar van die girls het by verlede Woensdag se praise-and-worship gesê hulle hoor ’n mens kan van die engele in die toneelstuk se …” en hier kyk sy eers na Boet, “se … tieties en … nou ja, fielemandorushare deur hulle outfits sien. Is dit so?”
“Hulle s-s-se wat?” Piet is werklik vir ’n oomblik uit die veld geslaan oor die koersverandering.
Aster leun weer vorentoe, kyk eers rond en sê dan driftig in daardie lae register wat hy so goed onthou van toe hy haar op skool in die donker agter die saal gevry het: “Wolpoeding, Piet. Jy van alle mense ken tog van wollie, of moet ek dit verdomp uitspel!”
“Dankie, nou onthou ek. Ek het jou. Die girls is volledig voor-b-berei vir die vertoning. Die k-k-kerk het niks te vrees nie.”
Aster glimlag en sit ’n vinger met smaraggroen naellak onder sy ken. “Onthou, Piet, God slaap nie,” sis sy en stap dan statig saam met pastoor Boet teen die effense helling van die teerblad af na die amfiteater.