Читать книгу Weerlose meganika - Anton Roodt - Страница 12

7

Оглавление

“Oom Piet,” sê Klein-Petrus een Saterdagaand ná ’n vertoning by die inryteater, “dis kieflekker hier bo, ’n mens sien weer kans vir die wêreld se kak as jy ná die fliek moet terug ondertoe.”

Piet het lank reeds vrede gemaak met Klein-Petrus se teenwoordigheid en so ook sy ongekunstelde taalgebruik. Boytjie het al oor laasgenoemde by mevrou Kaltwasser navraag gedoen. Haar verklaring was dat Klein-Petrus ook ’n Olympia Sewe Series is, maar uit komponente van ander slimbotreekse opgebou is. Hy is ook gelaai met ’n hele reeks halfvoltooide stelle sagteware. Dit verklaar onder meer sy liggaamsbou, taalgebruik, sy voorliefde vir sang en wat mevrou Kaltwasser eufemisties “sy idiosinkratiese geaardheid” noem.

“B-b-bly om t-te hoor, Klein-Petrus,” sê Piet, en toe aan die meisie wat aan die jong man se hand hang: “Moenie te laat uitbly nie, my skat.”

Die meisie staar met groot, bloupers irisse en botsellippe na hom en klem Klein-Petrus se hand so vas dat dit lyk asof sy die eerste keer iemand het om aan vas te hou. Sy is Ultra-Violetta, Piet se susterskind wat by hom tuisgaan terwyl sy matriek skryf. Sy spreek haar naam uit soos wanneer jy “viool” sê. Die fyn puisies al langs die haarlyn op haar voorkop is omtrent die enigste (tydelike) fisieke tekortkoming wat hy by die kind kan bespeur. Sy is wat hom betref gestraf met ’n nuttelose skoonheid en hoë intellek wat almal net gaan hartseer maak, insluitende haarself.

Oor hoe Klein-Petrus daarop gaan reageer, is Piet onrustig. Hy is alte danig met sy susterskind … of is dit andersom? Klein-Petrus lyk nie asof hy Piet se status as direkteur ernstig opneem nie. Hy is die ene spiere en Piet sidder om aan sy ander toerusting te dink, veral gegewe mevrou Kaltwasser se stelling dat hy vir opleidingsdoeleindes aangewend is. Sy suster is aartskonserwatief en sal nie toelaat dat haar dogter oor die kleurgrens vry nie, wat nog te sê die bloedgrens. Sy kak is geboek as sy suster van hierdie … vriendskap te hore kom.

Klein-Petrus se oë is dieselfde kleur as die inryteater se digitale skerm, soms blou en soms swart, maar vir die oomblik is hy is bloot ’n ornament aan Violetta se arm. Violetta en Klein-Petrus is ’n toonbeeld van alles wat die wêreld nie meer is nie: oop, onskuldig en vol verwondering. Nie dat dit lank so gaan bly nie, dink Piet sinies. Hy sal egter ’n plan moet maak voordat dinge te ver gaan, maar wát weet hy nog nie. Hy sal tog die saak met Boytjie Dames bespreek.

Maar dis ’n heel ander Saterdagaand dié as gewoonlik, al is dit nog net ’n kleedrepetisie vir die Versoeningsfees. Dinge is besig om mooi bymekaar te kom. Hy voel-voel met sy regterhand, wat liggies bewe, in sy bosak vir ’n sigaret. Vanaand gaan ’n triomf wees. Hy gun homself dit. Hoekom nie? Die fees was sy idee en oor die jare het dit ’n status gekry wat oral in die Azaniese Federasie met afguns bejeën word. Daar is mense wat die Versoeningfees in dieselfde asem noem as Oberammergau en selfs die Wagnerfees by Bayreuth. “Sak, Sarel!” sê hy dan. Vanjaar is egter spesiaal.

Soos altyd is daar die kermgatte wat ’n pyn met alles het. Hy twyfel meteens weer oor die reëlings en bedwing hom om Vlindra vir die soveelste maal te bel. Die arme girl is teen hierdie tyd op.

Asof hulle in telepatiese verbinding is, dring haar stem tot hom deur.

“Oom Piet, oom Piet! Kom! Kom gou!”

Rooipiet swaai om en sien haar by die beheerkamer se deur uitleun. Sy Vlindra! Maar wat is sy presies van hom? Sy meisie, of is hulle net steektjommies? Waar seks ophou en liefde begin, weet hy nie. Hy sal moet besluit en gou ook. Alles was oukei totdat … Ja, dié Lympi het nogal nesgeskop in sy gedagtes. Hy sal dinge moet kortvat, voordat hy willoos raak voor haar fisieke en geestelike dienste.

In Vlindra se hand is ’n bloedrooi halfgeëte toffieappel. Sy is so na aan pragtig as wat meisies van twee meter maar kan wees. Haar skoonheid het alles te make met proporsies. Haar gesig is dalk te lank, haar oë ’n aks te na aan mekaar en haar bene en arms die hele wêreld vol, maar vir Piet lyk sy fantasies. Haar dik, donker hare word teruggehou deur ’n bandeau met afwisselende wit, pienk en rooi rose. Haar rooi rok is kort en die middaglig definieer die spiere in haar kuite en bobene nog meer. Voorop die rok, tussen haar vol borste, is ’n veelkleurige juweel vasgesteek en oor haar skouers hang ’n wit kantjurkie argeloos. Boytjie noem dit ’n gilet. (Ag, dankie tog, my meneer!) Sy is, besluit Piet, ’n reuse basaar-toffieappel en sy mond water weer onbetaamlik. Die Vader weet, dit is soms moeilik met haar en hy self is nie heeltemal onskuldig in die situasie nie.

Dit sal nie help om te kla nie. Hy het nie rekening gehou met haar hiperseksualiteit nie, wat deels te wyte is (of te danke?) aan die Kleine-Levin-sindroom waaronder sy gebuk gaan. Van die voortdurende etery en slapery het die dokters in hulle verslae oor haar geskryf. Sy is een uit ’n miljoen, het een dokter dit aan die einde van syne gestel. Dit is die fokken heilige waarheid, kon Piet beaam.

“Ons is op teevee!” roep Vlindra van agter ’n hand wat moet keer dat die appelkousels spat. “Op die vroeë nuus! Kom gou!” Sy wink hom nader. Toe sy haar elegante voete met die lang tone versit in haar plat sandale, flits haar fyn toonring en word Piet nogmaals momenteel deur wellus verblind.

Die beknopte vertrek is vol digitale projektors, monitors, rekenaars en kabels wat krinkel-kronkel en krioel. Die soort tegnologie wat ’n mens nou maar in beheerkamers kry en waar dit gewoonlik net een persoon met oorfone is wat weet wat aangaan. Piet verstaan daar niks van nie.

’n Groepie van die personeel drom al voor die televisiestel saam en hy begin hulle op die naam groet.

“Naand, Justus. S-S-Saartjie …”

“Sjt, sjt!” vermaan Vlindra hom en druk ’n knoppie. Die blonde nuusleser se lipbewegings kry skielik klank by:

“… belangrike gebeurtenis op die kultuurkalender. In die mynstad Welkom word daar hierdie week behoorlik fees gevier. Benewens kunsuitstallings, danskompetisies, dwerggooi, boeresport en toutrek, kook-en-bakkompetisies en tombola, is daar die jaarlikse opvoering oor die Slag van Bloedrivier, waaraan personeel van die Kulturama-museum en -navorsingsentrum asook lede van die publiek deelneem. Die program begin vanaand reeds, met die kleedrepetisie waarna heelwat hoogwaardigheidsbekleërs uitgenooi is. Kolonel P.J. Moolman, die immergewilde direkteur van die temapark, was vroeër in gesprek met Du-Wayne Witbooi van ons plaaslike kantoor …”

In vroeër vanmiddag se helder sonskyn staan die verslaggewer en Rooipiet langs mekaar, met die verhoog in die agtergrond. Die groepie voor die televisie klap hande en fluit uitbundig.

“Ons is hier in Welkom by die Kulturama, waar die direkteur, kolonel Piet Moolman, en sy span druk besig is met voorbereidings vir die kultuurfees wat hulle elke jaar aanbied. Kolonel Piet, vertel ons kortliks waaroor die fees gaan en wat julle oogmerke is.”

Die kamera fokus op Piet.

“Man, Dwyn, ja, hierdie fees is my breinkind. Ek het ’n paar jaar terug besef ons sal meer moet doen om versoening in ons gemeenskap t-te bevorder. Saam met my personeel het ek besluit om die Slag van Bloedrivier te herskryf as ’n to-to-neelstuk en dit te gebruik as ’n g-g-gebeurtenis wat die pot-t-tensiaal het om versoening aan te moedig, en dan –”

Du-Wayne onderbreek hom: “Klink diep, kolonel, maar sê my, ek hoor daar is ’n kinkel hierdie jaar? Engele is vir die eerste keer deel van die opvoering en ek hoor hulle is besonder aanvallig …?”

Die kamera sny terug na Rooipiet, wat hom moes inhou ná die onderbreking. Hy lyk nie te sleg op TV nie, dink hy waar hy hier staan. Die presidensiële erepenning aan die geel-en-swart syband om sy nek is indrukwekkend. Order of the Baobab, Bronze. Heel gaaf vir ’n mannetjie wat op Merriespruit gebore is. Sy blou oë is sy beste bate, naas die grys hare wat in vol krulle agtertoe val. Hy sou darem ’n duim of twee langer wou wees en dertig sentimeter smaller, maar hy het sy misnoeë daarmee min of meer besweer. Die bokbaardjie ets sy ken ten goede af. Die terapiesessies het nie sy probleme met sy selfbeeld opgelos nie, maar hy weet nou ten minste iets van Jung.

“Piet,” het die terapeut, Jan-Georg, oplaas vir hom gesê, “dink só daaraan: Jy sal nooit weer mooier wees as nou nie.” Hy spreek sy naam “Ge-ôrg” uit.

“Warrefok het dit met Jung t-te doen?” wou Rooipiet verontwaardig weet.

“Niks nie, dis net iets wat my ouma gesê het.”

“Wel, my s-s-snuffelende vriend, my medies b-betaal nie vir te-te-terapie van jou ouma af nie. Ek’s klaar met Dinsdae se gatkrappery tussen twee en drie. Dankie, d-dok, en koe … baai.”

Piet verlang egter soms terug na daardie sessies, al is dit net omdat hy iemand gehad het teenoor wie hy ergerlik oor die lewe kon raak sonder om onderbreek te word.

Die weerman op die televisie ruk hom uit sy mymeringe. Geen goeie nuus wat die weer betref nie. Môre skep die wind weer daardie suur geel sand wat jou oë laat traan en jou wange en longe laat brand.

Wie sou kon dink dat daar op hierdie plat landskap, wat prehistories vertoon, ’n gebeurtenis soos die Versoeningsfees sou plaasvind? En op ’n plek soos Welkom nogal. Daar is geen riviere of spesiale topografie wat ’n bebliksemde Trekker- of nomadiese San-gemeenskappie sou beweeg om juis hier permanent oor te lê nie. Koppie Alleen is net ’n muistepel in die verte en kan nie deurgaan vir ’n berg of selfs ’n heuwel nie. Sê nou maar, mymer die kolonel, wetgewing het die mynmaatskappye verplig om die klip terug te sit in die skagte en tonnels wat die goudsoekers gerysmier het. Hoeveel gruisklip sal oorbly en hoe sal die plek sonder die mynhope lyk?

Hoe sê daardie donnerse Styger van Gass altyd? Welkom is soos ’n onaansienlike, skaam meisie – iemand moet jou altyd herinner dat haar bates as’t ware diep in haar binneste weggesteek is. Piet raak skoon ergerlik as hy aan Styger se pretensieuse uitsprake dink. Soos dat Welkom se ligging vir die geoloog heeltemal begryplik is; die goudneerslae is deel van die krateragtige kom wat gevorm is toe die grootste asteroïede tot nog toe die aarde getref het in die omgewing van waar Vredefort vandag geleë is.

Assefokkenblief!

Styger van Gass is ’n pyn in die gat, ’n chauvinis, nee, maak dit ’n seksis en ’n rassis. Maar die museum het hom nodig. Dit kan Piet nie wegredeneer nie. Sy hidroponika-boerdery is die grootste in die Azaniese Federasie en sy ses-en-twintig plase (hy herinner mense graag aan die getal) strek van Brandfort tot amper by die Gariepdam. Hy het selfs ’n kammakastige eredoktorsgraad van die CU of NT in Bloemfontein gekry. Piet het nie geweet wat die Cee-You-En-Tee is voor Klein-Petrus vir hom gesê het dit is die Central University of New Technology nie. Klein-Petrus beweer hy het ’n diploma in gasvryheidsbestuur van dié instelling, ’n kwalifikasie wat Piet vermoed deel is van sy winkelrak-herinneringe.

Natuurlik het die Watsenaam of Technology vir Styger die graad gegee om hulle geldkoffers te versterk, maar gerugte wil dit hê dat Van Gass se Africana-versameling beter as museumgehalte is. Daarby maak die Kulturama staat op ’n ruim jaarlikse skenking. Trouens, as dit nie vir Styger was nie, sou die fees nie elke jaar moontlik wees nie. Piet kon ook nie anders as om hom aan te stel as voorsitter van die Kulturama-raad nie.

Die amptelike siening is dat die goud in Welkom grootliks uitgewerk is. Die meeste groot mynhuise is lank reeds weg en die myneiendomme is aanvanklik deur swartbemagtigingsgroepe gekoop, wat dit weer later vir ’n appel en ’n ei aan Chinese maatskappye verkoop het. Die Chinese het toe weer die myn se komponente en geboue, dit wat oor was, stuk-stuk en plek-plek afverkoop.

Kolonel Piet glimlag. Ja-nee, dalk is die myne hier rond kapoet vir die groot menere, maar daar is darem nog so ietsie aan die gang vir dié wat weet waar om te kyk en wie om te vra.

Weerlose meganika

Подняться наверх