Читать книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk - Страница 10

2

Оглавление

Hoe lees ’n mens die Bybel?

Wat ons in die Bybel vind as “God se Woord” kan op geen manier losgemaak word van die behoeftes, omstandighede en eise van die wêreld waarin ons as lesers hier en nou leef nie … Ons [verstaan] iets eers … wanneer ons dit op onsself of ons eie omstandighede kan toepas, dit wil sê wanneer ons die waarde en waarheid daarvan vir ons huidige lewensoriëntasie raaksien. Daar is dus nie iets soos “die betekenis van die teks” wat vas en onveranderlik bly staan nie. In die woorde van Gadamer: “Om dieselfde (dit wil sê wat ‘eintlik’ in die teks staan) te verstaan, is om dit anders te verstaan.” Daarmee bedoel hy dat die boodskap van die teks vir mense in elke leessituasie ’n nuwe betekenis verwerf na gelang van hulle besondere agtergrond of verstaanshorison.

Hermeneutiek as teorie van interpretasie

Aan die wortel van al die kontroversie rondom wat ’n Christen deesdae kan en behoort te glo, en hoe ons sin kan maak van geloof in ’n veranderde wêreld, lê die vraag hoe ’n mens die Bybel moet lees en verstaan. Dis ’n vraag met geen eenvoudige antwoorde nie. Amper so lank soos die Bybel of sy verskillende boeke in die tradisie gelees is, bestaan daar al ’n reeks teorieë (sommiges sal sê ’n “wetenskap”) oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees. Hierdie teorieë word “hermeneutiek” genoem.1 Hermeneutiek is die teorie van interpretasie; dit is die neerslag van besinning oor die voorwaardes waaronder en die strategieë waarmee ’n mens dit wat jy lees, verstaan of probeer verstaan.

Deesdae is hermeneutiek ’n gevestigde en welbekende filosofiese dissipline wat sigself besig hou met die vraag hoe die verstaan van ’n teks, in die mees omvattende sin van die woord, moontlik is. Dit dek dus nie slegs die vraag na hoe ’n mens tekste moet lees en begryp nie, maar ook vrae soos watter rol “verstaan” in die praktyk van die wetenskap speel.

Een van die bekendste filosowe van die 20ste eeu, Martin Heidegger, het die vraag na die betekenis van “verstaan” selfs verhef tot die mees grondliggende filosofiese vraag wat daar is. Volgens Heidegger is die poging om te verstaan kenmerkend van die fundamentele manier waarop ons as mense is wat ons is. Ons menswees, sê hy, is ten diepste die volgehoue poging om sin te maak van onsself, of in sy eie formulering: “ons synswyse is synsinterpretasie”. Die vraag na verstaan is dus ten diepste die vraag na die sin van ons bestaanwyse as mense.

Allegoriese interpretasie

Lank voor hierdie meer komplekse onlangse ontwikkelings in die filosofie, is die hermeneutiese vraag egter al in die teologie gestel, in die vorm van die eenvoudige vraag: Hoe lees ons die Bybel? Soms is die vraag op ’n taamlik naïewe manier beantwoord. Een van die bekendste antwoorde uit die tradisie was afkomstig van die kerkvader Origines wat in die derde eeu nC geleef het. Origines was ’n voorstander van die sogenaamde “allegoriese” interpretasie van die Bybel. Dit is ’n leesstrategie waarvolgens ’n mens die betekenis van ’n teks nie letterlik opneem nie, maar die dinge wat die teks op die oog af sê (selfs al is dit heel konkrete dinge), beskou as simbole van iets dieperliggends.

Allegoriese interpretasies kan ten beste verduidelik word deur ’n voorbeeld of twee. Tot onlangs het ’n mens byvoorbeeld steeds gehoor dat die boek Hooglied in die Bybel nie regtig handel oor die erotiese liefde tussen twee minnaars nie, maar eintlik te doen het met die liefdesverhouding tussen Christus en sy kerk – selfs al kom die begrippe “Christus” of “die kerk” nie ’n enkele keer in die ganse Hooglied voor nie. Dit maak nie eens saak dat dié boek duidelik die lig gesien het lank voor Christus se geboorte nie. Vir dié soort interpretasie maak dit nog minder saak dat, indien die boek oor die verhouding tussen Christus en sy kerk sou handel, dit ’n opvallend erotiese verhouding sou moes wees – iets waarvan daar geen sprake is in ander Bybeldele waar gepraat word oor die kerk in verhouding tot die Hoof van die kerk nie. Die een of ander “begaafde” teoloog het bloot op ’n goeie dag met dié idee vorendag gekom – ’n idee wat wyd aanklank gevind het in ’n tydvak toe die kerk erg puriteins oor seksualiteit gedink het en in dié interpretasie ’n gerieflike uitkoms gesien het uit hul verleentheid om in die reine te kom met die feit dat daar, nogal in die Bybel van alle plekke, taamlik grafies en eksplisiet oor die ekstase van egte erotiese liefde geskryf word.

’n Selfs beter voorbeeld van ’n allegoriese interpretasie gaan terug op ’n jeugervaring wat ek self gehad het. Ek herinner my ’n preek wat ek as kind aangehoor het oor die meevoerende Ou-Testamentiese verhaal van Dawid en Goliat. In die kinderdiens dié dag weet die dominee ons toe te vertel dat die vyf klippies wat die jong Dawid daardie dag in sy slingervel gehad het toe hy die gepantserde reus Goliat tot ’n geveg uitdaag, natuurlik nie sommer gewone klippies was nie. O nee! Die klippies, het die dominee beweer, staan eintlik vir iets anders – vir die deugde van geloof, gehoorsaamheid, hulpvaardigheid, vriendelikheid en (soos ’n mens destyds altyd kon verwag) reinheid. Met daardie “vyf klippies in jou slingervel”, het die dominee ons met groot oortuiging meegedeel, kan ’n mens, soos ’n Dawid van ouds, die “(sondige) reuse van hierdie wêreld tegemoetgaan en oorwin”.

Allegoriese interpretasies het baie eeue lank ’n groot invloed uitgeoefen in die kerk, en dit gebeur tot in ons tyd. Drie dinge val ’n mens op van die allegoriese interpretasie. Die eerste, soos reeds gesuggereer, is dat dit klaarblyklik weinig begronding het in die teks wat gelees word. Dit spreek wel van verbeeldingskrag en oorspronklikheid, maar wat dit te make het met die teks waarna dit verwys of wat dit probeer “uitlê”, is wesenlik onduidelik. Die tweede is dat die allegoriese interpretasie altyd gedoen word met oënskynlik goeie bedoelings; ’n mooi sedelessie is meesal die motief daaragter. Die vraag is of daardie sedelessie – goed of sleg soos dit mag wees – hoegenaamd die teks waarna dit verwys, nodig het om die punt te maak wat dit probeer oordra. Die derde ding wat opval – en dit veroorsaak die grootste probleme met hierdie soort interpretasie – is dat dit volledig afhanklik is van die persoon wat interpreteer se vrye verbeelding, met geen waarborg dat ’n ander leser by dieselfde interpretasie van die teks sal uitkom nie.

Daar is wye konsensus dat ’n allegoriese interpretasie van die Bybel nie houdbaar is nie. Dit gee aanleiding tot verbeeldingsvlugte en breinspinsels wat op geen manier deur die teks ondersteun word nie. Dit veroorsaak dat sekere “begaafdes” al hoe meer ’n monopolie op Bybelinterpretasie verwerf, aangesien gewone sterwelinge nie kan kers vashou by diesulkes se besondere “gawes” om die “eintlike, dieper betekenis” van die Bybel op te spoor nie.

Kan ons die Bybel letterlik interpreteer?

Ons kan maklik met mekaar saamstem dat die allegoriese interpretasie nie werk nie. Maar hoe moet ons dan die Bybel lees? Die allegoriese interpretasie wys die gevaar van sogenaamde “inleeswerk” duidelik uit; dis onhoudbaar dat lesers hulle eie voorkeure en idees, en veral hulle eie voorskrifte oor moraliteit, op die Bybelteks afforseer. Beteken dit nou dat ons, om allegorie te vermy, versigtiger moet wees en die Bybel liewer “letterlik” moet interpreteer?

Dis hier waar die wortel van ernstige konflik lê – in die tradisie en tot in ons tyd. Hoe aantreklik die idee van ’n “letterlike” interpretasie van die Bybel ook al vir baie mense is, is dit veilig om te sê dat niemand in die Christelike tradisie nog ooit daarin kon slaag om konsekwent te hou by ’n letterlike verstaan van alles wat in die Bybel staan nie. Om ’n paar voorbeelde te noem: Dan sou ons al die seremoniële voorskrifte van die Pentateug2 steeds nougeset moes navolg: die “lossingsreg” (lees Lev 25) sou byvoorbeeld steeds van krag moes wees, en daar sou steeds “vrystede” moes wees (Num 35). Niemand glo dit meer nie. Al die (voor die hand liggende) simboliek wat ’n mens aantref in die Psalms, die profetiese en die apokaliptiese boeke3 van die Ou en die Nuwe Testament sou letterlik geïnterpreteer moes word. Jesaja se mond sou letterlik met ’n kool vuur aangeraak wees (Jes 6:6-7), Jona sou letterlik deur ’n reusevis ingesluk gewees het, ’n hele tyd (so groot soos hy is) in die vis se maag onder die see moes oorleef, en toe weer uitgespoeg word. Bileam se donkie sou letterlik moes gepraat het. Die semi-sosialistiese leefwyse van die eerste Christelike gemeente (Hand 2:44-47) sou steeds die model van kerkwees verteenwoordig, en ons sou dit letterlik moes navolg.

Die probleem is natuurlik dat die onhoudbaarheid van ’n letterlike interpretasie van sekere Bybelgedeeltes nie vir alle Christene so voor die hand liggend is soos dit (hopelik) in die geval van bogenoemde voorbeelde is nie. Die sentrale twispunt het te doen met die betekenis van Genesis 1 – 3. Terwyl ’n mens hopelik daarop kan reken dat die meerderheid verstandige mense – ook Christene – met my sal saamstem dat die voorbeelde wat in die vorige paragraaf genoem is, hulle op geen manier leen tot ’n letterlike interpretasie nie, is die probleem met die eerste drie hoofstukke van die Bybel meer kompleks. Hier het ons te make met materiaal waarop twee van die kernleerstellings van sowel die Roomse as die Protestantse leertradisies gebaseer is, naamlik die skeppingsleer en die verhaal waarop die Christelike kerk sy omstrede leer van die “erfsonde” baseer.4

Ek het wel ’n sterk vermoede dat ’n groeiende aantal Christene nie langer aanvaar dat die wêreld in letterlik ses dae van 24 uur elk geskape is, dat die volgorde presies so was soos wat Genesis 1 dit uitlê, en dat Adam en Eva historiese figure was nie. Hulle vind dit waarskynlik ewe problematies om, soos in die Inleiding beredeneer, die storie te koop dat ’n “reël/wet” wat dié twee in die “paradys” oortree het, meegebring het dat die res van die menslike geslag sowel as die ganse skepping (Rom 8:19-22; Kol 1:20) met ’n metafisiese, strafeisende banvloek getref is. Tog is die probleem dat selfs progressief denkende Christene in die gevestigde kerke dit lastig vind om hul skeptisisme oor hierdie leerstellings aan die groot klok te hang, aangesien hierdie soort aannames kennelik nog vervat is in sleutelleerstukke van die meeste gevestigde kerke.

Daarby het ’n groepering Christene wat kortweg beskryf kan word as “fundamentalistiese kreasioniste”, op voetspoor van hulle Amerikaanse eweknieë wat dit dekades lank reeds doen, toenemend die interpretasie van Genesis 1 – 3 tot slagveld verklaar. Dit blyk veral uit onverkwiklike briefwisselings in die Afrikaanse dagblad Die Burger wat taamlik gereeld voorkom en hervat. Met groot stelligheid verklaar hierdie groepering dat die hart van die Bybelse boodskap en die geloof in die evangelie in die gedrang kom indien die eerste drie hoofstukke van die Bybel nie as ’n min of meer letterlike beskrywing van werklike historiese gebeure beskou word nie. Dít ten spyte van die oorweldigend wyd aanvaarde wetenskaplike getuienis dat die aarde nie 6 000 nie, maar vier biljoen jaar oud is en dat lewe evolusionêr ontwikkel het uit primitiewe selle wat hul gene voortplant in die onoorskoulikheid van geologiese tyd en gedryf word deur slegs een dinamiese beginsel, naamlik natuurlike seleksie – die proses waardeur gene lewende organismes gebruik om optimaal te oorleef.5 Hier het ons op die oog te make met die skerpste konflik tussen wetenskap en geloof in die geskiedenis; een wat in heftigheid vergelykbaar is met die stryd tussen die kerk en Galileo Galilei tydens die 17de eeu.

Ons kan die Bybel nie deurgaans “letterlik” interpreteer nie, en die Christelike kerk het dit ook nog nooit deur die loop van sy ganse geskiedenis gedoen nie. Die hele idee dat “gewone mense” self die Bybel kan lees en verstaan, was ’n sentrale twispunt tydens die kerkhervorming van die 16de eeu, juis omdat Rome daarop aangedring het (en dit in sekere opsigte steeds doen) dat die enigste instansie wat regtig die Bybel betroubaar kan lees, die geïnstitueerde kerk is, en nie individuele lidmate van die kerk nie. Hulle standpunt was dat die leerstellige tradisie van die kerk, wat gevorm word deur die gesag van die biskoplike amp (met die biskop van Rome, oftewel die pous, as die hoogste gesag) ’n soort “bril” vorm waardeur gewone mense die Bybel behoort te interpreteer.

Uiteindelik het die Protestantse (en veral gereformeerde) tradisie nie te ver hiervan afgewyk nie. In die Protestantse wêreld is afgesien van die idee dat die kerk saamval met die biskoplike ampte en dat laasgenoemde via die biskop van Rome ’n unieke uitlêgesag het. Maar sedert die Sinode van Dordrecht in 1617 is in die gereformeerde wêreld die idee gevestig dat die kerk – al is die kerk alle lidmate, en nie slegs die ampte nie – tog ook “belydenisskrifte” moet hê. Belydenisskrifte is niks anders nie as ’n samevatting van kernelemente van dit wat die kerk meen dat die Bybel essensieel sê. In dié sin is die gereformeerde (en ander) belydenisskrifte voortsettings van die neiging tot belydenisvorming wat amper so oud soos die Christelike kerk self is, en wat teruggaan op die ontstaan van die oerbelydenisskrifte van die ganse kerk, soos die Twaalf Artikels en die Geloofsbelydenis van Nicea.

Ook die gereformeerde kerke aanvaar dus dat dit nie so eenvoudig is om te beweer dat enigeen, selfs al het hy of sy ’n opreg “gelowige hart”, eenvoudig die Bybel kan begin lees, by die essensie van die boodskap daarvan sal uitkom, en met ander gelowiges oor alles sal saamstem nie. Die kerk kan nie oor die weg kom sonder belydenisskrifte wat, soos die geval is met die tradisie by Rome, die “bril” vorm waardeur onderskei word tussen hoofsaak en bysaak in die Bybel, en waarin die kern van wat die Bybel eintlik sê, onder woorde gebring word nie. Die kerk het nog altyd besef dat daar chaotiese verdeeldheid sal ontstaan as elke lidmaat gewoon uitgelos word om wat hy of sy ook al in die Bybel raaklees, letterlik op te neem en toe te pas. Die vorming van ’n veelheid van Christelike kerke wat onversteurd voortwoeker tot in ons tyd, is ’n ongelukkige illustrasie van presies dié chaotiese verdeeldheid wat die kerk as liggaam van Christus tog steeds lamlê.

Wat is die Bybel, en wat is “God se Woord”

Ons kan die Bybel dus nie allegories lees nie, en ook nie letterlik nie.

Hoe dan? Miskien moet ons, voor ons dié vraag in verdere besonderhede bekyk, net eers meer duidelikheid probeer kry oor hoe presies ons oor die Bybel behoort te dink. Met watter soort “boek” – en om dié term vir die Bybel te gebruik, is al klaar nie sonder probleme nie, soos weldra sal blyk – het ons hier te make? Wat is die Bybel wesenlik? Met watter verwagtings kan en moet ons die Bybel opneem wanneer ons dit lees?

Die eerste wat ek hieroor wil beweer, is dat ’n mens die Bybel slegs “een boek” kan noem omdat daar vroeg in ons Christelike jaartelling deur ’n groep mense ’n bewuste besluit geneem is om dit te doen. Hulle was die geloofsgemeenskap wat ons die “vroeë Christelike kerk” noem en waarvan ons almal, wat steeds aan onsself as die “kerk” dink, die erfgename is. Die Bybel is egter inderwaarheid ’n versameling van verskeie boeke of geskrifte wat (soms dramaties) van mekaar verskil wat betref oorsprong, literêre genre, datering, skrywers, tydsomstandighede waarna verwys word en veronderstelde wêreldbeeld. Om byvoorbeeld net die verskille in wêreldbeeld te illustreer, kan ’n mens dink aan hoe die begrip van tyd en geskiedenis in boeke soos Genesis, Jesaja en Openbaring verskil van dié in byvoorbeeld Prediker. Volgens eersgenoemde drie boeke het die wêreld êrens ’n begin gehad in die tyd en stuur die geskiedenis af op ’n duidelike einde of konsummasie – die nuwe Jerusalem waarvan Openbaring praat, of die herstelde natuur waarin die leeu, wolf, luiperd, lam, suigeling en basilisk in harmonie saamleef, soos Jesaja 11 dit beskryf. Die tyd- en geskiedenisbegrip van hierdie boeke is duidelik liniêr: tyd/geskiedenis begin êrens en eindig êrens.

Die skrywer van Prediker dink egter glad nie só oor die geskiedenis nie en werk duidelik met ’n sikliese idee van tyd: “Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” (Pred 1:9). Volgens die Prediker het die wêreld waarin ons leef ook nie noodwendig ’n sinvolle einde nie; trouens, “alles kom tot niks” of soos die 1953-vertaling beter gesê het: “alles is tevergeefs.”

Die Bybel het ontstaan oor ’n periode van etlike honderde jare. Die skrywers daarvan was gewone, meesal ongeleerde of ongekultiveerde mense (met Paulus as belangrike uitsondering). Die keuse oor watter boeke om in die Bybel op te neem, was ’n bewuste besluit van die kerk, en as sodanig bly dit in sekere opsigte aanvegbaar. Iemand soos Martin Luther het byvoorbeeld ernstig beswaar gehad teen die insluiting van die brief van Jakobus in die Bybelse kanon. Kortom, die Bybel is ’n versameling geskrifte wat tot stand gekom het deur mensewerk oor eeue heen, en ten opsigte waarvan ons kan aanvaar dat daar in die ontstaan van hierdie boeke geen selfbewuste proses was nie. Die skrywers het met ander woorde nie geweet dat hulle besig was om iets tot stand te bring wat in latere eeue as ’n “heilige boek” beskou sou word nie.

Is die Bybel dan bloot ’n “boek tussen boeke”, iets met geen ander status as dié van ander klassieke werke in die wêreld-literatuur nie? Dit sou ek tog ook wou ontken. Vir die Christelike kerk is die Bybel die gesaghebbende getuienisse wat in die tradisie gelewer en opgeskryf is aangaande God se selfopenbaring aan die mense. Dat hierdie boek die “Woord van God” genoem word, hang onlosmaaklik saam met ’n bewuste geloofskeuse deur die Christelike kerk. Dit is naamlik gekies om “Woord van God” te wees op grond van die geloofsoortuiging dat God Hom aan ons in die geskiedenis bekend gestel het. God, so glo die kerk, het gehandel in ons wêreld en geskiedenis, en doen dit steeds. Die Bybel is essensieel die verhaal daaromtrent – die verhaal oor die “groot dade van God”. Wat ons gesaghebbend oor God kan weet, so glo die kerk, weet ons op grond van wat ons opgeteken vind oor sy heilbrengende handelinge in die getuienisse van die begenadigdes wat dit van naby beleef en daarvan vertel het.

Dat die Bybelskrywers God se handelinge van naby beleef en getuienisse daaroor gelewer het, beteken egter nie dat hulle foutloos of “onfeilbaar” geskryf het nie. Hulle het natuurlik baie foute gemaak en onakkuraathede begaan. Hulle het nie (soos soms letterlik in die Middeleeue geglo is) gesit en luister na die direkte “influisteringe van die Heilige Gees” nie. Die Bybel is nie, soos Karl Barth ’n keer grafies geskryf het, ’n “papierpous” waarvan elke letter heilig en onfeilbaar is en waarvan elke woord, bloot omdat die woord in die Bybel voorkom, “die waarheid” is nie. Barth se manier om dit te verduidelik was om te beweer dat, eerder as om te sê die Bybel is God se Woord, ’n mens moet sê die Bybel bevat God se Woord.

Die Bybelskrywers het dinge beleef – gesigte, drome, redenasies, wyse insigte, historiese gebeure en ervarings soos die Babiloniese ballingskap, en baie meer – en hulle het daaroor geskryf soos hulle dit beleef het. Op die een of ander wyse, wat ons steeds nie behoorlik verstaan nie, het dié geskrifte bewaar gebly – hoofsaaklik omdat ander mense wat dit gelees het of (soos meer waarskynlik was) aan wie dit voorgelees is, daarin heilsame betekenis gevind het. Dit het soos weinig ander dinge tot lesers gespreek. Hulle manier om dié aangesprokenheid te verwoord, was om, in die idioom van hulle tydgenote, saam te stem dat “God met ons praat” in hierdie geskrifte. Sodoende het dié geskrifte ’n bepaalde gesag begin verwerf in die gemeenskappe waarin hulle gelees en oordink is.

’n Mens kan dit verduidelik met verwysing na byvoorbeeld die versameling werke wat in ons kultuur uit die pen van William Shakespeare verskyn het. Nie al Shakespeare se dramas of gedigte is ewe goed nie. Maar die goeies is só goed, hul trefkrag so wyd en hul relevansie so durend, dat dié versameling geskrifte ’n korpus van literêre insig bied wat in hul totaliteit ’n haas ongeëwenaarde aanklank en status in die wêreldliteratuur gevind het.

Ek wil beweer dat dit ook só is met die Bybel: Nie alles daarin is op dieselfde vlak van óf gesag óf durende betekenis nie. Min dele van die Bybel vergelyk, na my mening, in hul trefkrag en sin met die Psalms of met Prediker of die historiese dele van die Ou Testament of die drie sinoptiese Evangelies (Matt, Mark en Luk). Terselfdertyd meen ek dat boeke soos Levitikus, Numeri, Hooglied, die meeste van die kleiner profete, enkele gedeeltes van die Pauliniese briewe, Hebreërs en veral die Openbaring, die meeste van hulle trefkrag en appèl vir moderne lesers verloor het. (Ander hedendaagse lesers mag natuurlik anders hieroor oordeel). Nogtans vorm al die boeke van die Bybel tesame ’n geheel waaraan die kerk reeds vroeg in die Christelike era ’n gesaghebbende betekenis en gesag toegeken het – as erkenning dat hierdie versameling van dokumente die beste uitdrukking bied van wat die kerk bedoel as die kerk sê dat God deur sy Woord en Gees vir Hom in hierdie wêreld ’n verbondsvolk versamel. In hierdie sin is die Bybel die “Woord van God”.

Dat die Bybel op dié manier “Woord van God” is, impliseer dus dat dit nie bloot “mensewerk” is nie, maar ook “God se werk”. Die kerk glo wel dat die Bybel, uiteindelik, ’n geïnspireerde boek is. Maar dié inspirasie het nie soseer te make met iets wat plaasgevind het toe dit geskryf is, of met die skrywers as sodanig nie. Dit het meer te make met die betekenis wat dié versameling Bybelse geskrifte met verloop van tyd in die lewe van die geloofsgemeenskap verwerf het. Die Bybel is “die Woord van God” omdat die kerk as gemeenskap ervaar dat hulle in die Bybel, meer as op enige ander plek of deur enige ander gebeurtenis of ervaring of boek, telkens en opnuut God se stem en sy boodskap van heil en bevryding daarin hóór. Ons hoor God se Woord egter nie bloot omdat ons meganies woorde lees wat op papier geskryf staan en dat daardie woorde dan asof vanself God se “stem” word nie. God se Woord moet verkondig word. Laasgenoemde is die wonderbaarlike gebeure wat kan plaasvind wanneer die Woord aan die woord gestel word in die erediens of in ander geloofsbyeenkomste of in situasies van toegewyde Bybelstudie. Dan ontdek ons God se Woord in die Bybel – soos Barth dit so goed ingesien het; dan hoor ons God se stem; dan word ons deur God aangespreek en tot antwoord of verantwoording en aksie opgeroep. In dié sin word die Bybel as die werk van mense getransformeer tot die Bybel as die Woord van God self.

In ’n vorige paragraaf het ek gewaag om te beweer dat sekere Bybelboeke of -gedeeltes baie meer tot my spreek as ander. Trouens, daar is sekere Bybeldele wat, moet ek bely, my heeltemal koud laat of selfs afstoot. Neem die geval van God se opdrag aan Abraham om sy enigste en langverwagte seun Isak op die berg Moria te gaan offer (Gen 22). Wat moet ons sê van ’n God wat so iets van ’n mens vra? Ek is grootgemaak met die idee dat God dit van Abraham gevra het om die egtheid van sy geloof te toets; om hom “op die proef te stel”. Hebreërs 11:17 regverdig dié gebeure ook só. Maar dit help my beswaarlik. Wat sou ons vandag sê van ’n vader wat hom dit laat welgeval om sy geloof in God te laat toets deur die bereidheid om sy enigste kind – of dan énige mens – om die lewe te bring? As ’n mens die God van wie hier sprake is, regtig wil verdedig, kan jy seker na die uitkoms van die gebeure verwys, naamlik dat God, volgens die verhaal, Abraham toe tog gekeer het (het God self toe eers besef waarmee Hy eintlik besig is?) en ’n bok in die plek van Isak vir die offer aangewys het. Dit troos my skaars.

In ’n ander Bybelverhaal – dié van Jefta se onbesonne belofte ten einde God se arm te draai vir ’n oorwinning oor die Ammoniete – onderneem hy naamlik om, indien God dié vyand in sy mag gee, die eerste mens wat hy by sy terugkeer ná die suksesvolle veldslag teëkom, aan God te “offer” (Rig 11:30-31). Hier, egter, vind die deus ex machina-verlossing van Genesis 22 ongelukkig nié plaas nie. En God is skynbaar ewe rustig daaroor dat Jefta se dogter – die slagoffer van sy onbesonne gelofte – aan die pen moet ry ter wille van haar onverantwoordelike pa se roekeloosheid.

Simone de Beauvoir, die bekende ateïstiese Franse skryfster en “moeder” van die 20ste-eeuse feministiese beweging, skryf in die vierde deel van haar bekende outobiografie dat sy, as bejaarde, die eerste keer sedert haar kinderdae (toe sy diep gelowig was uit vrees vir die verdoemenis) weer ’n keer die Bybel van voor tot agter deurgelees het. Haar oorheersende indruk was die wreedheid van Jahwe, die “hoofkarakter” van die Ou Testament. Hoewel dit myns insiens ’n oordrewe stelling is, kan ’n mens tog iets daarvan verstaan.

Drie opmerkings oor hoe ons die Bybel moet lees

Ek wil hierdie hoofstuk oor hoe ’n mens die Bybel lees – wat geen aanspraak maak op volledigheid oor hierdie groot onderwerp nie – afsluit deur drie opmerkings te maak. Die belang van dié drie opmerkings kan skaars oorbeklemtoon word en as hulle deurentyd in gedagte gehou word, kan dit moontlik vordering bewerkstellig in die heftige dispute oor die betekenis van die Bybelboodskap (as daar so ’n enkele boodskap is) wat ons steeds in ons tyd sien.

1. Die Bybel is geen handboek nie

Die eerste opmerking is die geykte, dog steeds volledig geldige bewering dat die Bybel nie beskou mag word as ’n handboek vir enige wetenskap nie – nie vir die geskiedenis, die biologie, die kosmologie6 of selfs die teologie nie. ’n Mens gebruik die Bybel fundamenteel verkeerd as jy dit beskou as ’n gesagsbron waaruit wetenskaplike teorieë of historiese feite van watter aard ook al geput of afgelei kan word. Genesis 1 – 3, by name, is geen wetenskaplik of histories betroubare weergawe van die ontstaan van die wêreld of van enige lewensvorm nie. Die eerste hoofstukke van Genesis vertel twee verhale wat duidelike invloede dra van mitologiese opvattings wat algemeen bekend was in die tyd toe hierdie verhale ontstaan het. Dit dra geen histories betroubare feite oor nie, maar probeer iets verkondig, naamlik dat God die Skepper is, dat Hy ons oorsprong en bestemming is, dat Hy ons medeverantwoordelik maak vir die wêreld waarin ons woon, en dat ons dwaas en kortsigtig sal wees, met ernstige gevolge vir onsself en ons omgewing, as ons nie in volgehoue gemeenskap met Hom probeer lewe nie.

Om egter meer as dít in hierdie hoofstukke in Genesis te probeer lees, is om ’n self- en wêreldverstaan7 aan die Bybel te probeer opdwing wat gewoon nie daarop van toepassing is nie. Ek sal in hoofstuk 7 – oor die verhouding tussen geloof en wetenskap – meer daaroor uitwei. In hierdie stadium kan ’n mens bloot sê dat die Bybel ontstaan het in ’n totaal voormoderne en daarom voorwetenskaplike kultuur waarin die mees basiese insigte van die moderne wetenskap en geskiedskrywing volledig afwesig was. Geen enkele Bybelskrywer het naastenby enigiets geweet van feite soos die aarde wat rond is en om die son draai, of van die seisoensiklus as gevolg van laasgenoemde nie. Hulle het ook niks geweet van “planete” of “sterre” in die sin waarin ons dié begrippe gebruik, of van atome, molekules, selle, gene, elektrisiteit of wat ook al nie.

Geen Bybelskrywer het ook enigiets verstaan van ons huidige opvattings oor “betroubare geskiedskrywing”8 nie. Die geskiedenis wat ons in die Bybel aantref, is nie in eerste instansie geskryf om feite oor te dra nie, maar om ’n boodskap te verkondig. Soos ek vroeër aangetoon het, is die Bybel ook geen geskiedenisboek nie, maar ’n verhaal van en ’n reeks bepeinsings (in verskillende genres) oor “die groot dade van God”. Wanneer ons ons in debatte met wetenskaplikes op die Bybel beroep oor die ontstaan van die wêreld en van lewe – om nie eens van die status van voorgeboortelike lewe te praat nie (meer hieroor in hfst 8) – doen ons iets met die Bybel waarvoor dit gewoon nie opgewasse is nie, en waarvoor dit ook nooit bedoel was nie. Ons pogings om die vermeende “gesag” van die Bybel op dié manier te probeer “red”, verkrag in werklikheid daardie gesag en maak dit bespotlik.

Die Bybel teoretiseer nie oor die skepping nie; dit verkondig dat God geskep het. Die Bybel is nie ’n oefening in geskiedskrywing nie; dit verkondig dat God gehandel het in die geskiedenis. Die Bybel moraliseer nie oor tegnologieë wat in vitro-fertilisasie en kloning moontlik maak nie; dit verkondig dat God lief is vir mense en dat ons Hom ten beste dien as ons ook lief is vir mense en daarvolgens optree.

2. Wie ons is, is medebepalend vir wat die Bybel vir ons beteken

My tweede opmerking het te make met die voorwaardes waaronder ons enige teks, insluitende die Bybel, kan verstaan. Die eenvoudige punt wat ek hieroor wil maak, is die volgende: Wat ons van ’n teks verstaan, hang in groot mate af van wie ons is, wanneer ons lewe en wat ons ervarings en waardes is.

Voordat ek dié punt ’n bietjie nader toelig, wil ek dit eers illustreer met ’n bekende voorbeeld uit die geskiedenis van die kerk. Ons weet almal dat die kerkhervorming van die 16de eeu hoofsaaklik gelanseer is deur die werk van die Duitse teoloog Martin Luther, wat op 31 Oktober 1517 sy beroemde 95 stellings teen die stand van sake in die Rooms-Katolieke kerk van sy tyd teen die deur van die kasteelkerk te Wittenberg vasgespyker het. (Vir lesers wat wonder waarom hy so ’n omvattende dokument teen ’n kerkdeur sou vaskap – dié houtdeur was eintlik die universiteit se kennisgewingbord waar al die professore hul aankondigings gemaak of mekaar tot gesprek uitgenooi het.) Luther, so weet ons ook, se deurslaggewende geestelike katarsis het plaasgevind as gevolg van sy insig in die betekenis en implikasies van die Bybelteks wat aanvoer dat “’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie” (Rom 3:28). In hierdie woorde het Luther die kern van Paulus se opvatting van die evangelie ontdek. Dié besef van God se onverdiende genade het hom geïnspireer om die Hervormingsbeweging, wat so ’n durende impak op die geskiedenis van die kerk en van die hele Westerse geestesgeskiedenis sou hê, op gang te sit.

Die vraag wat ek wil vra, is: As hierdie woorde, wat nie slegs in Romeine 3:28 in die Bybel voorkom nie, maar ook elders (Rom 1:17; Gal 2:16; Hab 2:4), gedurende al die eeue sedert die ontstaan van die Bybel reeds daarin voorgekom het, waarom het dit eers vroeg in die 16de eeu so ’n buitengewone indruk op iemand soos Martin Luther gemaak? Waarom is die woorde nie van die begin af ernstig geneem nie? En hoe kon dit gebeur dat praktyke en oortuigings wat so kennelik in stryd met hierdie woorde was, in die kerk kon begin posvat?

Die antwoord op hierdie vraag illustreer presies die punt wat ek probeer maak. Luther is so sterk deur hierdie woorde aangegryp juis omdat hy hom in ’n tydsgewrig en omstandighede bevind het waar die implikasies van dié woorde op ’n besondere wyse van toepassing was. Een van die praktyke in die kerk van sy tyd, wat Luther juis teen die bors gestuit het, was die aflaatstelsel waarvolgens mense, ten einde die kerk se beursie te vul (die Sint Petrusbasilika in Rome was destyds juis in aanbou), teen betaling kwytskelding van sonde kon bekom. Dit was ’n duidelike voorbeeld van die werkheiligheid wat in Romeine 3:28 so direk afgewys word.

Die punt is dat wat ons in die Bybel vind as “God se Woord” op geen manier losgemaak kan word van die behoeftes, omstandighede en eise van die wêreld waarin ons as lesers hier en nou leef nie. ’n Mens kan dit nader verduidelik aan die hand van ’n formulering van die hermeneutiese filosoof, Hans-Georg Gadamer (’n leerling van Heidegger). Gadamer sê dat ons iets eers verstaan wanneer ons dit kan toepas op onsself of ons eie omstandighede, dit wil sê wanneer ons die waarde en waarheid daarvan vir ons huidige lewensoriëntasie raaksien. Daar is dus nie so iets soos “die betekenis van die teks” wat vas en onveranderlik bly staan nie. Gadamer het ’n ander, nog meer treffende formulering: “Om dieselfde [dit wil sê wat “eintlik” in die teks staan] te verstaan, is om dit anders te verstaan.” Daarmee bedoel hy dat die boodskap van die teks vir mense in elke leessituasie ’n nuwe betekenis sal verwerf na gelang van hulle besondere agtergrond of verstaanshorison.

Die verstaan van tekste geskied dus in ’n tradisieproses wat voortgaan in die tyd. Elke nuwe lesing van ’n teks word op die een of ander manier deur vorige lesings beïnvloed, al beteken dit net dat daardie vorige lesings verwerp word. Die sin wat ons van ’n teks maak, is nie die een of ander vaste “stand van sake” wat vir tyd en ewigheid dieselfde bly nie. Dis eerder ’n “gang van sake” wat in die geskiedenis van die interpretasie van tekste verander en groei.

’n Voorbeeld uit ons eie geskiedenis illustreer dié punt ewe treffend as Luther se interpretasie van Romeine 3:28 waarna in die vorige paragrawe verwys is. In die 1960’s en 1970’s was ’n groep teoloë in die (hoofsaaklik) swart kerke in Suid-Afrika sterk onder die invloed van die destydse “bevrydingsteologie” of, soos ’n stroming daarbinne ook bekend was, die “swart teologie”. Dit was ’n teologie wat veral in opstand was teen die onmenslikheid en onregverdigheid van die destydse rassistiese apartheidsbedeling. Wat ’n mens veral opgeval het in dié teoloë se geskrifte was hoe belangrik die Eksodus-geskiedenis van Israel vir hulle eie idees was. In Israel se bevryding uit die “slawehuis van Egipteland” onder leiding van Moses het hierdie teoloë ’n belangrike model gesien vir die bevryding van die swart mense en swart kerke in apartheid-Suid-Afrika. In ’n toespraak van een van hierdie bevrydingsteoloë, Alan Boesak, kom die volgende uitspraak byvoorbeeld voor:

The Black church, like Moses, is not called to negotiate with the pharoah [d.i. die apartheidsowerhede van dié tyd]. It is called simply to convey the Lord’s command: Let my people go!”9

Waarom is hierdie teoloë so aangegryp deur die Eksodus-verhaal in die Bybel? Presies om die redes wat hier bo vermeld is: Die Eksodus-geskiedenis van die volk Israel – hulle wat deur ’n despoot onderdruk is, wat hulle in slawerny bevind het en wat gehunker het na bevryding – het op ’n besondere wyse geresoneer met die omstandighede waarin die swart mense in Suid-Afrika hulle in die 1980’s bevind het. Geen wonder dat hierdie teoloë se werk oorloop van verwysings na daardie deel van Suid-Afrika se geskiedenis nie.

Dit is duidelik: Wat ons in die Bybel aanroer en van die Bybel verstaan, kan nooit losgemaak word van wie ons is, wat ons verwag, watter waardes ons aanhang, watter ervarings ons gehad het nie. Hierdie dinge is onvermydelik medebepalend vir wat die Bybel in ’n sekere tydsgewrig vir ons sal sê. Wie dit ontken, ontken ’n fundamentele insig van die mees gesaghebbende teenswoordige interpretasieteorie of hermeneutiek.

3. Hoe ons die Bybel verstaan, kan verander

As wie ons is, ’n invloed het op ons interpretasie van die betekenis van die Bybeltekste wat ons lees dan speel die tyd wanneer ons daardie tekste lees, ’n ewe belangrike rol. Die eenvoudige implikasie hiervan is dat die manier waarop ons die Bybel lees en verstaan, kan verander in die lig van veranderde historiese omstandighede

Vir talle Afrikaners was die veelbewoë gebeure rondom die NG Kerk se langsame inkeer wat betref sy vroeëre apartheidsteologie (of sy Bybelse regverdiging van apartheid) ’n traumatiese ervaring. Die trauma was nie altyd, soos baie gedink het, slegs vanweë traagheid om af te sien van apartheid nie – hoewel laasgenoemde oorweging in sommige gevalle sekerlik ’n rol gespeel het. Enigeen wat oë gehad het om te sien en ore om te hoor, moes myns insiens reeds vanaf die 1970’s en veral in die loop van die 1980’s in Suid-Afrika kon sien dat die skrif aan die muur was vir daardie mensonterende sisteem. Die relatiewe gemak waarmee blankes aan die begin van die 1990’s die politieke mag afgestaan het, dui ook (weliswaar retrospektief) daarop dat blanke Suid-Afrikaners baie meer bereid was om die onreg af te lê en ’n nuwe begin te maak as wat hulle politieke (en kerklike) leiers ooit besef het. Ek wil beweer dat die trauma ten opsigte van die NG Kerk se afstanddoening van sy vroeëre apartheidsteologie minder met ’n terughunkering na apartheid te make gehad het, en meer met ’n onvermoë om in te sien hoe ’n liggaam soos die kerk soveel jare lank soveel klei kon getrap het met hulle interpretasie van die boodskap van die Bybel. Talle mense was ontnugter met die NG Kerk (en is steeds; vandaar, onder meer, die huidige uittog uit die kerk) presies omdat hulle dit gewoon onverteerbaar gevind het dat die kerkleiding so ’n wind kon sluk in hulle interpretasie van die Bybel.

Ek kan die NG Kerk se vroeëre kleitrappery oor apartheid, soos onder meer blyk uit die feit dat dié kerk een van die sterkste voorbrandmakers was vir die instelling van die Wet op Gemengde Huwelike in die 1940’s, op geen manier verdedig nie. Ek was ook vir solank ek kan onthou ’n fel teenstander van daardie soort “teologiese” standpunt. Tog sou ek óók daarop wou wys dat ’n mens ’n kerk nie in beginsel kan of mag afwys bloot omdat daardie kerk vroeëre interpretasies aangehang het wat met die tyd as onvoldoende of onregmatig uitgewys is nie. Geen interpretasie – ook nie van die Bybel – is ooit onfeilbaar of onveranderlik nie. Die geskiedenis wys dat daar ontwikkeling (groei?) in sowel teksinterpretasie as in morele insig plaasvind.

Om weer ’n voorbeeld te gebruik: ’n Eeu gelede was die idee dat vroue in die kerk tot die amp toegelaat kan word, of selfs vir die landsregering kon stem, in ons eie land en in lande soos Brittanje volkome vergesog. Die suffrajette, ’n groep vroue wat hulle vir stemreg in Engeland beywer het, het toe pas hul aktiwiteit begin en is as ’n “lunatic fringe” van die samelewing beskou, ook deur die meeste ander vroue. Tekste in die Bybel wat vandag (myns insiens tereg) uitgewys word as periferies tot die kernboodskap van die Bybel en wat aanvoer dat vroue nie in die erediens mag praat nie (1 Tim 2:11) en in die huwelik aan hulle mans onderdanig moet wees (Tit 2:5; 1 Pet 3:1), is in daardie tydsgewrig en klimaat eenvoudig aanvaar as absoluut gesaghebbend. Gaandeweg, namate nuwe insigte oor die potensiaal en regte van vroue in die kultuur posgevat het en namate die Bybelwetenskappe beter insigte in die kultuurgebondenheid van baie van hierdie “gesaghebbende” tekste verwerf het, vind ons dat die Bybelinterpretasies daarvan verskuiwings ondergaan.

’n Mens moet jou eerlik afvra hoeveel van die Bybel ons nog werklik letterlik interpreteer. Waarom sou ons dit ooit letterlik geïnterpreteer het dat ’n vrou nie in ’n kerklike amp mag dien nie, maar nogtans altyd aangevoer het dat Jesus dit “darem seker nie letterlik bedoel het” toe Hy ons in die bergrede aangeraai het om jou oog uit te pluk as dit jou laat struikel nie? Ons interpreteer die Bybel heeldag en aldag in ooreenstemming met die waardes wat in ons eie tyd gesag verwerf het. Dat ons interpretasies skuif, is nie in die eerste plek ’n bewys dat ’n “verlies van Bybelse gesag” besig is om in te tree nie. Dit is eerder ’n illustrasie van hoe óns verander, en hoe ons ons vereenselwig met ander dimensies van die Bybel as vroeër, omdat dít tans in ons besondere omstandighede tot ons spreek. Ons kommentaar op die Bybel is dikwels meer kommentaar op onsself as enigiets anders. Wie dit ontken, is gewoon oneerlik.

Waarom dan die Bybel nog ernstig opneem?

Die laaste vraag is dan: Indien dit waar is wat ek met die laaste drie punte beredeneer het, waarom dan nog hoegenaamd sorge maak oor die Bybel? Het ons die Bybel dan nog hoegenaamd nodig? Kan ons nie ewe goed sonder die Bybel ons waardes in die hede kies en daarvolgens leef nie?

Laasgenoemde is nie so ’n eenvoudige vraag om te beantwoord nie, en ’n uitvoerige bespreking daarvan val buite die taak wat ek vir myself in hierdie hoofstuk gestel het. Ek dink wel dit is hoog tyd dat mense met baie meer erns oor hierdie vraag besin, veral in ’n morele konteks. (Soos uit ’n latere hoofstuk sal blyk, is ek nogal taamlik skepties oor die idee dat ons veel uit die Bybel kan put in terme van morele oordele oor praktyke waarvan die Bybel niks [kan] weet nie.)

Ek sal dus volstaan deur aan te voer dat die Bybel gesag behou op dieselfde wyse as wat ’n tipiese klassieke werk (die Engelse woord is beter: “a classic”) gesag afdwing. In navolging van die belangrike werk wat Hans-Georg Gadamer10 gedoen het oor die normatiewe begrip en betekenis van die klassieke, skryf David Tracy dat die begrip “classic” verwys na ’n normatiewe element in ons kulturele ervaring, wat só funksioneer dat ons nie anders kan as om die lees en oordenking daarvan te beleef as ’n openbaring van waarheid nie.11

Wat die Bybel betref, sou ek wou byvoeg dat, in die geloofsbelewenis van die Christelike kerk, die geloofskeuse boonop uitgeoefen word dat ons in die Bybel God se Woord (kan) verneem. Dikwels misluk dit. Dikwels word ons daardeur mislei, soos in die NG Kerk tydens die apartheidsjare. Die effek van God se aanspraak op ons stuit ook dikwels op ons eie ongehoorsaamheid en blindheid vir sy wil. So is daar elke dag ’n duisend en meer belemmeringe vir die vrye gang van Gods Woord en Gees na sy gemeente. Tog hou ons vas aan daardie Woord. Soms praat dit met ons, verruim dit ons begrip en word ons en die wêreld waarin ons leef as gevolg daarvan verander. Die Bybel is daarby die soort “classic” wat, hoe hard ons ook al probeer, hom nie onbepaald deur ons vooroordele, voorkeure en vooringenome standpunte laat manipuleer nie. Die Bybel toon ook sy klassieke status en gesag juis daarin dat dit ons telkens uitdaag om krities te besin oor die dinge wat vir ons waardevol en vanselfsprekend is. Die Bybel is ’n magtige stuk ideologie-kritiek: Dit staan dikwels haaks op baie van ons mees vertroude oortuigings.

Ons lewe in die geloof is ’n volgehoue proses waarin ons opnuut ontdek watter skat aan sin die Bybel bevat, en waarin ons gedurig uitgedaag en reggeskaaf word – veral wanneer ons te seker van onsself word. Hoewel ons die Bybel nie anders kan verstaan as in ooreenstemming met ons besondere behoeftes en omstandighede nie, toon dit ook dikwels aan ons die ontoereikendheid, selfs die armoedigheid, van ons behoeftes en omstandighede. Dit is ’n boek wat ons drome kan laat droom oor ’n wêreld wat ons nog nie sien nie, en wat ons kan inspireer om iets van daardie wêreld te laat aanbreek.

Om al dié redes maak die Bybel nog saak, al word die proses om die relevansie daarvan vir ons tyd te ontdek steeds meer kompleks en soms selfs gevaarlik.

Geloof sonder sekerhede

Подняться наверх