Читать книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk - Страница 6

Voorwoord by die eerste uitgawe

Оглавление

Hierdie boek gaan oor die vraag wat ons doen – of liewer behoort te doen – as ons glo. Ek skryf die boek omdat ek wil aansluit by die feit dat godsdienstige geloof – by name die geloof in God soos Hy geopenbaar is in die mens Jesus van Nasaret – vir talle mense steeds dié aspek van hul menswees is wat hul identiteit ten diepste bepaal. Die boek vra die vraag hoe die feit dat ons glo nog relevant is vir ons lewe as moderne mense, mense van die 21ste eeu.

Die boek is nie geskryf vir mense wat gemaklik in afgeslote kompartemente lewe en wat daarom hul geloof beleef en uitleef as ’n dimensie van hul bestaan wat weinig verband hou met die aansprake en eise van hul alledaagse lewe as sakelui, professionele mense, wetenskaplikes of gewone arbeiders nie. Die boek is geskryf vir mense wat wil weet dat hulle geloof sáák maak vir hul lewe hier en nou. Die lesers tot wie ek my rig, is nie primêr mense wat glo omdat geloof slegs vir hulle van belang is ten opsigte van ’n moontlike lewe ná die dood nie. Van laasgenoemde weet ek heeltemal te min om ’n boek daaroor te probeer skryf. Geloof is allesbehalwe ’n soort brandversekering wat waarborge verskaf ten opsigte van die temperatuur van die plek waar ek my kan bevind wanneer ek my oë die laaste keer sluit. Geloof is sinvol indien dit ’n effek het op die lewe wat ons hier en nou lei – of dit is glad nie sinvol nie.

Ek wil daarom lesers uitnooi om saam met my te besin oor die vraag hoe geloof in die God wat geopenbaar is in Christus steeds ’n verskil maak aan ons siening van onsself as mense, en aan die manier waarop ons as individue en gemeenskappe hier en nou, en in die toekoms, in die wêreld lewe.

Die boek is ’n soektog na sin in ’n situasie van onsekerheid. Ek nooi lesers in dié boek uit om saam met my sin te probeer soek in die aangesig van die ervaring dat ons sekerhede oor talle dinge – die politiek, ons toekoms in Suid-Afrika en Afrika, die wetenskap en die rigting waarin dit ontwikkel, en baie meer – besig is om vinnig minder te word. Ook ons sekerheid oor God – hoe ons oor Hom moet dink, wie Hy is en wat Hy van ons verwag – is aan die kwyn.

Die geloof wat ek in hierdie boek ondersoek, is ’n geloof wat van meet af aangevreet is deur die ervaring van twyfel en onsekerheid. Vandaar die boek se titel: Geloof sonder sekerhede. Ek kan myself daarom beswaarlik as iets meer tipeer as ’n “onseker gelowige”: iemand wat die geloof nog nie prysgegee het nie, maar wat selde raad weet met van die tergendste vrae waarmee moderne mense wat vandag steeds wil glo, moet huishou. Hierdie vrae sluit in: Hoe weet ons daar is ’n God? Wat is daar wat ons betroubaar omtrent God kan weet? Hoe versoen ons God en lyding? Hoe kan ’n mens die inhoud van jou geloof versoen met die bevindings van die wetenskap? Hoe is geloof in God nog ter sake in ’n wêreld waarin ons enersyds verstommende ontwikkelings op die gebied van nuwe biomediese tegnologieë [stamselnavorsing, kloning, biogenetiese verbetering (“enhancement”) – selfs miskien ’n nuwe menslike spesie] – sien, maar andersyds stuit op verskynsels soos armoede, korrupsie, misdaad, geweld en ongeregtigheid – laat staan nog die dood self – wat terselfdertyd grense stel aan wat ons kan vermag?

Ek stel hierdie soort vrae aan die orde, nie omdat ek klinkklare antwoorde daarop het nie. Hulle boei my egter juis omdat hulle my so pertinent wys op die radikaliteit van die onsekerheid waarmee ons moet leer klaarkom in ons huidige wêreld en tyd. Ek hoop wel om in ons besinning oor hierdie kwessies die kreupelhout ’n bietjie weg te kap voordat ons heeltemal in die ruigtes verdwaal – sodat ons in ons voortgesette besinning oor hierdie vrae ten minste ’n entjie verder kan sien as wat ons op die oomblik doen.

In die eerste hoofstuk van die boek verduidelik ek waarom dit myns insiens onvermydelik en noodsaaklik is om in ons tyd nuut en meer eietyds te dink oor aspekte van ons geloof. Ek verduidelik dat ek soms soortgelyke vrae vra as die sogenaamde “Nuwe Hervormers”, maar dat ek ’n ander weg as hulle opgaan.

Ná hoofstuk 1 val die boek in twee hoofafdelings uiteen. Die eerste afdeling bevat my beskouing van wat geloof is en wat dit impliseer. Hier ontwikkel ek dan veral perspektiewe op die aard en inhoud van die geloof waaroor daar, in die lig van die eise van ons tyd, nuut gedink moet word. Ek handel oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees (hfst 2) en hoe ons oor God behoort te dink, veral as inhoud van die diepste misterie wat ten grondslag lê van ons ganse bestaan in die wêreld (hfst 3). Daarna opper ek die idee dat ons gerus minder teoreties oor die geloof moet begin dink, en baie meer prakties. Geloof is vir my ’n manier van lewe. Dit is die lewe in die liefde soos ons dit leer by Jesus van Nasaret. Ek wys daarop hoe hierdie perspektief reeds sterk na vore kom in die denke van Desiderius Erasmus (c 1466-1536), iemand wie se bydrae deesdae gerus herontdek kan word en wat na my mening die potensiaal het om sekere ontsporings in ons verstaan van die evangelie wat deur die Reformasie meegebring is, weer op koers te kry (hfst 4). Ek sluit die eerste afdeling van die boek af deur aandag te gee aan die morele revolusie wat ’n terugkeer na die eenvoudige lering van Jesus self kan bewerkstellig – Hy wat ons leer dat ons roeping is om, na sy voorbeeld, ware mense te word, en dat dít eers en slegs bewerkstellig word as ons volle verantwoordelikheid vir ons medemens aanvaar (hfst 5).

Die praktiese implikasies van bogenoemde geloofsbeskouing word in die tweede afdeling van die boek ondersoek. Ek kyk veral na die implikasies vir ’n vyftal vraagstukke waarmee moderne mense in die Suid-Afrika van vandag, maar ook wêreldwyd, worstel as hulle steeds in God wil glo. Die eerste is die immergroen maar steeds tergende vraagstuk van die verhouding tussen God en die lyding en kwaad wat nie minder nie, maar skynbaar al hoe meer in ons wêreld word. Hoe moet ons dit kleinkry (hfst 6)? ’n Volgende hoofstuk in hierdie tweede afdeling van die boek handel oor die verhouding tussen geloof en wetenskap – ’n kwessie wat met groeiende dringendheid vanuit wetenskaplike geledere aan die orde gestel word, en wat sporadies in fel openbare debatte uitbars. Ek is van mening dat daar nog heeltemal te min helderheid oor hierdie belangrike saak bestaan, en lewer my eie beskeie bydrae tot die gesprek (hfst 7). Nou verwant daaraan is die verstommende ontwikkelings op die terrein van biomediese tegnologieë, en veral die komplekse morele probleme waartoe hierdie ontwikkelings dikwels aanleiding gee. Ook hier word ons gekonfronteer met ’n aspek van die moderne wêreld waarvoor ons geloof meesal verleë staan en waarop dit dikwels op ’n onbeholpe en verleentheidskeppende wyse reageer. Aangesien hierdie onderwerp ’n kernaspek van my akademiese navorsing uitmaak, maar ook omdat ek daarvan oortuig is dat van die moeilikste morele besluite wat ons in die toekoms sal moet neem direk met hierdie kwessies in verband staan, wy ek twee hoofstukke (hfst 8 en hfst 9) hieraan.

Om in ons huidige wêreld te glo, en boonop jouself in Suid-Afrika te bevind, het onvermydelik betekenis en implikasies vir die sosiaal-politieke werklikheid waarin ons ons bevind. Suid-Afrika het ʼn traumatiese geskiedenis waarin godsdienstige geloof en die kerk as propageerder van daardie geloof ’n sentrale rol gespeel het, en in sekere opsigte steeds bly speel. Ook en veral op hierdie terrein is die vraag wat die betekenis en beduidenis van ʼn geloofsbeskouing soos ontwikkel in hierdie boek is. Dit is die tema van hoofstuk 10.

Wat oorbly, is die kwessie van ons eindigheid en die werklikheid van die dood. Die dood is die groot verleentheid en taboe van ons tyd. Dit is die een grens aan ons vermoë en skeppingskrag wat skynbaar steeds onoorskrybaar bly (hoewel, soos aangetoon sal word in hoofstuk 9, die idee en moontlikheid van menslike onsterflikheid iets is wat tans in sekere kringe begin posvat en ondersoek word; dit is natuurlik ook ’n ernstige vraag wat ons vanuit die perspektief van die geloof oor so ’n moontlikheid behoort te dink.). Hoe moet eietydse gelowiges oor die dood dink? Is die dood die sin van die geloof? Hoe maak ons sin van die dood sonder om eensydig in ’n “pie in the sky”-geloof te verval wat sy relevansie vir die lewe hier en nou verloor het? Dit is die onderwerp van die slothoofstuk (hfst 11).

’n Paar kort woorde van bedanking is van pas. Eerstens wil ek my dank uitspreek teenoor Lux Verbi.BM wat kans sien om die taamlik onortodokse idees van ’n filosoof wat op ’n manier probeer glo, maar dit maar “snaakserig” doen, op hierdie wyse die wêreld in te stuur. Ek vertrou dat ek én hulle dit sal oorleef. Die name van Lux Verbi.BM se publikasiehoof, Lambert Jacobs, en Estelle Steenkamp verdien hier spesiale vermelding. Estelle was vir baie jare my redakteur, maar ek is dankbaar om te sê dat sy oor tyd ook ’n ware vriendin geword het. Haar entoesiasme was altyd aansteeklik, haar aanmoediging is hoog op prys gestel en haar sorgvuldige versorging van die manuskrip word opreg waardeer. Baie dankie ook vir haar Afrikaanse vertalings van ’n hele aantal Engelse aanhalings wat ek in die boek gebruik.

Ek is eweneens baie dankbaar teenoor Hennie Rossouw, Leon Fouché en Hennie Lötter wat die hele manuskrip gelees en besonder waardevolle kommentaar daarop gelewer het. Willie Esterhuyse, Hendrik Bosman en JL (Jan) de Villiers het ook enkele hoofstukke gelees en ek waardeer hul kommentaar opreg. Dankie ook aan my vroeëre navorsingsassistent, Liezl Dick, vir haar proefleeswerk en hulp met die opspoor van bronne. Die foute en tekortkomings wat oorbly, is vanselfsprekend vir my eie rekening.

Dankie, laastens, aan my vrou, Amy, wat baie ure lank my geselskap moes ontbeer ter wille van hierdie werk. Uit waardering vir die begrip en blymoedigheid waarmee sy dit al soveel jare doen, dra ek die boek aan haar op. Sy is my eerste leser en altyd ’n betroubare klankbord. Die boek se uiteindelike titel was ook haar voorstel. Daarvoor, sowel as vir 36 jaar se volgehoue en vreugdevolle kameraadskap, sê ek baie dankie.

Anton van Niekerk

Stellenbosch

Julie 2005

Geloof sonder sekerhede

Подняться наверх