Читать книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk - Страница 7

1

Оглавление

Geloof in onseker tye

Ons is moderne mense wat, indien ons bly glo, dit wil doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe, as erfgename van die eeu waarin ons ons bevind, kenmerk nie.

Om in God deur Christus te glo, is om op ’n bepaalde wyse inhoud te gee aan die geheimenis van ons bestaan. Ons glo nie omdat ons alles weet wat daar te weet is oor en omtrent die wêreld nie. Ek verwonder my dikwels aan gelowiges wat skynbaar op grond van hul geloof so baie weet en so min vrae het. As ons deur (byvoorbeeld) wetenskap en tegnologie alles kon weet wat ons wou weet, was geloof nie nodig nie; en dan het ons, Bybels gestel, nie geleef “uit geloof” nie, maar “in aanskoue”. As ons egter eerlik is, moet ons – ten spyte van die magdom kennis en insig wat die wetenskap al opgelewer het – erken dat wat ons nié weet of verstaan nie, steeds ons bestaande kennis en insig verreweg oortref.

Die misterie dat ons hier is …

My manier om hierdie insig te verwoord, is om te sê dat ons, by alles wat ons weet en reeds presteer het, steeds lewe in ’n misterie, ’n geheimenis wat ons nie kan deurgrond nie. Ons glo omdat geloof ons as mense se manier is om inhoud te probeer gee aan hierdie geheimenis. Geloof is daarom deel van ons “menslike kondisie”; dit is die algemeenste manier waarop mense reageer op die misterie van ons bestaan. Nie alle mense glo nie. Nie alle mense voel enige behoefte daaraan om die misterie te probeer peil nie. Hulle is tevrede om te aanvaar dat ons bestaan in die wêreld ’n naakte feit of gegewe is “waaragter” ons geen verdere verklaring of geheim hoef na te speur nie. Om nie te glo nie, is sulke mense se goeie reg, wat ek ten volle respekteer.

Ek wend my egter in hierdie boek tot ’n ander groep mense: diegene, soos ek self, wat nie tevrede is daarmee dat die wêreld is soos dit is en lyk soos dit lyk nie; wat verwonderd bly oor die feit dat ons hier is en dat die wêreld en gebeure in die wêreld die voorkoms het wat dit het. Dit is die groep mense vir wie die wêreld, soos die Duitsers dit so mooi stel met ’n onvertaalbare frase, fraglich is (letterlik “vraaglik”, dit wil sê bevraagtekenbaar, onverklaar, geheimenisvol). Wat bedoel ons daarmee? Laat ek dit kortliks toelig:

Hoe moet ons dit byvoorbeeld kleinkry dat ons hier is – bewoners van ’n klein planeet, wentelend rondom ’n ster van middelmatige grootte, een van biljoene sonne (laat staan hoeveel planete) in ons sterrestelsel (die Melkweg), deel van ’n sonnestelsel op die buitewyke van ’n sterrestelsel van middelmatige grootte, wat op sy beurt weer een is van letterlik biljoene sterrestelsels in ’n heelal waarvan die omvang en reikwydte vir ons totaal onvoorstelbaar is? Hoe moet ons dit verstaan dat die lewensvorm waarvan ons deel is, oor honderde millennia heen hiér ontwikkel het, onder omstandighede waarby ons skynbaar volmaak geakklimatiseer is – en dat ons steeds geen kennis dra van enigiets in die res van die heelal wat naastenby met ons bestaanswyse en omgewing vergelyk nie (al weet ons nou dat daar waarskynlik biljoene planete is wat om sterre wentel en waar lewe heel waarskynlik êrens sou ontwikkel het, al het ons nog geen bewyse daarvan nie)?

Van die heelal gepraat: Waarmee het ons te make in die (skynbaar) onmeetlike en volledig onvoorstelbare ruimte waardeur ons planeet in die ewigheid van die tyd dryf? Selfs al aanvaar ons die teorie van die “oerknal” en daarmee saam die idee dat die heelal ’n begin gehad het, dat dit nie oneindig is nie en dat dit weer tot ’n nulpunt sal “inplof” – watter koherente sin kan ons daarvan maak? Wat het die oerknal “veroorsaak”? Was daar slegs een “oerknal”, of was/is daar moontlik talle wat op hul beurt baie ander “heelalle” veroorsaak (het)? Is laasgenoemde ’n geldige vraag? Hoe moet ons ons eie planeet en die omstandighede waaronder lewe hier ontwikkel het, verstaan?

Wetenskaplikes deel ons mee dat, as ons die lewensduur van die aarde vergelyk met ’n dag van 24 uur, menslike lewe eers in die laaste sekondes van die 24ste uur ontstaan het. Ons spesie bewandel en bewoon die planeet skaars twee miljoen jaar lank – en dit terwyl aangetekende menslike herinnering nie verder strek as maksimaal 5 000 jaar gelede nie.

Hoe moet ons dit kleinkry? Waarom hierdie wêreld? Wie is ons? Hoekom is ons hier? Waarop stuur dit alles af? Die vrae ken geen einde nie. Ons lewe en bestaan op aarde is ’n fundamentele, skynbaar onpeilbare misterie.

Christene is mense wat, soos die aanhangers van ander godsdienste, daarop aandring dat daar iets meer te sê is oor hierdie grondliggende misterie. In ’n latere hoofstuk sal ek meer uitwei oor die begrip “misterie”. Vir die oomblik is dit egter genoeg om te sê dat die Christelike geloof ’n poging van mense is om inhoud te probeer gee aan die misterie wat ten grondslag van ons lewe in die wêreld lê – die misterie wat opgeroep word deur die soort vrae wat pas gevra is. Die Christelike geloof is, in die woorde van die kerkvader Augustinus, die gewaarwording dat “ons hart onrustig bly totdat dit rus vind in U”. Die onrus wat opgeroep word deur die feit dat ons bly staar na ’n skynbaar ondeurdringbare sluier van matelose en magtelose onbegrip van die sin van ons menslike situasie, kom vir Christene eers tot rus in die belydenis dat God die “geheimenis van die wêreld”1 is.

In die mens Jesus van Nasaret, so glo ons as Christene, het ons God self gesien. Ons weet steeds min van God af. Ons dig aan Hom eienskappe toe soos dat Hy “almagtig” of “alwetend” of “alomteenwoordig” is, maar ons weet nie regtig wat ons met dié woorde bedoel nie. Tog, so glo ons, weet ons genoeg van God deur sy openbaring in Christus dat ons kan leer om saam te leef met die onrus van die misterie. Ons ken in Christus nie noodwendig die wese van God nie, maar wel die hart van God. Daardie hart, so glo ons op grond van die Bybelse getuienisse oor die lewe en sterwe van Christus, klop so warm van liefde vir sondaarmense dat dit op ’n dag, 2 000 jaar gelede, letterlik ophou klop het sodat die lewe wat Hy ons bied, vir ons ewig kon word. Geloof in God, soos geïnspireer deur wat ons glo sy selfopenbaring in Christus is, is Christene se manier om sin te maak van die misterie van ons wêreld en van ons lewe in die wêreld.

Kan ons nog alles in die kerklike belydenis glo?

Wat tot nou toe gesê is, is dinge waarmee die meeste Christengelowiges waarskynlik sal saamstem. Hierdie boek word egter nie geskryf met die verwagting dat dit ’n nuwe formulering van ’n ou konsensus sal wees nie, want die Christelike geloof is vandag meer as ooit in die gedrang. Talle Christene, van wie ek een is, vind dit toenemend moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te glo op die wyse waarop en in die idioom waarin ons grootgeword het. Terwyl dit vir ons belangrik is om vas te hou aan die Persoon van Christus as die fokuspunt van wat ons omtrent God weet en glo, beteken dit allermins dat ons vrede kan maak met alle aspekte van die tradisionele, en veral gereformeerde, kerklike belydenis waarop die geloof van talle Suid-Afrikaners tradisioneel geskoei is.

Ons is mense van die 21ste eeu. Dit beteken nie dat ons noodwendig beter of slimmer is as die geslagte wat ons voorafgegaan het nie. Maar dit beteken wel dat ons wil glo op ’n manier wat nie lynreg indruis teen die insig van ons gesonde verstand en teen feitlik onbetwisbare getuienis van die wetenskap nie. Van ons kan nie verwag word om ons intellek eenvoudig op te skort wanneer geloofskwessies ter sprake kom nie. Ons kan nie in verskillende kompartemente lewe waarvan elk totaal onversoenbare reëls het vir wat sin maak om te sê of te weet nie. Soos mense in alle tydvakke van die geskiedenis, dring ook ons van die 21ste eeu daarop aan dat ons geloof in God met ons breë intellektuele en kulturele oriëntasie moet resoneer.

Ons sien nie meer kans vir geloof as die inhoud en lewenstyl van ’n intellektuele ghetto wat sommige van ons nog probeer reserveer vir die irrasionele skuilhoeke van ons komplekse persoonlikhede nie. Ons sien nie meer kans vir geloof as die uitkoms en inhoudgewing van die oomblikke wanneer ons ons onttrek aan of afsonder van die ritmes en reëlmatighede van die lewe wat ons elke dag lei en die aannames wat daardie lewe voortdurend begelei en stuur nie.

Kortom, ons is moderne mense wat, indien ons bly glo, dit wil doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe, as erfgename van die eeu waarin ons ons bevind, kenmerk nie.

Die tradisionele belydenisskrifte van die gevestigde kerke2 bevat myns insiens ’n hele aantal artikels wat nog kwalik ernstig opgeneem kan word deur moderne mense. Dit is nie nodig om hier uitvoerig in te gaan op die voorbeelde wat tans dikwels in openbare gesprekke opduik nie. ’n Mens kan maar net dink aan die Christelike kerk se skeppings- en sondeleer wat vandag ’n yslike verleentheid geword het. Dié verleentheid spruit voort uit die onsinnige vashou aan ’n letterlike interpretasie van Genesis 1 – 3, asook ander Bybelgedeeltes wat klaarblyklik in mitologiese vorm gegiet is, soos die Noag-verhaal en die boek Jona.

Dit is jammer dat die gevestigde kerke hulleself nog nie ondubbelsinnig genoeg uitgespreek het teen die pogings van byvoorbeeld militante kreasioniste, hier en in die buiteland, om die kerklike belydenis te kaap vir hul onverantwoordbare, letterlike interpretasie van die Bybel nie. (Hoe die Bybel verantwoordelik gelees behoort te word, is die tema van hfst 2.) Van moderne mense kan werklik nie verwag word om te glo dat die aarde 6 000 jaar oud is nie. Of dat Adam en Eva die stamouers van die ganse mensdom is en dat hulle, in ’n gestalte wat spesiegewys presies ooreenstem met die teenswoordige homo sapiens, ’n tyd lank in ’n volmaakte paradys gelewe het en toe ’n “oortreding” begaan het wat katastrofale gevolge gehad het – nie alleen vir die mensdom wat (in geheel) hul nageslag was nie, maar ook vir die ganse skepping.

Die gevestigde kerke sou, soos in baie gevalle gebeur, kon probeer wegkom deur aan te voer dat die kreasionistiese lees van Genesis 1 – 3 problematies is en dat ons nie die Bybelse skeppingsleer as in stryd met gevestigde wetenskappe soos die geologie, paleontologie of die biologiese evolusieleer hoef te beskou nie – omdat die Bybel nie ’n handboek vir die geskiedenis of die wetenskap is nie. Waar sulke standpunte deur kerke aangevoer word, behoort dit waardeer en aangeprys te word.

Maar daar is tog ook aspekte van die kerklike belydenis self wat nie so maklik omseil kan word nie, en wat ook onmoontlik geword het om ernstig op te neem. Een daarvan is die sondeleer, en by name die leer van die sogenaamde “erfsonde”. Die afwysing van die idee dat Adam en Eva historiese mense was, werp reeds as sodanig ’n skadu oor die idee dat iets wat deur hulle aangevang is ’n permanente, rampspoedige gevolg vir alle lede van die menslike geslag sou hê. Wat moet ons as moderne mense daarby sê van die moraliteit van ’n God wat biljoene toekomstige geslagte van mense – ook terwyl hulle nog redelose suigelinge is – beskou as toerekeningsvatbaar en “strafbaar” vir die sonde van die eerste mens? Kan dit wees dat ons almal onder die swaard leef van so ’n metafisiese noodlot? En wat, verder, van diegene wat buite die Christelike tradisie gebore word en (soms) nooit in die geleentheid gestel is/word om iets van die Christelike boodskap te verneem nie? Is hulle vir ewig verdoem? Kan ons ’n God ernstig opneem in wie se morele skema so iets geregverdig sou wees?

Wat toenemend duidelik word, en treffend toegelig word in navorsing soos dié van Charles Freeman,3 is dat tradisioneel kerklike leerstellings soos dié van die “erfsonde” en die “maagdelike geboorte van Christus” nie anders verstaan kan word as teen die agtergrond van die sosiaal-kulturele en historiese omstandighede waaronder hulle ontstaan het en vir die eerste keer in kerklike belydenisskrifte opgeneem is nie.

Boonop is dit redelik duidelik dat invloedryke opvattings oor of interpretasies van sowel die erfsondeleer as die leer oor die maagdelike geboorte van Christus klaarblyklik dateer uit ’n tyd toe daar besonder negatief geoordeel is oor die waarde van menslike seksualiteit. Invloedryke figure in die vroeë kerk, byvoorbeeld Tertullianus, Hieronymus en Ambrosius, het ’n beslissende invloed op hierdie ontwikkeling gehad. Tertullianus skryf byvoorbeeld:

Die huwelik en hoerery verskil slegs omdat wette dit so laat lyk; hulle is egter nie intrinsiek verskillend van mekaar nie – slegs in hul graad van illegitimiteit.

Die kerkvader Augustinus – vir wie se werk ek, soos vroeër gesê, groot waardering het en wat een van die invloedrykste denkers van alle tye was – was self onversetlik in sy ontkenning van die waarde van seksualiteit. Volgens Augustinus word die erfsonde letterlik met elke seksdaad van geslag tot geslag oorgedra. In sy boek haal Freeman die volgende passasie aan uit die werk van Julianus van Eclanum, wat tot ballingskap verdoem is weens sy steun vir Pelagius in die dispuut tussen Augustinus en Pelagius oor die erfsonde:

Jy (Augustinus) sê dat babas die las dra van ’n ander se sonde, nie hul eie nie … Verduidelik dan vir my wie is hierdie persoon wat onskuldiges wil straf. Jy antwoord: “Dit is God” … dieselfde God wat ons liefhet, so lief dat Hy sy eniggebore Seun vir ons gegee het – Hý straf ons op hierdie wyse; Hy vervolg pasgebore kinders, Hy werp suigelinge in die ewige vlamme vanweë hul slegte wil, juis wanneer Hy weet dat hulle nog geen wil (goed of sleg) gevorm het of kon vorm nie … (Augustinus), met jou kan ’n mens skaars redeneer; jy is benede argumentasie. Jy het so ver weg beweeg van godsdienstige gevoel, van beskaafde standaarde, van ’n algemene gesonde oordeel dat jy werklik dink jou Here is in staat tot misdade wat ’n mens nie eens aantref onder barbaarse stamme nie.4

By al my bewondering vir ander aspekte van Augustinus se werk kan ek nie anders as om op hierdie punt met Julianus saam te stem nie. Hoe sou ’n mens die God van die Bybel, die God van liefde, kon rym met so ’n erfsondeleer?

Daarby kom die leerstelling dat Maria ’n maagd was toe Jesus gebore is. Dis vir moderne mense gewoon onverstaanbaar waarom ’n letterlike opvatting van hierdie leerstelling nog vir die kerk belangrik sou wees – tensy ’n mens maagdelikheid (en dus seksuele onthouding, selfs binne die huwelik, soos inderdaad dikwels deur die kerkvaders gepropageer is) van groter morele waarde beskou as deelname aan seksuele aktiwiteit. Wie kan dit vandag nog ernstig opneem? Dat maagdelikheid as sodanig geen besondere waarde het nie, beteken natuurlik nie dat ’n mens daarom promiskuïteit of seksuele losbandigheid wil propageer nie; ver daarvandaan. Daar bestaan by my geen twyfel nie dat die moraliteit van permanente, geslote seksuele verhoudings, verkieslik binne die kader van die monogame huwelik,5 baie beter verantwoord kan word as enige vorm van promiskuïteit. Dat maagdelikheid so hoog aangeslaan word in die kerklike belydenis is egter klaarblyklik een van die verleentheidskeppende reste uit ’n vervloë tyd en kultuur wat vir moderne mense vreemd en onverstaanbaar is. Só ’n siening kan histories teruggevoer word na verskillende invloede, waarvan die belangrikste waarskynlik die antieke filosoof Plato se geringskatting is van die waarde of belang van liggaamlikheid in sy metafisiese werklikheidsbeeld.

Dat ek krities is oor die kerklike leer oor die “erfsonde” en die “maagdelike geboorte van Christus” beteken natuurlik nie dat ek die baba met die badwater wil weggooi nie. Natuurlik glo ook ek dat ons almal sondige mense is en dat ons ten gronde gaan sonder die genade van God, soos geopenbaar in Christus. Maar dan is ons sondig omdat ons moreel skuldig is aan die dinge wat ons hier en nou elke dag verkeerd doen, en nie omdat ons draers is van ’n metafisiese smet wat opgedoen is deur ons “oerouers” en wat sedertdien onveranderlik en verdoemend deur elke gebore mens op sy/haar nageslag oorgedra word nie. Om hierdie interpretasie van die leer van die erfsonde te verwerp beteken allermins dat ’n mens beweer jy of enigiemand anders is sonder sonde of skuld. Ons is elke dag die getuies van “man’s inhumanity to man” (and to nature); ons is almal, sonder uitsondering, ook daaraan aandadig. Daarom het ons God se verlossende genadewerk in Christus ook so broodnodig.

Die erfsonde kan natuurlik teologies op ander (en beter) gronde verdedig word as met ’n beroep op die voortwerking van ’n “metafisiese smet” wat sedert Adam vanself aan alle mense kleef. ’n Goeie argument ter ondersteuning van die erfsonde is dat dit die kerk se manier was om, op grond van sowel die daaglikse ervaring as die skynbare getuienis van sekere Skrif-gedeeltes (veral Rom 5), iets te probeer verduidelik van die algemeenheid, verbreiding, oormag en skynbare onontkombaarheid van die menslike neiging tot die kwaad. Niemand kan ontken – en ek ontken dit self nie – dat die kwaad meermale lyk na iets wat sy tentakels ingeslaan het in alle aspekte van die lewe en dat dit soms, veral in gebeure soos die Holocaust,6 die indruk skep dat dit ’n skrikwekkende, vanselfwerkende, destruktiewe mag geword het wat ’n eie momentum ontwikkel en die menslike vermoë om ten goede in te gryp, as ’t ware oorwoeker en selfs uitskakel. Dit sou dan wees hoe begrippe soos “erfskuld” en “erfsmet” by Augustinus ontstaan het, asook die idee van die “totale verdorwenheid van die menslike natuur” by die Hervormers.

Hoewel laasgenoemde ’n baie beter argument ten gunste van die idee van die “erfsonde” is, oortuig dit my steeds nie. Wat my veral skepties daaroor stem, is dat ’n argument soos hierdie die indruk wek dat dit ons as mense se verantwoordelikheid vir die kwaad implisiet of eksplisiet ontken. Die oomblik wanneer morele kwaad7 iets word wat “vanself werk”, sodat ons nie anders kan nie as om te beweer: “Ek/ons kan niks daaromtrent doen nie,” verskuif ons die blaam wat óns regtens toekom van onsself weg na die duiwel of na Adam of na wie ook al, in plaas daarvan om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die lyding en swaarkry waaraan ons hier en nou medeaandadig is – hetsy deur wat ons doen of nalaat.

Die massauitwissing van Jode deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog (die Holocaust) is ’n tersaaklike voorbeeld. Ek sal in hoofstuk 6 daarop wys hoe die verskynsel van die Holocaust die probleem van die verhouding tussen God en lyding meer as ooit in die verlede geproblematiseer het. Die feit bly egter dat die Holocaust, by al die verskrikking daarvan, ’n voorkombare gebeurtenis was – indien mense meer moreel sou opgetree het. Dit was mense wat vir die Holocaust verantwoordelik was. Ek vind dit totaal ongeloofwaardig om iets soos dié katastrofe te beskou as bloot die resultaat van die ongebreidelde voortwoekering van ’n gebeurtenis (die “erfsonde”) wat in ’n vervloë, mitiese tyd gebeur het en eintlik teruggaan op Satan self (sien my bespreking van die Augustiniaanse teodisee in hoofstuk 6). Dit was Hitler en sy trawante wat verantwoordelik was vir die Holocaust; nie die duiwel of Adam of Eva of wie ook al anders nie.8

Die verlossing in Christus word op geen manier afgewater as ons verantwoordelikheid en medeaandadigheid aan die sonde aanvaar en, op grond van Christus se verlossingswerk, betrokke raak by die totstandkoming van ’n nuwe, beter wêreld nie – eerder as om hande in die lug te gooi oor die “onkeerbaarheid” van ’n “erfsmet” wat selfs aan ’n onskuldige pasgebore suigeling kleef en ons ontkragtig om mee te werk aan die vermensliking van die wêreld, wat God in Christus en deur die werking van sy Gees begin het.

Met my bevraagtekening van die lang agterhaalde leer dat Christus gebore is uit ’n maagd, beweer ek ook allermins dat Christus nié, ook wat myself of eendersdenkende Christene betref, die volmaakste mens was wat na ons mening ooit gelewe het nie. Wat dit regtig beteken dat Hy – ’n mens gebore onder ons, iemand wat ook by geleentheid sy humeur kon verloor of bedroef en beangs kon word soos die meeste van ons – “sonder sonde” was, weet ek nie presies nie, maar ek weet ook nie waarom dit so belangrik is nie.

Wat ek wel weet, is dat selfs al was Christus “sonder sonde”, dit weinig te make kan hê met die feit dat Hy “uit ’n maagd gebore” is. As ’n mens dít sê, identifiseer jy immers die blote feit dat voortplanting deur middel van seks geskied as die bron van sonde. En dit is ’n aanspraak wat myns insiens op geen denkbare wyse verantwoordbaar is nie. Wil die Christelike kerk werklik vandag nog seks beskou as die prototipe van sonde? Moderne mense kan so ’n leer eenvoudig nie meer ernstig opneem nie. Maar dit beteken geensins dat ons afbreuk moet of hoef te doen aan ons bewondering vir en verbondenheid aan Christus as God se selfopenbaring in die wêreld nie. Dit beteken ook nie, soos reeds beredeneer, dat ons losbandige of buitehuwelikse seks hoef goed te praat nie. Hoekom moet die feit dat God mens geword het in Christus beteken dat Hy nie gebore kon word op die wyse, en via die prosesse, wat normale menslike geboorte kenmerk nie? Waarom sou so iets enigsins afbreuk doen aan sy Goddelike identiteit?

Dit is natuurlik ook so dat ’n mens die leerstelling dat Christus “uit ’n maagd gebore” is, nie letterlik hoef op te neem nie. Dit is immers nie slegs van Jesus dat daar in die tyd toe die Nuwe Testament ontstaan het, beweer is dat Hy uit ’n maagd gebore is nie. Dit is ook beweer van allerlei ander baie bekende historiese figure, onder wie iemand soos Aleksander die Grote. Volgens hierdie interpretasie was die geboorte uit ’n maagd in daardie tyd nie primêr ’n aanduiding van die negatiewe beoordeling van seksualiteit nie, maar eerder van die buitengewone bewondering wat so ’n figuur uitgelok het. Dit sou ook ’n erkenning kon wees dat die betrokke figuur so besonderlik gelewe en presteer het dat sy of haar ontstaan iets totaal buitengewoons moes wees; iets méér as dié van ’n gewone mens. Die wyse waarop ’n negatiewe beoordeling van seksualiteit gekoppel is met die idee van ’n maagdelike geboorte sou volgens hierdie interpretasie iets wees wat eers baie later in die geskiedenis van die kerk na vore getree het.9

Ek ontken nie dat só ’n interpretasie van die maagdelike geboorte moontlik ’n sekere geldigheid het nie. Die implikasie sou wees dat, wanneer die kerk Jesus se maagdelike geboorte bely (soos in die Twaalf Artikels), die bedoeling nie hoef te wees dat Jesus letterlik uit ’n maagd gebore is nie, maar bloot dat Hy erken word as die buitengewoonste van almal wat ooit geleef het: God in die vlees, Immanuel. Ek het egter nogal bedenkinge oor wat die implikasie van so ’n interpretasie sou wees vir ons ewe sterk gehuldigde belydenis dat Jesus waaragtig mens (vere homo) was: ’n belydenis wat ek as van sentrale belang vir die Christelike geloof ag. Daarby kan nie ontken word nie dat, al was die negatiewe beoordeling van seksualiteit moontlik nie van die begin af ’n motief vir die belydenis dat Jesus uit ’n maagd gebore is nie, dié negatiewe beoordeling hoe langer hoe meer die werklike motief vir die leerstelling geword het.

Die primêre assosiasie van sonde en seks is immers ’n motief wat deur die hele Westerse geestesgeskiedenis loop. Die huidige vigsepidemie en die probleme wat stigmatisering – as gevolg van die seksuele oordrag van die virus – veroorsaak ten opsigte van die effektiewe bestuur van dié siekte, wys veral in ons tyd hoe destruktief hierdie assosiasie kan wees. Ek bly daarom onoortuig daarvan dat die kerk ernstig van sy teenswoordige lidmate kan verwag om die leer van die maagdelike geboorte letterlik, of selfs ernstig, op te neem.

Moet ons die geloof dus prysgee? Is ongeloof die prys wat ons vir moderniteit moet betaal? Ek dink nie so nie. Ek dink wel ons kan en behoort anders te glo as in terme van ’n model van geloof wat alles wat in die Bybel staan, eenvoudig letterlik wil opneem en wat die leerstellings van die kerklike tradisie en belydenisskrifte klakkeloos en onkrities wil aanvaar. Ek dink selfs nie dat my oortuiging ’n radikale en onherstelbare breuk met ons gereformeerde nalatenskap impliseer nie. Een van die kosbare erfenisse van die Reformasie is immers die verbintenis daartoe dat hervorming nie ’n eenmalige nie, maar ’n voortgaande proses is. Ek bied nie my idees aan as, in enige sin, ’n nuwe finale waarheid of die laaste woord oor hierdie aangeleenthede nie.

Om te glo ten spyte van onsekerheid

Een van die bevrydende dinge van ons demokratiese Suid-Afrika, so lyk dit my, is die tekens van groter vryheid en minder vrees vir sosiale verwerping, wat ’n mens toenemend opmerk in die manier waarop mense hul geloof beleef, daaroor praat en gemeenskappe kies waarbinne hulle in godsdienstige verband tuis voel. Een van die beklemmende dinge van die ou apartheidsbestel, afgesien van al die onreg wat dit bestendig en vergoeilik het, was die wyse waarop ons samelewing, veral wat Afrikaanssprekendes betref, geslote geraak het. Apartheid was ’n outoritêre sisteem wat sterk staatgemaak het op vrees en dreigemente om mense binne die laer te hou. Soos dikwels in die geskiedenis van die Christendom is ’n strakke ortodoksie – ’n konsensus oor vermeende ononderhandelbare kerklike leerstellings – afgedwing met dreigemente van sosiale verwerping (ostrasering) teenoor “afwykendes”. So is die “goeie orde”, en die beheer oor die samelewing wat daarmee saamhang, deur die magstrukture van die apartheidsorde behou. Benewens baie ander dinge gee ons nuwe bestel ons veral ook die vryheid om te kan dink en te kan redeneer sonder vrees vir uitwerping uit die hegemonie van die bevoorregtes. Vandaar ook die verontwaardiging by baie Suid-Afrikaners van Afrikaner-oorsprong, veral onder die jonger geslag, oor die muwwe tradisionalisme van die vervloë tyd. Mense kies vandag baie meer as vroeër wat hulle wil glo en waar hulle hul tyd wil deurbring as vroeër. Mense is heelwat meer Christene “by choice” as “by convention”.

Hoewel laasgenoemde tendens op die oog af nie goeie nuus is vir instellings wat ten nouste met die apartheidsbedeling geïdentifiseer het nie, soos byvoorbeeld die drie “suster-” gereformeerde kerke in Suid-Afrika, moet ons dit verwelkom. Dit is ’n tendens wat op die duur vir hierdie instellings ten goede kan wees as hulle hul op ’n verbeeldingryke wyse daarby kan aanpas. In die gees van ons nuwe vryheid wil ek daarom lesers in hierdie boek uitnooi om saam met my nuut te probeer dink oor die Christelike geloof: wat dit is, hoe dit werk, waarop dit gerig is en wat dit kan bewerkstellig.

Laat my by voorbaat ’n waarskuwing rig aan enigeen wat die boek lees met die verwagting dat dit, in die plek van die ou sekerhede wat dikwels in die visier van my kritiek sal kom, ’n nuwe reeks sekerhede sal oplewer wat die oues goedskiks en heelhuids kan vervang. ’n Leser met dié hoop gaan teleurgesteld word. Ek is ’n mens en ’n skrywer met min sekerhede.

Trouens, wat my afskrik van heelwat wat tradisioneel in die naam van die Christendom en die kerk gesê en aangevang is, was juis die aanspraak op sekerheid – dogmaties, stellig, onbetwyfelbaar – wat dikwels daarmee gepaardgegaan het. ’n Ander manier om hierdie punt te maak, is om te sê dat ek nogal skepties is oor die vermoë van die teologie om met deurslaggewende stelligheid baie oor God te weet, en dus ook oor wat ons moet dink, sê en doen. Een van die aspekte van die Bybel wat my toenemend tref, is die stemme van onsekerheid, twyfel en beskeidenheid wat deurspeel in die getuienisse van talle Bybelskrywers. In die Psalms is daar wel soms sprake van hartlike geloofsekerheid. Tog is ek eweseer aangegryp deur die belydenisse van verwondering, ontreddering, skuld, vervreemding en onbegrip in byvoorbeeld Psalms 8, 31, 86, 88, 123 en 139. Habakuk, die enigmatiese profeet wat meer soos ’n priester opgetree het in sy voorspraak vir die volk by God, worstel ook met meer vrae as antwoorde.

Die aangrypendste van almal is egter Job, die slagoffer van ’n “weddenskap in die hemel” wat nooit aan hom verduidelik word nie. Job verstaan nie wat met hom gebeur nie en word gekonfronteer met die teologie van sy vriende – hulle wat met groot stelligheid en sekerheid voorgegee het dat hulle “weet” hoe God werk: “As jy goed doen, seën God jou; en as jy kwaad doen, straf God jou.” Dit kon Job nie aanvaar nie, en daardeur bewys hy hom as die vyand van die teologie van sekerheid oor God: “In die huise van die rowers is daar rus,” sê hy, “en dié wat God se toorn verwek, is veilig, dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het” (Job 12:6; ek hou egter meer van die letterlike ou vertaling: “Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy God in sy hand dra”). Job ken God – die God van liefde, sorg en geborgenheid. Die misterie van die weddenskap in die hemel word nie in die laaste hoofstukke van die boek aan hom geopenbaar nie; God vertel liewer, met meesleurende humor (“probeer maar ’n krokodil in ’n koutjie vang, en kyk hoe ver jy kom!” – Job 40:24) iets meer van sy soewereiniteit en onpeilbaarheid vir Job, sonder om iets te onthul oor die misterie van wat met hom (Job) gebeur het.

Dít is die tradisie van Bybelse geloofshelde waarby ek graag wil aansluit – diegene vir wie onsekerheid net so ’n onvervreembare komponent van hul geloofslewe was as sekerheid. Ek weet nie of ons te veel kan weet van God nie. Jesus self sterf met ’n vraag op sy lippe: “My God, waarom het U My verlaat?” Op daardie vraag kom geen onmiddellike antwoord nie. Die kerk van die eeue is steeds besig om, via die teologie, die mees betroubare antwoord op daardie vraag te soek.

Daarby lyk dit my asof van die grootste tragedies in die geskiedenis van die Christelike kerk – wisselend vanaf die skeuring tussen die Oosterse en die Westerse kerke, via die Reformasie, die afskuwelikhede van die Inkwisisie en die godsdienstige vervolgings van die 16de en 17de eeue, tot by die huidige, voortgaande, uiters onverkwiklike impasse tussen die NG Kerk-familie oor die Belydenis van Belhar om mekaar in eenheid te vind – die gevolg is van te veel teologie van sekerheid, te veel sekerheid omtrent wie God nou eintlik is en wat presies ons omtrent Hom moet bely, of nie moet bely nie.

Hierdie boek word geskryf met die passie van een oortuiging: dat ortopraksie baie belangriker vir die kerk en die lewe in die geloof is as ortodoksie. Daarmee bedoel ek dat dit baie belangriker is dat ons mekaar as gelowiges probeer vind oor die vraag hoe om te lewe, as oor die vraag wat die korrekte belydenis is. Ek bedoel daarmee ook dat die sin van die Christelike geloof nie geleë is in die waarborge wat dit verskaf vir ons rustige verblyf in die hiernamaals nie. Die Christelike geloof, soos wat ons dit geleer word en daarin voorgegaan is deur die grondlegger van daardie geloof, die mens Jesus van Nasaret, het primêr te make met die wêreld waarin ons hier en nou elke dag leef. Dis hiér waar ons sin moet soek en kan vind. Ons lewe is ’n lewe in onsekerheid. Daar is meer vrae as antwoorde. Die misterie, waarvan ek aan die begin gepraat het, is steeds nie opgelos of opgehef nie. Soos Job, weet ons ook nie of dit ooit opgehef sal word nie, hoewel ons daarop mag hoop – soos Paulus sug wanneer hy aan die Korintiërs oor die liefde skryf: dat ons eendag nie meer “in ’n dowwe spieël ’n raaiselagtige beeld” sal sien nie, maar “alles sal sien soos dit werklik is” (1 Kor 13:12). Hoewel ons laasgenoemde mag hoop, kan ons lewe nie daardeur verorber word nie. Die lewe in die geloof is ’n lewe in liefde. Dit is wat Jesus ons leer. Om te lewe in die liefde is om sin te vind in die lewe van onsekerheid en misterie. Dit is die credo van hierdie onseker gelowige of gelowige twyfelaar.

Verskille met die “Nuwe Hervorming”

Die lesers van hierdie boek sal weet van ’n groep mense in Suid-Afrika wat oor die afgelope jare, veral op die webruimte http://www.litnet.co.za,10 deelneem aan ’n debat oor die sogenaamde “Nuwe Hervorming”. Dié debat handel op die oog af oor kwessies wat verwant is aan dié wat ek in hierdie boek aansny.

Ek het die debat met belangstelling probeer volg, maar nie self daaraan deelgeneem nie, hoofsaaklik omdat ek uit die staanspoor die aanvoeling gehad het dat my aanslag en benadering anders is. Ek maak kortliks drie opmerkings oor hoe my benadering verskil van dié van die “Nuwe Hervormers”, (as ek die woord mag gebruik). Eerstens, lyk dit my, gaan die debat in daardie geledere te veel oor daadwerklike leerstellings van die kerk, waarvan die bydraers verskil en waarop hulle alternatiewe voorstel. Hoewel ek hier bo kortliks na enkele leerstellings verwys het wat ek ook meen onhoudbaar geword het in ons tyd, wil ek die gesprek oor leerstellings onderbeklemtoon. Die geloofsprobleem van ons tyd is myns insiens nie primêr foutiewe of uitgediende leerstellings nie, maar ’n oorspanne verwagting ten opsigte van leerstellings.

Ek sê weer: Ek is skepties oor die moontlikhede en die reikwydte van ʼn teologie op soek na sekerhede oor God as sodanig. Hoewel wat ek hier aanbied, seker ook as ’n soort “teologie” beskou sou kon word, het ek geen illusies oor die beperkings op my idees as bydrae tot ʼn konvensionele soort teologie nie. Ek verkies om wat ek hier sê, bloot die “besinning van ’n onseker gelowige” te noem. Ek wil konvensionele teologie en ortodoksie, wat altyd die mikpunt van teologie is, minder belangrik ag as die strewe om die geloof te verstaan as die praktyk van die liefde. Ek glo dat ons die evangelie eers na behore verstaan, nie wanneer ons ’n akkoord van universele intellektuele instemmings en formulerings gevind het nie, maar wanneer ons só lewe dat ons begryp die sin van die lewe lê in die beskikbaarmaking van onsself aan ons medemens. Om ’n uitdrukking van Hennie Rossouw te leen: Die sin van die lewe is om dit “uit te deel in beskikbaarheid aan ander … Die doel van die lewe is selfontlediging, maar dan selfontlediging in totale en onvoorwaardelike diensbaarheid … God wil ons lewe gebruik om mense in nood te help. Die doel van die lewe is Godsdiens en daarom naastediens”.11

’n Tweede verskil tussen my en sommige van die beweerde “Nuwe Hervormers” is dat hulle kennelik dinge weet waarvan ek baie min weet. Hulle wek dikwels die indruk dat hulle nuwe sekerhede het wat die plek van die ou sekerhede kan inneem, en verkondig laasgenoemde met stelligheid. Hulle beroep hulle op “nuutste resultate van die Bybelwetenskappe” en die “heel nuutste navorsing oor Jesus”. Hulle formuleer “teses” wat hulle netjies op ’n ry sit en kontrasteer met die sake wat hulle afwys. Kortom, hulle vervang een sisteem en stel oortuigings met ’n ander. Terwyl ek respek het vir hulle kennis en aansprake, is my projek baie meer beskeie. Ek is geen Bybelteoloog nie; slegs ’n gewone gelowige wat die Bybel probeer lees en verstaan en toepassings maak op breër dimensies van die alledaagse lewe.12

’n Derde en laaste verskil tussen my projek in hierdie boek en wat ek in die bydraes van die “Nuwe Hervormers” lees, is dat ek my baie meer as hulle op die tradisie wil beroep. Ek sou dit moeilik vind om bloot te sê dat ’n klomp tradisionele leerstellings my nie meer aanstaan nie en dat ek nuwes in die plek daarvan gaan stel. Ek het ontsaglik baie respek vir die tradisie, juis omdat laasgenoemde so ryk is en omdat ons nie so naïef moet wees om te maklik te dink dat ons ideetjies alte nuut is nie. Die interpretasie van die evangelie en van geloof wat ek in hierdie boek wil beredeneer, maak geen aanspraak op oorspronklikheid nie. Trouens, veral in die hoofstuk oor Erasmus wil ek aantoon dat wat ek bepleit, in wese reeds in die 16de eeu deur hom bepleit is, en dat die Kerkhervormers tot hulle eie en ons almal se durende skade nie sy boodskap gehoor het nie.

Ek is daarom ook skepties oor ’n alte maklike beroep op ’n sogenaamd “postmoderne” tyd waarin ons ons bevind, wat dan opvallend sou verskil van alles wat tot baie onlangs gebeur het en wat, juis omdat dit nuut en anders is, radikaal nuwe insigte en leerstellings vereis. Natuurlik vra ’n nuwe tyd om nuwe idees; Victor Hugo is reg as hy aanvoer: “Nothing is as powerful as an idea whose time has come.” As ons terugkyk op die geskiedenis van idees, sien ons egter selde radikale of abrupte breuke met die tradisie. Ons sien veeleer tradisies wat hulleself krities in oënskou neem en van binne uit heropneem en vernuwe. Historiese verandering gaan gepaard met kontinuïteit én diskontinuïteit; dit bestaan uit sowel die suggestie van die verbeelde toekoms as die vertroudheid en die herontdekking van die verlede. Die grootste kultuurhistoriese transformasie van die ganse Westerse geestesgeskiedenis – die Renaissance – is, soos ons weet, gebore vanuit ’n herontdekking van die prestasies en produkte van die Antieke Wêreld.

Terwyl ek dit daarom met die “Nuwe Hervormers” eens is dat dit belangrik is om ’n nuwe idioom en etos te vind vir ’n eietydse en tersaaklike geloofsbelewenis (vandaar die titel van hierdie boek), verkies ek om, benewens al die opwindende dinge wat tans in die naam van “postmodernisme” geproklameer word, ook te gaan delf in die tradisie van die Christendom, die kerk en die filosofie. As ons begryp wat die voorwaardes is waaronder ons enigiets – veral onsself – verstaan (die tema van die volgende hoofstuk), sal dit duideliker word dat die verstaan van die geloof nie slegs neerkom op ’n prysgawe van die tradisie nie, maar op ’n herontdekking van kosbare insigte wat nuwe betekenis verkry in die lig van die eise van ’n nuwe tyd.

Geloof sonder sekerhede

Подняться наверх