Читать книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk - Страница 9

Оглавление

Wat is geloof in die God wat ons leer ken in Jesus Christus? Waarop is dit gerig, en wat beteken dit in die praktyk van ons lewe? In hierdie eerste afdeling van die boek probeer ek as ’n onseker gelowige vanuit die magdom onduidelikhede wat ons huidige tydsgewrig opwerp oor die sinvolheid van volgehoue geloof, hierdie soort vrae beantwoord.

Die verlokking van die ongeloof is in ons tyd sterker as ooit. Ek bly oortuig daarvan dat, ten spyte van die feit dat die vrae meer word en die onsekerheid toeneem, die geloof in die gekruisigde en verrese Christus steeds die mees bevredigende en rusgewende raamwerk verskaf waarbinne die vraag na die sin van ons bestaan aangeroer kan word.

Dit beteken egter allermins dat die wyse waarop ons daardie geloof verstaan en beleef, kan neerkom op ’n klakkelose napraat van die geykte kerklike belydenis en die teologiese interpretasies van daardie belydenis wat ’n bepaalde gesag in ons kultuur verwerf het. Vir my persoonlik beteken om steeds te glo onvermydelik om nuut en soms ook anders te glo. Wat ek hier aanbied as my interpretasie van die bron, objek, praktyk en sin van die geloof, is nie bedoel as ’n laaste of ’n absoluut gesaghebbende woord nie. Dit is hoogstens die uitkoms van die besinning van ’n twyfelende gelowige; iemand wat dit so voortdurend aan die lyf voel dat hy wil sê: “Ek glo Here, maar kom tog altyd weer my ongeloof te hulp.”

My besinning oor die geloof word gedryf deur my aanvoeling, reg of verkeerd, dat ons, veral in die gereformeerde tradisie, van die geloof ’n veels te teoretiese saak gemaak het – ’n saak van die verstand en van serebrale inspanning – en te min van ’n praktyk. Daarenteen is die geloof wat ons by Jesus leer, ’n manier van lewe. Dit is weliswaar nie ’n aktiwiteit wat ontdaan is van begrip en besinning nie – natuurlik moet ’n mens ’n denk- en verstaansgreep hê op wat jy glo.13 Maar die geloof wat ons by Jesus leer, is net soveel (indien nie meer nie) praktyk as teorie.

Ek kan nie in eerste instansie oor geloof dink as intellektuele instemming met ’n aantal leerstukke, en oor die lewe volgens die wet as ’n blote dankbetuiging in reaksie op iets wat ek “eintlik” slegs met my verstand en intellek doen nie. Geloof is ook en veral lewe; dit is om lief te hê, om te vergewe, om nood te verlig en om jou lewe te gee vir jou medemens. Kortom: Dit is om die “wil te doen van ons Vader”. Wie dit ontken, glo nie, so lyk dit my, soos Jesus ons leer om te glo nie. As wat ek hier beweer, neerkom op “werkheiligheid”, dan is Jesus ’n verkondiger van werkheiligheid. Dit is ’n uiters ernstige vraag in hoe ’n mate die groeiende geringskatting van die getuienis en die gevolglike ontkragtiging van die rol van die kerk in die wêreld te make het met ’n serebraalteoretiese geloofsbeskouing wat selde sigbaar word in ’n praktyk en leefwyse wat ’n wesenlike verskil maak aan die lewe waarin ons ons bevind. My passie vir ’n meer praktykgerigte geloofsbeskouing is gebore uit hierdie waarneming en besorgdheid.

Dit is oor dié beskouing van geloof dat hierdie eerste afdeling van die boek handel. Ek begin met die vraag na hoe ’n mens die Bybel lees, aangesien die Bybel tradisioneel beskou word as die bron van geloof en die verwysingspunt van wat in die geloof bely word.

Geloof sonder sekerhede

Подняться наверх