Читать книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk - Страница 5

Voorwoord by die tweede uitgawe

Оглавление

Hierdie is die tweede ingrypend hersiene en veranderde uitgawe van ’n boek wat die eerste keer in 2005 verskyn het. Wat nuut is, is baie meer as slegs die omslag en subtitel. Ek het die eerste hoofstuk en eerste afdeling (hfst 2 tot 5) grootliks onveranderd gelaat, behalwe om een moontlike misverstand wat die vorige uitgawe kon veroorsaak, uit die weg te probeer ruim. Ek het naamlik (nog) duideliker probeer maak in watter opsigte die geloofsbeskouing wat in hierdie boek ontwikkel word, op gespanne voet staan met ’n sekere konvensionele soort teologie.

Die eerste uitgawe kon (en het ongelukkig soms) die indruk geskep dat ek probleme het met alle teologie en daarom ook verkies om hierdie boek nie as ’n instansie van teologie te beskou nie, maar bloot as gelowigfilosofiese nadenke oor die geloof self en oor wat die implikasies daarvan vir ’n aantal vraagstukke is. As ek so ’n indruk geskep het, vra ek om verskoning daarvoor. Natuurlik is wat hier volg teologie. Waarteen ek polemiseer, is teologie wat ten alle koste ’n soeke na ortodoksie is, dit wil sê ’n konsensus of akkoord oor wat ons oral en altyd behoort te glo.

Ek kies in dié verband vir Erasmus bo Luther. Dit bly my oortuiging dat gelowiges meer besorg moet wees oor ortopraksie as oor ortodoksie, oor die vraag hoé om te lewe eerder as oor die vraag hoé (presies) om te glo – só te glo dat dit onmiskenbaar ooreenstem met “wat die Bybel sê”. So ’n argument is egter, soos ’n aantal van my kritici tereg opgemerk het, nie minder “teologie” as enige ander verwante argument nie. Ek het die misverstande hieroor sover ek hulle in die herlees van die manuskrip kon opspoor, deurgaans probeer regstel. Dit raak veral hoofstukke 1 en 4 (die inleiding en die hoofstuk oor Erasmus). Vir die res, is hoofstukke 1 tot 5 onveranderd, behalwe vir enkele redaksionele wysigings.

Daar is meer ingrypende veranderings in die tweede afdeling. Hierdie afdeling handel oor die implikasies van die geloofsbeskouing wat ek in die eerste afdeling vir ’n aantal aktuele vraagstukke ontwikkel. Hoofstuk 7 van die eerste uitgawe is nou heeltemal weggelaat. Dit het gehandel oor vigs en armoede, en is soos te verwagte, nege jaar later grootliks verouderd. Hiermee meen ek nie dat vigs tans nie meer ’n vraagstuk van dieselfde dringendheid as in 2005 is nie, hoewel die probleem steeds nie onder beheer is nie. Twee heeltemal nuwe hoofstukke is in die tweede afdeling ingevoeg. Die eerste (hfst 9) handel oor biotegnologie en die toekoms van ons spesie. Dit spruit voort uit my navorsingsbelangstelling in biomediese etiek, en by name in die revolusionêre ontwikkelings in die biotegnologie oor menslike verbetering (“enhancement”), wat selfs die moontlikheid van die ontwikkeling van ’n nuwe supermenslike spesie in die vooruitsig stel. Wat moet ons hiervan maak, ook as ons vanuit die perspektief van die geloof daarna kyk? Die hoofstuk probeer dié vraag beantwoord.

Die tweede nuwe hoofstuk is hoofstuk 10, wat ’n evaluering vanuit my geloofsbegrip van die teenswoordige Suid-Afrikaanse sosiaal-politieke werklikheid is. Ek analiseer die betekenis van ’n Bybelse begrip van geregtigheid in hierdie hoofstuk, en bied daarna ’n uitgebreide analise aan van die onreg van apartheid, maar ook van verskeie aspekte van die demokratiese Suid-Afrika, en kom tot ’n gevolgtrekking in die lig van die boek se geloofsbegrip.

Ek het die argument in hoofstuk 6 (God en lyding) opgeskerp na aanleiding van nuwe navorsing nadat die eerste uitgawe verskyn het. Die breë strekking van die argument bly egter in wese dieselfde. Die ander oorblywende hoofstukke in die tweede afdeling (hfst 7 oor geloof en wetenskap en hfst 11 oor die doodsvraagstuk) bly onveranderd.

Ek bedank Lux Verbi graag vir hul bereidheid om die boek in hierdie taamlik ingrypend gewysigde formaat (waaroor ek self volledig kon besluit) uit te gee. Susan Jordaan, die opdraggewende redakteur, verdien spesiale vermelding en dank in dié verband. Baie dankie nogeens aan my vrou, Amy, wat hierdie tweede uitgawe baie graag wou sien en wie se vrae en kritiese oog, benewens volgehoue liefde en kameraadskap oor 36 jaar, vir my steeds ’n vreugde en inspirasie bly.

Anton van Niekerk

Stellenbosch

Junie 2014

Geloof sonder sekerhede

Подняться наверх