Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 88

Vrydag 20 MAART 2020 Lees Efesiërs 5:1-9

Оглавление

Lig-mense

Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig (v. 8).

Paulus het dié hoofstuk met hierdie heerlike feit begin: Omdat julle God se geliefde kinders is, moet julle in liefde lewe. Nou herhaal hy dit: Julle is sy lig-kinders – leef dan só!

Wat ’n wonderlike waarheid: Julle ís dit.

Maar wat ’n sware opdrag: Léwe nou soos wat julle is.

Dit is ’n moeilike besigheid dié: God het julle oorgemaak sodat julle by sy planne vir sy koninkryk pas. Nou moet julle daardie planne gaan uitvoer. Julle beskik oor die vaardighede, maar as julle steeds reken dat julle iets daarvan kortkom, vra Hom om te help. Sê as jy nie verstaan nie. Bieg as jy nie heeltemal seker is nie. Jakobus leer ons mos: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak 1:5).

As jy regtig nie weet hoe en wat nie, sal sy Gees dit namens jou vra (vgl. Rom 8:26). Dan kan jy maar die eerste tree gee, al is dit versigtig-versigtig, in hierdie koninkrykslewe waartoe jy nou geroep word.

Jy sal foute maak, ja. Jy sal nie alles die eerste keer regkry nie. Maar jy sal gou uitvind watter optrede pas by koninkrykskinders en wat nie. Jy sal leer wat om te sê en wanneer, en veral hoe om dit te sê. Jy sal leer dat stilbly soms die heel beste antwoord is.

Om ’n ligdraer in die Koninkryk te wees, vra van jou om te skyn en om lief te hê. Dit alles gebeur meestal sonder woorde.

____________________

Hou my liggie brandend, Here. Laat my skyn vir Jesus met ’n sagte glans.

Uit die beek 2020

Подняться наверх