Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 92

Dinsdag 24 MAART 2020 Lees Kolossense 1:9-14

Оглавление

Weggeruk

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (v. 13).

Redding geskied klaarblyklik nie altyd pynloos nie. Vra maar vir Paulus hoe hy op die grond platgegooi is, hoe hy nie kon sien nie en rondgelei moes word (vgl. Hand 9:3-9). Op ’n manier is dít dus soms waar: Wie nie hoor nie, sal voel.

Die einste Paulus skryf hier oor God se handewerk wanneer Hy mense red, en dan gebruik hy woorde wat by ’n sterke God pas: “mag” en “krag”. Dit kan seker nie anders nie. Daar is dié wat behoorlik weggerúk moet word, soos uit die suigkrag van ’n afgrond. Soos kinderhandjies op pad na ’n rooiwarm stoofplaat.

En, nee, dit geskied nie sonder pyn by die ontvanger nie. Watter weldoener moes nie al ’n kleuter se woedende trane trotseer ná so ’n reddingspoging nie? En wie moes nog nie die verontwaardiging beleef van iemand wat glo te na gekom is deur die Een wat die wegrukaksie uitgevoer het nie? Wat kwaad-kwaad sommer die vatmerke, die bloukolle, wys.

Boonop kom daar nou ’n tweede Goddelike aksie: Ná die wegruk, word jy onder Christus se heerskappy gestel. Van die afgrond na die Rots. Van die duisternis na die Lig. In een aksie, as ons Paulus moet glo. Al duur dit ook drie dae lank, soos in sy geval (vgl. Hand 9:9).

Wat gebeur verder? Paulus praat oor geduld en volharding. En blydskap en danksegging. Niks hiervan is eenvoudig nie, en dit kom vir seker nie vanself nie.

Maar sonder die verskrikking van ’n afgrond en die uitsigloosheid wat duisternis meebring, is enigiets moontlik. Selfs die aanleer van geduld en die bemeestering van blydskap.

____________________

Kyk tot waar het U my gebring, Here, Redder, Ewig Sterke!

Uit die beek 2020

Подняться наверх