Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 89

Saterdag 21 MAART 2020 Lees Johannes 1:1-9

Оглавление

Skyn dan, Jesus!

Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe (v. 9).

Matteus skryf oor die sterrekykers, Markus maak enkele opmerkings oor die Doper, Lukas vertel van herders, en Johannes skryf ’n gedig. So het die Evangelieskrywers elkeen ’n eie benadering tot die geboorteverhaal.

Die verhaal van die sterrekykers en dié van die herders is dalk die gewildste; die gedig is beslis die uitdagendste. Hier moet jy, soos dit maar met gedigte is, noukeurig lees. Dalk hoor jy sommer uit die staanspoor die eggo van Genesis 1:1: “In die begin …”

Dalk sal jy hieruit kan aflei dat dit ’n nuwe begin is. Die Skepper wou óórbegin, want sy skepsels het eenvoudig hul eie gang gegaan. ’n Kreeftegang, om die waarheid te sê, en Hy moes hulle van hulleself red. Hy moes ook vir hulle ’n herskepper wees.

Daarom stuur Hy lig. Sy Lig. Hy het in die begin gesê: “Laat daar lig wees!” (Gen 1:3). Toe was daar. En nou, só dig Johannes, doen Hy dit weer. Die herders, skryf Lukas, sou sy glansryke engele hoor; die wyses uit die ooste, vertel Matteus, sou sy skitterende ster sien. Almal het iets van die Lig beleef, ook die eenvoudiges en die vreemdelinge.

En met ons, die ingewydes, gebeur dit elke dag. Nè? Ons leef mos in sy helder teenwoordigheid. Nie waar nie? Ons verheug ons tog in sy blink planne vir ons. Of hoe?

____________________

Ag, Here, kan ek maar bieg? Durf ek sê dat daar dikwels donker dieptes in my lewe is? Dat ek soms deur ’n groot duisternis oorweldig word? Dat ek in sulke tye wonder oor die Lig wat U gestuur het? Was dit regtig ook vir my? Het U bedoel dat Hy ook mý lewe moes verlig? Skyn dan oor my, Jesus! Môre is Sondag.

Uit die beek 2020

Подняться наверх