Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 91

Maandag 23 MAART 2020 Lees Jesaja 59:9-19

Оглавление

Redder

Ons is almal soos grommende bere, soos duiwe wat kla en kla. Ons wag op reg, maar daar is geen reg nie, op redding, maar dit bly ver van ons af (v. 11).

Ons moedeloosheid maak ons soos blindes, kla die volk. Ons tas teen die mure rond, ons struikel helder oordag. Ons gryp na strooihalms. Ons wag tevergeefs op lig.

Die rede vir dié treurige toedrag van sake lê voor die hand: “geveinsdheid teenoor die Here, die ontrou teenoor ons God”. Met hierdie soort vrot vrugte: “die beplanning van onderdrukking, die verdraaiing van die reg”. En dié doodskoot: “die uitdink en rondvertel van leuens”.

Hul moedeloosheid is dus selfgemaak. Tuisvervaardig in daardie onheilsnes, die broeiplek van allerlei kwaad: die eie hart. Ja, dit is so dat alles op ’n groot verhoog afspeel. Daar is konings betrokke, generaals en ander ampsdraers. Ook onderdane en straatveërs en stoepsitters. Dit raak ’n ganse bevolking.

Dit is net jammer die pynlike gevolge verdwyn nie in die spreekwoordelike massa nie; dit raak mense direk. Elkeen voel dit aan eie lyf. Daar is ’n persoonlike prys wat betaal word, juis deur die weerloses.

Maar dit is net hier waar die Here sê: Tot hiertoe en nie verder nie – hiér gryp Ek in. Ja, die Here se ingrype, só sê die profeet, is persoonlik. “Daarom tree Hy self op …” Dit kan tog nie anders nie; sy kinders se seer is sý seer. Al is hulle nie die beste kinders nie en al is hul ellende hul eie skuld. Hy laat hulle doodeenvoudig nie aan hulleself oor nie.

Óns weet: Hy red eers, en later kom sit Hy by ons en vra: Wat het julle tog besiel?

____________________

Keer my, Here! Keer my voordat ek myself vernietig.

Uit die beek 2020

Подняться наверх