Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 87

Donderdag 19 MAART 2020 Lees 1 Samuel 15:10-21

Оглавление

Voorgangers

“Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! … Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat …” (v. 20-21).

Dit is nie ék nie; dit is húlle!

Bekend, nè? Elkeen wat al ’n kind in aksie gesien het, sal dié frase ken. Dalk het jy al iemand gekonfronteer, en toe kry jy dié reaksie. Dalk laat hierdie verskoning, so oud soos die Bybel self, jou net verleë glimlag omdat jy in jou hart weet: Dit is ék daardie, ’n kind wat nog nie grootgeword het nie.

Saul, Israel se eerste koning, die een wat kop en skouers bo sy tydgenote uitgetroon het (vgl. 1 Sam 9:2), kruip nou agter hierdie ou ekskuus weg. Hy, die opperbevelvoerder wat die verantwoordelikheid dra vir sy manskappe se gedrag, haal sy skouers op, sê soos Adam en Eva: Dit is nie ék nie; dit is ’n ander een (vgl. Gen 3:12-13). Soos Kain sou sê: Moet ek hulle dan oppas? (vgl. Gen 4:9).

Ons staan altyd gereed met hierdie soort verskonings. En die ellendigste is dat ons onsself glo. Ons selfbedrog en eiewaan, ons liefde vir onsself, ken geen perke nie. Soos by Saul, en by ’n kind wat kanse vat, smelt botter nie in ons mond nie. Maar ons bluf nie die Here nie.

As Hy ons boonop met leierskap vertrou – soos Hy elke pa en ma en ouma en oupa en onderwyser en voorsitter en president vertrou – dra ons ’n dubbele verantwoordelikheid: vir onsself én vir diegene wat Hy ons gegee het om te lei en te begelei.

Ons kan nie bloot ons kop skud as ons volgelinge droogmaak nie. Nie by die Here nie; Hy vra uiteindelik rekenskap van ons, die voorgangers.

____________________

Leer my om u vertroue werd te wees, Here. Leer my om altyd te vra: Wat wil U hê moet ek doen?

Uit die beek 2020

Подняться наверх