Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 85

Dinsdag 17 MAART 2020 Lees Genesis 29:1-14

Оглавление

Só begin die storie

Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil (v. 11).

Jakob soek vrou. Maar dit moet ’n meisie uit sy ma se familie wees; sy is “siek en sat” (Gen 27:46) vir haar ander seun se klomp volksvreemde vroue.

So reis Jakob ooswaarts en ná vele avonture kom hy by ’n put waar hy ’n klompie veewagters uitvra en, ja, hulle ken oom Laban. Hier kom sy dogter Ragel nou juis met die troppie wat sy vir haar pa oppas.

Dit was toe Jakob wat die klip oor die put wegrol sodat sy oom se kleinvee kon suip – en toe soen hy sy niggie. En hy begin sommer huil. Hy het tuisgekom, dit weet hy nou.

Só het die storie begin. Daar sou nog baie water uit daardie put gedrink moes word voordat dinge regtig na plan sou verloop. Maar dit is ’n ander storie. Vir eers is dit genoeg om te weet dat Jakob se soektog tot ’n einde gekom het; hy het die vrou van sy drome gesien. Vir haar sou hy sy arms stomp werk.

Daar is baie mense wat so ’n storie kan vertel: die soektog na ’n lewensmaat, die raaksien, die eerste gesprek, dalk ook ’n klip wat uit die pad gerol word, die emosie wat straks oorweldigend was. Sulke mense sal daarop terugkyk en miskien sug: Dit was maar die begin; daar sou nog baie water in die see loop.

As jy, die toehoorder, dalk met die res van die storie vertrou word, sal jy die menswees daarin hoor, in al sy vreugde en verraderlikheid. En hopelik ook die daadwerklike ingrype van die God wat mense na mekaar toe bring in die hoop dat hulle gelukkig saam sal wees, en wat hulle dan daarmee help.

____________________

U gee die beste aan u kinders, Here. Leer ons om ons beste vir mekaar te gee.

Uit die beek 2020

Подняться наверх