Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 86

Woensdag 18 MAART 2020 Lees Jeremia 2:4-13

Оглавление

Vertel my van Hom!

Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie … (v. 8).

Leiers is tussengangers: Hulle moet na twee kante toe praat, na hul mense en na hul Here, en gereeld vra: Hoe gaan dit met julle? En: Wat sê U vir hulle?

Die Here se aanklag hier is oor die voorvaders se versuim om ná die aankoms in die beloofde land aan hul Redder erkenning te gee. Én Hy het dit teen die huidige geestelike leiers, die priesters en profete, wat hulle aan die luilekker lewe in die nuwe land oorgegee het. Wat die Een wat hulle tot daar gebring het, heeltemal vergeet het.

Dit was nie ’n vreemde verskynsel nie: Die ou woestyntrekkers het tydens en ná hul lang reis gereeld sulke “geheueverlies”-episodes beleef. Die Here moet help, en gou ook. Maar as Hy sy “doel” gedien het, vergeet hulle Hom gou. Dan was diegene wat geroep is om aan die voorpunt te staan om te help onthou, nêrens te hoor of te sien nie.

Die gevolge hiervan is goed gedokumenteer: Ons lees dit in die latere gedeeltes in die Ou Testament. Die ballingskapverhale en die pynlike gevolge wat daaruit gespruit het, eggo ook in die Nuwe Testament.

Ons lees dit in ons Geloofsboek, ja. En ons moet kennis neem van die implikasies vir ons. Veral diegene wat as geestelike leiers geken word: elke ma en pa, ouma en oupa, elke onderwyser. Elke voorganger, ook dié in die kerk. Ons almal wat elke dag ons mense – sommige jonk, party sommer nog klein – raaksien wanneer hulle na ons opkyk en vra: Vertel my van ons en die Here?

En wat dan dalk in ’n klein stemmetjie byvoeg: Weet Hy nog van ons? En ken Hy my?

____________________

Help my onthou, o Gees, sodat ek vir hulle kan sê: God is goed.

Uit die beek 2020

Подняться наверх