Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 71

Dinsdag 3 MAART 2020 Lees Genesis 4:1-16

Оглавление

Lydenstyd in ’n stokou storie

Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie (v. 15).

Die Kain-en-Abel-storie word van altyd af gelees. Maar nie noodwendig in Lydenstyd nie. Wat het hierdie oerverhaal immers met Jesus se pad kruis toe te doen? Dalk is daar ’n raakpunt met die moord op ’n onskuldige: Abel se weerloosheid voor sy broer se wreedheid, en Jesus wat so blootgestel voor sy vervolgers gestaan het.

Daar kan sekerlik aan Kain se redelose woede teruggedink word as jy die skreeuende Jerusalemse gepeupel se “Kruisig hom!” hoor. Of die voorbedagte, berekende sluheid van die priesterhoofde wanneer jy in die Kainverhaal lees dat die Here mooi met hom gepraat en hom raad gegee het oor hoe om sy woede te hanteer – en toe gaan pleeg hy in elk geval moord.

Dalk is die vernaamste ooreenkoms tussen die groot Lydensverhaal en hierdie oerverhaal die gevolge wat Kain oor sy sonde moes dra: die Here se veelvuldige vloek wat nou op hom rus. Dit is so omvangryk dat hy tot sy sinne geruk word. Te laat vir sy boetie, helaas …

Maar toe nie te laat vir hom nie. Kain ontvang ’n vreemde, onverdiende vrypas: ’n teken, ’n sigbare bewys dat hy Goddelike beskerming geniet.

Ja, dalk lê die raakpunt hiér: die woorde “vreemd” en “onverdiend” en “teken” en “Goddelike beskerming”. En die feit dat dit alles die Here se handewerk is, sonder die verwagting van ’n teenprestasie. Dit is bloot die barmhartige reaksie op ’n sondaar se angs.

Só kry Kain, die “doellose swerwer”, tog ’n adres, iewers oos van Eden. En só word daar van altyd af voorsiening gemaak vir swerwende sondaars. Kry hulle vastigheid, nie te ver van die paradys nie.

____________________

Heer, u lyding bring bevryding. Halleluja!

Uit die beek 2020

Подняться наверх