Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 82

Saterdag 14 MAART 2020 Lees Eksodus 16:27-35

Оглавление

Onthou!

“’n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het” (v. 32).

’n Geloofgemeenskap bestaan ook om die lede daarvan te help onthou. Onthou waar hulle vandaan kom. Onthou hoe dit gebeur het dat hulle nou is waar hulle is. Onthou hoekom hulle of hul voorgangers op dié reis vertrek of dié projek aangepak het.

Die herinneringe word dikwels aan spesiale dae gekoppel, of aan feesjare. Maar soms ook aan spesiale voorwerpe. Hedendaagse kerke het dalk ou foto’s teen die muur; sommige het ’n vertoonkas in ’n voorportaal, ’n soort argief. Dit is nodig, dink dié kerk se mense, dat die ouer lede aan die geskiedenis herinner word en die jonges ’n slag agterkom dat alles nie sommer uit die lug geval het nie.

Die ou woestyntrekkers het ’n kruik vol manna bewaar: die woestynkos wat destyds, nou ja, uit die lug geval het. Dit sou hulle herinner aan hul Here se voorsiening, dit sou hulle hopelik inspireer om hul vertroue opnuut in die Voorsienigheid te stel.

Want dit is mos die ding met ’n spesiale onthou-dag of ’n gedenkteken: Dit doen meer as herinner; dit gee ook nuwe moed. Kyk hoe het Hy ons moeders en vaders versorg! Sal Hy dan nie ook vir ons op óns pad help nie?

Gelowiges het vandag ook kos wat hulle help onthou hoe hulle tot hier gekom het. Die brood en wyn is egter nie ’n blote uitstalling nie; hulle eet en drink dié herinnering. Dit is sommer ook padkos.

Dit is broodnodig, dié ete; die reis is nog lank nie voltooi nie.

____________________

Ek dank U, Here, vir die manna uit u hemel wat die tafel vol staan en my hart kom vul.

Uit die beek 2020

Подняться наверх