Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 83

Sondag 15 MAART 2020 Lees Johannes 4:5-42

Оглавление

Derde Sondag in Lydenstyd

Watergewer

“… die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees …” (v. 14).

Wat ’n dinamiese vertelling is dit nie! Die Evangelieskrywer sorg hier vir behoorlike drama deur spreekbeurte aan ’n hele klomp karakters te gee. Die meeste daarvan gaan aan Jesus, soos dit sekerlik hoort; maar daar is ook baie ruimte vir die vrou se reaksie. Die dissipels kom aan die woord, asook die inwoners van die Samaritaanse dorp Sigar.

Daar word nogal ’n volronde prentjie van die vrou geskets: haar sedelike lewe (“Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie”); haar godsdiensbeskouing (“Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid …”); haar lewe as dorpenaar (“Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het …”).

Die dissipels is, soos meermale in die Evangelievertellings, effens van koers af. Hier is hulle minder gepla met die teologiese implikasies van Jesus wat met ’n vrou praat – boonop ’n Samaritaan, en dit alles in die openbaar – en meer geïnteresseerd in die kos wat hulle vir Hom gebring het.

Maar die kollig behoort aan Jesus. Hy wat nie onderskeid tussen mense tref nie. Wat die sosiale taboes oortree, openlik, sodat niemand later kon sê hulle het nie geweet dit is hoe Hy is nie. Wat uiteindelik twee dae lank op die Sigar-inwoners se versoek daar bly en hulle leer.

Want dit is soos Hy is: Hy bemoei Hom met mense wat deur ander as randfigure afgeskryf word. Hy vertoef by hulle, ten spyte van die koppe wat hieroor in Jerusalem geskud sal word. Hy is dus nie polities korrek nie, Hy was dit nooit.

Goddank! Hy het dus vir my, en mense soos ek, ook water.

____________________

Kyk, Here, kyk my dorre hart! Gee my u lewende water.

Uit die beek 2020

Подняться наверх