Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 80

Donderdag 12 MAART 2020 Lees Eksodus 16:1-8

Оглавление

Die boodskapdraers

“Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het” (v. 8).

’n Mens se geheue is darem maar kort. Dink maar aan die Ou Volk: Hulle het hulle in Egipte vir ’n vyandige owerheid afgesloof, sommige het hulle letterlik doodgewerk – maar hóór hulle nou, hier op die vyftiende dag van die tweede maand van hul woestynreis. Luister net na daardie oorverdowende gesanik oor die vleispotte van Egipte wat hulle moes verlaat.

Die Here het gehoor. Soos Hy maar hoor as sy kinders kla soos net kinders kan kla.

Hy sê aan Moses: Ek sal hulle kos gee. Gaan vertel jou mense dat hulle met hul eie oë sal aanskou dat Ek voorsien.

Die verset teen die leiers is niks, sê Moses toe later vir die klaendes, maar die Here weet die klagtes is eintlik teen Hóm gemik.

Dit is mos van altyd af mense se ou laai: te ordentlik om die Here te beskuldig, te bang, te vroom. Looi dan maar die Here se gesante. Jesus sou dit herhaaldelik sê, onder meer in Lukas 20:9-19, en Stefanus sou dit uitwys (vgl. Hand 7:51-52). Albei sou hiervoor met hul lewe boet.

Diegene wat vir die Here kwaad is, moet eerder soos sommige psalmdigters maak en Hom trompop loop. Gaan lees Psalm 13 en Psalm 22 as jou woede-woordeskat jou in die steek laat. Maar los die Here se gestuurdes uit. Hulle het genoeg om hulle oor te bekommer, onder meer om Hom reg te hoor en om sy boodskap akkuraat oor te dra.

Bid liewer vir hulle. Hulle is aan ’n Ander Een verantwoording verskuldig, nie aan julle nie.

____________________

Hoor my gebed vir u boodskapdraers, Here! Open hul ore en salf hul lippe.

Uit die beek 2020

Подняться наверх