Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 74

Vrydag 6 MAART 2020 Lees Miga 7:18-20

Оглавление

Die ou beloftes

U sal getrou wees … soos U in die voortyd aan ons voorvaders met ’n eed beloof het (v. 20).

Profete word nie in hul eie land geëer nie, veral nie as hulle ’n ongewilde boodskap bring nie. Juis nie as sonde by die naam genoem en oordeel in besonderhede voorspel word nie.

Miga sou dit alles sekerlik in sy tyd reeds agterkom. En as hy tot by vandag kon sien, sou hy weet dat sy oordeelsboodskappe aan die begin van sy prediking (soos opgeneem in die eerste drie hoofstukke van die boek wat sy naam dra) toe nooit gewilde preekonderwerpe of gesogte aanhalingsmateriaal geword het nie.

Dit is eers wanneer hy in die laaste helfte van dié profesie ’n nuwe begin verkondig (“Daar kom ’n tyd …” – Miga 4:1) dat die latere lesers hul ore begin spits. Dit is dan dat Bybellesers die eerste verse in hoofstuk 5 hoor (“Maar jy, Betlehem-Efrata … uit jou sal daar iemand kom …”) en dit, soos die priesterhoofde en skrifgeleerdes in Matteus 2:6, met Jesus se geboorte in verband bring. Deesdae se dominees verwys ook graag na Miga 6:8 (“Hy vra van jou …”) wanneer hulle oor offers in die Christelike kerk praat.

Voeg dan nou Miga se slotwoorde hierby, dié oor God se trou aan die nageslag aan wie se voorvaders Hy mooi beloftes gemaak het, en dit blyk dat hierdie sogenaamde klein profeet tóg met instemming aangehoor word.

Want wie wil nie hoor van ’n God wat getrou is nie? Wie wil nie by herhaling verseker word dat God se gerusstellings aan die voorgeslagte tot vandag toe geld nie? Dít wil ons hoor: Aan sy liefde is daar geen einde nie. Sy genade duur van geslag tot geslag.

____________________

Dit is waarvan ek ook lewe, Here: U wat beloftes gemaak het wat ek steeds koester.

Uit die beek 2020

Подняться наверх