Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 81

Vrydag 13 MAART 2020 Lees Eksodus 16:9-21

Оглавление

Manna uit die hemel

Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ’n bietjie, en toe hulle dit met ’n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ’n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak (v. 17-18).

Die kwartels daardie eerste aand en die manna die volgende oggend was vir die woestyntrekkers veel meer as hul Here se praktiese voorsiening vir die woestyntrek; dit was ook ’n simbool van sy algemene voorsienigheid.

Hierdeur sou hulle elke aand en elke oggend sy sorg met hul eie oë sien. Wanneer hulle sy kos eet, sal hulle weet dat hulle voortdurend in sy gedagtes is. Daarom die reël: net genoeg vir elke dag. Hulle moet tog nooit, nie eens één dag, hul Here se sorg miskyk nie.

Daar was wel die kansvatters, die gulsiges. Hulle moes Moses se woede trotseer. Want, wys die Eksodusverteller ook uit, daar was beslis elke dag genoeg vir almal. Daar word boonop berig dat daar diegene was wat mekaar gehelp het sodat in elkeen se behoefte voorsien kon word.

Hoe goed verstaan ’n hedendaagse gelowige dit nie alles nie. Om elke keer as daar kos vir jou kom, jou hande verwonderd saam te slaan en dankie te sê vir die manna uit die hemel wat op jou tafel beland het. Om die Gewer van alle goeie gawes sonder meer te vertrou dat daar môre ook genoeg sal wees.

En om nie bloot in jou woordryke dankgebed te dink aan dié wat minder as jy het nie, maar om van die tafel af op te staan om van jou oorvloed te gaan deel.

____________________

Ek dank U vir die Vaderhande wat my voed. Leer my, Here, om die hande te vul wat nou na my toe uitgesteek word.

Uit die beek 2020

Подняться наверх