Читать книгу Uit die beek 2020 - Barend Vos - Страница 72

Woensdag 4 MAART 2020 Lees Matteus 18:10-14

Оглавление

“Hierdie kleintjies”

“So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie” (v. 14).

Dit was ’n deurlopende tema in Jesus se bediening: sy bemoeienis met die kleintjies. Nee, nie bloot jong kindertjies nie. Bybellesers is geneig om Jesus se uitwys van ’n kind – daardie keer toe sy dissipels oor hul onderlinge status gestry het (vgl. Matt 18:1-5) – aan ouderdom of die een of ander kinderlike eienskap toe te skryf. Dan verklaar hulle vroom: Die Bybel sê mos ons moet net glo soos ’n kind …

Laasgenoemde staan nêrens in die Bybel nie. Jesus het dit beslis nie gesê nie. Hy het iets veel erger gesê. Lees maar Matteus 18:3: “Dit verseker ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.”

Klink dit nie ’n bietjie na die heel eerste sin uit sy Bergpreek nie? Daar sê Hy: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:3). En hoor Hom hiér: “Laat staan die kindertjies … want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle” (Matt 19:14).

Die Evangelies is vol voorbeelde van kleintjies en mense soos hulle: blindes en kreupeles, arm weduwees, skelm tollenaars. Desperate vissers, vooraanstaande lede van die Joodse Raad. Twyfelaars, nagdissipels. Vroue met ’n twyfelagtige verlede, mans met ’n ellelange reputasie. Almal wat iewers vir Jesus gefluister het, of skaam-skaam gewys het: Here, ek is só afhanklik van U.

Omdat hulle dikwels wegraak of soms sommer wegloop, gaan soek die goeie Herder na hulle. Omdat Hy dit nie kan verduur dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie. Omdat Hy weet hulle weet hulle is afhanklik van Hom.

____________________

Ook ek, Here, ook ék is u kindjie klein …

Uit die beek 2020

Подняться наверх